Menu terloops
In Recaps & Resensies [16 Apr 2025]

‘The Handmaid’s Tale’: ’n Ontroerende slot vir ’n reeks wat ons agt jaar lank aan die strot gegryp het


Elisabeth Moss lewer wéér een van die beste karaktervertolkings op televisie in hierdie laaste uittog van die ontnugterende dramareeks ‘The Handmaid’s Tale’.

Deur Rozanne Els
‘The Handmaid’s Tale’: ’n Ontroerende slot vir ’n reeks wat ons agt jaar lank aan die strot gegryp het

Die uitsaai van die eerste episode van The Handmaid’s Tale in 2017 het gekom enkele maande nadat Donald Trump vir die eerste keer as Amerikaanse president ingehuldig is. Die reeks, gegrond op Margaret Atwood se gelyknamige distopiese verhaal wat in 1985 gepubliseer is, was bedoel om ’n blote TV-verwerking van Atwood se Gilead te wees. Maar toe kom die 45ste president. En ewe skielik het die wêreld van Gilead – een waar die onmenslike onderdrukking van alledaagse regte (meestal dié van vroue) godsdienstige fundamentalisme, verkrampte en toksiese patriargiale hiërargie en ideologieë en ’n diskriminerende klassesisteem – nie so vergesog geklink nie.

Net ’n televisiestorie sou hierdie dus mos nooit kon wees nie. Daarvoor was die parallelle wat gelyktydig in die regte wêreld afgespeel het te blatant, te herkenbaar, te vreesaanjaend. Verskeie wette, spesifiek gefokus op die beskerming van minderheidsgroepe, vroue, en diversiteit het in gedrang gekom. Een só regsuitspraak, wat aan vroue volle – en grondwetlike – oppergesag en privaatheid oor hul eie liggame verseker het, se ontrafeling was iets wat mense nie te lank terug nie as haas onmoontlik beskou het. En tog. 

The Handmaid's Tale, Elisabeth Moss
Elisabeth Moss vertolk June Osbourne in The Handmaid’s Tale. Foto: Disney/Steve Wilkie

Agt jaar later is Trump weer in die presidensiële amp soos The Handmaid’s Tale se sesde – en finale – seisoen uitspeel. En, ten spyte van kritiek dat die middel-seisoene van die reeks langdradig en onnodig uitgerek was; dat June en haar mede-Handmaidens al lankal in vrede gelaat moes word – voel dié uittog net so dringend en tydig as die eerste een. Die reeks se tydigheid het immers onbedoeld sy troefkaart geword, maar een wat veral nou, amper drie jaar ná die afloop van die vyfde seisoen, mag inhou. Dis nie soseer dat dit ’n spieël ophou wat die verval van ons eie werklikheid weerspieël nie. Dit is eerder, soos een van die vervaardigers, Warren Littlefield, onlangs tydens ’n paneelbespreking getob het, ’n “simbool van weerstand en ’n stryd vir menseregte.”

Bradley Whitford, wat die rol van Commander Joseph Lawrence vertolk, verwys op daardie selfde bespreking in Los Angeles na die storie se hoofkarakter, June, as fundamenteel vir ons om te besef dat wanhoop ’n luuksheid is wat ons nageslagte nie kan bekostig nie. “Rassisme gaan nie weggaan nie, vrouehaat gaan nie weggaan nie… en ek vind iets werklik inspirerend vir hierdie oomblik in die kern van June Osbourne se wese.”

As aktrise is Elisabeth Moss uitmuntend – haar benadering tot June se veggees en kwesbaarheid maak die deure oop vir die kyker om hulle met haar lot te vereenselwig.

En dit is weer na June (Elisabeth Moss) se wese wat ons in dié seisoen terugkeer. Dit begin waar die vyfde seisoen geëindig het, met June en Serena (Yvonne Strahovski) toevallig op dieselfde trein met hul kinders, op vlug deur Kanada. Luke (O-T Fagbenle) is agter tralies vir die moord op June se aanvaller, en die Mayday-weerstandsbeweging het groot planne om met Gilead se oppergesagte klaar te speel. Commander Lawrence staan nou aan die hoof van ene New Bethlehem wat met hervormingsbeloftes Gilead se vlugtelinge wil lok. Hier mag vroue weer lees (ag, dankie) en mense word nie sommer-sommer gehang nie (wat ’n verligting). Lawrence, weet ons, is gekant teen Gilead se praktyke, veral wat die misbruik van Handmaidens betref (jy weet, aanhoudende verkragting, geen regte, daai tipe goed), maar dis moeilik om, in ’n latere episode, nie diep vir sy hoopvolle naïewiteit te sug nie. 

Intussen is Nick (Max Minghella) vasgevang tussen sy rol in New Bethlehem en sy obsessiewe liefde vir June wat hom telkens in taai situasies plaas. Terwyl June aanvanklik in ’n vlugtelingkamp opeindig, krap Serena vir haar ’n nuwe, ou bestaan in New Bethlehem uit. 

The Handmaids Tale
Max Minghella as Nick. Foto: Disney/Steve Wilkie

Die seisoen se pas is briljant uitgemeet en selfs in die mees frenetiese oomblikke wyk die fokus nie van die karaktergedrewe vertelling nie. Moss tree in as die regisseur vir die eerste en laaste twee episodes van die reeks – agt uit die tien episodes is aan resensente beskikbaar gestel – en haar episodes, hoewel langer as die res, het ’n emosionele gewigtigheid wat, soos die storie ontvou, swaar op jou bors gaan lê. As aktrise is sy uitmuntend – haar benadering tot June se veggees en kwesbaarheid maak die deure oop vir die kyker om hulle met haar lot te vereenselwig. En haar lot ís swaar. Haar en Luke se dogter is al die jare nog vermis nadat sy deur Gilead van hulle weggeneem is. Daarom haar gewilligheid om enige prys te betaal, van moraliteit te ontsien, en aan en aan en aan te hou. Keer op keer herinner June ons – hetsy in die teks of met haar ongenaakbare staar direk in die kamera tot binne-in die kyker se siel – “the only way is to show up and to fight.” Daar is nie ruimte vir lus of krag of moed om ’n faktor te wees nie. 

Serena se medepligtigheid tot die onderdrukking van vroue – net soos ook tans in Trump se Amerika uitspeel – staan in skrille kontras tot June se onwilligheid om die stryd gewonne te gee. Sy word ’n voorbeeld van iemand wat nie tot werklike berou in staat is nie en verdoem is om daai selfde foute, wat ander mense soveel leed bring, oor en oor te herhaal. Strahovski se Serena is dus, in baie opsigte, die grootste monster van dié verhaal. En sy speel daardie kompleksiteite met ’n oorrompelende, tog uiters subtiele intensiteit. 

Die musiek deur Adam Taylor skep ’n hipnotiserende atmosfeer wat met amper onnatuurlike presiesheid met die kinematografie klop. Die skryfwerk herinner aan die vernuftigheid en kolskoot tekste van die vroeë seisoene. Die spanningsdrade is met vaardigheid balanseer, maar dit is so meesleurend dat terwyl jy wil wegkyk – it gets really real – kan jy nie. 

Die nabyskote voel selfs nader, oorweldigend. Die framing is in van die ontsagtlikste oomblikke Renaissance-agtig van aard, soos die een na die ander karakter – en dan jy as kyker – besef dat New Bethlehem se sogenaamde vryhede en hervorming eintlik net ’n leuen was. En gedeeltelike vryheid beteken vrede kan nie blywend wees nie. Daarvoor is absolute vryheid ’n voorvereiste. 

Die einde van The Handmaid’s Tale is egter nie die einde van die storie nie. Hulu het reeds met produksiewerk begin op Atwood se vervolgverhaal, The Testaments, wat sy in 2019 gepubliseer het. Dit speel sowat 15 jaar later af en The Handmaid’s Tale se TV-skepper en hoofskrywer, Bruce Miller, is ook hier die dryfkrag. 

Die slotseisoen is wreed by tye. Daar is oomblikke wat jou aan jou strot gryp, wat jou siel ruk. Wat jou diep, diep bang maak. Dis goed so. Ons moet wakker slaap. 


Vanaf 18 April op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies