Menu terloops
In Wat om te kyk [16 Aug 2022]

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Fraksie’, nuwe kykNET-drama van ‘Die Boekklub’-skeppers


Die hoofkarakter in ‘Fraksie’ het net dollartekens in sy oë…

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Fraksie’, nuwe kykNET-drama van ‘Die Boekklub’-skeppers
Kyk lokprent

“Geld is vuil,” sê een van die karakters in die pas vrygestelde lokprent vir Fraksie, ’n nuwe Afrikaanse drama wat in September op kykNET begin. Geld, en geldsug, blyk ’n kragtige dryfveer in die lewe van dié reeks se hoofkarakter, Schalk Smit, te wees. Die vraag is net hoe ver Schalk, vertolk deur Edwin van der Walt (Troukoors, Fynskrif) sal gaan om te kry wat hy wil hê? Veral as dit kom by sy gierige drome om ’n dollar-miljoenêr te word…

Fraksie is geskep deur die skrywer-vervaardigers Louis Pretorius en Albert Snyman. Hulle is ook vir treffer-reekse soos Die Boekklub, Troukoors en Fynskrif (al drie is op Showmax) verantwoordelik. Buiten Van der Walt spog die reeks met ’n skitter-rolverdeling met nog bekroonde spelers. Onder dié tel Marlo Minnaar, Trix Viviers, Crystal Donna Roberts, Melt Sieberhagen, Roeline Daneel en Lee-Ann van Rooi.

Die karakters: Wie is wie?

Schalk is ’n beleggingsbestuurder met drome om eendag ’n dollar-miljoenêr te word. Hy is getroud met Nina (Roeline Daneel) wie se ma, Deidré (Hélène Truter), van “ou geld” kom. Nina se pa, Willem (André Jacobs), is ’n onkoloog en haar suster, Bianca (Daneel van der Walt), ’n narkotiseur. Schalk en Nina het twee tienerkinders, Zac (Alex van Dyk) en Mari (Jana Malan).

Tim (Marlo Minnaar) is ’n dosent in rekenaarwetenskap in Pretoria en is onlangs met Chantel (Crystal Donna Roberts) getroud. Hy het in sy vrye tyd die QPI (Quick Payment Interface) ontwikkel en is op soek na ’n belegger daarvoor.

Jana (Trix Viviers) is ’n kommersiële prokureur en was saam met Schalk en Tim op skool. Sy het ses maande tevore Stellenbosch toe getrek en haar man, Alwyn (Sean Marco Vorster), en dogter, Emmy (Rizane Rossouw), in Johannesburg agtergelaat. In Stellenbosch ontmoet Jana egter vir Jack (Duane Williams) wat probleme in haar en Alwyn se huwelik veroorsaak.

Ander spelers in die reeks is Melt Sieberhagen as Henk, ‘n IT-spealis met ’n moeilike verlede, en Brendon Daniels as Donovan, ’n geleentheidsbeplanner en Henk se huismaat. Ilse Klink is Judy, Chantal se ma, en Gerwen Simon is Anél, haar suster. Ook te sien is Natalia Da Rocha as Jack se ouma, Lee-Ann van Rooi en Pierre van Pletzen as Schalk se baas by T&M Holdings en Hendrik Nieuwoudt as Henk se seun, JP.

Temas

Fraksie bestaan uit 17 episodes. “Die episodes word aaneen uitgesaai, maar is as’t ware twee mini-reekse,” verduidelik Louis. “Die eerste agt episodes wys hoe QPI opgebou word. Die laaste nege wys hoe dit, én die mense betrokke, verder ontwikkel.”

Behalwe vir die temas rondom die Schalk-karakter en geldsug, is daar ander kwessies soos tweede kanse, huwelik-uitdagings en ouer-kind-verhoudings wat onder die loep kom.

“Die hoofkarakter, Schalk Smit, is meer van ’n anti-held,” sê hy. “Alhoewel dit met tye nie maklik is om van die karakters te hou nie, hoop en glo ek kykers gaan nie anders kan as om van hulle te hou nie. Die reeks speel af in Stellenbosch wat met sy geskiedenis en ou geld deesdae die tegnologiese hoofstad van Suid-Afrika is.”

Kyk Fraksie vanaf Dinsdag, 13 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Online en Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies