Donovan Pietersen het ’n rits rolle agter sy naam, en hy is veral bekend vir sy draaie in sepies, insluitend sy vertolkings in Binnelanders, Generations, Getroud met Rugby en meer onlangs as Texas Kannemeyer in Suidooster. Dié boorling van Worcester het ook al verskeie stemrolle gehad in oorgeklankte Turkse telenovelas soos Moederhart en Jy is my seun.

In kykNET&kie se Plaas van passie, ’n Brasiliaanse telenovela wat na Afrikaans oorgeklank is, vertolk hy die stemrol van Jonatas (Paulo Lessa). Die storie draai om Aline (Barbara Reis met stemkuns deur Claudia Jones), ’n wiskundeonderwyseres, wie se man, Samuel (Ítalo Martins), op hul plaas vir dié grond vermoor word. Al het sy geen ondervinding met boerdery nie, besluit Aline om alles moontlik te doen om die plaas vir haar en haar seun, João (Matheus Assis), te behou. Jonatas is aan Aline se sy as regterhand en steunpilaar.
Donovan het met Terloops gesels.
Is jou stemrol in Plaas van passie die eerste keer dat jy die hoofrol vertolk? Hoe het dit gevoel toe jy die nuus ontvang?
“Dis nie die eerste keer dat ek hoofrol in ’n reeks kry nie, maar ek bly altyd dankbaar. Ek het al geleer dat jy in dié bedryf nie kieskeurig kan wees nie – werk is werk. Ek is baie bly ek het die rol gekry.”
Hoe verskil oorklanking en stemkuns van ’n rol waar jy voor die kamera is?
“Dit verskil hemelsbreed van ander mediums, want jy kan net op jou stem staatmaak. Jy moet elke mondbeweging, die lyftaal en selfs die asemhaling van die karakter wat jy oorklank, dophou. Dít sit nie in sommer enigeen se broek om dit te kan doen nie, maar met oefening raak dit ’n bietjie makliker.”
Wat geniet jy die meeste daarvan?
“Dat ek eintlik net iemand anders moet naboots, maar slegs met my stem, en dít maak dit interessant en lekker.”
Waarna kan kykers op Plaas van passie uitsien?
“Dié telenovela is gelaai met drama, intriges en versteekte geheime!”

En op watter ander projekte werk jy nog?
“Ek is tans besig om te skiet aan Reënboogrant, ’n Afrikaanse reeks op Showmax, en ek doen ook opnames vir die Nal’ibali-kinderstories op RSG. Binnekort begin ek ook aan ’n nuwe RSG-radiodrama opneem.”
Wanneer het jy besef jy het ’n liefde vir die kunste?
“Reeds in graad 1 toe die skoolhoof my vorentoe geroep het om die ander leerders te vermaak deur mense in ons gemeenskap na te boots en geluide te maak soos verskillende diere en voertuie.”
Wou jy nog altyd ’n toneelspeel, of het jy ook ander drome as kind gekoester?
“Ek het nie eintlik geweet ek wil ’n akteur word nie. My ouers wou hê ek moes onderwys of regte gaan studeer. Gelukkig het die kunste vir my gekies. Ek het nog altyd ’n liefde vir storievertel gehad en as kinders het ons dit baie gedoen, maar soos ek sê, die gogga het my al in graad 1 gebyt.
“My kinderjare was uitdagend – bendebedrywighede en dwelmmisbruik was aan die orde van die dag in my gemeenskap. Dit was tog ook lekker, want ek het grootgeword in ’n tyd wat kinders nog kinders was en ons kon nog tot saans laat buite speel. My ouers het ons met ’n ysterhand grootgemaak en ons gemotiveer om groot te droom, hard te werk en altyd ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê.”
Wat beteken die kunste vir jou?
“Die kunste bied ’n vorm van genesing vir die siel. Maar nie net vir my siel nie – ook vir die mense wat ek vir ’n paar minute van hul situasie by die huis kan help vergeet as ek televisie-, teater- of radiowerk doen. As ek dít kan doen, dan het ek iets reggekry, of so glo ek. Ek aanvaar niks as vanselfsprekend nie, want om te kan doen wat ek doen, is vir my ’n groot voorreg.”
Wat is jou grootste dryfkrag?
“My seun motiveer my om nog harder te werk. Wat my nog meer motiveer, is om ’n glimlag op ander se gesigte te sit.”
Wat is jou boodskap aan mense wat dalk in jou voetspore wil volg?
“Aan die jongmense: droom groot en onthou dat jy jou ideale met harde werk en deursettingsvermoë kan bereik. Leef voluit!”
Plaas van passie begin op 18 Maart om 20:00 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.