Menu terloops
In Features [15 Jan 2025]

Wie is wie in ‘Reënboogrant’? Ontmoet die karakters van nuwe Afrikaanse telenovela


Die gewilde ‘Reënboogrant’-boeke is nou in ’n Afrikaanse telenovela verwerk met blink nuwe sterre soos Minke Marais en Mila de Villiers in die hoofrolle, met die gesoute André Velts as regisseur en ‘Magda Louw’ se Desiré Gardner as die hoofskrywer.

Stroom 'Reënboogrant'

Wie is wie in ‘Reënboogrant’? Ontmoet die karakters van nuwe Afrikaanse telenovela
Kyk lokprent

Die gewilde tienerboekreeks Reënboogrant maak hierdie week sy TV-debuut. Die telenovela is gegrond op die gelyknamige boeke deur Louise van Niekerk en vertel oor sussies Shani en Sunette Brink, hul ouer broer, Dolf, en dié lot se kaperjolle.

Die Safta- en Silwerskerm-wenner Desiré Gardner (Magda Louw) is die hoofskrywer, en André Velts lei die regie-span, met Sonvelt Media as die vervaardigers.

Reënboogrant word vir Showmax vervaardig, maar daar sal van Vrydag, 17 Januarie, ook een episode per week op kykNET uitgesaai word.

Wat wag op kykers?

Die telenovela beloof om, soos die boeke van ouds, ’n wipwarit van tienerdrama, familiekonflik, liefde, aspirasies en spanning te bied.

In die loodsepisode maak ons kennis met Shani (Minke Marais) en die diverse gemeenskap van Reënboogrant. Sunette (Mila de Villiers) stel Shani teleur tydens haar American Guild of Acting-oudisie omdat Tina (Cara Kruger) se inmenging alles bederf. Intussen sukkel Dolf (Paul Strydom) om sy emosies in toom te hou wat Rachelle (Marelee Ferreira) betref. Dít lei tot konflik met Japie (Danté Elliot) oor die rugbykapteinskap. En Bongi (Johnny Potsanyane) is ontevrede met Meneer Bothma (Deon Coetzee) se streng reëls vir die Mei-dans.

Wie’s wie?

Minke Marais speel Shani Brink, ’n graad 10-leerder en cheerleader met ’n brandende passie vir die kunste. Sy het groot drome van Hollywood en die roem wat daarmee gepaardgaan. 

Minke Marais, Shani Reenboogrant
Minke Marais as Shani. Foto: Skermgreep

Shani is baie eiewys en stamp gereeld koppe met haar ouers, Herman (Johan Scholtz), ’n sielkundige, en Maryna (Juanita de Villiers), ’n filmmaker. Dié ouerpaar het hul hande vol met vier kinders in die huis – buiten Shani, is daar ook Sunette, Dolf en die veel jonger Marietjie. 

Dolf (Paul Strydom) is in matriek en Hoërskool Reënboogrant se hoofseun. Wanneer ons dié goue seun ontmoet is hy laf-verlief op Rachelle (Marelee Ferreira), wie se afwesige ouers beslis nie weet van haar kleptomaniese gewoontes en manipulerende gedrag nie. 

Marelee Ferreira Reenboogrant
Marelee Ferreira as Rachelle. Foto: Skermgreep

Sunette (Mila de Villiers) is ook in graad 10, maar verskil hemelsbreed van Shani. Sy’s ’n atleet en akademiese presteerder, maar so boekslim soos sy is, is sy ook emosioneel naïef. Sy is heimlik versot op Pierre (Xander Venter), een van Dolf se beste vriende wat ook saam met hom rugby speel.

Sunette Mila de Villiers Reenboogrant
Mila de Villiers as Sunette. Foto: Skermgreep
Reenboogrant Pierre
Xander Venter as Pierre. Foto: Skermgreep

Ook in die rugbyspan is hul vriend Johan (Righard van Jaarsveld). Johan gaan al ’n hele rukkie met Shani uit en ondersteun haar drome, al beteken dit dat hy dikwels opofferinge moet maak.  

Marietjie (Skye Sutton) is die tieners se laatlammetjie-sussie. As tienjarige het sy nie veel in gemeen met haar ouer sibbe nie. Ook saam met dié gesin in die huis is Ouma Mart (Karin Retief), Herman se ma, wat nie op haar bek geval is nie. 

Johnny Potsanyani speel Bongani Buthelezi, ’n rebelse leerder wat hom vir studenteregte beywer en gereeld die onnie se gesag bevraagteken. Nie hy of sy vriende het veel ooghare vir die skool se bad boy, Japie Coetzee (Danté Elliot) nie. Japie en Rachelle is goeie vriende en hy het, nes sy, ’n erg lelike manipulerende streek. Sy gedrinkery en gedrag veroorsaak gereeld groot moeilikheid. 

Dan is daar ook die stille en geheimsinnige Jacques Bronkhorst (Vian Singleton). Niemand weet veel van hom nie en daar is baie skinderstories oor sy troebel verlede.

Vian Singleton, Reenboogrant
Vian Singleton as Jacques. Foto: Skermgreep

Ans du Preez (Chrizaan Raath) is Sunette se beste vriendin en is verlief op Dolf. Sy sukkel egter met liggaamsdismorfiese steuring wat lig werp op haar toksiese verhouding met kos en oefening. 

Een persoon wat glad nie ’n Shani-fan is nie, is Tina Swanepoel (Cara Kruger). Sy is ook in graad 10 en dien as ’n slinkse antagonis in die storie. Sy maak veral misbruik van Sunette se goedheid om Shani te na te kom en hul sustersband af te takel. 

Reenboogrant
Cara Kruger as Tina. Foto: Skermgreep

Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag, vanaf 15 Januarie 2025 tot en met 11 Junie 2025, op Showmax beskikbaar gestel. Rëenboogrant word ook vanaf Vrydag, 17 Januarie 2025, om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies