Menu terloops
In Wat om te kyk [5 Jun 2023]

Wat om te kyk: Nuut op TV vanaf 5 tot 11 Junie 2023


Wat om te kyk: ’n Agter-die-skerms-dokkiereeks oor die Tour de France, Will Smith in die Oscar-benoemde fliek ‘King Richard’, ’n komediereeks oor kunsmatige intelligensie, ‘Mrs. Davis’, en die ware verhaal van ’n groep jong vroue wat hul ryk bure besteel in ‘Barracuda Queens’, tel onder ons top-keuses om hierdie week te kyk.

Wat om te kyk: Nuut op TV vanaf 5 tot 11 Junie 2023

Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

The Crowded Room

Vanaf Vrydag, 9 Junie 2023, op Apple TV+.

The Crowded Room is ’n aangrypende beperkte reeks met die akteur Tom Holland in die hoofrol, asook as uitvoerende vervaardiger. 

Oor die verloop van tien episodes leer ons hom ken as Danny Sullivan, ’n man wat gearresteer word in verband met ’n skietvoorval in 1979 in New York. Die riller se vertelling kom in die vorm van ’n reeks onderhoude tussen Danny en ’n ondersoekbeampte, Rya Goodwin (Amanda Seyfried). Só ontvou Danny se lewensverhaal en ontbloot die gebeure wat hom beïnvloed, gevorm en uiteindelik tot lewensveranderende insigte gebring het. 

Without Sin S1 

Vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Showmax beskikbaar. 

In Without Sin vertolk die bekroonde Line of Duty-aktrise Vicky McClure ’n ma wat in diepe rou gedompel is nadat haar tienerdogter vermoor word. Sy konfronteer later die man wat agter tralies vir dié moord is, en ontdek iets wat haar lewe omdolwe. 

Die storie ontvou as beide ’n sielkundige riller én ’n ontdekkingstog deur die nuanses van rou.

McClure is deur die bank vir haar spel geloof. The Guardian beskryf die reeks as ’n “samesweringsdrama uit die boonste rakke” en loof McClure as “fantasties in hierdie swaargewig riller.” 

The Idol S1

Vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Showmax beskikbaar. 

The Idol vertel oor die komplekse verhouding tussen ’n popster (vertolk deur Lily-Rose Depp) en ’n kultusleier (vertolk deur die sanger The Weeknd).

Ook in die rolverdeling is Schitt’s Creek se Dan Levy en die Spud-akteur, Troy Sivan.

Regie deur Euphoria se Sam Levinson.

Mrs. Davis S1 

Die eerste twee episodes is vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Showmax beskikbaar. Daarna sal episodes weekliks op Maandae beskikbaar wees, met die dubbeldoor-finale op 10 Julie. 

Wie sal – of kan – kunsmatige intelligensie teenstaan? Wel, in Mrs. Davis is Simone (vertolk deur Gaslit se Betty Gilpin) ’n non wat vasbeslote is om ene Mrs Davis – die wêreld se voorste AI – te vernietig. 

Dié komediedrama het ’n punt van 89% op Rotten Tomatoes. Daar lui die kritici se konsensus dat dié reeks “positively bonkers” is met Gilpin as ’n moderne held in ’n “verbeeldingsryke mengsel van spiritualiteit en tegnologie”. 

King Richard

Vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Showmax beskikbaar. 

Will Smith het in 2022 die Oscar vir beste akteur gewen vir sy vertolking as Richard Williams in dié inspirerende biografiese sportdrama, King Richard. Dié fliek is gegrond op die ware verhaal van twee van die beste tennisspelers van alle tye, Venus en Serena Williams, en die rol wat hul vasberade pa in hul lewe en professionele sukses gespeel het. 

King Richard is vir ses Oscars benoem, waaronder beste rolprent, beste oorspronklike draaiboek, beste oorspronklike liedjie vir Beyoncé se “Be Alive”, en beste vroue byspeler (Aunjanue Ellis-Taylor van Lovecraft Country as die Venus en Serena se ma, Oracene “Brandi” Williams).

Die jong Venus en Serena word vertolk deur Saniyya Sidney (Hidden Figures) en Demi Singleton (Godfather of Harlem), terwyl Smith, Jada Pinkett Smith en albei Williams-susters as uitvoerende vervaardigers tel.

Dit het ook ’n punt van 90% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes, waar die kritici se konsensus lui: “King Richard oortref die formules van biografiese sportflieks met verfrissend genuanseerde storievertelling – asook ’n seëvierende vertoning deur Will Smith in die naamrol.”

Barracuda Queens

Vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Netflix beskikbaar. 

Barracuda Queens is losweg op ware gebeure gegrond en speel in die 1990s teen die agtergrond van ’n nuwe era van girl power af.

Die reeks volg ’n groep jong vroue wat hulself as die “Barracuda Queens” doop. Ná ’n effense (groot) haakplek met ’n kroegrekening, begin dié vroue ’n dubbele lewe lei. Bedags is hulle rykmanskinders wat goed in hul studies presteer, terwyl hulle snags hul ryk bure besteel.

Die reeks skep die prentjie van ’n wêreld waarin slegs sommige mense vir hul dade boet… want wie gaan hulle mos verdink, of hoe?

Tour de France: Unchained

Vanaf Donderdag, 8 Junie 2023, op Netflix. 

Dié dokkiereeks draai om die alombekende Tour de France-fietstoer en volg in die spore van die karakters wat deel van die strawwe kompetisie vorm – van die fietsryers, spanbestuurders en almal anders.

Só kry ons ’n blik van hoe high stakes die toer, wat in 190 gebiede uitgesaai word, is. Die reeks gaan ook agter die skerms saam met ’n hele paar ikoniese spanne vanaf die voorbereidingsfase tot by die eindstreep in Parys. 

Ook nuut vandeesweek:

  • The Electrical Life of Louis Wain
    Vanaf Maandag, 5 Junie 2023, op Showmax. 
  • My Fault 
    Beskikbaar vanaf Donderdag, 8 Junie 2023, op Amazon Prime Video. 
  • On the Come Up 
    Beskikbaar vanaf Donderdag, 8 Junie 2023, op Showmax.
  • The Playing Card Killer
    Beskikbaar vanaf Vrydag, 9 Junie 2023, op Netflix. 
  • The Lake S2 
    Beskikbaar vanaf Vrydag, 9 Junie 2023, op Amazon Prime Video.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies