Menu terloops
In Lysie-lysie [23 Mei 2023]

Die 10 beste HBO-reekse om nou te kyk


Die merkwaardige reekse wat die TV-netwerk HBO oor die afgelope klompie jare geskep het, is deels verantwoordelik vir ’n bloeitydperk in die TV-bedryf wat sien hoe die grootskerm al meer by die kleinkassie se stories afsteek. Van ‘Game of Thrones’ tot ‘The Sopranos’ – hier is ons keur van die beste HBO-reekse om te kyk.

Deur Watkykjy
Die 10 beste HBO-reekse om nou te kyk

HBO kan beskou word as die Gen-X-nefie van TV-vermaak, vernaamlik reekse. Soos ’n properse Gen X’er, is dié TV-netwerk vindingryk, onafhanklik, meer liberaal en divers as hul voorsate in wat hulle skryf, ontwikkel en uiteindelik vrystel. Hulle het oor die jare van die mees ikoniese, bekroonde en suksesvolste TV-programme vervaardig, tot so ’n mate dat ek durf waag om te sê dat hulle amper eiehandig daarvoor verantwoordelik is dat reekse besig is om meer gewild te raak as tradisionele Hollywood-flieks.   

Daar is verskeie redes hiervoor. Dink byvoorbeeld aan hoeveel meer tyd ’n reeks het om hulle karakters en storielyne te ontwikkel en af te rond terwyl films soveel as moontlik moet indruk en oordra binne min of meer twee ure. Met reekse, kry die gehoor meer tyd om karakters te leer ken, te sien hoe hulle groei en hoe die storielyne ontwikkel. Sover dit die visuele, special effects en stelle betref, staan reekse ook dikwels nie terug nie. 

Reekse het oor die algemeen ook ’n langer raklewe as flieks. Sodra ’n film klaar sy rondtes by die loket gedoen het, gaan dit gewoonlik vir ’n beperkte tydjie na stroomplatforms soos Showmax en Netflix, of dit moer bloot van die bus af. Reekse het nou maar net die vermoë om vir letterlik dekades lank voort te stoom of selfs ’n comeback te maak. Dit is dus ook logies dat hulle deel vorm van die kulturele zeitgeist. 

Hier is my keur van die tien beste HBO-reekse van alle tye (met slegs een wat nie op Showmax beskikbaar is nie).

1

Sex and the City was ’n grondverskuiwende komedie-dramareeks wat die lewens van vier vroue in New York gevolg het. Dit het oop kaarte gespeel met temas soos seks, liefde, vriendskap, ambisie en feminisme, en het ’n tipe kultus-status verwerf. Tot so ’n mate dat dit ’n resep vir nabootsers geword het om te volg.  

2

The Sopranos word wyd beskou as een van die grootste televisieprogramme van alle tye. Dit volg die lewe van Tony Soprano, ’n genadelose mob boss in New Jersey wat met sy eie geestesgesondheid en gesinskwessies worstel terwyl hy deur die kriminele onderwêreld beweeg. Die reeks is bekend vir sy verkenning van komplekse karakters en temas, en die impak daarvan op die televisielandskap word vandag nog hoog geag.

3

Wow, Curb Your Enthusiasm is al amper ’n kwart-eeu met ons! Hierdie semi-outobiografiese komediereeks is geskep deur Larry David (Seinfeld se mede-skepper) en volg David, ’n neurotiese egois en socially awkward vent. Baie improv, baie cringe! 

4

Die disfunksionele Fisher-familie bedryf ’n begrafnisonderneming. Die reeks ondersoek temas soos verlies, hartseer en gesinsdinamika op ’n donker, komiese wyse. Met sy komplekse karakters en vindingryke storievertelling, bly Six Feet Under een van HBO se beste reekse.

5

The Wire (2002-2008)

Hierdie gritty cop-drama speel af in Baltimore, Maryland, en verken die onderlinge verbonde wêrelde van die lang arm van die gereg, dwelmhandelaars, politici en die stad se alledaagse boorlinge. Dit is juis die realistiese uitbeelding van die stedelike lewe, genuanseerde karakters en die feit dat die reeks kwessies van ras, armoede en korrupsie reguit aanspreek, wat dit so gewild gemaak het. 

6

Deadwood (2004-2006)

’n Goeie ou Western wat afspeel in die goddelose dorpie van Deadwood, South Dakota gedurende die laat 1800’s wat historiese karakters soos Wild Bill en Calamity Jane insluit.  

Dis skop, skiet en donner, en ’n goeie dosis old school-kapitalisme. Ongelukkig het die program nie langer as drie seisoene gehou nie, maar dit bly steeds ’n gunsteling en ’n goeie voorbeeld van hoe HBO wys waar hulle die wortels begrawe het. Dit is ook die enigste outjie in my top-10 wat nie op Showmax beskikbaar is nie.   

7

Boardwalk Empire is ’n periode-drama wat in Atlantic City tydens die Amerikaanse drankverbod-era van die 1920’s en ’30’s afspeel. Dit volg die lewe van Nucky Thompson, ’n korrupte politikus en gangster wat die stad se onderwêreld regeer. Die reeks het absolute stunning visuals met ’n aangrypende storielyn, en was een van HBO se mees ambisieuse ondernemings.

8

Ek wed jou dat jy nou die kenwysie in jou kop kan neurie. Almal het oor Game Of Thrones gepraat en elke persoon wat ’n fan van die show was, sal jou dadelik vertel oor hoekom die heel laaste episode die beste ooit was of net ge-suck het. George R.R. Martin was die baas van warm krae en sy uiteenlopende karakters het wyd onmin gesaai!

9

Veep is by verre die beste en snaaksste politieke satiriese reeks wat tot dusver gemaak is. Dit volg die lewe van Selina Meyer, ’n voormalige vise-president en later president van die goeie VSA. Probeer byhou met die vlymskerp skryfwerk, blitsvinnige dialoog en ’n skreeusnaakse groep karakters. Veep het ook talle Emmy-toekennings gewen en bly ’n vaste gunsteling!

10

Big Little Lies is ’n dramareeks wat gegrond is op die gelyknamige roman deur Liane Moriarty. Dit vertel oor die lewens van ’n groep ryk ouers in Monterey, Kalifornië. Die reeks spog met ’n rolverdeling wat groot name insluit soos Reese Witherspoon, Nicole Kidman, Shailene Woodley, Zoë Kravitz en Alexander Skarsgård. Dit ondersoek ingewikkelde temas soos gesinsgeweld, moederskap en vriendskap en ondersteuning tussen vroue. Met ’n baie boeiende storielyn, is Big Little Lies een van HBO se mees bekroonde TV-programme.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies