Met die laaste episodes van My naam is Farah wat vandeesmaand uitgesaai is, is dit nou tyd vir kykNET&kie se eerste Brasiliaanse telenovela, Plaas van passie, wat na Afrikaans oorgeklank is.
Dié telenovela vertel die verhaal van Aline (Barbara Reis), ’n wiskundeonderwyseres, wie se man, Samuel (Ítalo Martins), op hul plaas vir dié grond vermoor word. Al het sy geen ondervinding met boerdery nie, besluit Aline om alles moontlik te doen om die plaas vir haar en haar seun, João (Matheus Assis), te behou. Aan haar sy is haar getroue vriend Jonatas (Paulo Lessa) en haar ma, Jussara (Tatiana Tibúrcio). Haar grootste teenstand kom van ene Antônio La Selva (Tony Ramos), die man agter Samuel se dood.
Maar daar is ook ingewikkelde liefdesake wat vorendag kom as haar pad met dié van Daniel (Johnny Massaro), Antônio se seun, kruis. Dinge word verder bemoeilik as Caio (Cauã Reymond), Daniel se halfbroer, ook vir Aline in sy visier kry. Boonop is daar konflik tussen Caio en Antônio. Caio se ma, Agatha (Graça Junqueira), het met sy geboorte gesterf, en Antônio verkwalik hom daarvoor.
Dan is daara ook Irene (Glória Pires), Antônio se vrou, Daniel en Petra (Débora Ozório) se ma, en Caio se stiefma. Sy is magsbehep en sal enigiets doen om te sorg dat net Daniel en Petra die familiebesigheid oorneem.
Hier is ’n voorsmakie van wat jy hierdie maand in die eerste sarsie episodes kan verwag.
Dinsdag, 18 Maart
Ramiro vermoor vir Samuel en steek sy huis aan die brand. Caio help Aline om te ontsnap en saam met haar seun in Cândida se huis weg te kruip. Daniel raak aan Graça verloof.
Woensdag, 19 Maart
Aline maak dit aan Daniel duidelik dat sy nie die grond aan Antônio gaan verkoop nie. Ademir sê hy weet hoekom Antônio die grond wil hê. Jurecê sê vir Caio dat liefde sy lot sal blootlê.
Donderdag, 20 Maart
Caio soen vir Aline, en sy neem aanstoot. Antônio verbied vir Luigi om op die plaas te bly en Petra maak ’n bespreking by Andrade se herberg.
Maandag, 24 Maart
Irene waarsku Graça oor Daniel se bewondering vir Aline en stel voor dat sy by hom swanger word. Ademir stem in om Caio te help om saad vir Aline te koop.
Dinsdag, 25 Maart
Om sy pa se guns te wen en sy opvolger te word, wil Daniel uitvind wie die saad aa Aline gekoop het. Luigi arriveer uit Italië om vir sy internetvriendin Petra te kom kuier.
Woensdag, 26 Maart
Almal wonder wie saad gekoop het om Lucinda te help, totdat Daniel uitvind dat Ademir vir Caio gevra het om dit te doen – maar dit bly hul geheim. Luigi verlei vir Petra in ’n hotelkamer.
Donderdag, 27 Maart
Aline probeer haar bes om haar grond te red van die ryk grondbaron en hou vol hy het geen reg tot die grond nie. Irene gee ’n skaars erfstuk aan Graça.
Maandag, 31 Maart
Caio erken teenoor Antonio dat dit hy is wat vir die weduwee die saad gegee het. Antonio besluit dan om vir Caio te onterf. Caio sweer egter om sy reg tot dié erflating te verdedig.
Plaas van passie word Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream uitgesaai. Dit is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die laaste episode word op 17 Maart uitgesaai.