In die tweede seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam is 20 kokke met rooiwarm talent en brandende ambisie in ’n vurige stryd gewikkel om as die land se braaikampioene gekroon te word. Hulle moet bewys dat énigiets oor vuur en vlamme gaargemaak kan word.
Donderdag, 6 Februarie 2025
Episode 1
Die deelnemers se vuurdoop skop af met ’n bring-en-braai en spoed-ontmoetings. In ware Kokkedoor-tradisie sorg die kinkel dat elke pot die regte deksel kry om die goue middeweg aan te durf.
Donderdag, 13 Februarie 2025
Episode 2
Al sit sout en peper langs dieselfde vuur, plaas die getroue smaakpaartjie die spangees behoorlik onder druk. Biltong, bokkoms en mebos laat beland die braaiers nog meer in die pekel.
Donderdag, 20 Februarie 2025
Episode 3
Sardyne, seekat en tapas sorg vir sterk onderstrome. Skoolvissies is wel veiliger in die bondel, maar die vuurkokke gaan gou uitvind dat hoe kleiner die vissie, hoe groter die braaigevaar.
Donderdag, 27 Februarie 2025
Episode 4
Die Kokkedore maak potjies met mielies en alledaagse stapelkos. Kokkedoor-veterane Mynhard en Pasch lig die deksels om te proe watter span ’n spensvol kos vir Meals on Wheels losslaan.
Donderdag, 6 Maart 2025
Episode 5
Vleissaag in die hand en ’n springbok in die koelkamer gaan dinge maar wild. Vuur-sjef Shaun Scrooby vra elegante vyfster-safarikos uit die voorkwart én die agterkwart of dis bokveld toe.
Donderdag, 13 Maart 2025
Episode 6
Kupido sit aan vir ’n romantiese ete wat die opsitkers laat opvlam. Die spens is vol verleidelike bestanddele, maar sjokolade op die rooster laat dalk die spanne se liefdebootjie kantel.
Donderdag, 20 Maart 2025
Episode 7
Enjin-gedreun en sissende spek verklap dat honger bikers stop vir ontbyt. Die spanne skarrel met die tacos, wafels en jaffels, want die gaste is haastig om weer op die oop pad te kom.
Donderdag, 27 Maart 2025
Episode 8
Die Kokkedore ruil braaitange vir mengbakke en kyk hul vrees in die oë om outydse melktert oor die vuur gaar te maak. Die kersie op die koek is dat Kokkedoor Theresa de Vries kom kuier.
Donderdag, 3 April 2025
Episode 9
Die Kokkedore trek ’n haas uit die hoed wanneer die braaibak ’n klompie vreemdhede oplewer. Braaiers wat te houtgerus geraak het word gepootjie deur ’n tjoppie, worsie en hoenderboudjie.
Donderdag, 10 April 2025
Episode 10
Die uitdrukking ‘om jou eie potjie te krap’ kry nuwe betekenis met ’n onverwagse spankinkel. Sangeres Rina Hugo bring haar sprankel en Afrikaanse sêgoed lei tot nuwe geregte.
Donderdag, 17 April 2025
Episode 11
Die paspoorte word gestempel vir ’n braaibesoek aan vuurkulture in verre lande. Die uitheemse braaitoerusting, wind en weer plaas druk op die spanne wat veg vir plek in die semi-finaal.
Donderdag, 24 April 2025
Episode 12
Die Kokkedore betree die wêreld van fynproewerkos. Die bekroonde gassjef Jess van Dyk daag die braaiers uit om elke element van haar komplekse vyfstergereg haarfyn oor die vuur te vertolk.
Donderdag, 1 Mei 2025
Episode 13
Die finaliste berei vir hulle eregaste aan die Kapteinstafel ‘n feesmaal voor wat geïnspireer is deur die deftige laaste maaltyd op die Titanic. Wie se bootjie gaan sink en wie gaan seëvier?
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 begin Donderdag, 6 Februarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.