Menu terloops
In Wat om te kyk [31 Jan 2025]

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen


In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam is 20 kokke met rooiwarm talent en brandende ambisie in ’n vurige stryd gewikkel om as die land se braaikampioene gekroon te word. Hulle moet bewys dat énigiets oor vuur en vlamme gaargemaak kan word. 

Donderdag, 6 Februarie 2025 

Episode 1 

Die deelnemers se vuurdoop skop af met ’n bring-en-braai en spoed-ontmoetings. In ware Kokkedoor-tradisie sorg die kinkel dat elke pot die regte deksel kry om die goue middeweg aan te durf. 

Donderdag, 13 Februarie 2025 

Episode 2

Al sit sout en peper langs dieselfde vuur, plaas die getroue smaakpaartjie die spangees behoorlik onder druk. Biltong, bokkoms en mebos laat beland die braaiers nog meer in die pekel. 

Donderdag, 20 Februarie 2025 

Episode 3 

Sardyne, seekat en tapas sorg vir sterk onderstrome. Skoolvissies is wel veiliger in die bondel, maar  die vuurkokke gaan gou uitvind dat hoe kleiner die vissie, hoe groter die braaigevaar. 

Donderdag, 27 Februarie 2025 

Episode 4

Die Kokkedore maak potjies met mielies en alledaagse stapelkos. Kokkedoor-veterane Mynhard en Pasch lig die deksels om te proe watter span ’n spensvol kos vir Meals on Wheels losslaan.  

Donderdag, 6 Maart 2025 

Episode 5

Vleissaag in die hand en ’n springbok in die koelkamer gaan dinge maar wild. Vuur-sjef Shaun Scrooby vra elegante vyfster-safarikos uit die voorkwart én die agterkwart of dis bokveld toe. 

Donderdag, 13 Maart 2025 

Episode 6

Kupido sit aan vir ’n romantiese ete wat die opsitkers laat opvlam. Die spens is vol verleidelike bestanddele, maar sjokolade op die rooster laat dalk die spanne se liefdebootjie kantel. 

Donderdag, 20 Maart 2025 

Episode 7

Enjin-gedreun en sissende spek verklap dat honger bikers stop vir ontbyt. Die spanne skarrel met die tacos, wafels en jaffels, want die gaste is haastig om weer op die oop pad te kom.  

Donderdag, 27 Maart 2025 

Episode 8 

Die Kokkedore ruil braaitange vir mengbakke en kyk hul vrees in die oë om outydse melktert  oor die vuur gaar te maak. Die kersie op die koek is dat Kokkedoor Theresa de Vries kom kuier. 

Donderdag, 3 April 2025 

Episode 9

Die Kokkedore trek ’n haas uit die hoed wanneer die braaibak ’n klompie vreemdhede oplewer. Braaiers wat te houtgerus geraak het word gepootjie deur ’n tjoppie, worsie en hoenderboudjie. 

Donderdag, 10 April 2025 

Episode 10 

Die uitdrukking ‘om jou eie potjie te krap’ kry nuwe betekenis met ’n onverwagse spankinkel. Sangeres Rina Hugo bring haar sprankel en Afrikaanse sêgoed lei tot nuwe geregte. 

Donderdag, 17 April 2025

Episode 11

Die paspoorte word gestempel vir ’n braaibesoek aan vuurkulture in verre lande. Die uitheemse braaitoerusting, wind en weer plaas druk op die spanne wat veg vir plek in die semi-finaal. 

Donderdag, 24 April 2025 

Episode 12

Die Kokkedore betree die wêreld van fynproewerkos. Die bekroonde gassjef Jess van Dyk daag die braaiers uit om elke element van haar komplekse vyfstergereg haarfyn oor die vuur te vertolk.  

Donderdag, 1 Mei 2025

Episode 13 

Die finaliste berei vir hulle eregaste aan die Kapteinstafel ‘n feesmaal voor wat geïnspireer is deur die deftige laaste maaltyd op die Titanic. Wie se bootjie gaan sink en wie gaan seëvier? 


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 begin Donderdag, 6 Februarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies