Hier is ’n voorsmakie van wat jy volgende in Binnelanders kan verwag.
Maandag, 3 Maart
Mercia bedink ’n blink plan om die Eikehoffers te help, maar dit steek Francie dwars in die krop. Delia is in die wolke omdat Lukas skynbaar liefde gevind het. Rian verbaas Delia deur nié te vinde te wees vir haar nuutste plan nie.
Dinsdag, 4 Maart
Mercia glo haar planne om ’n geldjie los te slaan is tot die Eikenhoffers se voordeel. Riekie wend ’n ernstige poging aan om dinge reg te stel, en Conrad wonder oor Lukas se vriendin.
Woensdag, 5 Maart
Conrad let op dat iets met Imke nié heeltemal pluis is nie. Daar is ’n ontploffing in Pretoria en Ongevalle word oorweldig. Mercia verkoop “patrone” in Tonik.
Donderdag, 6 Maart
Amor en Nicolette raak vriendeliker met mekaar, en Henry lê sy hart bloot. Conrad het nou nog meer bedenkinge oor Lukas se verhouding.
Vrydag, 7 Maart
Mercia se verleentheid noop haar om terug te wil vlug Engeland toe. Binneland se nuwe paartjie besluit om van meet af eerlik te wees met die jonger geslag, en Nicolette dink sy herken iemand in die Koster-huis.
Maandag, 10 Maart
Imke is bekommerd dat haar ware identiteit onthul gaan word, en Amor het goeie raad vir Rian. Henry is dankbaar dat dinge in Riekie se lewe begin uitwerk.
Dinsdag, 11 Maart
Nicolette bevestig Conrad se vermoedens oor Imke. ’n Sagter kant van Uys begin kop uitsteek, en Mercia gaan kyk na ’n beskikbare meenthuis by Eikehof.
Woensdag, 12 Maart
Conrad vind meer oor Desiré uit, en LJ en Riekie begin mekaar meer vertrou. Mercia besluit (teësinnig) om Eikehof toe te trek, maar Francie gee haar rede om tog opgewonde te wees.
Donderdag, 13 Maart
Conrad konfronteer Lukas oor die leuens wat hy hulle vertel het, Uys doen ekstra moeite met Leah se geskenk, en Riekie volg LJ se raad.
Vrydag, 14 Maart
Dis Leah se verjaardag, en Uys se geskenk is baie bedagsaam. Lukas speel oop kaarte met Conrad, en Kristien deel ontstellende nuus met Delia.
Maandag, 17 Maart
Mercia trek by Eikehof in. Uys loop sy rieme styf oor ’n video, en Amor het ’n nuwe voorstel rakende Binneland se krisis met pasiënte.
Dinsdag, 18 Maart
Tracy oorweeg dit om ’n nuwe klas by te woon. Mercia het ’n slegte eerste aand gehad, en Delia is woedend vir Lukas.
Woensdag, 19 Maart
LJ deel sy emosies meer openlik met Riekie as met Thalia, en Delia is gespanne wanneer sy iemand onder ’n vals naam by Binneland laat opneem. Louis wil hê Mercia moet ’n sielkundige gaan sien.
Donderdag, 20 Maart
Beide Thalia en LJ is ontsteld ná ’n bakleiery, en Riekie help LJ om rede in te sien. Rian en Delia sit vas oor Amor, en Desiré doen iets wat onvoorsiene gevolge het.
Vrydag, 21 Maart
Almal is begaan oor Uys se skielike babakoors, en Louis word ingeroep na Eikehof oor Mercia se wilde partytjie. Desiré veg vir haar lewe.
Maandag, 24 Maart
’n Gevaarlike plan word beraam en uitgevoer om ’n pasiënt se lewe te red. LJ wik en weeg oor ’n ontstellende bekentenis, en Uys se nuutste toekomsplanne steek sy vriende dwars in die krop.
Dinsdag, 25 Maart
Rian is goed die josie in vir Delia, en Thalia beplan ’n spesiale aandjie vir haar en LJ. Tracy het ’n groot guns om Uys te vra.
Woensdag, 26 Maart
Nicolette is al meer oorgehaal om haar merk as ’n registrar te maak, en LJ probeer dinge by ’n seergemaakte Thalia regstel. Joe is verbaas wanneer Anya by Binneland opdaag.
Donderdag, 27 Maart
Ella probeer met LJ praat, maar hy is bot. Uys vat vir Leah saam Ongevalle toe, en Nicolette assisteer vir dokter Cloete, maar sy raak lighoofdig tydens die operasie.
Vrydag, 28 Maart
Joe roep Naomi se hulp in, en Uys se skuldgevoelens vreet hom op. Thalia is nog nie gereed om LJ te vergewe nie, en Annetjie moet inspring en help wanneer Ella ’n krisis beleef.
Maandag, 31 Maart
Ella vind uit wat tussen LJ en Thalia gebeur het, en Uys se “insident” lei tot ’n verrassende kinkel.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Episodes van die vorige seisoen van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 22:00 op kykNET&kie. (DStv-kanaal 145) uitgesaai, met herhalings van dié episode om 01:00 die volgende dag. Daar is ook ’n omnibus van die week se episodes op ’n Saterdag om 10:30.
Seisoene 8-12 van Binnelanders is op Showmax beskikbaar. Die huidige seisoen is nie beskikbaar op die plaaslike weergawe van dié diens nie.