Menu terloops
In Lekker mense [13 Apr 2022]

Ontmoet ‘Arendsvlei’ se Dominique: Wat jy van aktrise Mekaila Mathys moet weet


Ons het Mekaila Mathys as die leergierige student Tahira Kahn in die gewilde Netflix-treffer ‘Blood & Water’ leer ken. Sedertdien het sy tydelik haar skoolbaadjie vir verfkwaste as die nuwe gesig in kykNET&kie se telenovela, ‘Arendsvlei’, verruil.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk Arendsvlei

Ontmoet ‘Arendsvlei’ se Dominique: Wat jy van aktrise Mekaila Mathys moet weet
Kyk lokprent

Hoewel die Arendsvlei-nuweling, Mekaila Mathys, wyer bekendheid as aktrise vir haar rol in Netflix se plaaslike reeks Blood & Water verwerf het, was dit beslis nie haar eerste TV-uittog nie.

Mekaila het ook die rol van Angel Abrahams in die kykNET- kontemporêre jeugreeks danZ! vertolk en was ook in die internasionale reeks Dominion te sien. Nog ’n Suid-Afrikaanse aktrise, Kim Engelbrecht, het op die Dominion-stel haar vaardighede in ’n sci-fi-reeks getoets. Nou is sy een van die nuwe hoofkarakters in die tweede seisoen van die HBO-reeks Raised by Wolves met die sci-fi-meester Ridley Scott as vervaardiger.   

Ons het met Mekaila Mathys oor haar Boheemse karakter Dominique, wat dié week die hartgebroke Thys Cupido (Sherman Pharo) se asem weggeslaan het, gesels.

Wie is Mekaila Mathys en wat maak haar opgewonde oor die wêreld van toneelspel?

Mekaila is ’n sjiek, prettige, liefdevolle, vriendelike, avontuurlustige kosliefhebber van die Kaapse Vlakte. Sy kan ’n bietjie crazy wees, tog is sy steeds ’n introvert. Amper soos ’n lekker gemengde masala. Wat haar opgewonde oor die wêreld van toneelspel maak, is hoe sy, as ’n introvert, dié medium kan gebruik om deur verskeie rolle haarself uit te druk. En die rolle is redelik kontrasterend wat die karakters betref.

Wat sal kykers die meeste van jou karakter in Arendsvlei verras? En hoe het sy vir jóú verras?

Ek dink kykers sal verbaas wees oor haar uitkyk op die lewe en haar pragtige, vrysinnige geaardheid. Ek was weer verras oor hoeveel ek en Dominique in gemeen het en hoe grounded ek voel terwyl ek haar vertolk.

Vertel vir ons oor ’n snaakse oomblik op die Arendsvlei-stel wat jou bybly?

Daar is ’n toneel in Arendsvlei waar Thys en Dominique ’n roomyshorinkie op ’n bankie deel. Teen die tyd wat hulle “aksie!” geroep het, het die roomys al gesmelt en oral gedrup todat daar byna niks oor was nie. Dit was nogal ’n morsige besigheid!

As jy nou by die rolverdeling van enige internasionale program kon aansluit, watter program sou dit wees en wie is jou karakter?

Bridgerton! Ek is mal oor aksente en ek sal die hoof (vroue-)karakter wees.

Hoe sou jy jou heel eerste oudisie-ervaring beskryf?

Ek kan nie onthou waarvoor my eerste oudisie was nie, want dit was so lank gelede, maar ek kan onthou dat dit nogal skrikwekkend was. Dit het baie intimiderend gevoel om in ’n kamer in te stap met helder ligte, kameras én almal se oë wat jou stip dophou.

Toe jy op hoërskool was, watter vakke het jy gekies en met watter beroep in gedagte?

Op hoërskool het ek kuns en drama gekies, omdat ek geweet het dat ek in een of ander kreatiewe veld wou werk. Ek moes ’n moeilike keuse maak tussen toneelspel, dans, sing en skilder. Vandag is ek trots om te sê dat ek al die gawes waarmee God my geseën het, gebruik.

Wat was die eerste werk waarvoor jy betaling gekry het? En wat het jy daar geleer?

My eerste werk was toe ek in graad 7 was. Ek het my heel eerste leefstyl-fotosessie vir Huisgenoot gedoen. Ek het geleer dat jy nooit te jonk is om te begin droom óf in jou drome te glo nie. Geloof in jouself vaardigheid wat baie mense kort. Ek het die ins and outs van hoe ’n kreatiewe stel bestuur word, geleer en my eerste smaak van showbiz daar gekry.

Wat is die moeilikste ding wat jy in jou 29 jare op aarde moes verwerk?

Ek word 30 op 8 Oktober en die moeilikste ding wat ek nog moes verwerk, is teleurstelling en die gevoel wanneer jy, deur mense vir wie jy die liefste is, seergemaak word. Maar aan die einde van die dag moet ons almal leer om genade te hê. Ons is almal tog net mense en ons maak almal foute.

Wat irriteer jou die meeste?

Daar is ’n hele paar dinge! Dit wissel wel en hang af van die seisoen waarin ek myself bevind. Tans is dit beslis enige vorm van narsistiese gedrag.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies