Soos daar in die temaliedjie gesing word, draai die drama in kykNET se gewilde telenovela, Arendsvlei, altyd rondom “liefde en leed”.
Maar tussendeur trane, smartsages en skandale, tree liefde uiteindelik – na ’n paar ellelange ompaaie – tog altyd as die dag se oorwinnaar uit.
Só dan ook tussen grapjas Lionel (vertolk deur Jody Abrahams) en die saloneienaar, Janice (vertolk deur Crystal-Donna Roberts), wat dié week die knoop deurgehak het.
Die troue, wat oor twee dae net buite Stellenbosch verfilm is, was gelyke dele sprokiesagtig en boheems…natuurlik met ’n tirtseltjie biker vibes by.
“Die boheemse troue het my sommer baie aan my eie troue laat dink”, vertel Crystal-Donna. “My troue was ook buite en my rok was dieselfde styl. Ek het selfs ’n blommekroon op my eie troudag ook gedra,” sê sy.
“Alles was net perfek en mooi. Dit was regtig ’n spesiale dag vir ons almal op stel. Ek love hul verhouding.”
Tweede kanse
Toe kykers vir Lionel en Janice in 2018 vir die eerste keer ontmoet het (met die aanvang van Arendsvlei op kykNET), was albei in ander verhoudings. Lionel was met Ronel (Melanie Du Bois), en Janice met Thys (Sherman Pharo), getroud. Dié lot het almal vir mekaar as tieners geken en jare later, nadat Ronel en Lionel weer by die Vlei intrek geneem het, het hulle besef dat hulle met die verkeerde mense getroud is.
Thys en Ronel het stadig weer gevoelens vir mekaar begin ontwikkel. Dít terwyl Lionel se tienerverhouding met die liefde van sy lewe, sy “babes”, Janice, vinnig weer vlamgevat het.
Janice se hart is destyds in stukke gebreek toe sy hul baba laat aanneem het, nadat Lionel vir Ronel gekies het. Sy wou nie ’n tienerma wees nie en het gedink daardie hoofstuk van haar lewe is finaal verby… Dis nou tot hulle mekaar in dieselfde dorp weer raakgeloop het.
Lionel en Janice het reeds later in die eerste seisoen van Arendsvlei weer liefde by mekaar gevind, toe Lionel se seun Lee-Roy (Roberto Kyle) met kanker gediagnoseer is. Die band tussen hulle het aanhou groei en verstrek en uiteindelik het albei se huwelike verbrokkel.
Liefde wen
Maar dit beteken nie dat dinge in hierdie passievolle verhouding altyd klopdisselboom verloop nie. Janice en Lionel het maar soos enige paartjie hul uitdagings. Trouens, Lionel het al baie aande op die bank in die sitkamer deurgebring. Nogtans vind hulle altyd hul pad terug na mekaar.
En nou is hulle uiteindelik getroud!
Maar dit was so hittete of dit het glad nie gebeur nie. Lionel het mos reeds in Februarie vanjaar vir Janice gevra om te trou. Sy het egter sy aanbod van die hand gewys. Almal het gedink dít sou die einde van hul liefdesverhaal beteken.
Maar julle ken tog mos vir Arendsvlei – daar is altyd ’n kinkel in die storielyn.
Oor die afgelope maand het Lionel sy liefde met dade bewys, soos toe hy sy gunsteling-baadjie verkoop het om vir Janice nuwe haardroërs vir die salon te koop.
Toe sy uiteindelik besef dat daar geen ander deksel vir haar pot is nie, het sy besluit om Lionel met ’n boheemse-biker troue te verras.
Crystal-Donna Roberts as Janice in Arendsvlei. Foto: kykNET
Oor liefdeslesse en love language
Oor wat mense uit Janice en Lionel se verhouding kan leer, sê Jody: “Maak die klein jakkalsies reg, maar moenie op hulle fokus nie”.
“Toe Lionel vir Janice gevra het om saam met hom Clanwilliam toe te gaan in seisoen twee, was dit so lekker. Hulle het so lekker gekuier en gebond voor Mammatjie (vertolk deur Shaleen Surtie-Richards) daar aangekom het,” vertel Jody oor sy gunsteling-oomblik tussen Janice en Lionel in die reeks.
En wanneer dit by Lionel en Janice se love language kom, grap Jody dat dit “fight or flight” is.
“Nee, ek joke maar. Dis laughter. Lionel en Janice swem teen die stroom.”
Janice en Lionel se top-3 spesiale oomblikke
In siekte en gesondheid
Janice en Lionel het mekaar al deur moeilike tye bygestaan. Een so voorbeeld is toe Lionel troos by Janice gesoek het tydens Lee-Roy se siekte.
Tot die dood ons skei
Toe Janice haar broer Steve se dood moes verwerk, was Lionel daar om haar te ondersteun. Hy het dag en nag vir haar gehelp om antwoorde te kry.
Soos vinkel en koljander
Hierdie twee is so anders, maar selfs Lionel se ma moes erken dat hulle tog mekaar gemaak is. Boonop laat Janice nie met haar mors nie. Dit is hoekom Janice en Lionel se boksoefeninge ook een van die beste tonele saam is. En niemand laat vir Janice harder lag as Lionel en sy sêgoed nie.