Menu terloops
In Onderhoude [20 Mei 2024]

Luan Jacobs oor sy ‘Diepe Waters’-karakter, genesing deur die kunste, en min slaap


Luan Jacbos is besig. Besig-besig. Hy skryf aan sy eerste fantasiefliek, sy eerste boek verskyn eersdaags (met nog twee romans in die pyplyn) en ’n eenmanvertoning is ook binnekort op die planke – en dis maar net die hoogtepunte! Maar geniet hom solank as die nuwe ‘Diepe Waters’-karakter, Damian, wat vandeesweek sy verskyning maak.

Sien vir Luan op 'Diepe Waters'

Luan Jacobs oor sy ‘Diepe Waters’-karakter, genesing deur die kunste, en min slaap

Die talentvolle Luan Jacobs, wat ’n rits films, TV-reekse en verhoogproduksies agter sy naam het, maak vandeesweek sy eerste verskyning in Diepe Waters… Maar – soos dit hoort in ’n goeie storie – is sy karakter veel meer as wat ’n mens met eerste oogopslag kan aflei.

Die akteur, wat onder meer in Fynskrif en Die Byl te sien was, het meer aan terloops vertel.

Luan Jacobs, Diepe Waters
Luan Jacobs saam met Werner Coetser in Diepe Waters. Foto: Verskaf

Vertel ons meer van jou karakter in Diepe Waters.

“Ek vertolk die rol van Damian. Hy is ’n bitter aangename knaap wat almal se drome op sy hart dra. Hy werk vir ’n maatskappy wat swemmers Amerika toe stuur om hulle vir die Olimpiese Spele voor te berei. Damian is agtermekaar en baie noukeurig met sy voorbereiding, maar hy dra wel geweldig swaar aan ’n wond wat hy vir almal wegsteek. Meer mag ek nog nie sê nie…”

Wat het jy die meeste geniet van die rol en die Diepe Waters-stel?

” ’n Goeie teks en storielyn is baie yl gesaai. Die feit dat hierdie rol albei het, is iets wat my aangetrek het. Ek het ook die geselskap agter en voor die kameras geweldig geniet. Ons het vinnig vriende geword! 

Diepe Waters het my op die hande gedra, en dit was aangenaam om weer teenoor ou vriende soos Neels (van Jaarsveld), Reze-Tiana (Wessels), Werner (Coetser) en Eloïse (Cupido) te speel.”

Verhoog, TV, films… Jy het al oral jou slag gewys. Het jy ’n gunsteling?

“Die omstrede vraag! Akteurs vra gereeld vir ander akteurs dié vraag en dan word oordeel oor jou uitgespreek as jy nie teater kies nie.

“Vir my is dit al drie. As die werk interessant en die teks goed is, is ek daar. Iets waaraan ek nog altyd baie hard werk, is om konsekwent te bly in alles wat oor my pad kom. Daar is elemente in elke medium wat sy eie aantrekkingskrag het en waarby ek baie baat.

Ek dink dis ’n tyd vir genesing, meer as ’n tyd vir verwyt. Die kunste het die krag om mense die vermoë te gee om mekaar te verstaan.

Luan Jacobs

“Maar as ’n mens my sou dreig om te kies, is dit op hierdie stadium TV en films. Dié mediums is aantreklik as gevolg van die pas en die plek-spesifieke natuur wat daarin opgesluit is. ’n Mens moet bo-op ’n trein se dak skiet as dit só geskryf is, soos in Ballade vir ’n enkeling, of twee maande in die Karoo gaan ronddraf, soos in Jagveld, of in die Kaap gaan skiet as die storie in die Kaap afspeel, soos in Fynskrif. Die lys gaan aan, maar die reis-opsies en die genot van die spel spreek tot my.”

Luan Jacobs, Diepe Waters
Luan Jacobs as Damian in Diepe Waters. Foto: Verskaf

Jy is so besig, dit is amper moeilik om te glo jy het tyd vir Diepe Waters gekry! Watter projekte geniet tans jou aandag?

“Ek sê altyd: ‘Ek slaap min, maar wanneer ek slaap, slaap ek lekker.’ Ek hardloop op die oomblik rond met ’n hele paar projekte. Ek het so pas drie teaterproduksies vervaardig wat deur sewe provinsies toer. By RSG is ek ’n regisseur wat in pre-poduksie is met ’n nuwe projek wat in Julie begin, en ek werk aan my eerste eenmanvertoning – Ballade van ’n blikbrein – wat by Innibos te sien gaan wees.

“Ek skryf ook aan ’n fantasiefliek, wat later die jaar verfilm gaan word, en ek is ’n senior lektor vir teater en radio by PALI (The Performing Arts Lifestyle Institute).

“My eerste boek, Om teen treine te skree, verskyn eersdaags by NB-uitgewers.

“Ek doen stemwerk vir drie verskillende oorklankingsreekse wat oor ’n paar kanale strek, en dan gaan ek weer een van die beoordelaars van die jaarlikse Pronk Podium-kompetisie wees.

“Ek skryf ook aan twee romans wat ek hoop in November by die uitgewers sal wees.”

Wat dink jy is die waarde van die kunste in die breë?

“Daar lê baie genesing opgesluit in die krag van die kunste. As ek die minister van kuns en kultuur was, sou ek ’n vorm van streeksrade terugbring wat strek oor al ons land se tale. Dit sal die mensdom nader aan mekaar trek en nie toelaat dat mense mekaar verstoot nie.

“Ek dink dis ’n tyd vir genesing, meer as ’n tyd vir verwyt. Die kunste het die krag om mense die vermoë te gee om mekaar te verstaan.”

Watter Suid-Afrikaanse storie sal jy graag in ’n fliek wil omskep?

“Basies alles wat ek al ooit geskryf het en vervaardig het in ander mediums. Film is ’n medium wat sy tyd vasvang in terme van beskikbare tegnologiese hulpbronne en die temas waaraan die mense kou. Daar is ’n ewigheidswaarde betrokke by die maak van ’n film.

“Ek glo daar is ook soveel stories wat nie vertel word nie in ons geskiedenis, soos Wolraad Woltemade en Daisy de Melker, en dalk is daar plek vir ’n Suid-Afrikaanse superheld.

“Ek dink daar is ’n herlewing in die vermaaklikheidswêreld tans met dié dat mense nie meer bang is om oor omstrede temas te praat nie en die platforms gegun word. Solank dit smaakvol gedoen word, is ek baie gelukkig.”

Teenoor wie sal jy nog graag wil speel?

“Wyle Robin Williams, Tom Hardy, Benedict Cumberbatch, Margot Robbie, Leonardo DiCaprio, Lee Pace, Tom Hanks, Angelina Jolie… Die lys gaan aan en aan.

“Plaaslik beslis enige tyd weer saam met Neels van Jaarsveld, Wessel Pretorius, Edwin van der Walt, Je-ani Swiegelaar, Germandt Geldenhuys en Cindy Swanepoel. Eintlik almal wat lekker mense is en baie respek het vir wat ons doen.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies