“Die groen koevert is nie net die befondsing van ’n projek nie, want dit gee weer hoop en moed vir ’n dorp,” sê Maryke Haywood, bemarkingshoof: Lottoland SA. En die hoop kom hierdie keer na Williston in die Noord-Kaap.
Dis jou dorp
“Dis rêrig ’n baie oulike dorpie, en hier gebeur eintlik baie op hierdie dorpie, hoor!” vertel die sangers en programaanbieder, Leah.
“Williston is ’n Karoo-dorpie, en ’n baie unieke dorpie met al sy plat vlaktes aan die noordekant en aan die oostekant so bietjie berge. Sy suidekant begin raak aan Sutherland wat effe koud is,” vertel Johan van der Colff, projekleier.
“In ons wêreld is daar nie ’n mall nie. Ons skep ons eie vermaak hier. Ons het natuurlik ’n uitsonderlike produk hier – ons lamsvleis wat ons in dié wêreld produseer.”
“Williston is vir my een van die mooiste plekke. Bo en behalwe dat ek hier gebore en getoë is – dis ’n plekkie wat ek vir niks anders sal verruil nie,” kom dit van Jannie Klaaste, gemeenskapslid.
“Dit is ’n rustige plekkie, ons ken almal mekaar, ons dra mekaar se laste. Williston is ’n deurry-plek, met ander woorde, hier is heelwat gastehuise wat baat daaruit. Dis 11 uur van Pretoria af, so as hulle hier kom, is hulle moeg en dan soek hulle ’n slaapplekkie,” vertel Elsa van Schalkwyk, eienaar van Williston @21-gastehuis.
“Williston is ’n fenomenale plek, ’n kosbare plek. Hy’s ’n baken van hoop en menige toeriste kry ’n rusplek hier, en dis ’n tuiste vir ons mense en ons gemeenskap. Die mense hier leef met ’n passie en hul omgee is iets besonders,” sê Surita Bruwer, gemeenskapslid.
“Williston het sy oorsprong gehad deur die vorige naam, Amandelboom. Dit was ’n boom wat gegroei het by die destydse uitspanplek waar die mense van plek tot plek met ossewaens gereis het. Dit was die enigste skaduweeboom waaronder hulle kon gesit het en daarvan die naam Amandelboom,” vertel Jannie.
Johan beaam die oorspronklike naam en vertel vir Leah dat “een of ander Engelsman” daar aangekom het en later het die naam Williston geword.
“Hier was ’n ou sendeling wat hiernatoe gekom het en hy het toe gesê maar hy gaan nou hier ’n amandelboom plant. Die amandelboom is nou geplant en mooi opgekom en toe begin raak die water min. Dit was fonteinwater.
“Nou al wat hy toe besluit is hy moet die fontein nou groter kry. Nou ja, toe gaan hy en plant toe nou bietjie dinamiet daar en toe hy dit skiet, toe skiet hy die boom stukkend,” vertel Johan. En toe’s dit die einde van amandelboom . . .
Die amandelbome én hoop keer terug
Johan verduidelik aan Leah dat hulle besig is om weer amandelbome terug te bring na Williston. Daar is reeds 20 bome op strategiese plekke geplant.
“Ons is baie besig in Williston, al lyk dit nie so nie. Dit lyk vreeslik rustig vir die toeriste, maar ons wat hier is en werk en wat dinge laat gebeur . . . Ons is besig, maar dis lekker,” sê Surita.
Agt jaar sonder reën het bygedra dat van die boere al hul vee moes verkoop en van hul werknemers moes afbetaal. Maar nie die droogte of die pandemie kon die mense van Williston onderkry nie.
“Ek het hoop vir Williston omdat Williston my geleer het dat deur saam te werk, kan ons iets bereik,” kom dit van Jannie.
G.O.E.D
“Gee om en doen goed” is die projek se naam. Vir Leah is dit een van die mooiste projekname wat sy tot nou toe nog gehoor het.
Johan vertel dat Jan Boel Louw, een van Williston se ou inwoners, in November 2023 80 jaar oud geword het. Toe het hy gesê hy wil graag iets terugploeg in die dorp.
“G.O.E.D is ’n gemeenskapsondersteuningsprogram, dit gaan oor die gemeenskap van Williston. Want jy weet, so baie mense gee om, maar dan doen hulle niks nie, jy weet. Dan draai hulle net om en loop weg, jy weet,” kom dit van die formidabele Jan Boel homself en die stigter van G.O.E.D.
“Toe sê ek kom ons gee om en ons doen en ons skop hierdie gemeenskapsfonds, hierdie beweging af, tesame met my 80ste jaar se viering,” vertel Jan Boel.
“Ek dink ons lewe nogal in ’n tyd waar mense baie geneig is om terug te sit en bietjie te oordeel voordat hulle voor hul eie deur vee,” sê Leah. “Dis baie maklik om op jou foon te sit en iemand te kritiseer, maar G.O.E.D. vat alles so mooi saam. Jy moet omgee oor jouself, jy moet omgee oor jou dorp en dan moet jy doen. Jy moet tot aksie kom.”
Die museum
Johan vertel hulle spaar ’n R5 hier en ’n R10 daar om om te gee. Dinge is egter deesdae aansienlik duurder en dis nie altyd maklik om dit te doen nie. Een van die items op hul lysie, is die museum waar daar aandag nodig is.
Hy wens vir die museum om ’n lewendige ding te wees, ’n plek waar mense heen kan gaan om te gaan kyk.
“Die museum was ’n plek waarheen die skoolkinders gereeld gekom het, die ouetehuis se mense het daar gekom, daar is VLV-vergaderings gehou. Ons wil baie graag hê die museum moet weer een van die middelpunte van Williston raak,” is Elsa se wens.
“Ons kinders raak groot en al daai oudhede wat daar is . . . Ons kinders weet nie van dit nie en dit is hoe ons vir hulle kan gaan wys dis hoe ons ou mense grootgeraak het. So, ons wil hê dit moet voortgaan,” sê Cerina Willemse, gemeenskapslid.
“Ons gaan die museum buite-om regmaak. Ons wil graag ’n ablusieblok daar aan sit. Voor die ruite moet ons perspex sit om te keer dat die lig wat binne-in die museum ingaan, die korrekte lig is. Normale sonlig en normale daglig beskadig baie van daardie goed,” vertel Johan.
Die museum soos dit nou daaruit sien, lyk vir Leah ’n klein bietjie hartseer en sy sê dit het beslis aandag nodig.
“Jy ruik sommer die museum. En daar is so baie interessante goed hierbinne,” laat Leah hoor toe sy die museum binnegaan.
Johan verduidelik dat die museum met klei gebou is. Die houtwerk daarbinne is reeds meer as ’n 100 jaar oud. Dan is daar ook ’n paar lekplekke in die dak wat uitsorteer moet word.
Die koperblaasorkes
Leah is baie beïndruk met die feit dat Williston ook oor hul eie koperblaasorkes beskik. Dit loop hand-aan-hand met die Jeugbrigade, vertel Johan. Daar is ’n groep kinders van 10-12 jaar oud wat deel van die Jeugbrigade vorm.
Collin Klaaste, kaptein van die VGK Jeugbrigade, verduidelik dat dit ’n poging is om die jeug weg te hou van verkeerde dinge.
“Ons leer hulle liggaamlike opvoeding, geestelike opvoeding waar ons Bybelstudie met hulle doen. Respek en dissipline. Dit is die brigade,” vertel hy. Die groep doen ook straatparades as deel van hul fondsinsamelingaktiwiteite om klere vir die kinders te bekom en instrumente te kan aankoop.
Johan vertel dat die Jeugbrigade wel by ander dorpe ook aan optredes deelneem, maar dat hulle nie heeltemal reg geklee is nie. Hy sien die potensiaal daarvan om hierdie groepie kinders as ’n uitvoerproduk van Williston te ontplooi.
Die kerkhorlosie
Die ou horlosie werk nog met toue en gewigte. Maar op die oomblik is daar ’n paar probleme en hulle wil dit graag uitsorteer.
Die groen koevertjie
Toe Leah vir Johan die groen koevertjie verras, erken hy dat sy nou ’n grootmens laat hartseer raak. Dis met bewerige hande dat hy die koevert by haar neem en begin oopmaak.
Hy soek-soek na woorde om vir Leah te bedank vir die koevert wat ’n bedrag van R275 000 vir Williston se opgradering bewillig. “Dit gaan ’n groot gat toestop,” kry hy dit eindelik uit.
Meer oor ‘Lottoland help ’n dorp’
6 weke later
Dis ’n baie opgewonde Leah wat na ses weke terugkeer om uit te vind wat alles op Williston gebeur het. Johan vertel dat daar wel ’n hele paar uitdagings was. Hulle het egter heelwat vermag.
“Dit was nie net ’n vonkie nie, dit was ’n ordentlike handgranaatjie wat ontplof het vir ons,” vertel Jan Boel. Hy is baie ingenome met wat alles verrig is.
“Hierdie museum was in ’n toestand gewees nou-die-dag nog, jy weet. En eenvoudig as hulle aan die werk spring, dan word dinge gedoen én goed gedoen!”
Johan kan nie vir Leah genoeg rondwys nie. Die deure van die museum is mooi afgeskuur, veiligheidshekke is geïnstalleer, toilette is gebou, die erfenisgroen is weer teruggebring, die lekkende dak is teen groot koste herstel en die gebou self is met ’n spesiale mengsel van kalk en water afgewit.
“Die museum is ’n herrysing van ons ryke, ryke geskiedenis en dis wonderlik om hierdie in die toestand te kan sien,” sê Johan.
“Hier by die museum was ons baie besig gewees die afgelope ses weke,” vertel Frans Ferus, projekspanlid. “Ons het die [bak-]oond gebou, ons het die gebou afgekalk, ons het geverf, die dak geverf, ons het die toilet gebou en pype gelê. Dit was ’n vreeslike gewerkery die ses weke hier.”
Dit vat nie lank voordat die kamera vir Leah betrap waar sy ewe handig met die graaf buite die museum help netjies maak nie. En sommer ook ’n paar sementblokke rondom die pype neersit terwyl sy aan die gang is.
Johan is baie trots op die outydse bakoond wat hulle langs die museum gebou het. Dit werk 100% en die brode wat daar uitgehaal word, staan nie ’n aks terug vir enige bobaasbakker se brode nie.
Leah kry die kans om ’n snytjie varsgebakte brood op die proef te stel. Dis nie net ’n snytjie nie, dis wat ’n deurstopper genoem word! Maar met botter wat wegsmelt in die warm brood en tuisgebakte konfyt byderhand – wie kan nou nee sê?!
Die kerkklok lui nog nie heeltemal op tyd nie, maar Johan sê hulle het eindelik ’n geakkrediteerde kundige gekry om dit te kom uitsorteer.
Hy verduidelik ook dat hulle ’n paar rand na die Werksklas oorgeskuif het om die vroue met nuwe vaardighede te help. Dié projek bestaan al 61 jaar.
Annelouise van der Colff, koördineerder: Williston Kunswerkgroep, verduidelik: “Ons probeer bande bou met ander vroue en ons probeer vir hulle net ietsie nuuts leer en net ’n bietjie kleur in hul lewe gee.”
“Ons geniet dit verskriklik baie. Dit is wonderlik om dit te kan doen want ons leer daaruit en ons maak vir ons iets daaruit. Ek wil net dankie sê vir Lottoland vir die skenking wat julle vir ons gegee het. Verskriklik dankie. Ons geniet dit,” sê Siela Nieuwenhoudt, Williston Kunswerkgroep.
Ook die rieldansers het baat gevind met nuwe skoene terwyl hul rompe en broeke herstel word vir wanneer hulle aan provinsiale of nasionale kompetisies gaan deelneem. Leah dink hulle is uit die boonste rakke.
“Een van die hoogtepunte van die dag, ek dink vir almal, is definitief toe die Jeugbrigade kom afmarsjeer deur die strate van Williston. Dit het my rêrig laat voel die mense is trots. Dit gee so ’n warm gevoel,” sê Leah.
“Die brigade en die kerk was baie opgewonde toe ons hoor daar’s lig vir ons in die tonnel. Almal gaan uniformig lyk in die toekoms.
“Die kinderharte het oorgeloop van blydskap. Die enigste hindernis op die oomblik in ons pad is dat ons die fabriek vir ’n kwotasie gevra het. Die fabriek kon tot op hierdie stadium nog nie na ons toe terugkom nie,” vertel Collin.
“Ons het ’n voëltjie hoor fluit en ons was so ’n bietjie opgewonde om te sien wat is die verrassing.”
Johan handig blinknuwe instrumente en die opgewondenheid onder die kinders is onblusbaar.
“Jy sien die hoop, jy sien die trots,” is Leah se gewaarwording.
Toe’s dit tyd vir ’n “uitval-dop op ’n Vrydag”. Leah sê dit kon nie beter tydsberekening gewees het nie, want toe val almal uit by die plaaslike gholfklub.
“Lottoland se bydrae was soos manna vir ons uit die hemel. Dit is soos die donderstorms in die diepe somer-Karoo hier en die Sak-rivier wat afkom,” is Jan Boel se dankie-sê.
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.