“Ons help nie net dorpe nie. Ons is besig om ’n nasie weer te bou, saam met elkeen wat ’n verskil maak,” sê Maryke Haywood, bemarkingshoof: Lottoland SA. En dis presies wat met elke episode van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp gebeur.
In die derde episode is dit Nieuwoudtville in Namakwaland waar daar gewoel en gewerskaf word dat die stof so staan.
Dis jou dorp
“Die mense wat hier bly – as hulle voel die naam is te lank – dan kap hulle hom sommer Nieudtville. Net so,” vertel sangeres en programaanbieder Leah. Die pad vat hulle oor die Vanrhynsdorp-pas verby die Knersvlakte.
“Julle, dis bietjie asof jy amper op die maan is,” is hoe Leah die omgewing ervaar.
“Nieuwoudtville, soos hulle sê, is die middelpunt omtrent waar die Namakwaland, die Hantam asook die verste noordelike punt van die Cederberge . . . álles kom hier bymekaar,” kom dit van Mandie Kotze, spanleier en voorsitter: Nieuwoudtville Toerismevereniging en VLV, se kant.
Sy sê dis die mense van die omgewing wat haar hier hou en dat sy in alle waarskynlikheid die hardste van almal sal huis as sy dalk eendag hier moet weggaan.
“Almal ken vir almal se dinge, wat nie altyd sleg is nie, maar dis ook nie altyd goed nie,” lag sy. “Ons huil saam oor die hartseer dinge, ons lag saam oor die goeie dinge. Ons help mekaar deur moeilike tye.”
Sy vertel dat die dorp oor ’n ryk geskiedenis beskik en dat dit lyk asof daar bitter min oor die verloop van baie jare hier verander het.
Arend Kotze, plaaslike besigheidsman en boer, vertel ’n oud-inwoner wat sy hele lewe reeds hier bly, het eendag vir hom gesê: “Man, dis maar soos ’n groot gesin. As jy in ’n gesin is van 15 kinders, dan is hulle ook maar heeltyd in mekaar se hare want hulle gee eintlik rêrig vir mekaar om.”
Hy dink dit is inderdaad die geval met Nieuwoudtville se inwoners.
“As daar ’n pampoen of ’n skorsie of wat ookal ekstra is, dan sal daai persoon [wat sukkel] dit altyd kry. So, mense gee régtig vir mekaar om,” sê hy.
“Nieuwoudtville is ’n plek wat mense laat kom na hom toe vir die vriendelikheid. skuinskoek, roosterbrood, kêrrie-afval en dan springbokpastei,” rits Hannelie Koenana, toerisme-beampte: Nieuwoudtville Toerismevereniging, die redes een na die ander af.
“Dis die spesiale mense, die spesiale geboue, die spesiale blomme wat jy nêrens anderster in die wêreld kry nie . . . so, daar’s baie spesiale goed,” sê Johan Kotze, eienaar: Blou Huis Gastehuis.
“As jy hiernatoe kom, dan besef jy wow, ons is hier in die barre woestyn nou en oor ses maande is dit blommetjiewêreld,” vertel George Cronje, spanlid.
Hester Nel, spanlid en voorsitter van die vrouediens, is reeds van 1993 betrokke by die doenigheid in Nieuwoudtville en sy sê sy gaan betrokke bly tot sy eendag graf toe gaan.
“As jy ’n paar hande het wat iets kan doen, is jy betrokke by kerk, by reklame, by VLV, by enige geleentheid wat daar is. Dis ’n saamstaan-lekker dorp,” sê Hester.
Koenas van der Westhuizen, ’n plaaslike boer, sê sy eerste vraag aan mense is gewoonlik wat hulle hier kom soek. Die antwoord? Die rustigheid, die veiligheid.
“Dis ’n baie diverse omgewing en jy werk eintlik maar dat dit bars om te oorleef. Jy kan nie hiernatoe kom as jy nie ’n plan het om wat jy hier moet kom doen nie. Hier is nie rêrig voete nie, so jy moet maar baie keer buite die dorp jou geld maak,” sê Arend.

Wat doen ’n mens in Nieuwoudtville?
Mandie vertel dat besoekers aan die dorpie gereeld probeer uitvis wat hulle eintlik daar doen want dit lyk nie asof daar juis iets aan die gebeur is nie.
“Inteendeel, hier’s fietsryroetes, hier’s staproetes, die Oorlogskloof-natuurreservaat is daar. Die Hantam Botaniese Tuine is daar. Hier’s ’n fietsrykompetisie ook elke jaar. En dan’s hier twee basaars wat ons hou.
“Blomtyd is dit vir ses, sewe weke die blommemark en die pannekoek. Dan’s almal weer besig met gaste en met blommetyd,” kom die verrassende antwoord van Mandie.
“Ons kry plus-minus 7 000 voete deur die blomtyd. Hulle kom kyk die blomme, baie van hulle kom kyk voëls, en dan het ons ’n waterval, ’n kokerboomwoud en die kerk is ook ’n historiese gebou wat hier is,” vertel Hannelie.
“Jy ry hier in en jy voel net soos . . . daar’s vrede in jou hart,” is hoe Leah die dorpie ervaar. Sy sê dit voel ook asof sy so ’n bietjie terugstap in tyd en die sandsteengeboue is vir haar verstommend mooi.
Om nie van die majestueuse kerk te praat wat bo die dorp uittroon nie. Mandie verduidelik dat die kerk in die middel van die dorp is, en alles wat gebeur, gebeur rondom die kerk en by die kerksaal.
Ook toeriste kom na die dorp om na die kerk te kyk.
Red ’n kerk
“Meer as ’n 100 jaar terug was die kerk in diep skuld gewees en die gemeenskap het bymekaar gekom en hulle kon daai skuld delg. En ná al hierdie jare doen die gemeenskap dit steeds. Hulle dra hierdie dorp, hulle dra die kerk,” vertel Leah.
En die storie agter die skuld?
Volgens die legende wat die ronde doen, het die destydse koster, ook genoem die skriba, glo lang vingers gehad wat die kerk se geld betref het. Die man het glo sy dood vervals, die begrafnis is gehou en almal se harte was baie seer.
Maar die “lewende dooie” se slim plan is gefnuik toe iemand hom in Windhoek, in die destydse Suidwes-Afrika, raakgeloop het.
“Toe’t hulle agtergekom maar hulle het al die tyd so lekker gehuil oor ’n vark wat hulle begrawe het,” lag Arend.
Leah se sin vir humor het gedy onder dié staaltjie en sy beskryf die vark in die kis as “ja, hy was die vark in die verhaal.”
Help, Lottoland!
Die kerk is ’n nasionale gedenkwaardigheid, maar dit het restourasiewerk nodig om die juweel in volle glorie te herstel.
Mandie vertel dat die kerk die afgelope paar jaar verwaarloos geraak het omdat die fondse maar skraps is. Daar is gebreekte vensters – en dis nie vanweë vandalisme nie, maar voëls wat hulle op die verkeerde vlugroete bevind.
Die voorportaal en die kerksaal het ook aandag nodig, en die projekspan wil graag hier ’n tuin aanlê.
“En as ons nog die sente kan druk dat die mossie se oë traan, dan wil ons graag ’n afdak ook laat opsit,” is haar wens.
“Dan wil ons die ingang van die dorp ook rêrigwaar verwelkomend en mooi maak en dit moet sommer aandag trek en die ou moenie net verbyjaag Nieuwoudtville nie, hy moet sommer die brieke aanslaan en dan inswaai by die dorp,” is ook iets wat Mandie wil sien gebeur.
Die groen koevertjie

“Jislaaikit, jy skryf in vir die goed en jy dink nooit jy gaan iets kry nie,” kom dit van ’n verheugde Mandie toe Leah met die koevertjie na vore kom.
En toe sy sien dat R241 000 vir hul projek bewillig is, kon sy nie ophou bewe nie. Selfs Leah sê sy het nog nooit iemand gesien wat so vinnig begin bewe het nie “en die trane het sommer so vlak gesit”.
Toe Leah vir haar noem dat hulle net ses weke tot hul beskikking het om alles gedoen te kry, vertel Mandie haar dat dit nou rooibos-seisoentyd is en almal is daarby betrokke, maar hulle is reg om “te spark”.
Ses weke later
Die eerste ding wat Leah tref met haar terugkeer is die groot, vrolike rooi bord wat besoekers welkom heet by die dorp se ingang. Daar is selfs ’n klein tuintjie onder die bord aangelê.
Gaan die weer moles maak? ’n Paar dae voor Leah se terugkeer was dit 45°C en op dié dag is dit koud en is daar ’n storm . . . Maar gelukkig is daar nou ’n afdak vir skuiling, danksy Lottoland help ’n dorp.
Mandie sê sy is baie verlig hulle kon die wa betyds deur die drif trek, al was die glas vir die kerkvensters ’n groot kopseer. Sy sê sy sal enigeen vorentoe waarsku teen die gebruik van gekleurde glasvensters.
“Jy kry nie weer dieselfde patroon nie, jy kry nie weer dieselfde kleur nie. Nee, jy sukkel maar,” erken sy.
Maar dis in en dit lyk goed! Die voorportaal is geverf en die vloer het ’n tweede kans op die lewe gekry.
Ek het nooit getwyfel in my mense en my dorp en die gemeenskap se hulp nie, maar dat ons so baie vermag het in ses weke . . . ja, dit was nogal wow vir my.
Mandie Kotze
“Die tannies het soggens 07:00 – want dis so warm gewees – gekom en ons het [in die] tuin gewerk,” vertel sy.
Hester en Koenas vertel op hul beurt hoe die mense hul kant gebring het.
“Ons moet saamstaan hiersô, ons kan nie gou produk in die hande kry nie, jy moet mekaar help. Die boere het hul mense beskikbaar gestel. Ag, dis nie net die boere nie – die hele gemeenskap het saamgewerk,” kom dit so brei-brei van Koenas se kant.
Met die deurloop deur die kerk beskryf Leah alles wat gedoen is, van die meer as 50 vensters wat vervang is tot die verfwerk en dit is “nou net spiekeriesj”.
Hester sê toe hulle besef het die geld is in die bank, was hulle half vies vir hulself omdat hulle nie vir meer geld gevra het nie.
“Maar skielik is almal gewillig want daar het iets gebeur. Dis nie net pratery gewees nie en dit was nie net geld in ’n bankrekening in nie. Dit het actually gebeur,” sê sy.
Mandie vertel hoe lekker sy en Oom George (Cronje) saamgewerk het.
“Julle sal nie vir my glo nie, né. Ek is actually van Mosselbaai en toe ousus bel en sê ‘Boeta, ek het moeilikheid’, toe’s daar moeilikheid. Toe pak ek sonder my vrou en ek is in Nieuwoudtville,” vertel George.
“Ons het met ’n bang uitgevind watse projekte die vroue aan die gang het. Ons het nie besef wat hul als beplan het nie. Ek dink hulle het ook nie besef wat hulle hul voor ingelaat het nie.
“Intussen het ons ’n brand gehad wat ons ’n dag of drie uit die werk uit gehou het. Almal van ons staan in beroepe, ons is hoofsaaklik boere in die gemeenskap,” vertel Koenas.



Die ander groot kopseer was natuurlik die afdak. George vertel dat teen Vrydag daar nog niks was nie.
“Daar’s ’n staalstruktuur opgesit wat ongelooflik is. As julle kyk na die kondisie van die pale – dis 50-jaar oue mynpale wat opgesit is. Dis uniek, uniek, uniek! En toe ons Saterdag klaarmaak, toe sê ons ‘wow, dis klaar!” kom dit van ’n gelukkige George.
“Kêrels, hier het sweet gerol, hoor,” som Hester veral die laaste paar dae van die projek op.
Kobus Nel is die man wat die afdak se staalstruktuur by sy werkswinkel aanmekaar gesweis het. Daar is vyf van hierdie strukture wat nou die afdak vorm. En Leah wil weet hoe hulle die afdak wel by die kerk gekry het.
“So hele een struktuur [op ’n slag], en toe met die digger-loader in die straat af vervoer, baie stadig, verkeer gestop, een-vir-een,” vertel Mandie haar.
Maar Mandie het nie hier opgehou nie. Sy het drie jaar gelede deur die VLV geld begin insamel vir die museum. En toe hulle nou aan die gang is met die Lottoland help ’n dorp-projek het sy voorgestel hulle takel sommer die museum dieselfde tyd.
Buite-badkamers is ook opgeknap en rolstoeltoegang is gebou.
Hoe voel Mandie oor alles wat die afgelope ses weke plaasgevind het?

“Ek het nooit getwyfel in my mense en my dorp en die gemeenskap se hulp nie… Maar dat ons so baie vermag het in ses weke . . . ja, dit was nogal wow vir my.
“Ons gaan nie ophou droom nie, ons gaan nie ophou beplan nie, ons gaan nie ophou groei nie. Ons wil net nuwe hoogtes bereik.”
En Leah? Nieuwoudtville het beslis ’n deel van haar hart gesteel.
“Ek gaan hierdie plat-op-die-aarde mense mis wat jou net so welkom laat voel. Ek dink regtig ons hele span is getuies dat mense kán hier kom stop op Nieuwoudtville. Dis mooi en dis pragtig en dis lieflike mense.”
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.