Menu terloops
In Onderhoude [22 Apr 2024]

Taryn Hess oor ‘Arendsvlei’ se poppemeester Audrey: ‘Ons almal het donkerte binne ons’


Soms kry ’n mens net die gevoel dat iemand siek, psycho en dodgy is – presies wat ‘Arendsvlei’ se villain of all villains, Audrey, binne my wakker maak. Ons gesels met die aktrise wat haar vertolk, Taryn Hess.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom aanlyn

Taryn Hess oor ‘Arendsvlei’ se poppemeester Audrey: ‘Ons almal het donkerte binne ons’

Audrey het soos ’n onverwagse storm op die Vlei met haar donker, intimiderende aura toegesak. Ek het altyd gedink Desmond (Alistair Izobell) is die puppet maker wat met almal in die Vlei se lewens speel, maar in ’n verrassende wending was dit toe al die tyd ousus Audrey wat dié misdaadfamilie se besigheid en besluite vanuit die tronk beheer het. Haar karakter laat die hare op my arms rys en stuur koue rillings by my ruggraat af.

Dit voel glad vreemd om ’n vrou in so ’n rowwe, gewelddadige en manipulerende rol te sien, maar Taryn Hess kan nie meer opgewonde oor haar speelkans as Audrey wees nie. Skerp kykers sal haar dalk herken, want sy was al voorheen in Arendsvlei vir ’n paar episodes te sien as die bedagsame Sandy Human. Maar die kans is skraal, want Taryn lyk heel anders – en ouer – as Audrey onder lae latex en grimering wat vir dié bose karakter aangeplak word. 

Taryn Hess, Arendsvlei, Audrey
Vir haar rol as Audrey in Arendsvlei word die aktrise Taryn Hess se voorkoms met latex en grimering verander om haar onder meer ouer te te laat lyk. Foto: Verskaf

Eerste hoofrol

Taryn is ook tans in die M-Net-dramareeks White Lies en die M-Net-gesinsdrama Summertide te sien.  Hierdie akteur is al vir jare in die bedryf, maar dis die eerste keer wat sy so ’n groot en prominente rol soos Audrey vertolk. Haar karakters was tot nou in iemand anders se skaduwee. 

“Dit is my eerste regte hoofrol en ek kon nie vir ’n beter rol gevra het nie. Ons almal het ’n donkerte binne ons, maar as mense wil ons dit nie erken nie. Ons is bang om daaraan te raak, want wat as dit te donker is en jy die mense rondom jou seer maak? Met ’n rol soos Audrey is dit lekker en empowering om in daardie donker gedeelte te kan in-tap sonder dat iemand seerkry,” sê Taryn. 

Dit is my eerste regte hoofrol en ek kon nie vir ’n beter rol gevra het nie.

Taryn Hess

Sy voeg by: “Ek dink nie akteurs sou donker rolle outentiek kon aanpak as jy nie reeds ’n bietjie van daardie karakter se donkerte binne jou gehad het nie.” 

Alles wat Audrey nié is nie…

As jy met Taryn gesels kom jy vinnig agter dat hierdie ma van drie dogtertjies, elkeen met ’n tweede naam van ’n blom, die teenoorgestelde van haar karakter is. Taryn is sag, vrolik en snaaks, met ’n borrelende persoonlikheid; iemand wat beslis daarvan hou om te lag. Dit is alles wat Audrey nie is nie. 

Audrey is altyd ernstig en lyk asof sy 20 jaar gelede laas gelag het of ’n grap gemaak het. Waar Taryn jou met haar humor en persoonlikheid intrek, kan jy nie vinnig genoeg uit die vertrek kom as Audrey instap nie. Sy laat my dink aan daardie gevoel wat ’n mens kry as ’n verkeersbeampte agter jou ry. Jy weet jy’t nie ’n wet oortree of iets verkeerd gedoen nie, maar net hul teenwoordigheid laat jou benoud en angstig voel. 

In Audrey se skoene lyk wêreld anders

Taryn erken dat so gereed soos wat sy vir ’n groot rol was, Audrey steeds uitdagings gebied het. 

“Aan die begin het ’n geweer my bang gemaak. Ek was nog altyd iemand wat geglo het ’n geweer moet nie naby my wees nie en beslis nie in jou huis nie. Maar toe ek in Audrey se skoene geklim het, wou ek my alles vir hierdie rol gee om dit so outentiek as moontlik te laat lyk op kamera. Ek wou nie hê dit moet lyk asof ek ’n akteur is wat ’n geweer vir ’n storielyn op stel hanteer nie. Ek wou in control lyk. So ek het regte training gedoen en met ’n regte geweer gaan skiet sodat ek gemaklik rondom ’n geweer kon wees. En meer belangrik – sodat ek kon voel hoe dit voel wanneer daardie geweer regtig afgaan,” vertel sy. 

“Ek dink nie ’n mens besef hoe empowering dit is nie en hoeveel mag daardie geweer vir jou gee nie. Ek dink dit is hoekom mense soos Audrey so cocky is. Hulle verstaan daardie mag and they lean into it. Dit het my baie gehelp om daardie aura van Audrey te kan voel en uitbeeld.” 

Die geweld en taal was ook ’n kultuurskok vir Taryn en iets waaraan sy gewoond moes raak.  

“Ek dink mense aanvaar dat elke bruin persoon Afrikaaps kan praat met die ‘djy’ en ‘djou’s’, maar dit is nie die geval nie. Ek het in Oudtshoorn grootgeword en daar praat die mense nie Afrikaaps nie. So die teks het nie so gemaklik van my tong gerol nie. Dit was iets waaraan ek moes werk,” vertel sy.

“En dieselfde met die geweld. Ek was gelukkig nog nooit self aan so ’n omgewing blootgestel nie, so dit is ’n aanpassing in die begin.

Klaar met die nice auntie-rolle

“Audrey is ’n karakter wat gewoonlik deur ’n man vertolk sou word, en ek love dit om hierdie crime boss-vrou te kan speel. Ek het dit geniet, want ek was regtig moeg daarvan om die ouer en nice auntie of ma-karakter te speel. 

“Diep binne haar (Audrey) is ’n sagter mens, iemand wat daarna smag om ma te kan wees, maar omstandighede het haar van haar beste jare beroof. Sy gee nie om nie, want sy is baie lojaal en sal enigiets vir haar familie doen. Maar tog… Dit raak haar. Dit is goeie eienskappe waarmee ons almal kan relate en dit is wat haar so uniek maak.”

Daar was wel nog iets waaraan Taryn moes gewoond raak…

Blind op stel (soos rêrig!)

“Ek kan niks sonder my voorskrifbril sien nie. So wanneer ek wardrobe se Audrey-bril dra, is ek blind. Dan moet ek onthou waar ek moet staan en voel ek maar rond om my plek te kry,” vertel sy laggend. 

“Audrey is ook baie ouer as ek, so dit is nogal ’n proses. Daar is eers ’n latex-laag wat hulle aan my gesig sit vir die plooie en ouer vel en dan laat hulle my nog ouer met die grimering lyk. My hare kry ook grys streaks om by Audrey te pas.

“Ek moet natuurlik ook soos ’n ouer mens dink en beweeg. Dis klein dinge soos hoe ek oor die brille loer en stadiger beweeg wat die impak maak” 

Taryn Hess, Arendsvlei, Audrey
Dis nogal ’n proses om Taryn in Audrey te omskep, vertel die aktrise. Foto: Verskaf

‘Wie is daai onbeskofte vrou?’

Taryn sê Audrey verskil so baie van haar dat toe sy onlangs ’n radio-onderhoud as Taryn en Audrey gedoen het, het haar eie ma ontsteld vir haar kom vra wie die ander onbeskofte vrou in die  onderhoud was. Haar ma kon nie glo dat dit sy (as Audrey) was nie.  

Wanneer Taryn nie op stel is nie, is sy ’n besige ma en drama-onderwyser. Sy hoop die ouers van die kinders in haar klas nie soos haar ma gaan dink dat sy regtig soos Audrey is nie. 

Liefde vir kunste in haar bloed

Taryn het al van skooltyd af geweet sy wou drama gaan swot en ’n loopbaan in die kunste hê.

“My pa is nou al ’n tydjie oorlede, maar ek wens hy kon my nou in hierdie rol sien en dat ek hom kon bedank vir sy motivering en harde woorde. My pa was deel daarvan toe hulle die KKNK begin het en het almal in die kunste geken. Maar hy was sterk teen nepotisme en het geglo dat as ek dit in hierdie bedryf wil maak, moet ek myself eers bewys,” vertel sy.

My pa is nou al ’n tydjie oorlede, maar ek wens hy kon my nou in hierdie rol sien en dat ek hom kon bedank vir sy motivering en harde woorde.

Taryn Hess

“Hierdie is nie ’n maklike bedryf nie. Maar ná jare voel ek asof hierdie regtig die rol is waarvoor ek so hard gewerk het. En ek is dankbaar dat my pa soms so hard op my was, want dit het my die persoon en akteur gemaak wat ek vandag is.”

Taryn dans, sing en speel al van kinderdae af toneel, en is by feeste soos die KKNK grootgemaak, so om iets anders te doen was nooit ’n opsie nie. 

“My liefde vir die kunste is in my bloed. Ek het ’n groot waardering vir almal wat dit vir ons jonger mense moontlik gemaak het. Daar is ’n vryheid en passie in die kunste wat jy nie sommer in ander beroepe kry nie, en ek is dankbaar om deel van hierdie spesiale groep mense te wees.” 


Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies