In die nuutste seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod, kuier Bonné met 13 verskillende natuurlewe-navorsers, bewaringswetenskaplikes en veeartse in Amerika, Namibië en Suid-Afrika. As die reeksregisseur is dit die bekroonde Susan Scott se werk om kykers op die epiese reise saam te neem.
Sy het meer aan terloops vertel.
Oor wat die reeks so lekker maak om te kyk
“Wel, die diere is nogal indrukwekkend! Wolwe, luiperds, bere, kameelperde, buffels, meerkatte en bromvoëls! Dan is die wildernisse werklik skouspelagtig: die legendariese Yellowstone en die beeldskone Grand Teton Nasionale Park, sowel as die Namib-Naukluft Nasionale Park. Dit was wonderlik om in Amerika en Namibië te wees, maar die reeks vertel ook stories oor ons eie ongelooflike wildernisse soos die Kalahari, die Krugerwildtuin, en die ongerepte oseaan langs ons kuslyn soos ons in die Groot Afrikas-seewoud duik saam met die wetenskaplike span wat op Netflix se My Octopus Teacher gewerk het.
“Dit is egter die mense in elke episode wat die reeks dryf. En hulle is eenvoudig net fantastasiese mense! Dit was wonderlik om saam met hulle te verfilm en om ’n geleentheid te kry om na hierdie wildernisse en diere deur hul oë te kyk. Dit is van onskatbare waarde en maak die reeks wat dit is! Ek kan nie wag vir die kykers om hulle te ontmoet nie.”
Oor haar gunsteling-oomblikke van die tweede seisoen
“Die diversiteit van stories maak dit so moeilik om te kies. Ons gaan van klein geitjies na groot bere, en die mense wat ons ontmoet het, was almal ongelooflik. Maar as ek móét kies, sal dit die woestyn-episodes wees. Ek is mal oor die woestyn en Bonné is selfs nog meer gaande oor daardie verlate sandduine as ek! Sy sou al 13 episodes in die woestyn doen as sy kon! So die drie woestynstories staan vir my uit – die meerkatte in die Kalahari, die blaffende geitjies en die welwitschia in die Namib-woestyn.
“Die navorsingstasie in die Kalahari is wêreldbekend vir sy werk wat op meerkatte fokus en hulle laat (gewoonlik) net internasionale filmspanne, soos die BBC, Animal Planet en National Geographic toe om daar te verfilm. Om dus toestemming te kry om ’n episode hier te doen, was wonderlik. En daardie klein gediertetjies is net so oulik, ek was mal oor ons tyd daar!
“Dan is mense behep met die welwitschia en praat hulle in ’n eerbiedige toon oor die plant, en wel, hulle kan nie anders nie, dit slaan selfs wetenskaplikes stom! Dit was ’n lekkerte om dit te sien deur die oë van ’n professor wat ’n innige liefde vir die plant het.
“Dan, al het ek al baie tyd in die woestyn deurgebring, het ek nog nooit deur die nag verfilm nie, wat ons toe wel gedoen het terwyl ons na blaffende geitjies gesoek het. Die stilte van die woestyn wat wyer as wyd strek, met sandduine wat aanhou en aanhou en aanhou… En dit alles verlig deur die melkweg bo ons wat naby genoeg gelyk het om aan te raak, wel, dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Boonop was die navorser net soveel pret! Bonné se oë het wel rondgespring toe hy amper al sy klere uitgetrek het om die klein diertjies te gaan vang! Dit was omtrent ’n geskater!”
Daar is steeds diegene wat elke dag opstaan met die wete dat ons op ’n wonderlike planeet woon waar goeie dinge gebeur. Hoe opwindend om daardie vreugde van die natuur met die kykers te kan deel!
Susan Scott
Oor hoe hulle die navorsers vir die reeks kies
“Dit is so belangrik want hulle is die rede hoekom ons kyk! Ons hou daarvan om ’n verskeidenheid van diere te hê en sluit altyd ’n plant ook in, so sodra ons na verskeie stories gekyk het, kontak ons dan die hoofnavorser oor daardie onderwerp. Bonné doen goeie werk om hulle te vind en dan ook te oortuig om verfilm en deel van die program te word. Hulle is tog wetenskaplikes met data-gedrewe breine en nie altyd gemaklik om op kamera te verskyn nie, maar sy oortuig hulle wel op een of ander manier.
“Ons het ook goeie vriende geword met baie wetenskaplikes in die natuurlewe-navorsingsveld, so hulle sal sê, ‘Jy moet eenvoudig net ’n storie oor so-en-so doen’, wat regtig ook help! Jy weet, aan die einde van die dag is dit hierdie mense waarmee ons ’n band gebou het. So eg en so gewillig om hul lewens met ons te deel. Ek voel bevoorreg dat ons hulle en hul bewaringswerk met die kykers kan deel.”
Oor die uitdagings as regisseur
“Jong, daar is baie uitdagings. Sommige van hierdie episodes word verfilm in baie afgeleë plekke en dit kan dus baie moeilik wees om daar uit te kom. Ons hou daarvan om met ’n klanktegnikus te werk, gewoonlik sluit óf Bibi Segola óf Mzukisi Mtshiselo by ons aan, maar baie keer vereis die afgeleë verfilming en toestande op die grond ’n baie klein en mobiele span. Boonop vra die navorsers ons soms om ons span so klein as moontlik te hou as gevolg van moeilike verfilmingsomstandighede vir hulle en hul onderwerp. So dan is dit net Bonné en ek. En dit is moeilik! Sy moet al die klankopnames doen en ek moet seker maak al die verskillende kamerahoeke is reg.
“Dan is daar die weer! Hitte en sand kan vinnig ’n einde maak aan verfilming met ons kameratoerusting. Batterye raak baie vinnig leeg in die koue. Reën en wind stop verfilming vir die dag. Om te weet wat die weer op die betrokke dag van verfilming gaan maak, is dus van kardinale belang so ons gebruik ’n verskeidenheid weervoorspelling-toepassings.
“Maar ek sou sê die belangrikste uitdaging is die fiksheidsaspek. Hierdie navorsers is baie in die veld. Hulle het wel ’n paar administratiewe take soos om verslae in die kantoor te skryf, maar eintlik spandeer hulle die meeste van hul tyd buite in die natuur. En dit is juis die ding – hulle stap vêr, loop lang afstande. Ons het in seisoen een baie vinnig besef dat ons tyd in die gimnasium nie naastenby genoeg is vir my en Bonné om by te hou nie!
“So vir hierdie seisoen het ons meer aandag aan ons bene gegee. Ons spandeer elke oggend 90 minute aan stap teen ’n vinnige pas om by 10 km te probeer kom. Ons wissel swem, hardloop op die trapmeul, oefen met gewigte, klim op die elliptiese oefen-apparaat, en dié soort dinge twee tot drie keer per week af. Maar die belangrikste oefening wat ons doen, is stap. En ons dra swaar kamera- en klanktoerusting, wat die byhou by navorsers net nog so ietwat moeiliker maak!”
Oor die gevare om al hierdie mooi op kamera vas te vang
“Veiligheid is altyd iets wat in ag geneem moet word. Wanneer daar ’n groot wildvangoperasie plaasvind met helikopters, vragmotors, veeartse wat rondhardloop, navorsers wat monsters van die diere neem sodra hulle verdoof is – dit kan oorweldigend wees. Nie altyd nie, maar soms sal ons ’n tweede kameraman (gewoonlik Tyson Langa) gebruik as dit lyk of ons dalk dinge kan mis, en terwyl ek en Bibi by Bonné en die navorser sal wees wanneer Bonné onderhoude doen tussendeur die operasie, sal Tyson in die hitte van die oomblik saam met die veearts wees. En dit is senutergend, want dinge kan baie vinnig, baie verkeerd loop in ’n groot operasie soos hierdie. Dit is groot diere, buffels, kameelperde, en die hanteringstoerusting is groot en swaar. En jy wil nie in die pad van hierdie masjiene en toerusting kom nie.
“En dan is die diere natuurlik ook gevaarlik, so as een van hulle te vroeg wakker word, moet ons kan seker maak dat ons almal vinnig uit die pad kan spring. Tyson was al by heelwat natuurlewe-programme betrokke, so hy het ’n redelike idee, maar ek is steeds bekommerd oor hoe naby hy aan al die gevaar is! Ons het wel deeglike veiligheidsinligtingsessies waar ons deur al hierdie opsies gaan en bewus is van alles wat moontlik verkeerd kan gaan, so ons weet hoe om in daardie situasie op te tree as dit ooit sou opduik.”
Oor die tegnologiese aspekte van die kamerawerk
“Ek het ’n meer tradisionele benadering tot tegnologie. Soveel as wat ek daarvan hou, vra ek altyd, ‘Wat meer doen dit vir ons in terme van storie?’.
“Ons het twee moderne Canon-kameras met sewe bioskoopkwaliteitlense waarmee ons verfilm. Tydens verfilming, gebruik ek die twee kameras gelyktydig en dra dit in ’n kamera-harnas. En as Tyson saam met ons is, hou hy daarvan om met ’n ander tipe Canon-kamera te skiet maar wat steeds by myne pas in terme van hoe die beeldmateriaal lyk.
“Time-lapse-fotografie in 6K lyk ongelooflik. Daar is regtig niks wat naby dit kom nie. Ons het dit gebruik toe ons besig was om die welwitschia te verfilm, want die plant beweeg nie. Self nie eers die wind laat daardie twee lang statige blare ritsel nie! En die woestyn is wolkloos, natuurlik! Om time-lapse-fotografie met sonsopkoms te doen, het dus gehelp om ’n gevoel te gee van die ruimte wat hierdie plante inneem. Ons wil ook hê die reeks moet uitstaan vir sy skouspelagtige fotografie in hierdie verstommende pragtige wildernisse, so ek doen baie landskap time-lapse-fotografie met daardie Canon-kameras en -lense.
“Hommeltuigmateriaal gebruik ons wanneer dit nodig is. Ek is geneig om eerder konserwatief hier te wees. Ek vind dat hommeltuigmateriaal oorbenut word en dit trek die kyker vinnig uit ’n toneel, wat indrukwekkend is as ons die landskap wil sien, maar baie hiervan is Bonné se interaksie met die navorser en ek wil daar wees daarvoor. Ek wil nie heeltyd wegbeweeg om te sien waar hulle loop nie, ek wil net dáár saam met hulle wees. Maar hommeltuie is baie nuttig wanneer dit reg gebruik word en elke nou en dan kan dit baie dramaties wees.
“Maar ek hou ook weer baie daarvan om GoPro-kameras te gebruik! Daar is ’n hele aantal GoPro-kameras wat ek tydens verfilming gebruik. Hulle help regtig om op ooghoogte met die diere te kom en daar is geen inmenging nie. Ek druk nie ’n kamera in hul gesig in ’n stresvolle situasie nie, of om myself in gevaar te stel nie. ’n Kameraman is ’n paar jaar terug dood toe ’n kameelperd sy kop in hom ingeswaai het toe hy te naby gekom het om ’n paar ekstra skote te kry.
“Vir ons wildlewe-vlieënier storie het ek GoPro-kameras aan die buite- en binnekant van die SANParke-helikopter vasgemaak, sowel as aan die pylgeweer van die veearts. Dit is net so wonderlik om te gebruik, want jy voel asof jy reg is daar. En dit is die punt van die reeks, om te voel of jy in die skoene van daardie wildlewe-veearts of navorser staan.
“Lense gee ons baie ruimte om die natuurlewe vas te vang. ’n 600 mm telefotolens bring ons baie naby en die gebruik van ’n makrolens het ons verskillende aspekte van die piepklein blaffende geitjies laat sien en ons gehelp om meer detail van die meerkatte te sien. Daardie lens het ’n anderste tipe skoonheid navore gebring. En dan het ons natuurlik onderwaterkameras gebruik om die pragtige wêreld onder die Kaapse golwe van die Groot Afrika-seewoud te wys.
“Dit alles is wonderlik, maar ek moet sê, ek hou daarvan om lae-tegnologie soos foonkameras te gebruik. Hulle is regtig nuttig, veral wanneer die navorser nie verfilm kan word nie, soos die wolfbioloog in Yellowstone wanneer sy bo in die klein tweesitplekvliegtuig is wat sy gebruik om die wolftroppe in die winter waar te neem. Ons het haar gevra om haar foon saam met haar te neem om ons ’n idee te gee van hoe dit daar bo is. En dit is so ’n besonderse toneel in daardie episode. Ons voel regtig asof ons daar by haar is, al is dit op niks meer as ’n foon verfilm nie.
“Ons kry ook ’n goeie gevoel van werklike wilde dieregedrag uit kamerastrikke. Dit is die roetekameras wat navorsers gebruik om bewegings van hul onderwerpe te monitor in gebiede wat moeilik is om by uit te kom of omdat hulle normale natuurlike gedrag wil sien wat nie deur ons mense geraak word nie. Met wolwe gee kamerastrikke ’n intieme blik van die troppe wat aan die beweeg is in die afgeleë gebiede van Yellowstone Nasionale Park. En hier by die huis in Suid-Afrika, is die luiperds van Magaliesberg so geheimsinnige mense dat baie selfs twyfel of hulle wel daar is en tog het ons beeldmateriaal en fotos waar hulle stil deur die berge beweeg, nie eens ’n uur weg van Johannesburg en Pretoria nie! So dis altyd lekker om te gebruik en ons het ons eie kamerastrikke wat ek graag saamneem wanneer ons verfilm.
“Al hierdie tegnologie om te verfilm is ongelooflik om te hê, maar ons moet onthou dat dit altyd die storie moet bevorder wat Bonné probeer vasvang terwyl sy by die navorsers is.”
Oor wat die reeks vir haar beteken
“Ek dink op ’n dieper vlak herinner dit ons om die lewe te geniet, om ook die goeie te soek.
“Die afgelope paar jaar was moeilik vir mense. Daar is soveel slegte nuus daar buite en dit voel soms of ons in ’n wêreld leef wat besig is om te vergaan. So om hierdie mense te ontmoet wat ’n ‘9-5’ in die natuur leef, en wat waardevolle werk vir die planeet doen, wel, dit is net só inspirerend. En dit help my om te glo dat alles nog nie verlore is nie. Daar is steeds diegene wat elke dag opstaan met die wete dat ons op ’n wonderlike planeet woon waar goeie dinge gebeur. Hoe opwindend om daardie vreugde van die natuur met die kykers te kan deel!”
Oor haar wenke vir wildkyk
“Geduld is alles. As ek en Bonné uit is op ’n dag waar ons wildlewe verfilm, met ander woorde nie navorsers nie, sal ons dalk ’n trop buffels in die Krugerwildtuin kry, en ons sal net daar sit en hulle dophou. Al lê hulle in die gras en beweeg nie veel nie, bly ons daar om hulle waar te neem en kry ons hulle hopelik later om as ’n trop saam te beweeg in pragtige lig in wat dalk eers ure later kom. Of hulle skrik skielik en hardloop weg.
“Ons het baie hiervan geleer by die natuurlewe-navorsers saam met wie ons verfilm. Hulle het ongelooflik baie geduld vir hul onderwerpe. Hulle sal vir ure wag vir iets om te gebeur sodat hulle hul data kan insamel. Hulle kyk na lyftaal, luister na voëlgeluide wat hulle waarsku oor iets wat in die veld gebeur, wat hulle dan inlig oor hoekom hul onderwerp op ’n sekere manier optree. Hulle het verseker ’n spesiale verbintenis met die planeet en haar inwoners.”
Weeklikse episodes van Bewonder en bewaar met Bonné de Bod vanaf Sondag, 24 Maart 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.