Menu terloops
In Recaps & Resensies [8 Mei 2024]

‘Lottoland help ’n dorp’: ’n Nuwe ‘rokkie’ vir Vosburg


“Jy ry tussen die vlaktes en daar’s niks – en ewe skielik rys daar ’n oase op, en dis Vosburg” vertel die sangeres en programaanbieder Leah oor ‘Lottoland help ’n dorp’ se bestemming in die vyfde episode van die reeks.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: ’n Nuwe ‘rokkie’ vir Vosburg

“As jy ’n landkaart gaan vat en jy druk jou vinger in die middel, gaan jy waarskynlik op Vosburg druk. Ons is hier op die Karoo Hoogland-roete en ons lê hier tussen Britstown en Carnarvon. Dit is ’n gemeenskap wat vir jou rêrigwaar – jy weet, net harte oopmaak, deure oopmaak . . . daar’s min vreemdelinge op die dorp,” vertel Anna Fourie, projekleier, aan die Lottoland help ’n dorp-span.

Dis jou dorp

“Op baie min kaarte word Vosburg aangedui. Die dorpie met die baie bome, kan ons altyd verduidelik, is Vosburg,” sê Marietta van der Merwe, spanlid. “Jy’t tyd om hier stil te raak. Jy’t tyd om die Here se skepping te waardeer.”

“Hier is nie ’n mall nie. Die naaste waar jy kan blink-sandale gaan, is De Aar wat so 110 kilo’s van hier af is,” sê Karen van der Walt, spanlid. “En jy sal ook sien, blink sandale werk nie hier nie.”

“Ons is baie trots op Vosburg se skoonheid, se inwoners. Die inwoners is eintlik die bate van die dorp in die sin dat, sonder die inwoners se toegewydheid en die liefde wat hulle toon vir die dorp, sal Vosburg net soos ’n ander dorp is wat verval,” kom dit van Faried Manuel, munisipale bestuurder: Kareeberg Munisipaliteit. 

Volgens boer en spanlid Jan Vos, is Vosburg besig om ’n baie gewilde aftreeplekkie te word, iets waarop die Vosburgers baie trots is. Hy self is die vierde geslag Vos wat in die Vosburg-distrik boer.

“In die warme Karoo is hy soos ’n oase om ’n bietjie te rus,” se Faried.

Anna vertel vir Leah dat Vosburg in 1895 gestig is.

“Die plaas is gekoop van die oupa Vos en dis hoekom dit Vosburg is. En tot vandag toe nog bly die Vos-familie hier, geslagte lank al,” sê Anna.

PJA Vos, Jan se seun, is nou die vyfde geslag van die Vos-familie wat hier boer. En dan is daar Jan se kleinseun wat dit nou op die sesde geslag bring.

Intussen vertel Anna vir Leah dat Vosburg vir sewe jaar lank deur die droogte geteister is en dat hulle daar ingetrek het toe die reën begin val het.

“Wat my verstom het, is hoe sag hierdie mense gebly het midde van hierdie droogte. So, jy het spesiale, sterk hartsmense hiersô. 

“En wat ek toe gesien het, weet jy, as dit die slag in die Karoo reën, is dit asemrowend, hoor! En toe’t ek besef, weet jy, jy het miskien nie elke dag baie mooi nie, maar vir sulke mooi kan jy maar wag.”

Wat maak die mense op Vosburg?

“Hierdie klomp is besig in die week,” vertel Anna. “Maar kuier is ’n groot ding.”

Sy sê ook sy het geleer om nie meer afhanklik te wees van ’n slaghuis nie. Daar’s kontakte. Kontakte vir ’n skapie, vir ’n hoender, vir eiers en vars melk. 

“Vosburg is hierdie skoon, veilige dorpie en dis ’n baie groot voorreg om hier te bly. Daarom wil ons graag hierdie plek oppas, koester, beter maak en laat dit ’n plek is waarheen mense ook baie graag na toe wil kom,” sê Anna.

Help, Lottoland!

Lottoland
Anna het vir Leah van Vosburg se wenslysie vertel voordat Leah die groen koevert oorhandig het. Foto: Verskaf

Anna het die eerste seisoen baie geniet. En toe besef sy dat sy ook in ’n dorpie bly waar Lottoland help ’n dorp genader kan word vir hulp.

Die grootse item op Vosburg se wenslysie was die Prosopis-bome wat die Karoo se waterbronne aanval en die dorp met min water laat. Sy verduidelik dis ’n indringerboom wat baie dorings het en gou-gou in ’n woud ontaard. Hulle wil van dit ontslae raak en inheemse bome plant.

Die Vosburgers is baie lief vir hul bome en daar is van hulle wat reeds vir langer as ’n eeu hier skadu verskaf. Maar hulle is nie meer so sterk nie en dis tyd om aan die volgende 100 jaar se bome te dink.

Daar is ook ’n botaniese veldtuin op die Vosburgers se wenslysie. Anna hoop dat dit nog meer besoekers na die dorp sal trek en terselfdertyd ’n veilige bestemming vir die plaaslike inwoners sal skep.

Die laerskool het ’n groentetuin begin, maar die witwarm Desember-hitte het die arme tuin laat verskrompel. ’n Skadunet is dalk net wat nodig is om die groente vorentoe te beskerm.

Hoop is nie net ’n gedagte nie, ons het dit op die grond kom máák werk.

Anna Fourie, projekleier

“My droom met hierdie groentetuin is om as ’n gemeenskap, veral die werkloses, jeugdiges . . . om aan hulle gesinne te voorsien, om te verseker dat elke kind elke oggend ’n bordjie het om te eet. 

“Dit is ’n moontlikheid om vir ons ook te bemagtig om ons eie besighede te begin, om ons skool se nutrition program te ondersteun. So, dit sal vir ons baie help, regtig,” sê Petro-Rochelle Williams, sekretaresse: Laerskool Delta Vosburg en spanlid.

En tussendeur het die kleuterskool ook ’n lagie verf nodig want dit is laas in 1973 geverf toe dit gebou is. En straatnaamborde is iets wat jy nie in Vosburg sal sien nie . . .

“Ons het rêrig hierdie situasie van, jy weet, draai daar . . . gaan so. As die koeriers kom, dan klop hulle by mense en sê ‘Waar bly dié ou?’. So, dis nog ’n ding wat ons wil doen,” vertel Anna.

“Vosburg is uniek en ons wil haar graag aan ons land bekend stel en natuurlik gaan dit vir ons lekker wees om vir haar net so ’n nuwe rokkie aan te trek,” is Anna se versugting.

Die groen koevertjie

Leah sê Lottoland help ’n dorp wil ook dat Vosburg ’n blinknuwe rokkie aantrek – ’n allemintige R400 000 se “rokkie”.

Lottoland
“Toe ons R400 000 kry, was dit vir ons net ‘wow!’ Dit was so, so groot. Nou’s daar nie meer omdraaikans nie,” sê Anna Fourie, projekleier. Foto: Verskaf

Anna en haar span is reg vir aksie: “Die materiaal is oopgegooi, daai rok moet nou geknip word,” stel sy vir Leah gerus. En sy sien uit daarna dat die stedelinge moet terugkeer en die platteland saam met hulle moet geniet.

“Vosburg is in ’n ekonomiese omgewing waar ons gewoond is om met eintlik niks klaar te kom nie,” vertel Anna. “So, toe ons R400 000 kry, was dit vir ons net ‘wow!’ Dit was so, so groot. Nou’s daar nie meer omdraaikans nie. Nou’s dit hak-in-die-grond en ons moet nou net aanhou deurdruk.”

Ses weke later

“Vosburg is definitief nie meer dieselfde dorp as wat ons daai dag was toe julle hier weg is nie,” sê Anna vir Leah met haar terugkeer.

Leah erken dat die veranderinge duidelik sigbaar was toe die Lotto-span die dorp binnegery het. Daar’s pienk strikke aan die bome wat die dag help opkikker en dan is daar natuurlik Anna wat die span om die draai inwag.

Sy vertel dat hulle 45 groot bome aangekoop het en nog 50 boompies van die Departement van Landbou gekry. Én die kersie op die koek is 50 granaatbome wat by gesinne in hul erwe geplant is. Sy belowe ook vir Leah dat die span verlief gaan raak op die kleuterskool en wys ook vir haar die nuwe straatname.

Lottoland
Leah word ook ingespan om ’n boom te plant en die Vosburg Botaniese Veldtuin-bord met sement staan te maak. Foto: Verskaf

Barnard Viviers, raadslid van Pixley ka Seme Groter Distrik Munisipaliteit en spanlid, asook Bertus Versteegh, spanlid, vertel dat die afgelope ses weke baie uitdagend maar ook baie lekker was.

Die uitheemse Prosopis-bome is met groot entoesiasme getakel en ongeveer 125 ton hout is verwyder. Barnard en Bertus reken daar is rondom 5 000 Prosopis-bome uitgehaal oor die afgelope ses weke. Dié aantal bome verbruik naastenby 2 000 liter water per dag! Barnard skat dit beloop ’n verlies van ’n miljoen liter water in ’n semi-woestyn.

Leah word ook ingespan om ’n boom te plant en die Vosburg Botaniese Veldtuin-bord met sement staan te maak. Die sementstorie is ’n eerste keer vir haar, maar sy sien kans vir nog!

“In die verlede het die mense maar verby geloop. Ag, dit was mos maar ’n bietjie vaal. Nou sien ek as ek so deur die venster kyk – niemand loop verby sonder om iets te sê nie, hulle roep sommer aan ‘haai, dit lyk pragtig, wie’t dit vir julle gedoen?’ Dan sê ek met trots Lottoland [help ’n dorp],” vertel Jaun Nyokong, voorsitter van die bestuurskomitee: Babbel en Krabbel Kleuterskool.

By die laerskool is die eerste gewasse al goed aan die groei in die nuwe groentetonnels terwyl Leah nie uitgepraat kan raak oor Anna se kreatiwiteit wat die veldtuin betref nie.

Jan vertel hoe moeilik dit was om gate te grawe vir die plant van pale in die ysterkliprantjies.

“En ek dink om so ’n tuin uit te leg in 12 dae se tyd wil nogal gedoen wees,” sê hy trots.

“Ek sê vir die dorpenaars ‘nou het julle ook ’n stukkie Karoo-plaas wat julle kan geniet’ en ek hoop in die toekoms besoekers wat hier verby ry, hou dit in gedagte,” sê Anna.

Lottoland
Vlam van hoop. Ná afloop van die harde werk, is daar gesellig gekuier by die legendariese Mierfontein-pan. Foto: Verskaf

Jan en Anna neem vir Leah om haar eie aalwyn in die veldtuin te plant, die Kanniedood. En sy is baie ingenome daarmee dat hier nou ’n stukkie van haar in Vosburg gesetel is.

“Die verskaffers is maar buite en die verskaffers is ver. So, ons het maar bietjie gestres. Onthou, ons sit met ’n klomp ou tannie en ou oompies wat baie, baie, baie energiek is. Kyk, hulle het my op die punte van my tone gehou,” vertel Paul Charlies, Vosburg Raadslid: Kareeberg Munisipaliteit en spanlid.

“Hoop is nie net ’n gedagte nie, ons het dit op die grond kom máák werk,” sê Anna.

Toe is dit tyd vir die afsluiting by die legendariese Mierfontein-pan. Dít is ’n lieflike stuk plat aarde weg van alles waar daar gesellig gekuier word. Dis natuurlik ook die pan waar die gewilde Bull Run gereeld plaasgevind het.

Toe dit donker word, word daar woorde op die pan aan die brand gesteek. Vanuit die lug spel dit Lottoland, en Leah vergelyk dit simbolies-gesproke met die vlam van hoop wat in Vosburg aangesteek is.


Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies