Menu terloops
In Recaps & Resensies [1 Mei 2024]

‘In die sop’: Waar jy lafenis en vernuwing vir jou siel onder twee reuse peperbome in Philadelphia vind


In die negende episode van kykNET se werklikheidsreeks ‘In die Sop: Restaurant Evolusie’ se tweede seisoen is sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf se nuwe evolusie-teiken ’n klein dorpie doer iewers tussen Durbanville, Malmesbury en Kaapstad: Philadelphia.

‘In die sop’: Waar jy lafenis en vernuwing vir jou siel onder twee reuse peperbome in Philadelphia vind

Philadelphia is ’n klein dorpie wat bekend is vir die beste kerkbasaar in die streek. Dis rêrig so drie, of vier blokke miskien, waar alles gebeur. Maar as jy by The Pepper Tree uitkom – wat jou dadelik opvang, is die groot peperbome in die voortuin. Dis net hier waar In die sop se gedugte span gaan afpak vir ’n intense drie dae van regruk, oordoen en hoop gee.

Annalet Aspeling is die eienaar van dié bekende afklimplekkie, The Pepper Tree Art Stable and Coffee Shop. Dis geleë in ’n geskiedkundige gebou wat vanuit 1914 dateer.

“Dit was die store, of buitegeboue, van die algemene handelaar op die dorp, AW Louw en Seuns,” vertel sy en noem ook van die pragtige ou geboutjie op die perseel waar die dorp se tuiemaker, oom Japie Louw, gebly het.

Plaasjapie
Annalet Aspeling is die eienaar van The Pepper Tree Art Stable and Coffee Shop. Foto: Verskaf

“Waar ons kombuis is, was altyd ’n perdestal. Daar was altyd ’n perd en ’n koei in die stal,” sê sy. 

“Ons glo dis die rede hoekom mense kom kuier by ons,” is haar gevoel oor die twee groot peperbome wat bo die perseel uittroon.

“In 1992 wou ons graag na die platteland toe beweeg. Ons het vriende gehad in die omgewing van Philadelphia en dis hoe ons die dorpie ontdek het. Hier was ’n besigheid – juis die gebou van AW Louw en Seuns – toe’t ons dit in daardie tyd bekom, gekoop en die algemene handelaar bedryf. Dit was die begin van ons pad op Philadelphia gewees,” vertel Annalet.

In die sop
’n Bekende afdraai in Philadelphia. Foto: Verskaf

Van algemene handelaar tot restaurant

Annalet sê sy het ’n groot liefde vir edelgesteentes, klippe en minerale. Die winkeltjie, wat vandag die deli is, is toe ingespan as ’n klein juwele-winkeltjie. Maar besoekers van heinde en ver aan die dorpie het na meer gesoek, soos tee of koffie. Annalet het die behoefte daaraan raakgesien. Boonop was daar verskeie kunstenaars wat hul kuns daar wou uitstal.

“Pepper Tree is amper soos ons tweede huis,” sê Braam Zeilinga, neurosielkundige. “Hier’s ’n huis [op] die hoek hier naby wat gedurig verhuur word. Ek dink ons moet maar hiernatoe trek want dan’s ons nader aan ons eetkamer.”

Vir Madelein Roets is The Pepper Tree ’n baie belangrike baken op hul dorp. Kykers sal haar herken as ’n voormalige Kokkedoor-deelnemer in seisoen 3.

“Jy weet daai storie van jy . . . jy het nie tyd nie. En dan kom jy Sondae of Saterdagmiddae by The Pepper Tree, en dan sien jy almal wat jy dié week nie by uitgekom het nie.”

Bertus en sy Landie kies koers

“Dit lyk soos ’n plaasstalletjie in die middel van die dorp, en hierdie plaasstalletjie het ook sy restaurantjie by. En jy kan kuns koop en gesonde goedjies koop in die winkeltjie,” som hy The Pepper Tree Art Stable and Coffee Shop op.

Die spyskaart en ’n lagie verf

Annalet verduidelik die spyskaart het ontwikkel soos die tyd aangegaan het en dit bestaan uit: “Plaaslike produkte wat ons van plase in die omgewing kry en dan vleis ook wat ons aanbied is óf wildsvleis óf vrylopende diere wat wei nog in die veld. En dan ook ons disse wat ons doen vir vegetariërs wat baie gewild is.”

Annalet sê sy het al telkemale die restaurant sit en bekyk en gewens hulle kan dit net verf. 

“Ek glo, en ek hoop, Misi se oog sien ook daai raak,” erken sy en noem dat die buite-area ook opkikkering nodig het. Daar’s baie stof hier in die somer en die kombuis het ook opgradering nodig.

“Ons oond is onstabiel. Dis ’n baie ou oond wat ons het. En dan, van ons ander toerusting het werklik vernuwing nodig.”

Die eerste sjef

“Jy weet, dit was toevallig gewees dat ek die eerste sjef geraak het van The Pepper Tree,” vertel Ron Moller.

“Ek het rondgereis een Saterdag en dit was so ’n reënerige dag gewees, en ek het gedink laat ek net êrens stop en ’n koppie koffie drink en wag vir die reën om verby te gaan.

“En ek sien toe hierdie plekkie . . . en dis doodstil. Hier’s niemand nie. En ek dag – la’t ek instap – en ek stap in. Daar waar die kombuis nou is, was een lang tafel gewees, en ek vra vir hulle of bedien hulle enigiets. 

“Hulle sê hulle het vir my hoendersop en twee broodrolletjies . . . en ek sê ‘deal!’ Ek het die heerlikste hoendersop geëet en ’n koppie koffie gedrink.

“Twee weke later toe’s ek terug, toe sê ek vir Annalet kan ek nie maar hier kom werk nie.” En die res is geskiedenis.

“Daar’s ’n beauty hier wat ’n mens amper nie aan kan tas nie, wat jy nie aan kan vat nie,” sê hy. Dit was wat hy van die eerste dag met daardie lekker bord hoendersop ervaar het en voel dat dit vandag nog geld.

Pandemie-planne en ander uitdagings

“In die eerste week van die inperkingstydperk het ons ’n lys uitgestuur van vars produkte. Ons het dit begin. Dit was ek, myself, en twee van my familielede wat die bestelling gepak het een keer ’n week,” vertel Annalet. En dis waar hul deli sy oorsprong gehad het.

Maar met haar aandag wat meer na die vars en gesondheidsprodukte verskuif het, het Annalet minder tyd aan die restaurant bestee. Sy het besef sy het hulp nodig, want vir haar was die regte balans net nie daar nie.

“Wanneer ’n mens wroeg met besluitneming, dan is dit soms . . . dit kom by jou op om net ’n vinnige en gemaklike besluit te neem. Is dit maar nie die pad om te gaan nie? Maak die deure toe, maak die hekke toe en begin ’n ander lewe? Maar in the Pepper Tree se geval is dit egter nie so maklik nie.

“Deur al die jare was dit baie duidelik dat die twee groot peperbome wat hier by The Pepper Tree staan, vir soveel mense ’n lafenis is. Maar ook in my terme genesing bring,” sê Annalet.

“So, die hart van The Pepper Tree is: Kom sit by ons onder die boom, geniet iets wat goed is vir jou en vernuwe jou siel voor jy weer uitstap by die hek uit.”

Bertus ontmoet vir Annalet

In die sop
Maar met haar aandag wat meer na die vars en gesondheidsprodukte verskuif het, het Annalet minder tyd aan die restaurant bestee, vertel Annalet vir Bertus. Foto: Verskaf

Bertus is dadelik gek oor die twee peperbome, en die pragtige ou gebou. Sy vertel vir Bertus die eerste cappuccino is op 7 Junie 2007 hier bedien.

“Annalet is interessant. Sy is nogal ’n bietjie van ’n firecracker, jy kan haar energie voel. Sy’s kort, jy weet? Baie netjies en sy praat perfekte Afrikaans, wat nogal interessant is . . . baie beter as myne,” kom dit van Bertus.

Hy is ook baie beïndruk met die aanbod van organiese vars en ander gesonde produkte. Annalet sê die rede daarvoor is dat “ons is wat ons eet. So, kom ons voorsien produkte wat basies opbouend is.”

Die kombuis

Bertus jeuk om die kombuis van nader te beskou. Hy sê dis beslis nie een van die slegste kombuise wat hulle al teëgekom het nie, maar dis duidelik dat die spasie baie beperk is. 

Annalet erken die vloei vanuit die kombuis is nie goed wanneer daar baie besoekers is nie. 

Benewens die beperkte spasie, is daar ’n paar pluspunte rondom die kombuis. Vir Bertus is dit dat die kombuis nogal redelik skoon is, daar’s ’n inloop-yskas, ’n opwasgedeelte en die gasaanleg kry ook punte.

Dis ’n verligte Annalet wat erken Bertus se positiewe terugvoer het haar hoop gegee.

Proetyd

Haar span was baie opgewonde om vir Bertus disse voor te berei. Die eerste vraag wat opduik van sy kant af is om uit te vind hoekom daar so baie vegan-disse op die spyskaart is.

Annalet sê daar is ’n groot aanvraag daarvoor. En dit is ook haar voorkeur, erken sy huiwerig aan hom. Sy sê dit voel vir haar asof daar ’n stigma aan die woord kleef.

Vir Bertus is dit insiggewend dat Annalet wel iets bied vir vleiseters, en dat hulle twee saamstem oor vark. Geen vark nie.

“Ek dink sy weet wat ek weet . . . dat varke het groot persoonlikhede, so ons los hulle maar uit, op hul eie,” kom dit van die man wat sy eie troetelvark het én boonop ’n restaurant na hom vernoem het: Spek.

Maar wat hom opval, is dat die porsie-groottes “mal” is.

“Haar porsies is massief en haar pryse is bitter goedkoop. Ongelukkig het alles in Suid-Afrika so duur geword, veral in restaurante, jy kan nie meer ’n groot porsie kos verkoop vir R120 of R130 nie. Dit maak glad nie meer sin nie,” sê hy.

Hy stel voor dat die spyskaart meer gefokus moet word.

“Ek met my coconut-olie en Bertus met sy botter,” kom dit van Annalet, maar sy sien kans daarvoor.

’n Lang geskiedenis

Misi vertel vir Bertus sy het ’n geskiedenis met The Pepper Tree en sê dit het ontstaan uit die kunste uit.

“Annalet . . . dit trek haar aan en dis waar dit actually begin het. So, wat ek voor wil doen is om deel van daai kunste weer terug te bring. En ek wil van die kuns rondskuif laat dit meer sigbaar is,” sê sy.

Sy het baie dinge wat sy wil verander – van perskepitte op die vloer om die stof te kortwiek, ’n nuwe tentseil en die voorkamer om maar net ’n paar dinge te noem.

“Ag, Philadephia is my hartsplek. Dit is ’n plek wat ek al baie lank ook al besoek . . . The Pepper Tree. So, dit was so ’n groot verrassing en ek is sommer bly om dit te kan deel maak van die In die sop-ervaring.”

Dag 1

“Ons het al verskillende vlakke van In die sop gehad, ons het al verskillende uitdagings gehad. Maar ek dink wat The Pepper Tree nodig gehad het, is net ’n bietjie om daai onderrok uit te skud,” sê Misi.

“Toe ek van my kantoor afstap met die trappe, en ek sien hoe álles van die rakke afgehaal word . . . ek het so ’n oomblik gehad van ‘o, waar gaan hulle nou daarmee heen?’ Maar ek het ook besef dit het my altyd gepla dat dit net daar staan en dit is vol stof,” erken Annalet.

Op sy beurt is Bertus besig met die skep van ’n gefokusde warm en koue kombuis. En sjef Rahim Cassiem vertel dat alles wat gekraak is in die kombuis, eenkant gesit moet word. Al die goed wat oud en nie meer nodig is nie, is daar van ontslae geraak.

Ook sjef Armand Durandt is deurentyd besig om te kyk na wat kan nog behoue bly en wat moet waai.

Intussen werskaf die span om die verflenterde tent af te breek. Dis juis toe dat Misi die metaal-uil gewaar wat hoog teen een van die mure sit. 

“Een van die eerste kunstenaars wat aan Annalet se deur kom klop het en gevra het of hy sy werkswinkel kan bedryf van die perseel af, was Martiens Bekker. 

“Kuns is ’n belangrike manier van kommunikasie in al sy vorme en wat ek eintlik hoop, is dat daar weer ’n herlewing is . . . sy het kuns, kom kyk daarna. Kom ondersteun dit, en maak dit dat die hart weer klop daarvoor,” is Misi se wens.

Aan die einde van Dag 1 pas die tent tot haar groot verligting en die kombuis is geverf.

Dag 2

Bertus beplan om vir Annalet plaas toe te vat en dadelik is Misi reg met ’n versoek: Bring pampoene saam vir die dak!

Die plaas, naby Durbanville, is die Anna Beulah-plaas wat spog met inspirerende tuine. 

Hy leer vir Annalet dat die dun groenboontjieblare in sommige Afrika-lande soos spinasie ingespan word vir bredies. So tussen alles deur vertel hy haar meer oor pampoenblomme, wortelbome, pampoenblare, murgpampoentjies en kohlrabi.

“Goeie genugtig!” is al wat sy uitkry toe sy een van die groot kohlrabi’s gewaar.

Sy was absoluut verstom oor sy kennis van plante na afloop van die kuier op die plaas.

Intussen by The Pepper Tree moet Misi ’n paar uitdagings hanteer.

“Somtyds is daar te veel goed en dan moet ons mooi besluit wat ons gaan terugsit. Maar as jou jou begroting uitroei met die ander aankope wat jy reeds gedoen het, soos ’n tent en ’n verrassing vir Annalet, dan moet jy begin kreatief dink om dit mooi te maak,” sê sy. 

“Onder andere was daar iets wat ek in my lewe nog nooit gesien het nie . . . die eerste gas-hanglampies wat jy gekry het,” vertel Misi. Net daar kry sy die inspirasie om dit te laat elektrifiseer en sy mik daarna om dit op die stoep te installeer.

Verrassing!

In die sop
’n “Fênsie” ossewa is nou deel van The Pepper Tree se sjarme. Foto: Verskaf

Danksy Misi se wonderlike vennootskap met die ou wat haar kaste bou, daag die verrassing op – en dis nie ’n pizza-oond nie!

Die man en sy vrou het die hele nag deur op Marketplace gesoek na ’n ossewa, en hier daag dit op, al die pad van Riebeek Kasteel af. Lekker stewig gemaak, reg vir opklim en foto’s neem.

“En hy’s ’n fênsie enetjie ook nogals want hy het ’n hele stel ratte,” kom dit van haar terwyl sy bewonderend dié affêre van naderby beskou.

Op Anna Beulah-plaas geniet Bertus en Annalet ’n ete wat uit die tuin in die restaurant voorgesit word en sy erken sy is baie opgewonde om te sien wat by The Pepper Tree aan die gang is. 

Sy erken wel dat sy vanweë haar eie dieet nie altyd seker is wat die publiek sal geniet nie. 

Bertus stel haar gerus en sê mense sal aangetrek voel as hulle iets as eg ervaar. Hy noem dat haar span ook op die plaas en in hul tuin ’n draai moet kom maak om te sien waaroor dit alles werklik gaan.

Hy terg haar al te lekker en vra of dit te laat is om aan haar te noem dat The Pepper Tree nou in ’n lekker steakhouse omskep is. Dit breek die spanning en laat haar lekker lag.

“Dit bruis en borrel hierbinne my, ek sien so uit daarna om in te stap deur daai hekke by The Pepper Tree . . . as daar nog hekke is,” sê Annalet.

Dag 3

Misi het Smart Art nader geroep om die peperboom-motief op goiing-lap te druk. En dit lyk baie goed. En die ossewa word nou ’n markwa – ’n mooi tafel vir vars produkte.

Annalet het net so ’n paar tree op The Pepper Tree se terrein gegee, toe kom sy tot stilstand. En kyk, en kyk, en kyk. Die nuwe tent het haar onmiddellik getref. En toe’s daar nie meer woorde nie . . .

“Dis skoon, vars, lig . . .” sê sy nog voordat sy haar volgende verrassing, die nuwe eetkamer, onder oë gekry het.

“Een van die hoogtepunte was die pragtige binne-sitvertrek wat ons het. Beautiful. Kyk net daar,” sê sy terwyl sy haar arms in verwondering oopsprei.

Sy was nog meer oorweldig toe sy die nuwe kombuis binnestap. Daar’s nou ’n warm kombuis en ’n koue kombuis, ’n gas-pizza-oond, nuwe borde en soveel meer.

Proetyd

Die nuwe spyskaart met ’n paar vegan hits word deur Bertus belowe, maar hy erken hy is nie seker oor hierdie “nuwe blêddie vegan flapjacks nie”.

Annalet erken sy voel oorweldig deur alles, gepaardgaande met die twee dae wat sy weggehou was van haar restaurant, maar “dit voel vir my of ek weer die krag het om aan te gaan.”

Die gereelde kliënte is daar vir ondersteuning en haar dogter, Emma, sê sy kan nie wag om te sien hoe Annalet se lewe van dag tot dag gaan verander met die vars energie nie.

“Dit raak ’n mens diep as jy weet waar jy vandaan kom, watse pad jy geloop het en skielik kry jy so ’n groot geskenk,” kom dit met groot dankbaarheid van Annalet.


In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies