In die vyfde episode van kykNET se werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie gaan sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf ’n radikale verandering meebring aan die Weskus. Velddrif (oftewel Vellerif soos die oues van dae dit soms noem) langs die Bergriver is in vir ’n ding!
“Wat ’n koel plek,” is Bertus se opsomming van dié Weskusdorpie met sy alombekende Bokkomlaan. Die grondpadjie, die eerste pad wat in Velddrif gevestig is, vat jou verby ou huise en daar is vandag nog ’n paar “bokkomfabriekies” waar bokkoms opgeryg en in die son gedroog word na ’n lang soutbad.
Dan is daar ook Kleinvlei Bistro & Wine Stoep, en dis waar Bertus en Misi besig gaan raak. Francois en Elron Haughton is die eienaars. Die twee het aanvanklik die restaurant oopgemaak vir hul ma’s wat in die dorp bly.
Elron het ongeveer 12 jaar gelede vir sy ma het ’n vis-en-tjips-winkel in Stellenbosch gekoop.
“Dit was ’n verskriklike mislukking, jôgh, dit was aaklig. Ek het myself belowe ek sal dit nooit weer doen nie. En hier sit ons weer.”
Elron en Francois hou van onthaal alhoewel Elron besef dis nie regtig die boublokke vir ’n suksesvolle restaurant nie. Hy sê hulle het bloot net kans gesien om ’n restaurant te begin.
“Kleinvlei is meer modern as die vorige restaurant wat hier was. Ja, hulle bied ’n goeie spyskaart aan,” sê Stephen Tredoux, konfytverskaffer.
“Ons was nogal opgewonde om te sien daar gaan iets nuuts gebeur,” kom dit van Willene Vermeulen, een van Kleinvlei se lojale ondersteuners. Sy voel hulle het baie moeite gedoen met alles en as ’n mens so ’n rukkie daar gesit het, voel dit asof jy weg van die dorp is, “iets wat jy partykeer bietjie nodig het.”
“Ons wou vir die ma’s ’n baie eenvoudige ding skep waarmee hulle op ’n daaglikse basis net ietsie lekkers kon doen vir hulle self,” sê Elron.
“Maar ons het baie vinnig besef dat die behoefte van die dorp is . . . dat die mense hier eintlik baie graag wou hê dat hier ’n ordentlike restaurantjie moet wees. Dit gaan nie die sarmie joint wees wat ons aanvanklik wou doen nie.”
Francois is duidelik trots daarop dat hulle sterk plaaslik ondersteun met dit wat die restaurant bied.
Vir Greg Francis, ook ’n lojale kliënt, is Kleinvlei se spyskaart soms ’n bietjie van ’n uitdaging.
“Die mense op hierdie dorp is meer gewoond aan ’n fast food tipe ding en Kleinvlei probeer om dit te verander. En ek dink hulle sukkel maar partykeer om mense te oorreed om gesonder kos en mooier kos [te kies].”
Bertus sê hy sal wat wou gee om ’n restaurantjie by die water te hê en Kleinvlei is vir hom baie spesiaal. Dis ’n ou gebou en ongeveer 18 maande gelede is dit gerestoureer.
Francois is die een wat die kleure en kreatiewe kant van Kleinvlei getakel het.
“Ons wou glad nie afbreek doen aan die oorspronklike gevoel van die gebou nie. Ons wou haar net weer ’n bietjie laat herleef,” sê hy.
En die skelpienk flaminke by die intrapslag? Hy was aanvanklik nie seker van hulle nie, maar toe hy hulle daar neersit neffens die ingang het dit vir hom sin gemaak.
Willene kan nie verstaan hoekom Kleinvlei in die sop is nie, “maar ’n ander ou se sake is duister”.
Elron erken nie een van hulle twee is restaurateurs nie en toe hulle ’n jaar vantevore Kleinvlei se deure oopgemaak het, het hulle dit as’t ware reeds in die sop oopgemaak . . .
Hy hoop om hacks van Bertus en Misi te leer waardeur die alledaagse lewe in die restaurant makliker gemaak kan word.
Francois is effe gekwel oor die dekor-aspek. Hy wil nie laat gaan van die harde werk wat hy self daarin geploeg het nie. Om nie van Elron en hulle ma’s te vergeet nie.
“Ons al vier se ruggrate lê hier iewers gebêre,” kom dit ernstig van Francois.
Die groot vraag is natuurlik of hulle oopkop genoeg gaan wees vir wat die gedugte In die sop-span na vore mee gaan kom.
Bertus kan die versoeking van ’n motorfietsrit nie weerstaan nie en hy kies koers na Velddrif op sy groot ysterperd. En net soos die twee pienk flaminke, lyk dit eensklaps asof die motorfiets en Kleinvlei perfekte pasmaats is.
Die ontmoeting met Bertus het Elron effe ontsenu want hy beskou hom as ’n “bom van ’n mens in hierdie opsig”. Maar kort voor lank laat Bertus hom en Francois gemakliker voel.
“Ek is mal oor die wynlys wat hulle voor my uitgehaal het,” kom dit van Bertus en hy is veral beïndruk met hul fokus op plaaslike Suid-Afrikaanse wyne.
Proetyd
Elron sê hul Weskus Benedict is die gewildste ontbyt. Dit bestaan onder andere uit viskoekies en geposjeerde eiers. Daar is ook ’n vis-kaas-bord en ’n opsie vir vegetariërs.
Bertus stuur hulle in ’n nuwe rigting – weg van ontbyt af. Hy wil hê hulle moet die beste maak van die pragtige ligging en eerder tot agtuur die aand oopbly.
Hy maak dit ook duidelik dat hy ’n nuwe struktuur gaan implementeer. Hy glo vas met ’n klein bietjie verfyning, kan ’n klein dorpie se kos in een van die wêreld se beste restaurante opeindig.
“Hy is op die man af, maar sonder om ongeskik te wees. Ek dink hy’s ’n baie vrygewige ou,” is Elron se gevoel oor Bertus na hul eerste gesprek.
Bonus-evolusie ná ’n lekker koppie koffie
Intussen is Bertus op pad om koffie te gaan soek by ’n plekkie in Bokkomlaan. Hy eindig op by Columbine waar hy vir Albert Cornelissen ontmoet. Hier rooster hy sy eie koffie.
Albert vertel sy oom en tannie het in Velddrif gebly en hulle het altyd skoolvakansies kom kuier. Hierdie was die enigste plek waar hy koffie kon kry waarvan hy gehou het.
In daardie stadium het Albert sommer in sy ouers se agterplaas al koffie gerooster. Dit met ’n koffierooster wat hy self gebou het.
Sy ma het ’n advertensie op Facebook gesien dat dié plek te koop is. Die koeël was toe deur die kerk en Albert het met sy eie koffierooster en al na Velddrif gekom. Toe begin die bestellings instroom, soveel so dat hy tot vieruur soggens moes rooster.
’n Advertensie van ’n antieke Turkse koffierooster in Vredendal het vir hom uiting gebring. Die feit dat dit in drie stukke was, het hom nie afgeskrik nie en vandag rooster hy elke dag koffie met daardie einste antieke rooster.
Bertus bied spontaan aan om hom ook van hulp te wees, iets wat Albert met groot dankbaarheid aanvaar. Sy grootste frustrasie is die gebrek aan spasie.
Daar is baie goed in Columbine wat vir hom van sentimentele waarde is, waaronder die (letterlik) skrif aan die muur soos die wonderlike storie van Alan Watts en sy eie leuse: “Catch snoek, not feelings”.
Bertus belowe om vir Misi ook hier in te roep en dalk, net dalk, gaan Columbine meer as net koffie en koek op hul spyskaart hê “want is ons mos nou hier.”
Dag 1
Kleinvlei Bistro & Wine Stoep, Bokkomlaan. Foto: Verskaf
Misi is besig om baie planne te maak om die begroting en tyd wat aanvanklik vir een projek bewillig is, so te bewerk dat beide Kleinvlei en Columbine binne dieselfde tydperk met die bestaande begroting getakel kan word.
Sy hou van wat sy by Kleinvlei sien en voel daar kort net so ’n bietjie afronding. En nog flaminke, natuurlik . . .
Die wynrakke is vir haar baie grof en Francois is ontsteld toe hy sien hoe vinnig Misi en die span die rakke waaraan hulle so hard geskaaf het, uithaal.
“O, gonna,” is byna al wat Elron uitkry toe hulle die leë Kleinvlei binnestap. “Julle het geen idee hoeveel werk hier ingegaan het nie.”
Sjefs Armand Durandt en Rahiem Cassiem word deur Bertus in die kombuis besig gehou met watter verskuiwings en veranderings moet plaasvind.
“Wat het met die stoof gebeur?” wil ’n bekommerde Elron weet. Dit lyk amper asof hy tevrede is met die span se antwoord oor die verskuiwing.
Misi maak saam met elektrisiën Chris Coetzee planne om die bestaande pienk flaminke se staanplek in ’n fonteintjie te omskep. Dis natuurlik tot groot verligting van Elron en Francois wat die twee flaminke as hul gelukbringers beskou.
Albert is in hierdie stadium net so benoud, veral oor sy antieke rooster.
Misi se span dag op met ’n kreefbootjie vir Columbine. Dit laat haar gou na haar maatband gryp.
“Hy het vir my klein gelyk op die trok, en nou lyk dit baie groot in die spasie,” laat sy hoor en die bootjie vaar vir eers weer terug na buite.
Albert het besluit om vir Bertus aan die vorige eienaar van Columbine, Rudolph Danté de Villiers, bekend te stel omdat hy baie te doen met die erfenis van Bokkomlaan.
Columbine, Bokkomlaan.
Columbine was Rudolph se oupa se vishuis gewees en toe hy ’n paar jaar gelede saam met vriende toevallig deur Bokkomlaan gery het, was daar nie veel wat daar aangegaan het nie. Hy het besluit dis ’n kans om iets te doen waar ander mense kan deel in die erfenis en geskiedenis van die straatjie.
Kleinvlei het ook oorspronklik aan sy oupa se broer behoort. Rudolph vertel dat ’n onderonsie toentertyd tussen die twee broers daartoe gelei het dat sy oupa uitgestap het en sy eie vishuis gebou het.
Intussen daag Toitnette du Toit, opknappingsbestuurder, by Kleinvlei op met Misi se nuwe flaminke. Misi kan haar opgewondenheid nie beteuel nie. En die ontmoeting met die twee nuwelinge het goed afgeloop.
Boonop het Misi muurpapier in die hande gekry wat soos botaniese sketse lyk, maar in plaas van plante is dit vol flaminke en pelikane.
“Dit vertel net die storie met ’n bietjie meer kleur en tekstuur.”
Vir Columbine se grys muur het sy ook planne.
“Ek wil net so graag iets quirky, en kom ons noem dit maar ‘Instagrammable’ doen. Ek het hierdie oulike wafelvlerke gesien en dit is nou maar ’n trendy ding om jouself af te neem met hierdie vlerke wat op die mure geverf is.”
Dag 2
Misi voel opgewonde want hulle vorder goed met Kleinvlei. Die flaminke het nou hul fonteintjie en die bokkoms van Bokkomlaan is in pragtig kunswerke omskep, danksy foto’s van plaaslike fotograaf Georgia East.
Vir Columbine het sy weer op ’n vriend se nommer gedruk: Freddy. En net so word daar ’n plan beraam om ’n afdakkie vir die stoep te bou.
Bertus voel Albert is nog baie skepties oor die proses want hy het ’n baie spesifieke idee vir sy handelsmerk.
Terselfdertyd is Bertus nie gelukkig met Kleinvlei se mossel-aanbod nie. Dis gevriesde mossels . . . en dis vir hom net nie goed genoeg nie. Hulle is immers aan die Weskus. Net daar neem hy hulle na die Saldanha Bay Oyster Company om oesters te gaan proe.
Jonathan Venter, bestuurder van die maatskappy, neem hulle deur die proses van wanneer die oesters van die boot af kom tot die skoonmaak.
Jonathan en Joseph Dayimani leer vir Elron en Francois om oesters oop te maak en te laat proe. Maar o wee, Elron is nie baie geneë daarvoor nie. Hy sukkel met die tekstuur van oesters.
Terwyl Francois twee stukkies skulp saam met sy oester gekry het, het Elron tot sy eie verbasing die oester-etery geniet.
“Dit was vir my regtig ’n baie aangename ervaring,” erken hy van sy sout-see-ervaring.
Ook vir Misi is daar goeie nuus. Die nuwe bootjies is kleiner en dit lyk of dit mooi gaan inpas. En Chris is van vroeg reeds op sy pos. Hy is besig om daardie kosbare antieke koffierooster blinker as blink te poets.
“Hy het daai masjien gepoets en ek wil nou eintlik lag want . . . ek het gesê dit lyk nou soos ’n Louis Vuitton-handsak. Dis soos ’n spieël,” sê sy bewonderend. Sowaar, sy kan haar refleksie op die rooster sien weerkaats.
Paintmaster se span help ook om die harde werk ligter te maak. So ook dekorkoördineerder Elize Buys wat byderhand is met raad oor Misi se kleiner bootjies.
Kykers sal vir Cat en Sanet van Cup of Cake, Saldanhabaai, onthou van die eerste In die sop-seisoen. Vir Bertus was dit een van sy gunsteling-episodes en hy stel Albert, Elron en Francois aan die twee voor.
Bertus verduidelik aan hulle almal dat die sukses van ’n restaurant nie in die kos of wyn lê nie, maar in die omgee, iemand wat seker maak hul plek is skoon, die kos is vars en die span is gelukkig . . .
Hy verduidelik ook ’n nuwe strategie aan die drietal. Hy sê in sy kop maak dit sin dat Kleinvlei middagetes en wyn aanbied en daarna koffie en poeding by Columbine. En dit maak dadelik ook vir hulle sin.
Dag 3
Columbine, Bokkomlaan.
“Dis dag drie, vir ’n baie groot reveal-dag vir ons. Dit is nogals ’n haas uit ’n hoed ruk – met geweldige intensiteit,” sê Misi.
“Goeie . . . wow! Wow! Is julle seker dis my plek?” wil ’n verstomde Albert weet. Die vlerke maak nou vir hom sin en die afdak is perfek.
“Toe ons binne inloop, toe’s ek weggeblaas,” en breër kan hy nie glimlag nie. “Dit lyk flippen awesome. Jissie, ek is nou speechless,”sê hy terwyl hy met sy hand die nattigheid in sy oë droogvee.
“Ja, wel. Hoe kan ’n mens nie emotional raak nie?” wil hy weet.
Bertus maak hom net daar en dan touwys oor hoe hy die wafels moet maak. Wie gaan kan nee sê vir ’n melktert-wafel?!
Elron en Francois is ook maar op hul senuwees vir die ontmoeting met hul nuut-oorgedoende restaurant.
Kleinvlei Bistro & Wine Stoep, Bokkomlaan.
“O, dis pragtig en die fontein werk uiteindelik,” is Elron se eerste opmerking. “Die goed waar ons toe net nooit by kon uitkom nie, kyk net hoe lieflik lyk dit!”
“As jy regs kyk, probeer jy alles inneem. As jy links kyk, probeer jy alles inneem. Want dis alles net soveel beter,” kom dit van Francois.
Die wynrakke waaraan hulle so hard gewerk het, het ’n tweede lewe gekry. Dit is net om die hoek waar die wyn gestoor word.
Daar is wel ’n nuwe spyskaart: tapas met lamsribbetjie, rou vis, gebraaide bokkom, snoek-viskoekies, kaas van hul buurman (Kokerboom Kaas), en natuurlik oesters.
En, tot groot vreugde van die drie mense van Bokkomlaan, het hul geskiedenis nie verlore gegaan in die proses nie.
In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.