Dis hier in Klapmuts, ’n plek vol verrassings met onder meer die Exotic Animal World (voorheen bekend as Butterfly World), die wêreldgehalte Babylonstoren, Dalewood-kaas en lieflike wynplase al die pad na Simondium se kant, waar die sewende episode in seisoen drie van kykNET se werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie, afspeel.
Henno Smit, eienaar van Café Lemur wat binne Exotic Animal World geleë is, soek met die bekendstelling reeds ’n sneesdoekie… Die emosies loop hoog. “My pille het nog nie ingeskop nie,” probeer hy dit wegpraat.
Hy het op 12 Desember 2020 hier begin nadat hy die restaurant en sy bakkery bymekaar gegooi het om die twee saam te laat werk.
Sy ma se suster, Marietha Kotze, vertel sy ken hom van sy geboorte af.
“Hy was so ’n lang, maer babatjie gewees,” onthou sy. Sy sélf het vir bykans 24 jaar lank spyseniering gedoen en, “Henno het in daardie tyd vir ’n restaurant gewerk. So, hy het altyd vir my kom help. Ons het baie sports saam gehad.”
“Hy was een van die bestuurders by Café Chameleon in Plattekloof,” vertel Hester Müller oor waar sy vir Henno leer ken het.
“Ek is maar soos ’n tweede ma vir hom. Dis wat hy my noem want sy ouers bly in Namibië. En hy’s baie goed vir my.”
Café Lemur was aanvanklik een van die bakkery se kliënte, vertel hy.
“Ek het vir meer as ’n jaar uitgekyk om te skuif en die eienaar gekontak. En binne twee weke het ek ingetrek. Ek is ’n plaaskind. Dit voel vir my na die beste van alles . . . Om na so ’n plek te kom en tussen die diere deur te gaan. Ek het ’n paar voëls hier agter,” en volgens hom is sy gunsteling ene genaamd Fred.
Verder kan jy tussendeur die lemurs (ook bekend as bosapies) stap, die einste diertjies na wie die restaurant vernoem is.
Henno verduidelik dat hy graag ’n lekker ete vir mense wil bied nadat hulle deur Exotic Animal World gestap het. Daarmee saam wil hy dit vir kinders lekker hou en hulle ook besig hou.
“As die kar stop, het ek twee plantjies gekoop by Shoprite. En as dit ’n goeie maand is, dan splash ons en dan koop ons vir ons kandelare. So, ek het dit opgebou met tyd. Elke maand ’n bietjie. My boekhouer het later gesê ek moet ophou goedjies koop,” erken hy.
Hester sê Henno het baie veranderinge die afgelope drie jaar teweeg gebring. En Marietha sê die kos is lekker en die atmosfeer is goed.
Een van sy gereelde kliënte, Nico van Wyk, voel egter dat Henno kan dalk net die aanbieding van sy spyskaart heroorweeg en “in plaas vir mense iets op papier gee, iets [gee] wat gelamineer is wat mooi in kleur is”.
Die spyskaart
Henno sê hy het aanvanklik net toebroodjies en burgers gedoen en hy wou niks byvoeg voordat hulle dit nie goed genoeg kon doen nie.
“Ons het kliënte wat spesiaal kom vir ons gebak. Dis familieresepte, dis vriende se resepte wat ek aanpas . . . Soos my lemon meringue het ek gekry by my niggie – en sy koop dit nou by my.”
Ten spyte van sy bedenkinge oor die voorkoms van Henno se spyskaart, is Nico gek oor die koeke wat Henno bak.
“My gunsteling is waarskynlik die caramel chocolate-koek.”
Hester ondersteun hom ten volle.
“Ek dink sy koeke is die beste in die Kaap, ek kan maar nog doen met nog gewig” kom dit met ’n flonkering in die oog van haar.
So gekry, so gebly
“Ons het baie basiese toerusting. Ons het ’n gasstoof, ’n gas fryer en ’n toaster. Dis wat ek gekry het toe ek hier ingetrek het,” sê Henno en vir hom is daar nie juis iets wat vir hom kosbaar voel nie.
Behalwe natuurlik een ding: Onder die tafel is daar ’n outydse skaaltjie wat in sy ouma se stasie-kafeetjie in Namibië diens gedoen het. “Ek sal hom red as hulle hom uitgooi.”
Hy sê hy weet Bertus spog met die beste burger in sy restaurant, maar hy wat Henno is, sal tevrede wees met die tweede beste een uit Café Lemur se kombuis.
Opgee is nie ’n moontlikheid nie
Henno erken dat dit persoonlik, finansieel en emosioneel uitmergelend is. Maar hy gaan nie tou opgooi nie.
“Ek het té hard gewerk hiervoor.”
Onsekerheid het aan hom geknaag met sy inskrywing.
“Vir my het dit gevoel in die sop is in die sop. Jy’s in die moeilikheid. Dan, as jy nou gaan sê ek is in die moeilikheid, dan voel dit amper asof jy faal. Jy was nie goed genoeg nie,” sê hy. En weer moet hy die nattigheid in sy oë wegvee.
Die ontmoeting
“Genade, maar dis nogal ’n oerwoud,” is al wat Bertus uitkry na hy uit sy Landy geklim het.
Intussen erken Henno hy’s ’n groot aanhanger van Bertus.
“Ek volg hom op alle sosiale media-platforms. Ja, en ek is ’n bietjie senuweeagtig ook,” verklap hy.
Bertus spring sommer weg en wil weet of hulle burgers lekker is. Henno stel hom gerus dat hy wel dink dis lekker.
Hy noem aan Bertus dat families hul grootste kliënte is en beklemtoon weer hoe belangrik die kinders se area vir hom is.
“Toe ek begin het hier, was die kinders half effens afgeskeep met wat hulle kan doen. Ek het agtergekom hulle raak verveeld en die ouers raak geïrriteerd. Dan kom baklei hulle met my,” vertel Henno.
Bertus is beïndruk met die feit dat kinders welkom is by Cafè Lemur.
“Ek het kinders, en kinders is flippen moeilike eters. Ek het nie gesê ‘etters’ nie, ek het gesê ‘eters’. Maar hulle is ook bl*ksempies,” laat hoor hy.
Die kombuis
Dis ’n lekker groot kombuis en volgens Henno kan daar 50-60 mense vanuit dit bedien word. Dis gewoonlik besig oor naweke en hy sê hulle probeer kosbestellings binne 20-30 minute uit te stuur. Soms is die vloei van so aard dat die mense almal gelyk aankom en dan word daar maar water getrap.
Maar tot Bertus se teleurstelling is dit nie vars tjips wat hier bedien word nie. Hy help Henno gou reg: “Die regte antwoord is ‘ons tjips is nog nie vars nie’.”
Proetyd
Henno het sy drie gunstelinge op die spyskaart vir Bertus voorberei. Dis ’n gekrummelde vartjop, ’n tramezzini met spek, feta en avokado, en dan natuurlik die Lemur-burger. Moenie vergeet van Henno se bekende wortelkoek vir daardie soete afsluiting nie.
Terwyl Bertus fyn-fyn proe, wil hy weet of Henno al ooit wegneemetes oorweeg het. Henno het, maar omdat hul besigheidsure net tot vyfuur namiddag is, dink hy nie hulle kan aan daardie mark se vereistes voldoen nie.
Bertus noem aan hom dat hy baie parkering tot sy beskikking het, ’n kombuis en groot verkeer – en dit kan vir hom ’n nuwe mark wees om te oorweeg vir die toekoms.
’n Benoude Henno weet nie hoekom Bertus nie te veel te sê gehad het nadat hy al die disse probeer het nie, maar dit lyk darem asof die wortelkoek goed afgegaan het.
“Die koeke . . . Ek dink hierdie is sy troefkaart. Die koeke wat hy bak, is incredible. Dis seker een van die beste wortelkoeke wat ek geëet het in ’n lang tyd. Ek dink hy moet speel in sy sterkte in en dis ook wel daai koek-mark.”
Bertus maak planne
“Ek het so half ’n plan in gedagte vir julle. Ek dink jy moet altyd speel na jou sterkpunte toe. Jul sterkpunte is waar dit geleë is, families, kinders, ensovoorts. Die een ding wat ek nie wil verander nie, is enigsins aan julle koeke.”
Hy sê mense sal ry om daardie koeke te koop en ook dat die spasie gebou is vir families. Bertus hou ewe vermetel vol dat sy Vrije-burger steeds die beste in Stellenbosch is, maar dat hulle vir Henno gaan help om syne die tweede beste te maak.
Dag 1
Bertus heet Misi welkom met ’n kwinkslag: “Welcome to the jungle,” waarop sy ewe vinnig terug laat hoor: “Oukei, Tarzan.”
Hy lig Misi in dat hy die bakkery en die restaurant van mekaar gaan skei vir ’n beter struktuur.
Sy is slaggereed met haar beplanning. Daar gaan getimmer, geskuur, geverf, geskuif en oop gemaak word. Sy gaan hou by die oerwoud-tema soos wat Bertus dit bestempel.
“Ons maak dit ook net ’n bietjie meer subdued, ons bring dit net meer ’n bietjie af. Dit gaan ’n bietjie van die ou tannie-gevoel afbring en dit moderner maak,” sê sy.
Bertus verduidelik dat hulle vir die eerste keer ’n spyskaart vir kinders geskryf het, maar grootmense is ook welkom. Dit sal deur porsie-groottes bewerkstellig word.
Nutsman Hendri Hamman is die man wat die toonbank gaan uitsorteer en in die kombuis verduidelik Bertus vir sjefs Armand Durandt en Rahim Cassiem wat van hulle verwag word.
“Die kombuis is oud en ons gaan meeste van dit moet uitgooi,” is die besluit waartoe hy kom. En dan natuurlik ’n goeie skrop en ’n verf . . .
Henno se senuwees knaag en hy sê dit voel vreemd om te sien hoe alles uit- en weggedra word. En hy’s onseker of hy van die items ooit weer gaan sien.
Misi belowe dat sy ouma se skaal ’n spesiale plekkie gaan kry en sy weet presies waar dit gaan wees.
“Dis asof drie jaar van jou lewe uitgedra word. Elke ding is met liefde op sy regte tyd op sy regte plek ingeskuif, en dit het net gevoel ewe skielik is daar niks oor nie,” sê ’n bekommerde Henno. Maar Misi stel hom gerus en stuur hom om ’n glasie wyn te gaan drink.
Met Paintmaster se span byderhand, word die swart muur minder swart en kleure ingebring om bietjie ligter te maak.
In die kombuis ontsnap niks Bertus se arendsoog nie. Nee, dis beslis nog nie skoon genoeg geskrop vir hom nie.
Misi deel ’n komiese oomblik rondom die Lemur-logo. Elsa, wat haar help met die bemarkingsgedeelte van die proses, se tienjarige tweeling het die logo onder oë gekry. Diplomaties verduidelik Misi dat hulle gesê het dit lyk of die apie se maag seer is.
“Ek gaan nie sê die apie spuitp**p nie!” blaker sy dit uit en daarom gaan die logo ’n bietjie aandag kry.
Beide Misi en Bertus is tevrede met die vordering wat gemaak is. Maar Bertus het een kwelling: Waar gaan hy die chip cutter installeer vir Henno, want vars tjips is nie onderhandelbaar nie . . .
Dag 2
Bertus sê hy persoonlik vind Babylonstoren inspirerend. En hy wil Henno dieselfde laat ervaar en op dié dag ontmoet hulle mekaar daar.
Henno is self gaande oor Babylonstoren. Dis die plek waarheen hy gaan as hy kalmte nodig het. En boonop is plante een van sy groot liefdes.
Dit lei tot ’n verdere gesprek met Bertus – dié keer oor goeie restaurant-ervarings.
“Dan voel jy of jy op ’n weeklange vakansie was. Jy skakel af. Jy stres oor niks nie. Iemand kyk na jou, iemand gee om oor jou. Jy eet lekker. Restaurante gee vir mense ’n bietjie escapism,” is hoe hy dit opsom.
“Ek dink in jou geval is dit nogal lekker, want jy’t hierdie ander ondervinding. Jy sit en eet ontbyt langs ’n venster – en aan die ander kant van die venster is daar ’n lemur wat vir jou kyk. Of ’n eksotiese voël,” vertel Bertus vir Henno.
Bertus noem aan hom dat hy, vanweë sy ligging, ’n goeie verskoning het om ’n vinnige wegneemete aan mense te bied.
Wyse woorde van Bertus: “Die een ding wat nooit verander nie, is dat mense graviteer na goed wat authentic is, wat rég voel.”
Dit maak vir Henno sin en hy sê een van die punte wat Bertus gemaak het, is dat hulle nie net kos verkoop nie. “Ons verkoop ervarings.”
Intussen stoei Misi en die span met kragpunte, en ’n ekstra een of so, vir die koffiemasjien, slushie-masjien en springmieliemasjien.
“Ons is propvol, elke uur het ’n skedule wat gevolg móét word,” sê sy.
Maar die ellendige Murphy daag weer op en lol met hul kompressor asook die latte wat teen die dak vasgepen moet word. Dit kry Misi nie onder nie. Hulle besluit om skerms te bou en dit dan op te lig en teen die dak te monteer.
Chris Coetzee, die elektrisiën, het intussen net een van die skerms nodig om aan te gaan met sy elektriese werk.
Bertus erken hy sukkel om Henno heeltemal te lees.
“Ek dink hy weet hy het hulp nodig. Hy het nog nie heeltemal oopgemaak en soort van emosie gewys, ‘Okay, cool . . . ek is rêrig in die moeilikheid nie.’ Ons is maar trotse mense.”
Henno sê hy dink persoonlik hy het ’n jaar of twee van sy lewe verloor.
“Ek het ’n goeie jaar of twee gehad, ek het geniet wat ek doen . . . Dat ek dalk nie goed na myself gekyk het nie. Ek het nie genoeg tyd vir myself geneem om weer te energise en weer terug te kom met nuwe lus om die storie aan te pak nie. Later tap jy jouself laat jy eintlik maar net in die motion is, jy doen nie iets produktief of konstruktief nie. Jy gaan net aan,” erken Henno.
Ná die tyd sê Henno hy het nie altyd gehou van wat Bertus vir hom gesê het nie, waarskynlik omdat hy dit besef wat Bertus vir om gesê het, is in die kol, maar hy wou dit nie aan homself erken nie.
“Ons kry môre ’n m**rse klomp food critics in. ’n Klomp kinders kom eet môre. My genade, hulle is moeilik,” kom dit van Bertus nadat hy Henno versoek het om sy personeel se kinders vir die groot opening te nooi.
“Hierdie keer is dit ons wat in die sop is,” kom dit van Misi toe sy besef hulle gaan in alle waarskynlikheid nog laat in die aand saam met die nagdiere hier woel en werskaf.
Dag 3
Nutsman Hendri erken hy het amper so-iets soos slaap gehad.
“Jissie, dit begin nou na iets lekker voel, ek is rêrig nou eindelik opgewonde,” kom dit van ’n ewe moeë Misi. “Wat ’n wilde ervaring hier in die oerwoud. Ek gaan nie jok nie, hierdie was ’n gróót In die sop vir my.
Beurtkrag het die twee sjefs van hoender beroof. ’n Hele 10 kg en hulle is nie baie gelukkig nie. Maar dit kry hulle nie onder nie.
“Ek dink die span was nogal verbaas om te sien dat ons kon inhaal. Niemand het gedink hulle skree vir verloorders nie,” is Misi se reaksie op die enorme taak wat afgehandel is.
Al wat Henno voor hoop, is om nie te huil as hy sy restaurant-evolusie sien nie.
En toe kom die trane
“Ek is iemand wat bitter maklik my emosies deur my oë wys. Kwaad, huil ek. Hartseer, huil ek. Opgewonde, huil ek,” sê hy en dit voel vir om asof sy hart in sy keel klop. Oor die trane het hy nie gejok nie.
“Dis stunning,” en hy is bly sy plante, ook sy skildery, het gebly. En die nuwe lemur lyk vir hom ook al te oulik.
“Genade, dis so oorweldigend gewees,” sê hy vir Bertus. En onder Bertus se aanmoediging vat hy ’n bietjie tyd om alles mooi te bekyk.
“Ek sien my ouma se skaaltjie op die rak, lekker hoog . . . ja,” en hy sukkel om meer woorde te vind.
Terwyl hy deur emosies oorweldig word, neem Bertus hom ook na die kombuis met soveel nuwe toebehore, waaronder ’n yskas wat al die pad van die Vrystaat deur In die sop se vriende by Stay Cold gestuur is.
Maar Bertus het die beste vir laaste gelos en hy wys vir Henno sy nuwe chip cutter daar agter. Ja, die dae van bevrore tjips is vir altyd verby. Vars tjips op die spyskaart!
“Dit voel soos ’n nuwe bladsy,” sê Henno.
Net soos die nuwe spyskaart: Vars, maklik om te maak en lekker.
Misi speel vlymskerp met woorde tot almal se vermaak: “Ek dink dis nou Cafè Lemur 2.0 met ’n paar ‘bug fixes’”.
Maar is Henno op pad na die tweede beste burger in Stellenbosch?
“Jôh, die outjie is goed, Bertus,” laat hy na sy eerste proe hoor.
Die gaste begin opdaag en hulle is duidelik beïndruk met Cafè Lemur se nuwe voorkoms. Natuurlik is Marietha, Hester en Nico ook daar, terwyl die ernstige kos-kritici vrolik buite rondspeel.
Die groot vraag is natuurlik of die kleinspan van die kos gaan hou. Ongetwyfeld.
“Hy het drome gehad vir die plek wat hy nooit kon realise nie. En ewe skielik hier ingestap vandag en daar’s drome wat waar geword het vir hom,” sê Bertus.
“Henno vandag is baie wyser as ’n paar dae terug,” praat Henno oor homself.
“Hy het meer wilskrag, meer passie vir sy werk, meer liefde vir sy restaurant. Ek is opgewonde oor die toekoms vir die eerste keer in ’n lang tyd,” en die trane lê vlak.
In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.