Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Apr 2024]

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Vir oulaas saam – wie het eindelik Brendan se hart verower?


Die spanning loop hoog in die 13de episode van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks ‘Op my eish!’ waar die sanger Brendan Peyper nou finaal moet kies uit die drie vroue wat nog nie hul tasse gepak het nie.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Vir oulaas saam – wie het eindelik Brendan se hart verower?

Vir die laaste episode keer die Op my eish!-span terug na die Pheasant Hill-boetiekhotel in Pretoria. Brendan se wingman, die sanger Jo Black, hoop dat die goeie nuus wat hy gaan oordra die spanning onder die meisies sal verminder.

Katja sê dis “crazy om te dink waar ons begin het . . . ons het nooit gedink ons gaan vandag hier staan nie.”

“Dis eintlik ironies, want ons al drie het die eerste aand nog saam gesit,” onthou Rachelle.

Op my eish! met Brendan Peyper
’n Laaste dag saam. Foto: Verskaf

’n Groot verrassing vol liefde

Jo Black sê die meisies was lank van die huis af weg en soms het hulle net moederliefde nodig. En daarmee kom die drietal se ma’s by die deur ingestap.

“Mamma made it,” gil Katja dit byna uit.

“My ma, Karlien, is ’n ongelooflike vrou. Sy is verskriklik funny, sy is baie lief vir mense. Sy is absoluut my beste vriendin,” sê Rachelle.

“Dit is baie lekker om my ma te sien,” laat Janae hoor. “Ek het gevoel ek’s weer tuis by die huis.”

Die ma’s praat oor hul dogters se deelname aan Op my eish!

Senutergend, laat Janae se ma dadelik hoor. Jo Black wil ook weet of dit die ma’s se idee was om hul dogters in te skryf en of hulle dalk net morele ondersteuning verskaf het. 

Karlien sê sy het baie beslis niks daarmee te doen gehad nie.

Nog ’n ma daag op

Natuurlik is dit net billik dat Brendan se ma ook teenwoordig moet wees sodat sy ook die kat (of is dit katte?) uit die boom kan kyk voordat haar seun sy besluit neem. Die meisies gaan vandag vir Celesté ontmoet.

En Brendan word onmiddellik vir die wolwe gegooi want terwyl sy ma met die meisies kuier, is dit hy en die drie ma’s wat elders gaan saamkuier. Wie weet watter vrae hy mee gepeper gaan word . . .

Rachelle vestig haar hoop daarop dat Brendan sal sien hoe mooi haar ma oud geword het en dat sy ook eendag op dieselfde grasieuse manier die jare gaan deurdraf. 

“Ons het goeie gene,” lag sy.

Ma se skouer

Janae vertel sy het die hele tyd gereeld met haar ma gesels en raad gevra en dis vir haar baie lekker dat haar ma vandag by haar is.

“Dit was vir my baie opwindend om my ma te kon druk. Dit voel vir my of al daai stukkies wat dalk uitmekaar geval het die afgelope paar weke, was nou so saamgedruk met daai drukkie. Get your head together. Big breath,” is hoe Katja die herontmoeting ervaar. 

Celesté ontmoet die meisies

“My seun het drie meisies gekies. Ek kan nie wag om hulle te ontmoet nie. Wie weet, daar is dalk ’n toekomstige skoondogter tussen hulle,” laat sy hoor.

Janae is eerste om haar te omhels, gevolg deur Rachelle en dan Katja.

Gemengde gevoelens vier hoogty in Katja se kop: “Gaan die ma van my hou? Wat gaan die ma van my dink? Het die ma ’n groot invloed op die hele choice-making?”

Celesté sê die meisie wat by haar seun sal pas, is “een wat liefdevol is, wat vriendelik met mense oor die weg kan kom. Ek dink iemand met ’n passie vir die lewe, iemand wat die Here ken in haar lewe. En iemand wat vir hom daar sal wees as hy in ’n moeilike tyd is.”

Celesté en Katja

Celesté wil by weet hoe sy in Op my eish! beland het.

“Dit was rêrig ’n journey gewees. Ek het dit rêrig nie so verwag nie, maar dit was so lekker om vir Brendan nou te kon leer ken. Ek voel ek ken hom nog nie goed genoeg nie. Ek voel dis moeilik om hom partykeer te lees maar hy is ’n wonderlike mens. Tannie en tannie se man het hom rêrig goed grootgemaak,” antwoord sy.

“Katja is baie oulik. Sy gee vir my die plaas vibe, op haar plek. Maar ook, jy kan sien sy het al baie ervaring in die lewe,” is hoe Celesté haar opsom.

Celesté en Rachelle

“Tannie, ek geniet dit ook verskriklik. Hierdie was ’n baie interessante proses om iemand te ontmoet, maar ek wou nog altyd vir Brendan leer ken. En hy het my nogals verbaas. Alles wat sy (Katja) gesê het, is waar,” kom Rachelle se antwoord.

Celesté glimlag en sê hulle ken net al die lekker goed. Dadelik wil die drietal natuurlik meer weet.

“Die donkerkop trek my nogals aan. Ek weet nie hoekom nie,” is haar gevoel oor Rachelle.

Celesté en Janae

“Die journey was rêrig amazing gewees. Ook om al die girls te ontmoet was vir my lekker. Maar ook om Brendan te leer ken op ’n dieper vlak. Mense het altyd hierdie idee van Brendan van buite af . . . dis lekker om te weet hy’s ook net ’n mens. Hy’t ook gevoelens en ’n baie mooi klein hartjie,” kom dit van Janae.

En Celesté? 

“Janae het my dadelik gevang met haar smile. Sy het ’n oop gesig, sy’t mooi ogies. Sy’s oop. Ek het dadelik daai rustigheid gekry met haar maar ek weet nie of ek die regte gevoel kry nie.”

’n Vorige ‘ontmoeting’

Op my eish! met Brendan Peyper
Teetyd met “skoonma”. Foto: Verskaf

Die kuiertjie om die teetafel word meer algemeen oor waar die meisies vandaan kom. So tussen die gesels deur is dit Rachelle wat vir Celesté tee skink. 

Sy vertel vir Celesté oor die hartoperasie wat sy verlede jaar ondergaan het.

“Die dag wat ek moes ingaan teater toe, toe sit ek in ’n Spur in ’n sweetpak. Ek het baie sleg gelyk, besig om ’n strawberry milkshake te drink . . . toe stap hy (Brendan) uit die Spur uit. En my ma sê toe dis Brendan maar ek het nie rêrig gereageer op dit nie want ek is nou nie ’n fan girl of so iets gewees nie.

“Ek het maar net gekyk, toe sê ek vir my ma hy lyk vir my ’n bietjie alleen. Dit was my reaksie. En ek dink dis waar die saad geplant is. En toe hy nou Op my eish! begin adverteer, het ek net ingeskryf – nooit gedink ek sal vandag hier wees waar ek is nie. Ek het nie eers gedink hy sal twee keer kyk vir ’n meisie soos ek nie.”

En Celesté word bekoor deur Rachelle se oulike glimlag en voel daar’s iets warm in haar. Sy gee ’n goeie vibe af.

‘Hy is ’n diep kind’

Celesté vermoed Brendan mag dalk vies wees vir haar omdat sy vir die meisies vertel hy is ’n diep kind.

“Ons het baie swaar gekry in ons lewe, ons was met die minste tevrede gewees en ons kinders weet dit,” kom dit van ’n emosionele Celesté. “Ons kinders het nooit meer verwag as wat hulle gekry het nie.”

Sy vertel ook dat Brendan se suster in matriek was toe hy in 2018 aan die TV-reeks Tropika Island of Treasure op SABC3 deelgeneem het. Hulle het vir hom ’n VW Caddy gekoop toe hy in matriek was sodat sy musiektoerusting kon inpas. Maar toe sy sus in matriek was, kon hulle nie dieselfde vir haar doen nie.

“En toe hy [Tropika] wen, toe koop hy vir sy sussie ’n kar.” En dis nie al nie. Hy het gereeld met ’n koevertjie van sy vertonings af teruggekom en dit vir sy ma gegee. Sy sê soms was dit R2 000, soms R3 000 en die boodskap was altyd: “Vat dit, gebruik dit”.

Op soek na ’n sielsgenoot 

Celesté glo Brendan is nou gereed om te “settle” maar dat hy na sy sielsgenoot soek. Katja wil tot groot vermaak van die groepie weet of Celesté daarvan bewus is dat Brendan vier tot vyf kinders wil hê. Skertsend wil sy ook weet of hulle die kinders by  haar kan kom aflaai. “Enige tyd, enige tyd,” kom die antwoord.

Janae wil weet of Celesté gereed is vir klein Brennas. Néé, kom dit van Celesté. Die skoondogter moet eerste kom . . . en dán kan hulle maar opdaag.

Celesté bieg voor die kamera dat sy hoop Brendan kies met sy hart en nie volgens die uiterlike nie. 

“Hy moet weet wie met hom hierdie pad kan loop. Dit moet sy persoon wees,” sê sy.

Wat dink die ma’s van hul dogters se vlerksleper?

Op my eish! met Brendan Peyper
Brendan Peyper sit sy beste voetjie voor. Foto: Verskaf

Karlien Fourie, Rachelle se ma, dink hy is ’n aantreklike man en sy probeer net om te fokus op sy “mooi ogies”.

Brendan vertel die vroue dat hy reeds vantevore vir Karola Potgieter, Katja se ma, by die gastehuis in Otjiwarongo ontmoet het. Sy onthou hoe lekker hy kitaar daardie aand gespeel het en dat hy hulle in verwondering gehad het. 

“Ek moet sê, ek kan verstaan dat jong girls mal verlief raak op die man want, let’s call it the way it is, hy het die looks,” kom dit van Anita Stander, Janae se ma.

Karlien en Brendan

Sy wil by Brendan weet wat van Rachelle het hom van die begin af uitgestaan.

“Jis, tannie. Haar spontaan-geit en die feit dat sy haar hart op haar mou dra. Dit was vir my ’n spesiale ding om te sien. Dis skaars deesdae. Mense is so gereserveerd en sy wys vir almal hoe sy voel. As sy nie happy is nie, kan jy dit dadelik sien,” is die antwoord.

Anita en Brendan

Anita wil weet watter eienskappe is vir Brendan belangrik wanneer hy dink aan sy toekomstige vrou.

“Iemand wat waardes het. Ek dink ek sien baie van dit in my ma. Dit is vir my belangrik om iemand te hê wat selfversekerd is, wat weet wie sy is, wat weet wat sy verdien. Iemand wat nie terugstaan vir my nie, wat my challenge,” sê hy.

Karola en Brendan

Vir Karola is dit belangrik om te weet of Brendan werklik ’n band kon vorm met een van die meisies oor die afgelope paar weke. 

“Dis hoekom ek vir julle wil sê . . . jissie, troumateriaal . . . goeie vrouens wat julle grootgemaak het. Ek het baie respek vir elkeen van hulle. Daar’s niks wat ek kan fout vind nie. Dit kan werk met elkeen. Hulle is al drie reg vir ’n verhouding en om ernstig te raak. Dis vir my mooi. Ek moet maar net besluit watter een pas die beste by my,” sê Brendan. En voeg by dat hy dit ’n saak van gebed maak.

Pylreguit vrae oor daai soenery

Karola draai nie doekies om nie. Sy vra: “Hoeveel meisies het jy nou al gesoen in hierdie ses weke?”

’n Blosende Brendan kan homself nie hier uitwriemel nie. Die ma’s wil weet.

“Ek gaan 100% transparent wees. Ek het vier meisies gesoen,” kom die waarheid uit. Vir Karola is dit nie so erg nie, net “so bietjie erg” – tot Brendan se groot verligting.

Wat maak die meisies gelukkig?

Brendan wil op sy beurt van Karola hoor wat dit is wat Katja werklik gelukkig maak. “Die één ding,” wil hy weet.

“Wat vir haar belangrik is, is vertroue, eerlikheid en liefde,” sê Karola. En sy stem saam toe Brendan haar as “low maintenance” beskryf.

En vir Rachelle? “Jesus. God is Rachelle se alles,” vertel Karlien.

Wat van Janae? “Wat vir haar baie belangrik is, is net ondersteuning en iemand wat haar net aanvaar soos wat sy is,” sê Anita.

Die ‘Real Housewives van die Band’

Brendan dink dis tyd dat die drietal die orkes se lewensmaats tydens ’n braai ontmoet. Hy glo sy orkeslede beskik oor goeie mensekennis. Hy vertrou hulle oordeel en glo hulle sal die regte vrae vra.

Brendan se pa, Vince, is ook deel van die groep familie en vriende en hy is ook besig om die drietal fyn dop te hou.

Elizna, Brendan se suster, vertel vir Rachelle dat daar niemand in die wêreld is wat ’n beter pasmaat verdien as hy nie. 

In die verskillende waar daar met die meisies gesels is, is dit duidelik dat die taak wat vir Brendan voorlê, beslis nie ’n maklike een gaan wees nie. Elkeen het ’n eie gunsteling en daar is nie een van die drie wat loshande voor die ander is nie. 

“Ons kan nie dat ’n jaloerse meisie ons groepie join nie,” kom dit van die “Housewives”. Maar hulle hou eers terug met hul finale opinie tot waar hulle met Katja gesels.  

Hoe voel Brendan?

“Ander mense se opinies gaan nie vir my vanaand saak maak nie. Ek het klaar my mind opgemaak. Onthou, hulle sien dalk ’n paar minute van hierdie meisies vanaand, en ek het ses weke saam met hulle spandeer,” kom dit vasbeslote van Brendan.

Foto-tyd!

Daar heers groot opwinding die dag van die finale aankondiging. Dis tyd om vere reg te skud en vir Huisgenoot se fotograaf te poseer vir ’n voorbladstorie!

Rachelle voel haar rok is té styf en sy’s uit haar gemaksone, maar sy druk deur. Janae het wel reeds ervaring voor die kamera gehad en glo vas sy en Brendan gaan ’n goeie voorblad maak.

Wat lê nog voor?

Brendan het drie alleenafsprake wat voorlê – en tydens daardie afsprake gaan twee meisies se pad met hom tot ’n einde kom. 

Hy verseker sy wingman, Jo Black, dat hy heeltemal oortuig is met die keuse wat hy gemaak het. En dat hy oop kaarte met die meisies gaan speel.

Die laaste dag

Janae: “Dit voel baie unreal om vandag hier te sit en te dink dit is die laaste dag. Dit is vandag die dag wat hy sy keuse gaan maak. Ek het eerlikwaar nie gedink ek sal hier sit, deel van die top-3, nie.”

Katja: “Dis ’n rollercoaster van emosies. Ek weet nie hoe om te voel nie. Ek het regtig ’n knop in my maag, maar ek is glad nie spyt nie. What a journey! Dit het aan my gebou, dit het aan die mense om my gebou. Ek het amazing mense ontmoet, mense wat ek nooit wil vergeet nie.”

Rachelle: “Van die eerste keer af wat ek Brendan ontmoet het, het ons net immediately gekliek en ek het geweet there’s something. En ek het gevoel of hy my wou verseker just stay who you are en ek gaan jou ’n lang pad vat. Want ek dink aan die einde van die dag . . . Brendan en ek kan regtig oulik wees saam.”

En Brendan?

Brendan erken sy persepsies van dag een af tot nou het baie verander. Hy soek net iemand met wie hy ’n pad kan stap en iemand wat saam met hom na so ’n punt toe kan werk. “Ek dink dis baie meer special.”

Alleenafsprake breek harte

Op my eish! met Brendan Peyper
Rachelle en Brendan. Foto: Verskaf

Rachelle is die eerste afspraak. Brendan sê hulle twee het net gekliek van meet af aan, maar ten spyte daarvan moet hy erken hy het ’n sterker konneksie met een van die ander twee meisies.

“Dis nie ’n maklike besluit nie, maar dis een wat ek oor gebid het,” sê hy vir haar. “Jy is amazing en jy verdien niks minder as die beste nie.”

Met ’n laaste drukkie word sy gegroet. Rachelle sê sy weet sy gaan eendag ’n yster van ’n man kry.

Maar slim redigeringwerk jaag die spanning net verder op. Gaan dit Katja wees wat haar hele hart vir hom aanbied of Janae wat glo sy gaan gekies word? Meer nog, gaan Brendan wel iemand kies?!

Ook Katja kry dieselfde boodskap: Daar’s iemand met wie hy ’n sterker konneksie het . . . Sy erken sy het diep in haar gehoop dat daar dalk ’n kans is dat sy gekies kan word.

Op my eish! met Brendan Peyper
Katja en Brendan. Foto: Verskaf

Janae word ingelig dat Brendan besluit het die enigste meisie wat hy gaan soen, is die een wat saam met hom huis toe sal gaan.

“Ek wil eers weet . . . kan ek jou nommer kry?” vra hy haar. Sy is vir ’n oomblik uit die veld geslaan, maar hy klaar dit gou op vir die rede hoekom hy dit soek want “ek dink ons gaan binnekort op nog ’n date moet gaan”.

Brendan erken hy het nie gedink hy gaan so diep verlief raak nie. Ironies dat die meisie wat hy eerste in die seisoen gesoen het, ook die een is wat hy laaste in die seisoen soen.

Op my eish! met Brendan Peyper
Janae was uiteindelik die wenner van Brendan se hart. Foto: Verskaf

Volgende keer

Jy wil nie hierdie episode misloop nie. Dis die Op my eish!-reünie. En daar kan dalk net ’n paar interessante gesprekke plaasvind om die lug te suiwer . . .


Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies