Dis die laaste keer dat die oorblywende vyf meisies saam as ’n groep op ’n afspraak sal gaan. Vir die geleentheid het Brendan se Op my eish!–wingman, sanger Jo Black, ’n blink plan gemaak. Die meisies gaan almal deel wees van ’n mediakonferensie waar hulle aan verskeie joernaliste se indringende vrae onderworpe is.
Drome en dinge
Rachelle besef die konferensie beteken een ding en dit is dat sy vinnig op haar voete sal moet dink om nie soos ’n idioot te lyk nie.
Chaunte is baie opgewonde oor die vooruitsig.
“Ek voel ek prepare myself al vanaf die ouderdom van vier af omdat een van my grootste drome is om eendag Mej. Suid-Afrika te doen.”
Janae is vasbeslote om net uit haar hart te praat, al weet sy van die ander meisies het voorberei vir die konferensie.
Katja erken sy is ’n bietjie senuweeagtig, maar sy is terselfdertyd opgewonde om die joernaliste te ontmoet.
Ook Brendan sien uit daarna en sê hy hou daarvan as mense hom vrae vra.
Pylreguit vrae
Die konferensie vind plaas by Mike Fogg se Destiny Castle, ’n kasteel wat ’n klipgooi weg van Fouriesburg op die kruin van ’n berg gebou is.
Jaco Hough-Coetzee (Huisgenoot) is eerste uit die blokke en wil dadelik by Katja weet wat haar toekomsdrome in hierdie stadium is. Sy is verbaas oor wat Jaco alles van haar weet en erken sy wil graag by die filmbedryf betrokke raak.
“Is dit een van die hoofredes hoekom jy ingeskryf het?” vra hy pylreguit.
“Toe ek ingeskryf het, het ek glad nie gedink ek sal vandag hier sit nie,” sê Katja. “[Ek het] ingeskryf met die idee om uit te vind of ek van Brendan sou kon hou. Ek wou hom leer ken en natuurlik dink ’n mens ook aan die geleenthede wat kan kom ná dit.”
Brendan is baie beïndruk met hoe Katja die situasie hanteer.
Johrné van Huyssteen (Groot Ontbyt-korrespondent) mik weer na Chaunte se kant. Haar antwoorde rondom haar liefdadigheidsorganisasie laat Brendan voel sy is beslis media-gereed en dat sy daarvoor voorberei het.
Maar Janae deel nie sy sentiment nie.
“Chaunte se antwoorde was redelik lank. Dit het vir my gevoel sy oefen half om Miss South Africa te doen op die oomblik. Dis goed vir haar. Ek is bly sy het daai confidence.”
Ongemaklike vrae
Weereens is dit Jaco wat met die houtlepel roer toe hy wil weet wie het nóg nie vir Brendan gesoen nie? Ongemaklik.
En Bohemia Jumatt (Rapport) vat dit een stappie verder met Brendan: “Jy sê jy soek na die tradisionele vrou… Die vrou wat jou kinders kan grootmaak terwyl jy besig is daarbuite om te sing en geld te maak en geld huis toe te bring en die potte moet prut… Maar al hierdie meisies is baie ambisieus. Dink jy dit is realisties om dit [van hulle] te verwag?”
“Van die begin af het ek geweet ek soek iemand wat ambisie het. Dis nie goed vir my om ’n vrou te hê wat nie ambisie het nie. Ek het nog net slegte ervaringe van dit,” is sy reaksie. Hy erken hy hou van ’n tradisionele huis “want dis waarin ek grootgeword het… Almal het ’n rol in die huis.”
Hy beskryf homself as ’n werkverslaafde en sê dit sal vir hom lekker wees as hy ’n vrou het wat na sy kinders vir hom sal kyk.
Jaco waag dit weer – en wil weet hoe lang blaaskans Brendan sy vrou sal gee voordat hy verwag dat sy swanger moet word, sou hy een van die vyf meisies kies.
“Ek is nie iemand wat die lewe forseer nie. Ek dink alles kom en gebeur op die regte tyd. Daar is God se plan en daar is jou plan, en alles gebeur op Sy tyd.”
Wie van die meisies wil in die kombuis opeindig?
Bohemia vra ’n belangrike vraag na aanleiding van Jaco se swangerskap-vraag. Sy wil weet of die meisies nie gaan voel hulle moet toegee aan sy wense nie. Beide Janae en Jonelle knik instemmend, maar Chaunte is gou om te sê sy het ook, nes Brandon, in ’n tradisionele huis grootgeword.
Katja sê haar ambisie sal nie in die slag bly nie, selfs al moet sy van die huis af werk. “As die man regtig die moeite werd is, dan swem ek oseane vir hom.”
Marteli (Sarie.com) vra vir Janae of sy bereid sal wees om haar loopbaan prys te gee om kinders groot te maak. Maar Brendan is gou om te keer voordat Janae antwoord en sê hy verwag nie ’n vrou moet haar loopbaan prysgee nie. Sy ma werk immers vandag nog.
Later op kamera erken Janae dat Brendan se antwoord aan Marteli die dag vir haar gered het… Haar “ridder op ’n wit perd”.
Ashmund Martin (OFM) besluit dis tyd om die fokus na Rachelle te verskuif. Wat sien sy in Brendan? wil hy weet.
“My grootste roeping lê in my huwelik, so ek soek regtig iemand wat ambisieus is, wat iets najaag, wat iets wil bou waaraan ek kan saam bou . . . Iemand by wie ek veilig kan voel. En wat ek in hom [Brendan] sien? Ek geniet sy geselskap en ons kom baie goed oor die weg.”
Rachelle trap klei en die joernaliste ruik bloed
Jaco wil by haar weet of sy Brendan al “ervaar” het. Sy is duidelik onkant gevang en wil weet wat Jaco daarby bedoel. Sy lag die dubbelsinnige vraag af. Maar Jaco is soos ’n haai wat bloed in die water geruik het.
“Wie van julle het hom nog nie gesoen nie?” wil hy weet.
Brendan erken dat hy reeds drie van die vyf meisies wat daar sit, gesoen het. En hy besef dadelik hy het sy mond verbygepraat. Katja is effe van stryk af gebring want die meisies weet reeds sy en Janae het al meer as net ’n glimlag met Brendan gedeel. Nou wil sy beslis weet wie is die derde een.
Rachelle het aanvanklik gedink om vir Chaunte onder die bus te gooi eerder as om met die waarheid vorendag te kom. Maar toe die woord “onderwyseres” van die joernaliste se kant opklink, het sy maar haar hand in die lug opgesteek.
“Hoekom het julle dit geheim gehou?” wil Mizanne Hattingh (Maroela) weet.
“Brendan het gesê dit wat jy nie vir die wêreld gee nie, kan die wêreld nie seermaak nie. Die soen was vir my baie spesiaal en ek het nie gevoel dis my plek om dit met die wêreld te deel nie,” is hoe sy uit die geheimhouding probeer klim.
“Jy steek net goed weg as jy skuldig voel daaroor,” is Chaunte se reaksie.
‘Sex appeal’
Jonelle maak dit duidelik dat sy nooit die een is wat die eerste move in ’n verhouding sal maak nie en sê ook sy weet dat Brendan iemand sal soen wanneer hy reg is daarvoor. Weer is dit Jaco wat nie doekies omdraai nie.
Hy wil by Jonelle weet of sy Brandon se sex appeal raakgesien het.
“Brendan is aantreklik. Hy is mooi op foto’s ook, maar hy lyk beter in real life,” is haar reaksie en sê sy het dit raakgesien die eerste keer toe sy hom in lewende lywe gesien het.
Ideale vrou
Mizanne wil by Brendan weet hoe sy ideale vrou lyk. En dink hy dat hy haar onder die vyf meisies gevind het?
Brendan swyg soos die graf maar erken wel daar is potensiaal onder die meisies.
Sy wil ook by die meisies weet hoe dit vir hulle voel om in hierdie stadium een man te deel en te dink dat een van hulle dalk met hom gaan opeindig.
Katja reageer: “Dis nie ’n normale ervaring nie. dis nie soos op Tinder waar jy swipe nie. Buiten dit, weet jy nie hoeveel ander meisies hy soen nie.”
Ashmund wil by Jonelle weet of sy en die meisies nog vriende sal wees na afloop van die reeks.
“Dit hang af van wat verder gebeur,” is wat sy tot groot vermaak van die groep laat hoor.
Brendan oor die vyf meisies
Ashmund plaas vir Brendan in die kollig en vra dat hy net een ding moet sê oor waarvan hy hou in elkeen van die meisies wat daar sit.
Brendan voel eers effe vasgekeer deur die onverwagse vraag, maar besluit hy gaan uit die hart praat.
Jonelle: “Ek hou van hoe oopkop sy is, sy is spontaan en sy oor-dink nie goeters nie. Sy lewe in die oomblik.”
Janae: “Sy het vir my ’n baie mooi balans. Sy is ambisieus, sy is tradisioneel… Daar is klomp goedjies wat ek kan identifiseer daar.”
Chaunte: “Ek hou van Chaunte se geloof en waar sy is met haar paadjie en dat sy so hou van gee. Ek dink dis ’n baie mooi eienskap.”
Katja: “Oe, jissie. Ons het ’n baie unieke connection. Ons kan praat oor enigiets. Ons kan diep praat, maar ons kan fun ook hê. Sy is solid en sy het ’n goeie kop op haar skouers.”
Rachelle: “Rachelle het baie [om te bied]. Een ding waaroor ek en sy gechat het, was die verlede. Hoe sy grootgeword het en dinge wat sy wil herstel van haar familie. Toe sy dit vir my vertel, toe raak ek emosioneel… Dis dinge soos om Kersfees saam te spandeer.”
Is daar ’n tikkie bitterheid te bespeur?
“Ek dink definitief daar’s iets groots aan die gang tussen Rachelle en Brendan,” is Chaunte se gevoel oor Brendan se reaksie op Ashmund se vraag.
“Hy kon nie eers iets gesê het oor Katja nie. Janae en Jonelle se antwoorde was super-oppervlakkig. Myne is mos net altyd gepunt op geloof en Rachelle s’n was sommer ‘oe, Rachellie . . . Baie.”
Hoe ervaar Brendan die reeks?
Marteli wil by Brendan uitvind wat hy van homself geleer het tydens dié proses en of dit enigsins ’n impak op hom gehad het. Ook of sy idee van die vrou waarna hy soek verander het.
Brendan sê hy het oopkop die reeks binnegestap sonder enige verwagtinge sodat hy ook geweet het daar wag nie teleurstellings nie. Hy is die afgelope twee jaar enkel en het hard aan homself gewerk. Maar die pad is eensaam.
“As jy nie iemand nodig het om daar te wees vir jou nie, raak dit ’n dangerous game. Die ouderdom waar ek nou is? Ek dink ek is reg vir dit, ja.”
Is die aap uit die mou?
Met ’n skewe glimlag antwoord Brendan Mizanne se vraag of hy al weet wie hy gaan kies: “Ja, ek weet wie ek gaan kies.”
Dit lei tot ’n ongemaklike stilte en selfs sy wingman sê hy wis van niks.
Bohemia wil weet op watter grondslag hy sy besluit gebaseer het.
“Dit gaan oor toekomsplanne, wat ook al daai persoon in hul kop het, die balans. En waardes. En iemand wat rêrig mooi kyk na haarself. Iemand wat nie my nodig het om na hulself te kyk nie.”
Jo Black sê droogweg Brendan het bloot net al vyf meisies opgesom.
“Daar kan nog baie water in die see loop,” is al wat Brendan verklap.
Nabetragting
Katja glo Rachelle speel dinge slim. Chaunte eggo haar opsomming en dat haar strategie daarop gemik was sodat niemand haar as ’n bedreiging kon sien nie.
Brendan verduidelik sy skokaankondiging aan die meisies en sê as hy teen hierdie tyd nog nie begin dink aan wie hy wil kies nie, beteken dit dat hy nie ’n besluit kan neem of weet wat hy wil hê nie.
Gaan ’n sterk emosionele konneksie genoeg wees?
Chaunte word genooi vir ’n alleengesprek met Brendan terwyl Janae aan die res vertel dat die twee kamermaats nou die strydbyl begrawe het nadat die naels so ’n paar keer uitgekom het. Buite vertel Brendan vir Chaunte dinge raak moeiliker en verwarrend. “Maar ’n mens sal seker jou antwoorde kry as jy aanhou bid,” is sy hoop.
“My aanmoediging vir jou is – as jy nou ’n meisie moet kies – moenie iemand kies wat ’n fantasy is nie. Moenie iemand kies wat ’n maybe of ’n one day is nie. Kies iemand vir wie hulle nou is . . . iemand wat jou nader tot Jesus wil bring en nie verder van Hom af nie,” is haar raad aan Brendan.
Sy glo ook sy en Brendan het ’n baie sterk emosionele konneksie. Dis net daar waar Brendan hokaai roep en sê hy moet eerlik wees met homself. Met sy volgende opmerking, sink Brendan daardie konneksie.
“Op hierdie stadium voel ek nie dat ons ’n sterk genoeg konneksie het om verder vorentoe te gaan nie.
En Chaunte? Sy sukkel om te verstaan hoe hy tydens hul vorige alleengesprek “wat letterlik soos drie dae terug was” kon sê hulle kan werk in die toekoms.
“En ek soek anyway nie so ‘’n man wat so vinnig van feelings change nie.”
Brendan verdedig sy besluit deur te sê al wat sy met hom deel, is haar Christenskap.
“Dit is amazing, moenie verkeerd verstaan nie. Maar ek sukkel om rêrig vir Chaunte te leer ken. ’n Mens verloor partykeer die pad. Dit is die lewe. Ons is mense met foute en sondes. Ek ken nie daai deel van haar nie.”
Jammer, Brendan
“Ek wil hê Brendan moet weet dat hy rêrig uit gaan mis op ’n baie goeie verhouding wat kon wees. En ek hoop rêrig God gaan werk in sy hart dat hy meer honger en meer dors sal wees vir dinge van die Here en nie dinge van die aarde nie,” is Chaunte se afskeidsboodskap aan hom.
Volgende keer
Daar is liefde in die lug (letterlik) en long-overdue kuiers deurmekaar geroer met potensiële nuwe konneksies. Daar is koeksisters wat gedeel word en die vrees wanneer een meisie laaste op sy alleenafspraakskedule ingepas word.
Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.