Menu terloops
In Recaps & Resensies [7 Mar 2024]

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Wie is die opstoker en wie verswyg die waarheid? 11 goed wat jy moet weet


Wie is die opstoker en hoekom is daar iemand wat bitter is oor inligting wat in kykNET se ‘Op my eish!’ weerhou word?

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Wie is die opstoker en wie verswyg die waarheid? 11 goed wat jy moet weet

Gaan Brendan Peyper in die negende episode van die maatsoekreeks Op my eish! op kykNET dalk ’n skokkende besluit neem?

1

Skerp messe

Drie van die vroue gaan saam met Brendan om te leer hoe om met vleis te werk en biltong te maak van die bok wat tydens die vorige uitstappie platgetrek is. Chaunte word gekies en sy besluit sy gaan net terugstaan, mooi lyk en Brendan se spiere op dié uitstappie bewonder. Christine en Jonelle voltooi die drietal. 

Tot groot vermaak van die meisies wil Christine weet of dit ’n goeie idee is om haar met ’n mes te vertrou nadat Brendan haar bestie huis toe gestuur het.

2

Biltong en speletjies

Op my eish! met Brendan Peyper
Beide Jonelle en Chaunte het in dié episode meer van Brendan se aandag geprikkel. Foto: Verskaf

Johan Pieters van Uitzicht-wildsplaas is byderhand om die fynere kunsies van biltongsny te verduidelik. Terwyl hy daarmee besig is, besluit Brendan dat Jonelle vir hom soos ’n lekker stukkie biltong lyk, en sy is mooi uitgevat. Chaunte lyk oulik en Christine is baie mooi aangetrek. 

Jonelle en Brendan skeer deurentyd die gek met mekaar en dit lyk half asof daai “stukkie biltong” beslis al meer sy aandag trek.

Chaunte gril so bietjie vir die vleis en is duidelik nie behendig met die groot mes nie. Maar vrees nie. Brendan is daar om haar met “haar boudjie” te help . . . en hy erken sy begin hom baie nuuskierig maak.

Christine is in haar element danksy al die ervaring wat sy saam met haar pa tydens jagtogte opgedoen het. Brendan is baie beïndruk oor hoe netjies sy te werk gaan en haar biltongstukke pak. 

“Ek laaik dit nogal,” laat hoor hy.

3

Wie’s die kwaadstoker?

Brendan merk op dat Christine en Chaunte langs mekaar sit terwyl die span biltongmakers onder die koeltebome asem skep. Hy wil weet of hulle sake tussen hulle uitgewerk het want wie kan die vurige woordewisseling in die sesde episode vergeet?

Dis net daar waar Chaunte ’n bom laat val.

“Daar was eintlik iemand wat al die meisies in die huis opgesteek het teen mekaar,” laat weet sy. Maar dis toe iemand wat reeds huis toe gestuur is: Sonel. Christine beweer sy het lelike goed van die meisies vir mekaar vertel. 

“Jis, ek het al vergeet van Sonel,” laat Brendan hoor. Vergifnis is die woord van die dag toe Chaunte en Christine mekaar om verskoning vra.

4

Gaan iemand tasse pak na die piekniek?

Brendan vra vir Christine om eenkant te gaan gesels. Die twee wat agterbly, waarsku Brendan om seker te maak sy vat nie ’n mes saam nie . . .

Hy help haar ewe galant tot op sy bakkie en wil weet hoe sy voel oor hulle twee. Christine sê dis baie maklik om met hom oor die weg te kom. Op sy beurt erken hy dis baie lekker om met haar te praat en dat sy amper vir hom voel soos sy wingwoman

Die skrif is aan die muur en hy sê dat sy vandag die een is wat gegroet gaan word. Christine is oënskynlik nie baie teleurgesteld nie en sê sy het elke oomblik geniet. Hy, op sy beurt, hoop vir ’n goeie vriendskap wat hieruit kan voortspruit.

Christine is vandeesweek huis toe gestuur. Foto: Verskaf
5

Christine kies . . .

Noudat Brendan haar amptelik tot sy wingwoman verklaar het, is daar natuurlik een vraag wat hy wil vra: Watter meisie dink Christine pas by hom? Sy sê: “Definitief Janae of Rachelle”.

Is daar druk op nog iemand om nou te waai?

Alhoewel die meisies oor die algemeen nie baie verbaas is oor Christine se vertrek nie, is dit Chaunte wat haar woorde inspan om ’n groot boodskap by die res te laat beland.

“Julle weet ons almal wat hier is, wil potensieel Brendan se hart wen. So, dit gaan nie help iemand bly hiersô wat nie hier wil wees nie.” 

Is dit die dringende boodskap wat sy tydens die piekniek met Brendan wou deel, maar nie die kans gehad het nie?

6

Vyf bly oor, drie kuier in Brendan se hart

Tydens ’n gesprek met sy wingman, Jo Black, erken Brendan dat daar drie van die vyf meisies is vir wie hy gevoelens het. Hy erken Rachelle het tydens hul laaste gesprek alles gesê wat hy self in sy toekoms sien.

“Ek kan voel dat ek chemistry het met drie [van die] meisies. Dit tel vir my.” Hy is nog nie seker oor die konneksie met die ander twee meisies nie. 

“Of is dit omdat jy hulle nog nie gesoen het nie?” wil sy wingman weet. 

Brendan sê hy dink almal weet dat hy vir Katja en Janae gesoen het, maar dat Rachelle nog vir niemand van hul soen vertel het nie.

Jo Black herinner hom daaraan dat hy aan die reeks deelneem omdat hy na iemand soek wat by hóm pas. Al wat Brendan hierop kan sê, is ja. 

“Jy’s partykeer nêrens nie,” lag sy wingman hom uit.

7

Trekkers en trane

Op my eish! met Brendan Peyper
Janae het fyn geluister tydens haar trekkerles en laat waai! Foto: Verskaf

Rachelle, Janae en Katja is vroegoggend reg vir ’n uitdaging met ’n baie spesiale prys op die spel. Brendan gaan hulle leer trekker bestuur en daarna moet hulle agter die stuur ’n hindernisbaan die stryd aansê. 

Die wenner gaan op ’n fancy date met Brendan by die Bubble Valley-gastehuis buite Clarens waar masserings, vyfgangmaaltye en ’n jacuzzi deel van die pret uitmaak.

Die hindernisbaan is vol verrassings met bakens, lemoene en ketties. Katja trek die kortste lootjie en moet eerste die baan takel. Kettieskiet is nie haar sterkpunt nie, maar spoed wel. 

Speed queen Janae skiet amper haarself met die kettie toe sy dit agterstevoorom vashou.

Rachelle vestig haar hoop op haar kettievaardighede want haar toppie kelder die lemoenhindernis. Sy tref wel een ballon.

Dis toe Janae wat Katja met enkele sekondes uitskakel en daardie afspraak wen. Vir Rachelle was die teleurstelling te groot en die trane loop.

8

Slaaptyd/kweltyd

Janae kry honeymoon vibes by die gastehuis waar hul vriendelik deur Angie en haar span ontvang word. Roosblare op die bed, en sy wonder of hulle saam in die kamer gaan slaap. 

“Dis too soon,” keer sy.

Maar gelukkig is daar ’n tweede borrelkamer. Hier word hulle lekker gepamperlang – iets wat Janae nodig het nadat sy voel sy’t uitmekaar geskud op die trekker.

9

Gaan die waarheid uitkom?

Die meisies tuis voel ongelukkig en daar word woorde soos “voorgetrek” gebruik. 

Chaunte, Janae se kamermaat, wonder kliphard of Janae oop kaarte met Brendan gaan speel oor haar toekomsplanne. Sy voel dis verkeerd dat Janae nie vir Brendan vertel het dat sy volgende jaar emigreer nie. Jo Black bevestig dat Brendan dit nie weet nie.

Chaunte het haar kamermaat die vorige aand gekonfronteer oor die weerhouding van hierdie belangrike brokkie inligting net sodat sy kan wen. Sy voel dis onregverdig teenoor die res van die meisies.

Gaan Janae oop kaarte met Brendan speel? Foto: Verskaf
10

Wil Brendan sy vlerke sprei?

Tydens hul tydjie weg van die res, raak Brendan ’n interessante saak aan. Hy dink daaroor om dalk oorsee te gaan om te kyk of hy die musiekmark daar kan betree. Maar, sê hy, hy sal nooit emigreer nie.

Hy wil by Janae weet of sy ooit oorsee wil gaan. 

“Ja, jissie, ’n mens weet nie waarheen jou journey jou gaan vat nie,” systap sy die vraag. Maar sy noem dat wanneer daar ’n groot geleentheid kom vir haar en haar man, is dit ’n moontlikheid.

11

Nou wat nou?

Brendan vertel vir Janae dat sy ’n goeie man verdien. Sy wil op haar beurt weet of hy ’n goeie man is. Hy sê hy hoop so, want hy het net baie goeie intensies met haar.

“Ek gaan oorsee vir werk en jy gaan hier bly,” sê sy en maak dit onmiddellik af as ’n grap.

Volgende keer

Gaan Janae die vrugte pluk van haar weerhouding van inligting oor haar oorsese planne? Chaunte maak sake duidelik – sy is nie hier om maatjies te maak nie. Die meisies word op ’n spa-dag getrakteer en dalk gaan dit die gemoedere ’n bietjie afkoel.


Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies