Wingman Jo Black noem dit die show binne-in die show en in die tiende episode van Op my eish! vind die meisies uit hoeveel hulle van losloper-musikant Brendan Peyper weet.
Wie gaan die wenner van “alles wat niks is” wees nie?
Jonelle besluit vroeg-vroeg sy gaan net raai wat sy nie weet nie. Rachelle glo sy weet baie van Brendan omdat sy hom goed dophou. Dít terwyl Katja paniekerig erken sy en Brendan praat altyd net oor haar . . . En sy het nog nie met Brendan oor homself gesels nie.
Nie een van die vyf kon sy vorige hond, Blikkies, se naam raai nie. Hy’s nogals ontsteld daaroor want Blikkies het 15 000 Instagram-volgelinge gehad.
Janae beleef ’n minder helder oomblik toe sy erken sy het nie geweet daar is verskillende beesrasse nie.
“Wat bedoel jy met ras?,” wil sy by Jo Black weet. Sy erken sy’t net geweet daar is verskillende rasse mense . . .
Chaunte beantwoord die meeste van die vrae met twee antwoorde en wil hê Jo Black moet die regte een kies. Brendan beskryf haar as ’n klein kansvattertjie.
Ná ’n paar taai vrae oor Brendan – van sy rugbyposisie tot skoengrootte – is dit Rachelle wat as wenner van niks uit die stryd tree. Al wat vir haar saak maak, is of Brendan daarmee beïndruk is.
Ja, hy is wel. “Sy stel belang en sy’s invested,” is sy reaksie.
Brendan in die spervuur
Jo Black gooi behoorlik ’n spanner in die wiel toe hy vir Brendan verras met ’n onverwagte kinkel: Hoe goed het hy na die meisies geluister sedert die reeks begin het? Dis sy beurt om vrae te beantwoord.
Brendan vaar nie te sleg met sy kennis van Rachelle, Jonelle en Katja nie. Maar oepsie! Hy trap skeef met sy antwoord oor wanneer Janae beplan om met ’n gesin te begin. En dit net nadat sy hom die vorige aand daarvan vertel het . . .
Hy weet ook nie wat Chaunte se liefdadigheidsorganisasie is nie (Mia: My incredible angels). Sy besluit net daar en dan hy het nie haar video vooraf gekyk nie, want sy is ’n honde-mens en nie ’n kat-mens soos wat hy geraai het nie.
’n Spa-dag en ’n uitnodiging
Die span sit af na die Body Bliss Spa by die Kiara Lodge-oord vir bederftyd danksy Brendan.
“Jacuzzi saam met die girls. Dit voel so bietjie soos ’n Hugh Hefner-soort van vibe,” sê hy.
Rachelle is spyt sy was te besig om haar onesie uit te trek om Brendan se mooi bolyf te kon bewonder voordat almal in die jacuzzi gemaklik raak. Katja sou verkies om alleen daar te wees met Brendan, en Jonelle voel effe benoud om so naby aan so baie mense te wees. Een van die meisies speel voetjie-voetjie met Brendan en hy sukkel om uit te werk wie dit kan wees. Janae is die een wat haar voete teen sy bene druk.
Brendan nooi vir Rachelle om alleen-tyd met hom deur te bring omdat sy die beste gevaar het met die vasvra en soveel van hom weet.
“Ek het lanklaas kans gehad om met Rachellie alleen te wees. En haar ook lanklaas gesoentjies,” verklap ’n ingenome Brendan. Hy stel Rachelle ook gerus dat sy nie die hele tyd voel sy moet teen die ander kompeteer nie.
“Ek sien jou,” verseker hy haar en erken dat hy haar van die begin af daar wou hê. “Dis nie lekker as jy nie daar is nie.”
Dit laat haar goed voel. Maar sy het ’n paar vrae vir Brendan. Soos hoekom dit vir haar voel of hy bang is vir haar. Tydens die touwysmaak op die trekker het hy nie eers probeer om haar nader te trek nie, al het sy op sy skoot gesit.
“Ek moes jou been gryp om onder my boud in te druk want ek weet nie waar om te sit nie,” wil sy weet. “Partykeer moet jy my net ’n bietjie vasvat.”
Emosies loop hoog nadat Rachelle hart oopmaak en vertel hoe lekker dit is om tyd met Brendan te kan spandeer. Sy begin huil. Brendan erken sy emosies lê ook vlak. “Ons kan baie ooreenstem met mekaar se lewens.”
Dis nie al waar daar ooreenstemming is nie. Kort voor lank word daar gesoen en gesoen . . .
Game on of nie?
Jonelle sluit by Brendan op die bank aan nadat Rachelle na die res van die span teruggekeer het.
“Is jy reg vir ’n verhouding,” is een van die eerste vrae wat hy haar vra. Sy erken haar vorige verhoudings het haar “diep gevang”, maar dat sy glo sy is nou reg om aan te beweeg al is sy baie bang vir seerkry.
“Teen die tyd het ek nou al lank gewag vir iets van Jonelle. Net vir ’n kyk of ’n oogknip, net iets wat vir my sê ‘okay, game on!’ hier gaan iets gebeur. Maar nog nie,” sê Brendan.
Een vir die span
Katja vertel vir Brendan tydens hul kuier op die bank dat sy geskok was toe sy nie die trekker-kompetisie gewen het nie.
“Ek het rêrig gedink ek het goed gedoen. Ek het (soos in) embarrassing gelyk oor hoe hard ek probeer het” sê sy.
“Ek en Katja is baie gemaklik met mekaar. Sy kan so naby as moontlik aan my sit en ek gaan nie omgee nie. Daar is nog baie wat my intrek oor haar, ek wil nog soveel weet van haar. Ja, sy’s rêrig net solid,” erken Brendan.
Katja besef die tyd raak min en dit lyk nie asof Brendan haar gaan soen nie.
“I’m just going to have to take one for the team,” en daarmee vra sy vir Brendan of sy hom kan soen. Hy gee glad nie om nie. Hy dink dis baie oulik dat sy hom gevra het of sy kan.
“Sy is ’n beautiful vrou. Sy dra haarself net so goed,” kom dit van Brendan.
Gaan die regte kat uit die honde-mens se sak gelaat word?
Tydens hul rusbankkuier vertel Chaunte vir Brendan sy dink wat hulle het, kan in die toekoms vir hulle werk en dat daar ’n konneksie tussen hulle is. Hy erken hy voel dit ook.
Maar tydens die kamerasessie alleen noem hy dat daar een rede is hoekom hy haar dalk nie sal kies nie – sy is te perfek.
“Ek het van die begin af gesê ek is nie hier om maatjies te maak nie. As ek iets sien wat nie reg is nie, gaan ek dit call out. Net soos met Christine,” sê sy. Chaunte voel baie sterk daaroor dat Janae vir Brendan oor haar toekoms en emigrasieplanne moet inlig. “As sy nie gaan nie, dan gaan ek dit noem vir hom.”
Sy spring diplomaties weg deur vir Brendan te noem dat daar meisies is wat goed van hom weerhou, inligting wat vir hom belangrik is om te weet.
“Daar is ’n meisie wat gesê het dat sy klaar betaal het vir haar yacht-kursusse. Sy begin al November met haar yacht-kursussse en sy gaan volgende jaar op die yachts werk,” begin sy die sakie aanroer. Dit is onseker of Janae se ore teen hierdie tyd al bietjie begin brand . . .
Chaunte sê vir Brendan sy dink nie hy is in hierdie stadium reg vir ’n langafstandverhouding nie.
“Sy [Janae] het gedink sy’s tien treë voor my en al die ander meisies in die huis. Maar my timing is on point,” verklaar Chaunte later.
Hoe rooier, hoe meer gekompliseerd
Janae voel dinge is baie gemaklik tussen haar en Brendan en sy kruip diep onder sy arm in. Sy erken dat sy nie rooi lipstiffie sou aangesit het as sy geweet het daar gaan alleentyd met Brendan wees nie.
“Ek kan nie verstaan hoekom sit sy daai bloedrooi pastel lipstick op haar lippe nie. Ek bedoel, sy weet mos ons gaan ten minste ’n piksoentjie inwerk,” bekla Brendan sy lot oor die lipstiffie.
Vervaldatum
Chaunte is van mening dat Jonelle, Rachelle, Katja en sy sélf nie nodig het om oor die konneksie tussen Brendan en Janae te tob nie.
“In my gedagte dink ek eerlikwaar dis meer ’n fisieke konneksie as wat dit enigsins emosioneel kan wees. Jou mooi gesiggie het ’n vervaldatum, jou hart het nie . . .” is haar opinie.
“Ek gaan nie tyd mors vandag nie”
Brendan is op die oorlogspad. Hy wil dadelik weet wie die meisie is wat besig is om voor te berei vir ’n seiljaglewe. Hy roer die onderwerp van die seiljagkwessie aan met Janae en sê een van die meisies het glo planne om dit volgende jaar te doen. Janae besef onmiddellik hy verwys na haar en sy weet ook wie dit vir hom gesê het.
“Dit klink of iemand jou van mind wil laat verander,” sê-vra sy vir Brendan. Hy vra haar toe reguit of sy beplan om op seiljagte te gaan werk.
“Dit is my oorspronklike plan gewees. In die begin van die jaar het ek gedink dis iets wat ek wil doen,” is haar antwoord. Sy noem aan Brendan dit voel asof die ander ’n wig tussen hulle twee wil dryf.
Brendan weet een ding, en dit is dat hy nie in ’n verhouding kan wees met iemand wat “weg” is nie. Hy weet ook nie hoe hy daaroor voel nie. “Ek wil graag hê sy moet ’n bietjie verduidelik.”
Sy vertel vir Brendan dat sy weet dis Chaunte wat die nuus aangedra het. En sy regverdig haar stilswye omdat sy gevoel het hul verhouding is nog in ’n vroeë stadium.
“Dit voel nie vir my nodig om dit nou [al] vir jou te sê nie,” is haar reaksie.
Voor die kamera erken Janae sy voel seergemaak en baie teleurgesteld in Chaunte omdat sy die enigste een is wat van haar planne geweet het.
Tydens sy beurt voor die kamera noem Brendan dat Chaunte nie name genoem het nie. En dat hy bloot net wou weet wie die persoon was. Hy het nie verwag dat dit Janae sou wees nie.
Wat as dinge wel tussen hulle uitwerk? Sal sy nog steeds op seiljagte gaan werk? Nee, sy dink nie so nie. “Ek kan nog steeds my geld terugkry vir die yachts,” sê sy.
Gaan die bootjie vaar of gaan dit sink?
Brendan is in tweespalt oor Janae.
“Steek Janae nog goed vir my weg? Of is Chaunte net besig om te klik? En probeer ons sterk konneksie sink?” is die kwelvrae wat hom teister.
Maar dis kommer vir later, want eers is daar rooi lippe wat gesoen moet word . . .
Konfrontasie
Met vars lipstiffie aan by haar terugkeer na die groep, trek Janae dadelik weg met: “So, Chaunte, Brendan het vir my gesê jy sê vir hom dat ek nie regtig ernstig is oor die hele journey nie.”
“Ek het nie jou naam genoem nie. Hy het my gevra wat ek dink wie van die meisies hier is nie ernstig oor die proses nie,” kap Chaunte terug. “En ek het vir hom gesê daar is meisies wat nie eerlik is oor hul toekomsplanne nie.”
Hoe later hoe kwater. Veral toe Chaunte noem dat die meisies almal voel Janae word voorgetrek. Janae sê sy voel soos die slagoffer in die saak omdat die meisies haar sleg laat voel oor haar konneksie met Brendan.
Een ding is seker, die twee kamermaats gaan vir die kort pad vorentoe in alle waarskynlikheid alles behalwe maats wees . . .
Volgende keer
In ’n ou-wêreldse kasteel is dit tyd vir die oorblywende vyf meisies om met die media kennis te maak.
Brendan word prontuit gevra oor wie hy al gesoen het, en wie nog nie. Katja is vinnig op daai vraag: “Drie girls? Wie het nog nie gepraat nie?”
Gaan Rachelle oplaas met die sak patats na vore kom?
Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.