Menu terloops
In Recaps & Resensies [29 Feb 2024]

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Tjommies, ’n tranedal en 14 goed wat jy moet weet


Wie sou kon raai watter drama als in die agtste episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks, ‘Op my eish!’ met Brendan Peyper, sou uitspeel?

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: Tjommies, ’n tranedal en 14 goed wat jy moet weet

Die sanger Brendan Peyper het reeds in verlede week se episode van Op my Eish! dit duidelik gemaak dat hy nie regtig gek oor drama is nie . . . maar dit blyk hy wens vir bykans die onmoontlike.

1

Pretoria toe

Vir Brendan se optrede in Pretoria word Thelmané, Katja en Janae saamgenooi en elkeen van die drie kry alleentyd saam met hom in sy bakkie. Dis daar waar hy die geleentheid aangryp om meer oor elkeen se geheime talente uit te vis. 

Thelmané is verbaas toe Brendan haar gekromde vinger kan naboots. Katja se tarentaal-roep het hom behoorlik laat skater en Janae het hom sprakeloos gelaat toe sy erken sy kan haar voet agter haar kop sit. Brendan sê hy sou dit graag wou sien. Het Janae dalk dié keer gebloos?

2

Tyd om af te skaal

Brendan vertel vir Thelmané hy wil binne die volgende vier jaar begin afskaal en net vier tot vyf vertonings maandeliks doen. En dat hy nie op musiek wil staatmaak om aan die lewe te bly nie. 

Hy is op soek na ’n stuk grond, maar die “Here het dit nog nie oor my pad gestuur nie want die tyd is nog nie reg nie”.

3

Wanneer om te soen en wanneer nie?

Op my Eish met Brendan Peyper
Brendan was effe ongemaklik toe Thelmané hom uitvra oor al die soene wat hy uitdeel… Foto: Verskaf

Thelmané wil ook meer weet oor die twee meisies (maar daar’s natuurlik meer . . .) wat hy al gesoen het. ’n Ongemaklike Brendan verduidelik en sê dit was meer oor die regte tyd en die regte plek. “Die oomblik was reg en in die oomblik was die konneksie daar,” sê hy.

Sy voel ’n mens moet die kat eers goed uit die boom kyk voordat daar gesoen word en dit neem tyd. “Ek is nie ’n ‘maklike’ meisie nie.”

4

Gaan landsgrense Katja en Brendan se konneksie kelder?

Brendan wil weet indien dinge tussen hulle sou uitwerk, hoe dan gemaak met haar in Namibië en hy in Suid-Afrika? Katja sien dit nie as ’n probleem nie. Sy het reeds na ander geleenthede begin kyk en is gereed om die skuif te maak as dinge tussen hulle sou uitwerk. 

Ook, as dit nie gebeur nie, gaan sy haar tasse pak en reis. Brendan wil nie dat hulle rit saam tot ’n einde kom nie en rek dit so lank as moontlik uit. Katja is op dieselfde bladsy.

5

Die doodskoot-vraag. Of nie?

Katja wil by Brendan weet waar staan hulle twee nou. Oepsie! Sy reaksie? “Ons staan nie nou nie, ons sit in my bakkie.” Al wat Katja wil weet, is of hy van haar “hou of hou-hou”. 

Hy sê sy is wel nog op die regte pad en dat hy baie van haar hou. Dis iets wat hy nog nie vir iemand anders gesê het tydens die reeks nie. 

“Elke keer as sy by ’n deur inloop . . . my mond hang oop.”

Op my eish! met Brendan Peyper
Dit blyk dié twee het die skoot hoog deur vir mekaar. Foto: Verskaf
6

Trou-besigheid

Janae vertel sy wil haar eie klerebesigheid begin. Op sy beurt vertel Brendan haar dat sy ma ook klere maak. Sy maak vir die afgelope 30 jaar reeds trourokke vir ’n lewe. Dit laat Janae opgewonde voel. “Ek en jou ma gaan besties wees,” is haar onmiddellike reaksie. 

Sy mik om eendag van die huis af te kan werk, maar huisvrou gaan sy beslis nie wees nie.

7

“Ek laaik jou so bietjie”

Brendan sê hy kan nie genoeg kry van Janae nie… En die rooi lipstiffie getuig daarvan! Foto: Verskaf

“Op hierdie stadium kan ek net nie genoeg van Janae kry nie. Sy het net vir my iets wat uitstaan,” bieg Brendan. 

Sy erken sy raak angstig elke keer as sy op ’n afspraak met Brendan gaan want sy’s bang sy gaan huis toe gestuur word. Sy vertel vir Brendan sy hou so ’n bietjie van hom. Op sy beurt vertel hy (vir die tweede keer op dié Pretoria-rit) dat hy van iemand hou, eintlik baie van haar hou. “As ek jou na twee shows nooi, dan moet jy weet . . .”

Natuurlik eindig die rit met ’n soentjie of twee, al het Janae rooi lipstiffie aan wat nie maklik afgevee kan word nie.

8

Die skote klap

Ná die genotvolle aand by Brendan se optrede, is dit vroegoggend uit die vere vir die ander meisies. Terug by Uitzicht Wildplaas is dit Rachelle, Jonelle en Christine wat op ’n jaguitstappie saam met Brendan gaan. 

Op my eish! met Brendan Peyper
Tyd vir jag! Foto: Verskaf

Wynand Pieters is die man wat hulle lei om iets vir die pot te skiet. Christine sê dis een van haar gunsteling tydverdrywe omdat sy altyd saam met haar pa gaan jag het, en vandag nog steeds dit doen. Met ’n bietjie aanmoediging en tot almal se groot verbasing skiet elke meisie die teiken raak voordat daar veld toe gegaan word.

9

“Pappa wil skiet”

Tydens die jagtog moet die groep die voertuig verlaat en te voet voortgaan. Brendan het sy bedenkinge oor die stappie met die drie meisies, want stilte is ’n belangrike deel van die jag en hulle sal moet fyntrap waar hulle stap want “Pappa wil skiet”. 

Hy kla dat hulle te veel praat. En toe die blouwildebeeste koers kies, moes die jagters geduldig in die veld voortgaan op soek na die volgende moontlike teiken.

10

Onsekerheid voer die botoon 

Katja erken sy is nie in ’n goeie plek nie omdat sy nie weet waar sy met Brendan staan nie, maar sy sien uit daarna om met sy wingman, Jo Black, te gesels. Die spook van Christine, wat ander meisies se vertrek uit die reeks “voorspel” het, loop weer. Sy het gesê dat Katja beslis nie onder die top-3 meisies is nie.

11

Ongemaklike vraag

Jo Black gesels te lekker met die meisies terwyl hulle aan hul smoothies teug. Maar toe vat hy dit ’n stap verder en hy wil weet wie al vir Brandon gesoen het. 

Thelmané sê sy het vir Brendan vertel dat sy hom nie nou gaan soen nie. Vir haar is die vestiging van ’n emosionele en geestelike verband belangriker as om iemand te soen.

Chaunte het ook nog nie tot daardie stap met Brendan gevorder nie. Maar sy sien dit dat hy haar respekteer vir wie sy is en sal wag tot hy haar beter leer ken. Janae vertel dat hulle soen iets was wat “in the moment” gebeur het. Die tyd was reg. 

Chaunte lag en dink Janae en Katja voel eerder skaam oor die soenery.

12

Sukses in die jagveld, maar . . .

Brendan trek ’n wit blesbok met ’n kolskoot plat. Maar wat daarna volg, is iets wat van die meisies nie verwag het nie: die ritueel wanneer jy ’n bok skiet. Die vars bloed word aan hul gesigte gesmeer, maar Rachelle hardloop weg. Eindelik word sy wel gesmeer. Ook Brendan loop deur.

Op my eish! met Brendan Peyper
Die einde van ’n suksesvolle jag. Fotol Verskaf
13

Groot besluite word geneem

Die moeë jagters word op ’n piekniek in die veld trakteer. Jonelle word eerste eenkant toe genooi. Ten spyte van haar vrees dat dit haar beurt is om huis toe te gaan, besluit Brendan hulle gaan nog ’n paar keer eenkant gesels.

Christine is volgende en sy wil weet hoekom sy nog daar is. Brendan sê dis omdat sy vir sy grappies lag. Rachelle kry ook haar kans met Brendan. Hy vertel haar hy moet iemand huis toe stuur maar stel haar gerus dat dit nie een van die “drie jagters” sal wees nie.

14

Van tjommie tot tranedal

Thelmané kry weer alleen-tyd met Brendan. Hy erken dat hy vir haar voel soos ’n tjommie. Sy sê sy’s bly om dit te hoor want sy voel asof dit nooit tussen hulle gaan werk nie. 

Sy konfronteer Brendan deur vir hom te sê sy dink ook nie hy is deel van die reeks vir die regte redes nie. Sy dink nie hy soek ’n vrou nie omdat die meeste meisies wat agterbly nog jonk “en makliker” is.

“Hy is ’n player. Brendan is ’n player. En hy moet dan eerder ’n ‘makliker’ meisie vat. Ek is nie daai meisie nie.” 

Die nuus van haar vertrek, het Christine gebreek. Die twee het intussen ’n hegte band gevorm en beide was van mening dat, sou nie een van hulle twee dit tot die einde maak nie, Brendan om die verkeerde redes aan die program deelneem.

Jip, dis toe Thelmané wat Brendan besluit het om huis toe te stuur. Foto: Verskaf

Volgende keer

Christine wonder of Brendan haar met ’n mes in die hand sal vertrou nadat hy haar bestie huiswaarts laat keer het. En tydens ’n heerlike kuier onder die koeltebome word daar vertel dat een van die meisies die res teen mekaar opgestook het. Een van die meisies is bitter oor inligting wat Brendan van hulle weerhou het…


Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies