Menu terloops
In Recaps & Resensies [15 Feb 2024]

‘Op my eish’ met Brendan Peyper: Die naels kom uit en 10 goed wat jy moet weet


In die sesde episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks ‘Op my eish!’ met Brendan Peyper veroorsaak Christine se voorspellings konflik.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou

‘Op my eish’ met Brendan Peyper: Die naels kom uit en 10 goed wat jy moet weet

En Brendan se wingman, die sanger Jo Black, moet intree om die vrede tussen die meisies te probeer herstel in die nuwe episode van Op my eish! op kykNET.

1

Wie het wat gehoor? Die aap is uit die mou

Jo Black val sommer met die deur in die huis. Hy is op soek na die “profeet” in die huis wat voorspel het dat Natasha huis toe gestuur sou word. Want “iemand het vir iemand gesê iemand het gesê dat dit gaan gebeur…” 

Chaunte huiwer nie om vir Christine, na wie sy as “Brendan se fortune cookie” verwys,  in die groep te konfronteer nie. Sy het glo vir “al die meisies” gesê Chaunte is volgende op die lysie om haar tasse te pak. 

Christine verdedig haar stellings deur te beweer Chaunte en Natasha het albei gevoel daar is nie ’n konneksie met Brendan nie. Daarom het sy gesê dat hy hulle dalk om daardie rede huis toe sal stuur.

Op my eish! met Brendan Peyper
Christine hou vol sy het niks verkeerd gedoen nie. Foto: Skermgreep
2

Woorde kan seermaak: Chaunte vs Christine

“Ons leef in ’n tyd waar ons kan sê wat ons wil, maar ons leef ook in ’n tyd waar ons kan kies om ons woorde te gebruik om nie ander te verkleineer voor ander nie,” is die eerste sarsie wat deur Chaunte afgevuur word.

“Op dié oomblik verneder Chaunte my voor almal,” het Christine agter die skerms gesê. En sy voel ook sy’t geleer die makste hond byt die seerste…

Op my eish! met Brendan Peyper
Chaunte het genoeg gehad van Christine se voorspellings… Foto: Skermgreep
3

Waarom bloos Brendan so?

Tydens ’n gesprek met sy wingman word Brendan ingelig oor die “voorspellery” wat deur Christine gedoen is. En nie een van die twee dink dis nie ’n goeie ding nie. Dit was egter toe Brendan gevra word of daar iemand is met wie hy meer tyd wil spandeer, dat hy al te lekker gebloos het en erken het daar is wel iemand: Katja. 

Op my eish! met Brendan Peyper
Brendan het lekker gebloos toe hy met Jo oor Katja gepraat het. Foto: Skermgreep

Ná vele ontwykende antwoorde bieg hy: “Ons het gesoen. Ja, ons het gesoen.” En sy is in sy Top-2. En hy bieg verder oor die soen-sessies met al drie meisies by sy konsert. Sy wingman se kommentaar? “Die girls gaan vir jou bl*ksem, seun.”

4

Danslesse en die groen monster

Thelmané (of Nysie soos sy nou genoem word), Katja, Runet en Chaunte word gekies om die dag op ’n nuwe avontuur saam met Brendan te gaan waar Clarissa hulle die fyner passies van dans met die Rooiberg-orkes se hulp leer. Dit het aan die begin maar sukkel-sukkel gegaan en soos Brendan sê: “Dis soos wiskunde vir jou voete.”

Elkeen van die meisies het diep gedagtes oor dié dansery, maar veral Katja noem dat sy nie so gelukkig is met hoe baie Clarissa aan Brendan vat nie. Van die “two-step”-lesse tussen Katja en Brendan is daar amper sukses, maar sokkie is bobaas!

5

’n Romantiese afspraak – gaan iemand waai?

Hierdie keer is dit Runet wat vir die eerste keer haar langverwagte alleenafspraak met Brendan kry. En dit nogal ’n romantiese afspraak wat by die Mood-restaurant op die Lynnwood-gasteplaas begin.

Een van die kwessies wat opduik, is Brendan se wens dat sy vrou nie moet werk nie. En dat hy vyf kinders wil hê. Runet sien kans vir vier. Maar dit lyk nie asof die twee se kinders in dieselfde huis gaan grootword nie . . .

6

’n Voetfoutjie

Soos sy wingman dit beskryf, het Brendan ’n “voetfoutjie” begaan toe hy vir Runet oor haar suster uitvra. Maar hy kon nie veel onthou van wat sy reeds met hom bespreek het nie. Vir haar is dit ’n saak van erns. Sy waarsku hom ligtelik dat hierdie een ding wat hy onthou het, nie gaan opmaak vir alles wat hy vergeet het nie.

7

“Ek wil haar vashou, maar ek’s bang sy m**r my”

Met die lieflikste van Vrystaatse sonsondergange is Brendan hard aan die planne maak om vir Runet in sy arms te neem. Maar Bangjan Brendan is bang sy gee hom een op die ken. Van enige planne om haar vas te hou, het daar dadels van gekom.

Op my eish! met Brendan Peyper
Saam geniet Runet en Brendan die sonsondergang. Foto: Skermgreep
8

Wie gaan die eerste vis vang?

Sonel, Janae, Christine en Jonelle is deur Brendan gekies om met hom na die Kiara Lodge se dam te gaan. Tommie Naudé is die man wat hulle gaan touwys maak oor hoe jy papgooi, óftewel visvang, hanteer.

Visvang is beslis nie op Sonel se wenslysie nie, maar Brendan het gou handjie bygesit om dit vir haar beter te maak. Jonelle is meer opgewonde want sy is ’n plaasmeisie wat hou van visvang. Janae het al forel gevang, maar sy is baie skepties oor “hierdie tipe visvang”.

Brendan vang toe die eerste vis op droë grond: Alleentyd met Jonelle. Sy sê haar laaste verhouding het in die hek geduik omdat hulle nie meer dieselfde sienswyse gedeel het nie. Maar sy is nie spyt daaroor nie – vir haar was dit ook ’n geleentheid om aan haarself te werk en om te groei.

9

Nog een byt aan die hoek – en die res gaap soos visse op droë grond

Janae word ook deur Brendan eenkant toe gevra. En sy is vol hoop vir ’n dieper konneksie met hom. Hy self is nuuskierig om meer oor haar te wete te kom, want tot nou toe het hulle “net gesoen en gelag”.

Ná ’n lang en diep gesprek oor kwesbaarheid en vertroue, draai die twee hul pedalo (trapbootjie) sydelings en daar spat die vonke, want soen word daar gesoen!

10

Het die profeet reg voorspel?

Brendan het ook vir Christine eenkant geneem om meer uit te vind oor haar voorspellings wat krapperigheid onder die meisies veroorsaak het. Sy het haar kant gestel en Brendan is tevrede. Kan hulle twee dalk die pad saam stap? “Definitief, ek dink net ons sal baie k*k aanjaag,” is haar antwoord.

Maar nie eers sy kon voorspel wie haar tasse moet gaan pak nie. Brendan erken aan Sonel dat daar nie die verwagte konneksie met haar is waarvoor hy gehoop het nie. Sy aanvaar dit en sê “partykeer val jy in stukke, en partykeer val jy in plekke.” 

Het dit haar van die liefde genees? Nee, sy glo nog 100% daaraan en wat haar idee van liefde is. En dat sy dit eendag gaan kry.

Op my eish! met Brendan Peyper
Dis toe Sonel wat groet… Foto: Skermgreep

Volgende keer

Wat wil Runet alleen met Brendan bespreek? Janae is gekrenk omdat Brendan “nie die regte keuse” op haar verjaardag gemaak het nie. En sake loop amper liederlik skeef tydens ’n abseiling-uitstappie. . .


Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies