Menu terloops
In Recaps & Resensies [25 Jan 2024]

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: 10 goed wat jy ná episode 3 moet weet


Daar is diep in mekaar se oë gekyk en iemand was baie verbaas oor ’n onverwagte oomblik. Dís wat vanaand in kykNET se maatsoekreeks ‘Op my eish!’, waarin die sanger Brendan Peyper soek na ’n liefie, gebeur het. Tussen alles deur het sy “haargordyn”, oftewel mullet, ook gesneuwel.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Op my eish!’ met Brendan Peyper: 10 goed wat jy ná episode 3 moet weet

Die derde episode van die jongste seisoen van Op my eish! het geëindig met twee van die vroue wat Brendan Peyper se hart wou verower wat – al huilend – huis toe gestuur is.

1

Wie van die pizza-wenners se sessie met Brendan was vir hom die lekkerste?

“Ons is hier om vrou te soek, nie om chats te hou nie,” is Brendan se rede vir die dieper vrae aan die meisies. Rachelle was eerste aan die beurt en hy “bewonder haar so ’n bietjie”. Katja se agtergrond het hom ook gefassineer.

2

Die anonieme skrywer stel nie teleur nie

Brendan brand om te weet wie dié juweeltjies neerpen, maar sy wingman Jo Black swyg soos die graf. Dié keer skryf sy: “Ek verlang nogal na daai stoute glimlag van jou”.

3

Golden Gate, hier kom dit nou!

Jo het ’n dag vir Brendan en die ses ander meisies beplan en danksy Ollie van Clarens Extreme was daar quad bikes – en ’n romantiese bestemming op die spyskaart. Janae was uiters opgewonde want sy hou daarvan “om vuil te word”. Runet bieg dat sy die meeste van die quad bikes waarop sy al gery het, afgeskryf het . . .

Op my eish! met Brendan Peyper
Tyd vir aksie op die quad bikes! Foto: Skermgreep
Op my eish!
Die gesiggie wat al die meisies so graag wil soen… Foto: Skermgreep
4

’n Stokkie bepaal die geluk

Christine was heel bereid om strooitjies te trek toe Brendan aankondig dat hy twee van die meisies vir ’n tien minuut lange afspraak moet kies. Van die meisies is heel geneë met die idee, terwyl Chaunte en van die ander weer voel Brendan moet self besluit of hy dit op daardie manier wil doen. 

Runet het die langste stokkie getrek en die twee het heerlik gesels oor vertroue en seerkry.

5

Glimlag ten spyte van groot hartseer

Vir sy tweede afspraak het Brendan die stokkies opsy geskuif en vir Thelmané gekies. Beide is verbaas om uit te vind dat hulle in Krugersdorp gebore is. “Haar gesig vertel ’n storie,” sê Brendan. 

Thelmané se pa en broer was in ’n helikopterongeluk. Haar pa, wat sy haar held noem, het gesterf en haar broer was aanvanklik verlam. Maar sy vertel hoe geloof hulle deur die moeilike tye gehelp het, en steeds help. En haar broer het herstel.

6

Die eerste prôpperse date met Brendan

Brendan het besef van die meisies gaan dalk kwaad wees omdat hy hulle nie gekies het nie, maar Janae aanvaar sy uitnodiging met liefde. Die bestemming? Die Mood Restaurant op die Linwood-gasteplaas. 

Die aanvanklike ongemaklikheid tussen die twee maak plek vir die “mooi gesiggie, mooi tandjies, mooi ogies” op Brendan se lysie oor waarna hy kyk. Volgens hom tiek Janae al die boksies en sy’s boonop oulik ook . . .

7

Die eerste soen

Die twee het agter die klavier gaan sit. Janae sê sy wil Trouvrou hoor. ’n Paar sydelingse kyke het gevolg – en toe . . . daardie soen! En Brendan was die meeste verbaas daaroor. Hy het glo net ’n piksoentjie oorweeg “maar sy weet wat sy doen. Janae kan soen.”

8

Hande uit die moue 

Op my eish!
“Skeppende liefdeswerk” in aksie… Foto: Skermgreep

Jané, Katja, Natasha, Christine en Nadia word gekies om saam met Brendan na Oom Japie van Fouriesburg se slaghuis te gaan. Nadia wonder dadelik of hulle ’n bok moet slag. Maar toe gewaar sy die leerwerk – en vrees slaan toe want sy is “kunstig-gestremd”.

JAC Leerwerke is die plek waar hulle skeppende liefdeswerk gaan doen, aldus Oom Japie. Katja het haar armbandjie aan Brendan geskenk en dit het ’n paar wenkbroue laat wip en mondhoeke laat druip.

9

Chaos in die (briewe-)hoenderhok

O aarde! Brendan noem dit ’n “voetfoutjie” toe hy die briefies wat Jo aan hom oorhandig aan dié vyf meisies noem. Sterk opinies word gelug. Party dink dis slim, ander dink dis teen die reëls. Die ratte begin draai en jy ruik rook in die lug. Moeilikheid, hier kom ons.

10

Die kuier op die stoep

Jané en Nadia word gevra of hulle twee tyd met Brendan wil deurbring. Natuurlik, ja! Hy voel Jané is dalk nog nie reg om aan te beweeg nie. En in hierdie episode groet hy vir albei van hulle. Dit het Jané hard getref en tussen die trane deur erken sy dat dit nie die einde van die wêreld is nie. Maar sy dink nie Brendan het die regte besluit geneem nie.

Nadia glo sy is nou 100% gereed om haarself oop te stel vir die liefde, haarself eerste te stel en haar hart oop te maak vir haar man daarbuite.

Brendan sê hy het sy besluit daarop gegrond dat hy nog nie daardie konneksie met hulle gevorm het nie, al is hy hartseer dat mense seergemaak voel.

Op my eish! met Brendan Peyper
Nadia en Jané is deur Brendan huis toe gestuur. Foto: Skermgreep

Wat kan ons volgende week verwag

Ná die aanvanklike skok en ontnugtering voer gemengde gevoelens hoogty onder die meisies. En gaan hulle kan uitvis wie die geheime briefskrywer is? En watter boodskap het Brendan se Ouma Meisie vir die meisies? Moenie vergeet nie, daar’s weer ’n date op die spel met Brendan. Wie gaan die kolskoot tref?


Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies