Menu terloops
In Recaps & Resensies [11 Jan 2024]

‘Op my eish!’: Brendan Peyper trek (uiteindelik) ’n t-hemp aan en kies sy top-12


kykNET se gewilde maatsoekreeks ‘Op my eish!’ keer terug vir ’n derde seisoen. En dit beloof baie drama, trane en wie weet . . . dalk liefde? Hierdie is die eerste van ons weeklikse recaps van ‘Op my eish!’.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk nou

‘Op my eish!’: Brendan Peyper trek (uiteindelik) ’n t-hemp aan en kies sy top-12

Brendan Peyper (27), musiekmens met treffers soos Insomnia en Stop, wag, bly nog ’n bietjie, sing nou ’n nuwe deuntjie – een waarin hy op soek is na sy eie bietjie liefde . . . En met Jo Black as sy wingman as deel van die derde seisoen van die maatsoekreeks Op my eish! kan kykers hulself voorberei vir ’n interessante soektog. Sal Brendan uiteindelik iemand vind wat sy hart meer as net ’n bietjie vinniger laat klop?

Wel, ná afloop van die eerste episode het hy 12 baie goeie redes om vir die beste te kan hoop…

Op my eish!
Brendan Peyper. Foto: Verskaf

Sy groot liefdes

Van meet af in die eerste episode van Op my eish! is dit duidelik dat benewens Trompie en Meisiekind (sy twee hondjies), dié Oos-Vrystaat die talentvolle jong man se hart besit. En as daar ’n nooientjie gekies gaan word, is dit waarskynlik een van die grootste vereistes dat sy ook daardie liefdes met hom moet deel.

Brendan se wortels lê diep in Frankfort waar hy grootgeword het. Soveel wonderlike herinneringe soos sy eerste kitaar wat hy as vyfjarige by sy oupa gekry het, sy eerste blesbok wat hy hier onder skoot gekry het onder leiding van sy oupa, en dan sy onsekerheid oor die toekoms in sy matriekjaar wat van hom die man gemaak het wat hy vandag is.

Hy was ’n baie goeie rugbyspeler wat ’n beurs ontvang het om by Kovsies te gaan studeer. Maar hy het nie geweet in watter rigting hy wil studeer nie. Onderwys het logies gelyk. Min het hy geweet van die kinkel wat op hom gewag het toe hy nege jaar gelede by die Vryfees in Bloemfontein opgetree het. Niel Schoombee van Select Musiek was ook by die fees – en voor Brendan sy kitaar kon oppak, het hulle hom binne ’n week ’n kontrak aangebied.

Op my eish! S3
Brendan vertel vir wingman Jo meer oor sy wense vir ’n verhouding. Foto: Skermgreep

Deesdae droom hy van sy eie gesin – drie, miskien vier kinders, sê hy. 

“Ek sal like om ’n lekker vol huis te hê. En dan ’n maksimum van vier tot vyf shows ’n maand. Ek wil dit doen omdat dit vir my lekker is, nie om geld te maak nie. Ek wil nie hê my vrou moet werk nie. Sy moet by die huis en by die kinders wees,” vertel hy. 

Dan hoop hy ook om genoeg geld te maak op die kantlyn met sy besigheid en beeste. 

Waarna soek Brendan?

Brendan sê hy weet nie of hy regtig gereed is vir ’n meisie nie, maar dalk is dit júís die regte tyd vir hom.

“Ek soek iemand wat instap en net oë het vir my, iemand wat daar is vir my. Dis ’n leemte in my lewe. Iemand wat met puppy-oë voor die stage staan en vir my loer, beteken nie veel vir my nie. Iemand wat agter die skerms daar is vir my, beteken alles vir my.”

Op sy wingman se vraag of daar ’n spesifieke voorkoms is wat hom aantrek, sê Brendan: “As iemand vir jou mooi lyk en hulself mooi present – ek hou daarvan om na myself te kyk. En ek hou daarvan as iemand ook na hulself kyk.”

Hy soek na iemand wat daar sal wees tot die einde en put inspirasie uit sy oupa en ouma se huwelik van 63 jaar, asook die van sy ouers.

Inskrywings en die pad vorentoe

“Jy moet weet wat jy wil hê,” het Brendan se wingman, Jo Black, hom getroos toe dit na ’n onbegonne taak begin lyk het. Foto: Skermgreep

Jo vertel dat daar van heinde en verre inskrywings ontvang is – van Namibië, Dubai en selfs Korea! Die groot werk wat vir die twee voorgelê het, was om deur al die inskrywings te werk en te sif tot waar daar 16 moontlike kandidate is.

Die meisies het nie teruggehou nie. Daar’s gedans, knieë geklap, trouklokke gelui en beloftes en uitnodigings gemaak wat menige man sal laat bloos. 

“Jy moet weet wat jy wil hê,” het sy wingman hom getroos toe dit na ’n onbegonne taak begin lyk het. 

Blitsafsprake vir die top-16

Die senuwees het gelol toe Brendan by De Harte in Pretoria gereed moes maak om die 16 meisies elk tydens ’n blitsafspraak van 5 minute lank te ontmoet en moeilike keuses moes maak. 

Die goue Stop, wag, bly nog ’n bietjie-kaartjies vir Brendan se top-16 het uitnodigend op die tafel gelê, reg om te deel met diegene wat hy beter wil leer ken.

Brendan het maar suinig die goue kaartjies uitgedeel… Foto: Skermgreep

Chaunte de Bruyn (21) 

Chaunte studeer ekonomie en internasionale handel aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. 

Sy het Brendan as senuweeagtig ervaar, maar het later gebieg dat daar net een woord by haar opgekom het: Troumateriaal. En dat sy verlore kon raak in sy oë. Sy het ook vir hom ’n geskenk gebring: ’n fles met sy naam daarop en naamplaatjies vir sy hondjies. Brendan het daarvan gehou dat sy geglimlag het terwyl sy praat en dat die gesprek tussen hulle goed gevloei het.

Bianca de Reuck (21) 

Bianca is ’n au pair en studeer sielkunde in Pretoria. Sy was baie uitgesproke oor Brendan se “baie mooi lyf en sy smile” en sê dit het haar aandag gevange gehou. Brendan het dit waardeer dat sy ook baie vrae aan hom gestel het. Volgens hom wys dit dat sy ook meer oor hom te wete wil kom.

Natasha Jansen van Rensburg (21)

Natasha, ’n ontwerpstudent van Pretoria, het ook vir Brendan ’n klein geskenkie gebring. Dit was ’n gevoude bootjie en sy het dit as ’n simbool van hul reis vorentoe beskryf. Brendan was beïndruk met haar, maar het nog styf vasgehou aan daardie goue kaartjies.

Chantelle Smith (29)

Chantelle is ’n eiendomsagent van Alberton. Vir haar was “Brendan se oë die mooiste ding van hom” en hy het beslis ’n goeie indruk op haar gelaat. Brendan sê Chantelle het baie vrae gevra en wou inligting uit hom kry.

“Baie meisies het ’n wanpersepsie van wie ek is. So, dis koel as hulle wil weet wie jy rêrig is.”

Luzaan Marais (28)

Luzaan is ’n versekeringsonderskrywer van Witbank. Brendan het onmiddellik opgemerk hoe ge-tone sy is en gesê sy lyk soos ’n atleet.

“Daardie oë van Brendan vang my absoluut vas,” het sy na afloop van hul kitsafspraak te kenne gegee.

Brendan het besluit sy is definitief oulik. “Sy kry nog nie ’n goue kaartjie nie, maar daar is potensiaal.”

Christine Kirkcaldy (27)

Christine is ’n saloneienaar van Hartbeespoortdam en een van ’n identiese tweeling. Vir dié buksie was Brendan baie lank en sy het baie van sy mooi oë en gawe glimlag gehou.

Brendan het gehou van die feit dat sy van jag hou. Vir hom was dit lekker om te hoor hoe sy baie dinge saam met haar pa doen. Sy ideale vrou is iemand wat ’n goeie verhouding met haar ouers het, en ook nie jaloers is nie. Die gesprek het vir hom goed spoed opgetel – so goed dat sy die eerste een is wat met ’n goue kaartjie daar uitgestap het. 

Op my eish!
Christine het die eerste goue kaartjie gekry! Foto: Verskaf

Katja Pieters (25)

Dié Duitse meisie van Namibië is ’n konsultant met groot drome. Kort voor lank kom dit ook uit dat Brendan haar ma en stiefpa ken en in hul gastehuis oorgebly het ná ’n vertoning in Otjiwarongo. 

Katja het vertel hoe sy ’n vlakvark getakel het toe dié haar Romany Creams-koekies gesteel het. Brendan sê sonder enige huiwering dat hy presies dieselfde sou doen as dit sy koekies was. Gelukkig hoef Katja hom nie te takel vir ’n goue kaartjie nie . . . Hy het sommer self vir haar een gegee.

Op my eish!
Nog ’n goue kaartjie – die keer vir Katja. Foto: Skermgreep

Nina Solomon (24)

Nina is ’n haarkapper van Pretoria, maar afkomstig van ’n plaas naby Steenbokpan. So met die intrapslag het sy op Brandon se toon getrap, iets wat hy ongeërg afgemaak het met “toemaar, ek is gewoond daaraan.” 

Vir haar is Brendan se glimlag die mooiste deel van hom, asook die manier waarop hy na jou kyk wanneer hy met jou gesels.

Brendan is van mening dat plaasmeisies oor die algemeen meer konserwatief grootgemaak word, alhoewel stadsmeisies nie noodwendig so grootgemaak word nie. “Daar is baie keer ’n verskil in die geaardheid,” is hoe hy dit opgesom het.

Jané Bacher (25)  

Jané is ’n verkoopskoördineerder van Polokwane en ’n deeltydse model. Sy was verstom om Brendan in lewende lywe te ontmoet en sê hy is mooier in persoon as op foto’s. Ook dat hy skaam voorkom en dit verhoog sy aantreklikheid vir haar. Brendan het gevoel dis ’n groen vlag omdat hulle twee mense is wat baie van honde hou. Hy is ook gek daaroor dat sy goed met haar pa oor die weg kom. Maar die goue kaartjie bly op die tafel . . .

Nadia Oliver (26)

Nadia is ’n student en buitelugmens van Dinokeng. Brendan se arms . . . en daai glimlag het haar uitgeboul. En tussen die gesels deur besef hulle ook dat hulle ’n gemeenskaplike kennis het, Pippie. 

Nadia erken dat dit bitter moeilik sal wees om te kies tussen Brendan en visvang, haar groot passie. Maar, voeg sy by, sy is “hooked on Brendan.”

Brendan het dit baie geniet om met haar te gesels en het veral van haar spontaniteit gehou.

Janae Stander (22)

Op my eish!
Janae het sommer vinnig vir Brendan laat bloos! Foto: Skermgreep

Janae van Pretoria is ’n finalejaar-student in modeontwerp. Sy het Brendan kort voor lank laat bloos toe sy hom openlik op sy “mooi voorkoms” gekomplimenteer het. Hy kon sy ore nie glo nie.

Brendan sê hy kan sien sy hou van mode. Sy weet wat sy aantrek en sy hou van wat sy dit. “Dis ’n mooi storie.” Boonop staan Janea vir hom uit – dalk is dat daardie kort blonde hare . . . 

“Ek het ’n ding vir dit,” erken hy. Boonop was die kitsafspraak vir hom te gou verby, maar met die goue kaartjie in haar hand sal daar vorentoe nog land en sand gesels word.

Rachelle Fourie (25)

Rachelle is ’n onderwyseres van Potchefstroom. Die skaam juffie het na die tyd erken dit was moelik om te fokus tydens die kitsafspraak. “Ek kyk na hom, na die hare . . . wat het hy aan. Sy blou ogies. Hoekom sit hy so?”

Brendan het vertel hy sien hier “ietsie ouliks” maar dat hy nie dadelik vir haar ’n goue kaartjie gaan gee nie, “maar dalk een van die dae . . .”

Ju-Ané Lubbe (26)  

Ju-Ané is ’n landboukundige van Germiston. Sy het erken sy was baie senuweeagtig om Brendan te ontmoet, maar sy het baie van sy mooi persoonlikheid gehou. Op sy vraag hoekom sy ingeskryf het, het sy erken sy het daaroor gebid. Vir Brendan was dit ’n lekker gevoel om te weet sy het vir die regte rede opgedaag en dat sy vooraf met die Here daaroor gepraat het.

Sonel van der Walt (21)

Sonel is ’n MBW-student en model van Potchefstroom. Sy het vertel dat sy met die intrapslag die mooiste man in haar lewe gesien het. En sy is oortuig daar is chemistry tussen hulle twee.

Ook Brendan het ’n sterk konneksie met haar gevoel en dit was sterk genoeg om aan haar ’n goue kaartjie te oorhandig.

Thelmané Wentzel (24)

Op my eish!
Nog ’n goue. Brendan is duidelik ’n sucker vir ’n blonde girl. Foto: Skermgreep

Die Vrystaatse nagraadse student lyk vir Brendan weer anders as die res. Sy het ingeskryf omdat sy gevoel het dat sy en Brendan baie dieselfde belangstellings deel.

En Brendan? Weer is dit die kort blonde hare wat hom pootjie. Hy beskryf haar as sag en vroulik. “En sy kry definitief ’n kaartjie!”

Runet van Heerden (27)

Runet is is ’n persoonlike afrigter wat ook voorheen ’n sjef was. Sy het per video-oproep vanuit Dubai met Brendan gesels. 

Dit was ’n sprankelende gesprek waartydens Runet duidelik te kenne gegee het sy sal net na Suid-Afrika terugkeer vir iets wat dit die moeite werd maak. Sy mis haar braaivleis hier, alhoewel sy wel in Dubai braai. Brendan het gevoel sy het die gesprek aan die gang gehou en dat sy baie volwasse is.

“Ek sal vir haar braai. Sy moet maar haar tassies bring,” en met daardie woorde kry die sesde goue kaartjie ook ’n tuiste.

Wie gaan nog gekies word?

Brendan het ses goue kaartjies uitgedeel. Maar, vertel sy wingman Jo Black, dat daar nou ’n baie moeilike taak voorlê. Uit die 10 meisies wat nie goue kaartjies gekry het nie, moet Brendan nou ses kies. Dit beteken vier meisies moet huiswaarts keer. Maar wie gaan dit wees?

Chaunte, Natasha, Luzaan, Rachelle, Nadia en Jané word deur Brendan gekies. Dis hartseer vir die vier wat nie die pad vorentoe gaan saamstap nie, maar hulle groet baie dapper.

Die top-12 wat Oos-Vrystaat toe gaan saam met Brendan:

  1. Runet van Heerden (27), Dubai
  2. Thelmané Wentzel (24), Vrystaat
  3. Sonel van der Walt (21), Potchefstroom
  4. Katja Pieters (25), Namibië
  5. Christine Kirkcaldy (27), Hartbeespoortdam
  6. Janea Stander (22), Pretoria
  7. Chaunte de Bruyn (21), Potchefstroom
  8. Natasha Jansen van Rensburg (21), Centurion
  9. Luzaan Marais (28), Witbank
  10. Rachelle Fourie (25), Potchefstroom
  11. Nadia Oliver (26), Dinokeng
  12. Jané Bacher (25), Polokwane

Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies