Die vier vroue word elkeen op ’n alleenafspraak met Brendan genooi in die nuutste episode van Op my eish!. En elke uiteenlopende afspraak is gemik op dit waarvan hy dink die meisies sal hou.
Katja en “katte skiet”
Vir Katja is dit ’n vliegtuigrit en sy wil dadelik weet of sy dit kan stuur. Brendan skerts en dink ’n trippie dorp se kant toe sal veel veiliger wees. Maar kort voor lank is die twee ingegordel en in die lug.
“Ek sien baie uit na hierdie date, want ek en Katja kan fun hê saam. Maar ons kan ook ernstig raak en ons kan ook stil raak . . . dit is altyd easy-going met Katja. Niks drama nie.”
“Cute, quirky en fun, dis flirty, dis oulik. Ons gee nie om waar ons is nie, ons kan weird crazy dinge doen,” is Katja se beskrywing van hulle twee se konneksie.
Tydens die vlug vlieg hulle oor die plek waar hulle hul eerste soen gedeel het, oftewel “padkos” soos wat Katja dit destyds genoem het. En natuurlik word daar weer padkos uitgedeel.
Die vlug is vol uitdagings vir Brendan. Hy voel lugsiek . . . maar niks wat ’n Chappie en ’n appel nie kan fieks nie.
Droëbek tuis
Terwyl die twee piekniek hou, is Rachelle, Janae en Jonelle saam besig om kop skoon te maak.
“Dis tyd om bietjie uit te kom,” sê Janae. En die drietal droom van piekniekafsprake op die klippe vanwaar hulle die pragtige uitsig sit en bewonder. Tog is daar die teisterende vraag op elkeen se lippe: Wat gaan vandag op Katja en Brendan se afspraak gebeur?
Rachelle vertel sy het Katja se uitrusting vir die uitstappie gesien en “dis ’n mooi rokkie met hakskoentjies”. En met dié verskuif die kamera na die drietal se tekkies . . .
Die groen duiwel en onsekerheid steek sterk kop uit.
Piekniektyd
Dis soesji onder die lieflike skaduryke bome. En sjampanje. En natuurlik ’n soentjie of meer . . .
Brendan verduidelik dat hy die salmroos soos ’n boertjie takel: Net een eetstokkie in die middel van die roos.
“Niemand kry seer nie, almal is happy,” laat hy hoor.
“Jy’s nogal nie te bad nie, mnr. Peyper. Jy ken die pad na ’n vrou se hart toe . . . ’n Pad na Katja se hart toe,” is die lof wat Katja na sy kant toe swaai. Maar sy val ook met die deur in die huis en wil meer by Brendan uitvis oor watter meisies sy guns gewen het.
“Ek het meer bedoel dat ek weet wat ek wil hê in ’n meisie, ek het nog nie my mind opgemaak nie,” systap hy die antwoord gladweg.
Katja sê hulle twee is in hierdie stadium in ’n casual dating-fase, nie in ’n verhouding nie. En dís waar die opgewondenheid vir haar lê. Al die eerstes . . . Maar sy wil nie nou al vir Brendan wys waar haar hart en haar gevoelens is nie, maar sy belowe hom dat as dit so ver gaan kom sy nie dink hy berou daaroor sal hê nie. Brendan geniet haar selfvertroue, reeds van dag een af.
Benewens die oulike piekniek is daar natuurlik ’n bietjie ontdekkingswerk wat op die twee wag en hulle kies koers na die nabygeleë stroompie. En Katja merk dadelik haar gunsteling-boom op: ’n wilgerboom. Brendan is in tweespalt. Hy het ’n paar dae gelede gedink hy weet watter kant toe. Maar Katja gooi die wa om.
“Sy is net liefdevol. Sy het baie liefde om te gee. Sy is nie skaam om aan my te vat of my in die nek te soen nie. Jy weet, dit gee ’n mens bietjie hoendervleis,” erken Brendan.
“Hierdie date het my verbaas. Ek het meer van haar gesien as wat ek verwag het.”
En Katja? Sy voel sy het regtig haar hart vandag vir hom gegee.
Rachelle se eerste alleenafspraak
Hulle afspraak is in die luukse Il Castello-boetiekhotel in Clarens waar daar ’n groot bederf wag.
Brendan sê hy voel of hy homself iewers in Italië of in ’n stegie in Europa bevind.
Rachelle is effe huiwerig toe sy hoor hulle gaan ’n spa-behandeling ontvang want sy is nie gewoond aan sulke intieme afsprake nie. Ja, einste Rachelle wat spyt was sy kon nie Brendan se mooi bolyf bewonder tydens ’n vorige spa-sessie nie . . .
“Ek voel dis maar iets wat jy deel met jou huweliksmaat.”
Hoekom het Brendan op hierdie afspraak besluit? Hy sê Rachelle wil net altyd hê almal moet goed voel, en dis tyd dat sy ’n bietjie bederf word.
“Rachelle is die tipe mens wat altyd ander mense eerste sal sit bo haarself, en dit laat my baie aan my ma dink. En ek wil altyd my ma ook ’n bietjie bederf,” verduidelik hy sy keuse vir die dag.
Toe die spa-behandeling tot Rachelle se groot verligting verby is, is sy slaggereed om met haar nuwe uitrusting Brendan se asem weg te slaan.
“Ek wou hoor ‘jy’s sexy’,” en sy maak seker Brendan weet dit. Maar vir eers is sy fokus op die kaasbord want die honger skop in. Toe duik kinders op in die gesprek en Rachelle wil weet hoe Brendan beplan om sy eie kinders groot te maak.
“Ek sou nie my kinders veel anders grootmaak as wat my ouers my grootgemaak het nie . . . daar was altyd liefde,” is sy reaksie.
Rachelle vertel dat haar pa nooit een van haar netbalwedstryde misgeloop het nie. Sy het altyd vir hom gespeel. En sy voel daar is baie dinge waaroor sy en Brendan saamstem.
Nuuskierige agie
Tuis wil Janae uitvis oor Katja en Brendan se afspraak.
“Ek dink sy [Janae] wil weet half waar is haar verhouding met Brendan teenoor waar my verhouding met Brendan is. Moet sy bekommerd wees? Moet sy stres?” sê Katja.
“Ek vra nie meer oor soene nie. Dis iets wat ek nie wil weet nie. Dit raak nou persoonlik,” kom dit van Janae. Sy erken dit sal seermaak as sy weet dat Brendan weer ’n meisie gesoen het. Katja eggo dit.
Jonelle het nog nie handdoek ingegooi nie, sy dink sy staan nog steeds ’n kans met Brendan. Sy sien ook uit na haar alleen-afspraak met hom.
Terug by die boetiekhotel
Die gesprek wentel rondom tattoos en of Brendan een het, of sal kry. Hy dink dalk eendag, maar dit sal ’n kleintjie wees. Hy weet nog nie wat dit sal wees nie. Rachelle vertel dat sy in ’n rebelse oomblik die vorige jaar gedreig het om een te kry, maar dat sy toe liefs volstaan het by ’n tweede gaatjie in haar oor.
“Hectic,” is Brendan se reaksie.
Tussen die kaas-en-beskuitjies deur kom Rachelle tot haar skok agter dat, behalwe een met kaas wat hy vir haar aangebied het, hy die res self verorber het.
“Die man kán eet,” lag sy. Eers toe hulle aansit vir hul aandete, is dit tyd vir Brendan om behoorlik ook op Rachelle te fokus. Hy wil uitvis wat sy van haar toekomstige man verwag.
“Iemand wat ek kan respekteer, want ek weet mans soek respek . . . iemand wat altyd eerlik is, maak nie saak hoe moeilik dit is nie. Ek wil oor dit kan chat,” sê Rachelle.
So tussen die happies steak deur noem Brendan dat hy op soek is na iemand wat sag, maar terselfdertyd ook sterk, is. Hy noem ook dat daar nie vir ’n perfekte persoon gewag moet word nie omdat ’n mens self nie perfek is nie.
“Ek soek stilte, want ons is so in ’n gejaag die hele tyd,” is Brendan se wens.
Mettertyd is die maaltyd afgehandel en die twee skuif rusbank toe. Brendan besluit dat soen nie uitgesluit is nie, maar hy gaan dit nie forseer nie. Rachelle sê dat elke afspraak, al was dit soms net tien minute lank, het vir haar soos ’n leeftyd gevoel. Die een wat vir haar die meeste uitstaan, was hul gesprek in die grotte.
“Ek weet nie hoekom nie, maar jy het so vir my gekyk . . . die hele tyd,” sê sy. “Ek is nie ’n dag spyt dat ek jou ontmoet het en hierdie ding gedoen het nie.”
Op sy beurt vertel Brendan vir Rachelle dat dit onmoontlik is om haar selfs in ’n skare mis te kyk.
“Jou smile en jou persoonlikheid. Ek kan al jou emosies op jou gesig sien, altyd. Ek weet dadelik as jy ontsteld is. Jy het so ’n fronsie,” en hy boots dit vir haar na.
Voor die kamera sê Rachelle sy hou so 8½ uit 10 van Brendan. Of dalk 9. Wat van 10?
Jonelle en avokado’s
Jonelle word na die Saulspoort-dam buite Bethlehem geneem. Brendan beplan vir die twee om nachos te maak. Maar hoe dan nou as die man nog nooit vantevore dit gemaak het nie? En dan is hy nog boonop allergies vir avokado.
Gelukkig weet Jonelle hoe en sy sal hom help, solank hy die mes hanteer. En alhoewel die avokado vir sy part uitgelaat gaan word, is Jonelle van plan om wel daarvan te eet.
“Nou gaan ek nou maar een vir die span vat hiersô. Sy gaan my maar moet CPR as dinge suid draai,” is Brendan se reaksie op haar aankondiging. Jy kan maar weet Brendan het ’n plan of twee in sy kop.
Jonelle is gou om die koeksisters raak te sien, een van haar gunstelinge. Dít, en om vir Brendan te kon ontmoet, beskryf sy as haar hoogtepunte.
So tussen die wedersydse flirtasie deur, sê Brendan: “Die gevoel van Jonelle af is baie positief en oop. Sy’s reg om fun te hê, sy’s reg om bietjie ’n paar dinge te deel van haar. Ek dink die pressure is weg want ons is weg van almal af.”
Brendan dink ook Jonelle lyk verskriklik mooi en hy is gek oor haar hare in ’n poniestert.
“Ja, sy’s net ’n hele vibe. Sy is fisiek mooi, maar sy het ook hierdie confidence . . . sy kom nêrens kort nie.”
Dit hou op met reën en die twee kies koers na die water. En Brendan word aangenaam verras tydens daardie stappie.
’n Kinkel in die kabel
“Ewe skielik raak dinge ’n bietjie dieper. Ons begin chat oor goedjies wat ek gewag het voor.”
Dis ’n bibberende Brendan wat op die kaai deur Jonelle genooi word om saam onder haar baadjie in te kruip.
“Jy pas nogal lekker perfek hier,” sê sy vir Brendan wat teen die tyd glimlag soos ’n kat wat room gekry het. Vir Jonelle voel die tyd is nou reg vir hulle, al is dit so laat in die stryd, om fisieke kontak met mekaar te maak.
Voor die kamera erken Brendan iemand moet huis toe gestuur word vandag, “maar dit gaan nie Jonelle wees nie. As sy so opdaag? Nie vir ’n m**r nie.”
Ná ’n bibberende sessie op die water, keer die twee terug na welkome warmte en hul tuisgemaakte kos. Brendan erken hy is heeltemal omver gegooi want hy was van plan om Jonelle huis toe te stuur.
“Ek besef nou sy is ’n amazing girl.”
’n Lekker happie
“Is jy nog nie lus vir ’n koeksister nie,” wil Brandon by haar weet. Toe sy sê dit sal lekker wees, kom dit ewe glad van hom: “Ek identifiseer as een . . . soek jy ’n happie?”
“Jammer, Mamma en Pappa, dat julle hierdie moet sien,” kom dit van Jonelle. Inderdaad lyk dit asof Brendan die “happie van die dag” gaan wees.
“Dit proe beter as ’n koeksister,” erken sy. “Dit was definitief die lekkerste koeksister wat ek nog ooit geëet het, hoor!”
En Brendan sit met ’n supertaai keuse: Wie gaan hy vandag wel huis toe stuur?
Speel Janae en Brendan huis-huis?
Fondue op die spyskaart en hoe hulle twee in ’n huis sal pas, is hoe Brendan sy keuse vir hulle afspraak verduidelik.
“Ek het jou rêrig gemis,” sê Brendan. Janae soek ’n belofte daaroor van sy kant af omdat dit vir haar voel asof hulle mekaar baie lank gelede laas gesien het.
Brendan wil weet hoe Janae sy leefstyl sal hanteer as dinge dalk tussen hulle sou uitwerk. Sy sê sy sal nie van hom verwag om onbeskof te wees met van sy vroulike bewonderaars en hul maniere om sy aandag te trek nie.
“Dit gaan amper lyk asof jy terug-flirt, maar in my hart weet ek jy doen nie. Jy het net een meisie en dit gaan vir my oor vertroue.”
Die groot twyfel
Rachelle en Katja wonder of dit Jonelle of Janae is wat gaan terugkeer na die basis. Katja voel hul afsprake met Brendan was langer as die laaste twee meisies s’n en dat daar nou geweldige druk op Brendan is om moeilike besluite te neem. Daar is groot vreugde toe Jonelle by hul kamer inkom. Ook Jonelle wonder of dinge goed gaan verloop vir Janae.
Sy keer summier ’n emmer yskoue water om oor die koppe van Rachelle en Katja omdat sy sê Brendan kan enige tyd terugkeer en enigeen van die viertal haar tasse laat pak.
Gaan dit ’n seiljag wees?
Met die donderende storm buite, wil Brendan knus voor die kaggelvuur van Janae weet hoe sy oor haar seiljagplanne voel.
“Voor hierdie het ek toekomsplanne gehad. Ek het nie geweet ek gaan inskryf vir Op my eish! nie. Ja, ek moes dink aan my toekoms. Ek maak nou klaar met my studies hierdie jaar. Dis obviously nie vaste planne nie, dit is wat ek wou doen.
“Ek moes aan iets dink om kapitaal te kry vir ’n besigheid. Dit was my eerste opsie en dis obviously ook great om die wêreld te sien. Maar hang af van hoe dinge uitwerk tussen my en jou.”
Brendan erken aan Janae dat hy heeltemal te veel van haar hou.
Voor die kamera erken Janae dat sy dom was om te twyfel aan dit wat tussen haar en Brendan is “en dat ek gedink het ek sal huis toe gestuur word. Ek kan nie glo ek het dit gedink nie. Ek het net weer na die date besef wat ons het is real.”
Wie se konneksie met Brendan is swakker?
Dis waarop hy sy keuse gaan baseer. Ná vier wonderlike afsprake met die meisies moet hy sy kop regkry en die een kies waar daar dalk ietwat van ’n mindere konneksie is.
Spanning vier hoogty en daar is groot vertwyfeling onder die vier meisies, selfs onder diegene wat met meer selfvertroue ná hul alleenafsprake teruggekeer het.
Brendan se hart en kop baklei met mekaar, maar hy voel dalk het dinge net ’n bietjie te laat begin ontwikkel. Daarom vra hy vir Jonelle of sy vandag huis toe sal gaan. Voor die kamera sê sy dat sy wens hulle het meer tyd gehad, maar sy glo alles sal gebeur in God se tyd.
“Ek dink definitief vir ’n feit, as jy van die begin af ‘in’ was, sou vandag baie anders uitgedraai het en ek dink ons sou al verder gewees het. Dis maar net hoe dinge gebeur het en ek glo alles gebeur met ’n rede,” sê Brendan vir haar.
“Daai was nie lekker nie,” sê hy toe sy uitstap.
Hy erken hy het ’n sterk konneksie met veral twee van die drie wat nog daar is.
“Dis ’n saak van gebed. Ek dink daar’s niks anders wat my nou uit hierdie kan help nie. Op die ou einde van die dag . . . die Here kom altyd deur op sulke stadiums in my lewe.”
Volgende keer
Brendan bring sy beste wapen saam – sy ma! En die drie meisies wonder hoe sy oor hulle gaan voel.
“Hy praat baie met my en hy vra altyd raad, en hy luister gelukkig altyd vir ons,” sê sy.
En wie’s die tannie wat hom voor stok kry oor sy soenery? Wie gaan die werklike enetjie wees waarmee Brendan die volgende sonsopkoms gaan bewonder?
Volg Brendan se soektog na liefde in Op my eish! op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up ná uitsending. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.