Menu terloops
In Recaps & Resensies [24 Apr 2024]

‘In die sop’: ’n Oase in ’n Kaapse voorstad waar dinge nou ‘very, very lekker’ is


Die agtste episode van kykNET se werklikheidsreeks ‘In die Sop: Restaurant Evolusie’ is drie dae van willewragtig-wees met resultate wat jou verstom gaan laat!

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop’: ’n Oase in ’n Kaapse voorstad waar dinge nou ‘<em>very, very</em> lekker’ is

Dié keer is die gedugte In die sop-span wat vir niks stuit nie, op pad na Rosebank, in die suidelike hart van Kaapstad. Daar word gestop by The Alma Café, ’n plekkie ryk aan geskiedenis wat oor byna ’n eeu strek. 

Toeka was dit ’n winkeltjie, nou is dit ’n restaurant en ’n live music venue… En ook kort dit die bekwame hande van sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf om dit te red. 

Begin by die begin

Die eienaars van The Alma Café is Richard en Retha Tait. Die twee het voorheen ’n snoepwinkeltjie by ’n nabygeleë laerskool gehad. Richard het die kafee van kleintyd af geken want hy het in die omgewing grootgeword.

In die sop
Die eienaars van The Alma Café is Richard en Retha Tait. Hul seun, Johnno (oftewel Jonathan), ook ’n musikant, is ook by die besigheid betrokke. Foto: Verskaf

Toe tref ’n tragedie die area – gewapende rowers het toegeslaan en dit het die vorige eienaar sy lewe gekos.

“Toe’t ek in die koerant gesien hierdie winkeltjie is op die mark en hier gestop, [en] hierdie ou bedroefde Indiese tannie aangetref wat in swart aangetrek was . . . En jy kon sien die wêreld se smart was ín haar. Haar enigste seun is die persoon wat hier geskiet is,” vertel Retha.

Richard vertel op sy beurt hy het sy ma baie jonk verloor en sy oumas het na hom opgesien. En toe hy op sy beurt die tannie leer ken, het sy soos een van sy oumas vir hom geword.

She was just wonderful, just all heart, all soul,” vertel hy en voeg by dat sy heeltemal vernietig was deur die afsterwe van haar seun. “I suppose we both found a need in one another.

“Sy wou hê die kafeetjie moet aangaan en ons het gesê ons sal aangaan daarmee en ons gaan ’n kafee, deli, coffee shop probeer doen. Sy was tevrede daarmee, dis hoekom sy dit aan ons verkoop het,” sê Retha. En op 1 Desember 2004 het die Taits ingetrek.

Van kafee tot musiekmekka

Richard sê hulle het die winkeltjie as ’n kafee oorgeneem. Daarna het hulle die koffiewinkel en tuisgebak probeer. Selfs tuisgemaakte maaltye was deel van die aanbod.

Maar niks was regtig suksesvol nie. Dis toe dat ’n vriend vir Richard aanmoedig om live musiek aan te bied synde hy toe reeds jare lank in die musiekbedryf gewerk het. 

Só het die kafeetjie toe in ’n nuwe bestemming gegroei.

Retha vertel hoe hulle hul eie stoele en breekware van die huis af gebring het en Sondagaande van vroeg af was daar lasagne op die spyskaart.

“Dit het net soos ’n bom gewerk, dit was net pasmaats . . . Die musiek en die kos,” sê sy. 

Volgens Richard het hulle dadelik besef dit was die regte ding om te doen en mense het ongelooflik goed daarop reageer – en dit sluit van die gehoor tot die musiekmakers in.

Een van The Alma Café se gereelde kliënte is Nevill Scott. Vir hom is die live optredes iets wat hy nêrens anders ervaar nie, juis omdat dit deur behoorlike musikante bestuur word.

Hy erken as hy ’n bietjie “squishy” kan raak, hy al gevoel het dat hy maar die aardse lewe kan groet, want hy is op die beste plek waar hy nog ooit was.

Die ‘who’s who’ van Suid-Afrika se top-musikante

John Ellis, een van die gereelde musiekmakers by The Alma Café, glo vas dat die manier waarop musiek hier aangebied word, iets is wat baie min ander plekke nog doen.

Die lysie van kunstenaars wat reeds hier musiek kom maak het, is indrukwekkend. Chris Chameleon, Samthing Soweto, Roger Lucey, Reg Meuross (van Londen), PJ Powers en en en het al hier opgetree. En net as jy dink Richard het amper almal genoem, duik name op soos dié van die Radio Kalahari Orkes, Koos Kombuis, Valiant Swart en Dan Patlansky ook op.

John het een groot wens – en dis vir die unieke The Alma Café om vir so lank as moontlik te bly voortleef want Richard en Retha is besig om iets lewendig aan die gang te hou wat rondom die wêreld reeds uitgesterf het. 

Meer oor die Taits

Die twee is ’n interessante kombinasie.

“Hulle is nogal alternatief,” kom dit van Bertus. “Richard is ’n professionele musikant, Retha is hierdie huislike vrou van die Karoo af, wat hou van kosmaak en kook en groot porsies . . .” 

En boonop is hul seun, Johnno (oftewel Jonathan), ook ’n musikant, by die besigheid betrokke.

“Ons is ’n klein familie. Dis ek en my ma en pa en ons was nog altyd ’n span, for better or for worse,” kom dit van Johnno. 

In die sop
Die Tait-drietal. Foto: Verskaf

Hy vertel hy doen die bemarking en die bespreking van die kunstenaars, hy maak koffie, is ’n kelner, menslike hulpbronne en die ou wat jou by die deur verwelkom . . . ’n Heerlike allegaartjie van alles en nog meer. 

Vra maar vir Sarah Buchner, ’n lojale kliënt, wat dink Johnno maak baie lekker koffie, maar hy bring ook meer besigheidsfokus na die tafel sonder om mense onwelkom te laat voel.

’n Anderster soort fame

“Ek wou altyd famous gewees het, ek was ’n musikant in my youth, maar deesdae gaan ek uit en mense is ‘like, oh hey, Johnno van Alma Café’ – I’m like ‘I wish it was because I was a famous musician’ but you know . . .” kom dit met so ’n halwe laggie van sy kant af.

Richard beskryf Johnno as ’n absoluut noodsaaklike bestanddeel in soverre dit die bedryf van The Alma Café aanbetref. Hy en Retha wil graag die leisels eendag aan hom oorgee met die hoop dat hy dit nog beter sal bestuur.

Op die spyskaart

Hul “lekker tuisgemaakte huiskos,” is wat Richard as hul sterkste punt beskou.

“Goed soos outydse hoenderpastei met groente of slaai, afhangend van die seisoen. Lasagna, uiters gewild. Moussaka . . . Ons het al tamatiebredie gedoen, cottage pie en by die kos is daar nagereg,” laat hoor Retha. Haar legendariese suurlemoen-meringue is hul groot pluspunt, iets wat “ek gekry het soos wat ek hom graag wil hê”, sê sy.

Wat mag gly en wat móét bly?

Richard sê daar’s baie goeters wat nie kan verander nie, en hy belowe hy gaan nie “hectic” raak daaroor nie want hulle het reeds hul lysie aangestuur. Maar daar mag nie geskuif word aan die verhoog nie, die gordyne móét bly, so ook die toonbank wat hy self saam met ’n vriend gebou het, die deur met die musikante se boodskappe daarop . . . 

If I die here, you carry me out on that door. If I leave here, I take the door with me,” kom dit vasbeslote van hom terwyl Retha geamuseerd na hom luister.

Dis ’n moeilike kalant hierdie en hy maak dit duidelik solank die vertroue in die In die sop-span nie in die slag bly nie, sal alles goed eindig.

Hoekom is The Alma Café in die sop?

“Dit is interessant, want ek dink ons het altyd die needs gehad . . . ná Covid het alles radikaal verander. Vir ’n lang tyd mag ons nie musiek gedoen het nie. So, ons het stadig-stadig ons musiek begin terugbring een keer ’n maand, maar die audiences was bang,” vertel Retha.

Voor die pandemie was hierdie ’n gewilde uithangplek vir die ouer garde, maar deesdae gaan baie van hulle selde uit. Daar is nou ook nie ’n jonger groep – hetsy kliënte of musiekmense – wat daardie gaping vul nie.

We’ve got to now start putting other arrows in the quiver,” is Richard se oplossing.

Herinneringe aan die Wêreldbeker-rugby, 1995

“Ons vertel altyd die storie toe PJ Powers hier was wat daai 1995-song gesing het. Toe sy hier kom sing het . . . daai song gesing het in ons klein plekkie . . . Ek het gesien hoe huil al die mans wat obviously die rugby gekyk het. Ek het net daar agter gesit in die kombuis en getjank en getjank en getjank.

“My ma het ingekom, sy huil. And we said ‘ What’s going in this place? What’s going on?’ Dit kan ek nie verduidelik nie,” vertel Johnno terwyl hy weer die trane wegvee.

Bertus en sy Harley kom kuier

Toe hy sy lang bene uit die saal swaai, kyk hy bewonderend na The Alma Café. “Wat ’n flippen lekker gebou,” som hy dit op.

“Hierdie plek lyk amazing. Dit lyk amper soos ’n Karoo-winkel in die middel van die stad,” sê hy vir die drietal Taits. Hy merk dadelik die versameling ou blikke, kassette en CDs wat volgens hom “m**r skaars” is, op. Ook die verhoog.

Johnno verduidelik sy rol, maar sê die kombuis is die laaste plek waar hy aangetref sal word. Laggend beaam Richard dit en voeg by dat hulle almal baie dankbaar is dat Johnno uit die kombuis bly.

“Mense sal kom net vir hulle. Hulle is vol dinge. Hulle vloek soos matrose, ek ook. Dis my mense,” kom dit laggend van Bertus.

Retha word as die vredemaker deur haar familie beskryf. Maar sy is primêr verantwoordelik vir die kombuis en aankope – en die gom wat almal bymekaar hou.

Kapasiteit en kos

Retha sê as dit moet, kan hulle tot 50 mense inpas op ’n slag. Maar dan is die plekkie baie beknop.

“Die spyskaart is wat ons vandag in die yskas het,” kom dit van Johnno. “Like, is daar croissants? Kan ons ’n omelet maak? Of ‘Pa, wil jy ’n breakfast maak of moet ek vir hulle sê hulle moet f*kof?’” som Johnno die spyskaart op.

Hy sê dat dit vir hom baie frustrerend is dat sy ouers die verstommende idee het dat The Alma Café nie ’n restaurant is nie.

Bertus waag dit in die kombuis wat hy as “piepklein” beskryf. Hy wonder hardop hoe Retha haar kop hou om 50 mense uit die kombuis te kan bedien. Sy erken sy is betreklik militaristies rondom dinge in die kombuis om seker te maak goed werk.

Sy beduie na Richard en sê: “Hy’s geneig om goed te gooi en vir my te skree ‘Where’s this and where’s that?’” Bertus lag en sê dit klink of Richard ’n sjef was in ’n vorige lewe . . .

Bertus sien die kombuis as ’n plek wat ’n liefdevolle hand nodig het. Dit moet skoongeskrop word. Hy noem aan hulle dat die spyskaart die uitleg van die kombuis sal bepaal en dat hul musiekaande beslis tot hul voordeel sal strek gepaardgaande met ’n vasgestelde spyskaart.

“Een ding vir almal, jy kan nie die olifant deur die sleutelgat probeer druk nie,” sê hy.

Proetyd

“Met Bertus, sjoe, dit sal baie snaaks wees as hy dit haat,” kom dit van ’n bekommerde Johnno met gekruisde vingers.

Die tafel kreun onder die ontbyt, bobotie-pastei, hoenderborsies, twee moussaka’s (een vir vegetariërs) en lasagne. Richard is nie te bekommerd oor wat Bertus van hul disse gaan dink nie, want hy glo in dit wat hulle doen, of in hierdie geval opdis.

Bertus dink die meeste van wat hulle voorgesit het, roer nie werklik sy hartsnare nie. Maar dit gesê, die bobotie-pastei en Retha se suurlemoen-meringue voel vir hom of dit met liefde gemaak is.

“Dis vir my duidelik dat die goed waaroor julle passievol is, smaak ook soort van die beste,” sê hy. 

Hy hou nie van slaai op ’n warm bord nie en moedig hulle aan om sterker op hul dranklisensie-staat te leun want bure wat saamkuier oor ’n bier is ’n lekker ding . . .

Dag 1

“Klein, maar moeisaam,” som Misi die plek op. Sy beplan beter beligting vir die kombuis en ’n “moody maroon” vir die binnekant van die restaurant om die teatergevoel sterker na vore te laat kom. En lekker tong-in-die-kies gaan sy ’n disko-bal installeer.

In die sop
Die span arriveer! Foto: Verskaf

Sy en Bertus stem saam oor ’n lekker stoeparea en hy waarsku haar liggies: “Hierdie mense het groot persoonlikhede, hoor! Hulle is baie lekker.”

Sy sê sy sidder om te dink hoeveel kratte hulle nodig gaan hê om die piepklein, maar propvol spasie leeg te maak vir die skoonmaak.

In die sop
Misi en Bertus maak planne. Foto: Verskaf

“Dit is wys om te noem dat ’n mens vas is aan goed, maar hoe vas is jy aan goed as dit onder in ’n kas was, só dik onder stof, agter goed – en jy was nie eers bewus daarvan dat dit daar was nie?” wil sy weet.

Retha vind dit baie moeilik om te sien hoe die In die sop-span goed begin uitdra. Bertus sê hy dink sy weet wat swaarkry is, maar dat sy moet leer dis nie nodig om alles oor en oor te gebruik nie.

“Vir haar . . . Dis haar legacy, dis hoe sy [met] haar hart en siel versier het,” sê Johnno.

In die restaurantgedeelte skop Richard kliphard vas oor goed wat moet bly waar dit is. En dis nogal baie goed wat moet bly. Hy en Johnno stamp kop daaroor want Richard sê die baksteenmuur is bros.

It’s f*ckin messed up. I don’t want to touch this stuff. Just leave it, for f*ck’s sake, man,” kom dit van hom.

“Vandag, dit was nogals interessant. Hulle het vir my ’n hamer gegee en ek kon goeters afslaan. Ek het dit baie geniet,” erken Johnno. Misi moes gou keer dat hy nie net die teëls nie, maar ook die muur te pletter slaan.

Nadat die enorme ou yskas met ’n groot gesukkel uit die kombuis verwyder is, is dit tyd vir onder meer nuwe tafels, ’n nuwe stoof, ’n nuwe rooster en natuurlik ’n nuwe yskas.

Richard se geliefde blou plafon word oorgeverf en Johnno is nie baie seker hoe sy pa daaroor gaan voel nie. Ook Misi hoop vir ontvanklikheid van Richard se kant.

Dag 2

Verfwerk is vir Misi die grootste deel van die projek. Sy is baie dankbaar vir die Paintmaster-span wat soveel ondersteuning daarmee verleen.

Bertus vat die Taits weg van hul restaurant af na ’n nabygeleë eetplekkie, die bekende Four & Twenty Café, om vir hulle te wys wat in ’n klein kombuis uitgerig kan word met ’n eienaar wat betrokke is. Hy hoop Tracy-Leigh Gaag se storie sal hulle ook inspireer. So tussen die gesels deur met goeie advies van Tracy-Leigh se kant, wat ooreenstem met Bertus se advies, duik die idee van wegneemetes op.

“Onthou wat julle is en waar julle is. Dis ’n neighbourhood eatery. As hulle iets nodig het, gaan hulle by jou stop,” sê Bertus. 

Johnno sê dis iets wat hy al jare vir sy ouers aanmoedig om te doen. Die gesprek wentel na wanneer dit die regte tyd is om die leisels oor te gee. Bertus waarsku hulle dat die trio groot veranderinge kan verwag. Maar is die Taits gereed vir verandering?

Not even slightly,” skater Johnno dit uit.

Bertus stel voor hulle kry hulp in: Iemand om te help skoonmaak en iemand wat in die kombuis hulp kan verleen. Hulle openingsure kom ook onder die loep. Hy sê hulle is nie genoeg oop om geld te kan maak nie. Twee dae ’n week om toe te wees, is te veel.

Johnno verduidelik aan sy ouers dat een van die skrikwekkendste dinge vir hom, en wat hulle moet aanvaar, is dat hulle ouer word. En dat dit tyd is om te besef daar is sekere goed wat hulle as ’n familie nie alleen kan doen nie. Richard erken dat die kere wanneer hulle oor goed praat wat gedoen moet word, ontaard dit in ’n “battleground of rage and blood”.

Bertus dink Richard is ongelooflik lief vir sy familie, maar hy is ook baie hardkoppig.

“Ek voel opgewonde om daar in te stap môre en ek hoop nie Richard gaan collapse nie,” sê Retha.

Dag 3

“Ek is angstig en redelik senuweeagtig,” kom dit van Misi. “Dit is nogal senutergend veral omdat daar so puntsgewys geskryf is oor sekere dinge. Maar ons sal maar moet sien of ek die regte intuïsie in my hart gevoel het.”

Dit was ’n opgewonde familie wat sommer vroeg in die pad geval het om The Alma Café met haar nuwe baadjie aan te kom sien.

The logo was fabulous. The guitar with angels’ wings . . . now that’s my kind of idea of rock and roll in a sense, you know?” kom dit van Richard oor die muurkuns aan die sykant van hul plek.

I looked up, daai dak was ’n ding vir my. ‘Asseblief, Here, laat hulle daai rég kry’. And man, you got it right!” is Richard se reaksie op die nuwe plafonkleur.

“Ek dink die eerste ding – ek het dit amper meer gevoel as gesien – was net warmte. Jy loop hier in en hier’s net hierdie ongelooflike warm gevoel,” sê Retha.

Richard sukkel om sy emosies onder beheer te kry. Vir hom was die ou lugfoto van die gebied uit die 1940’s wat nou ’n groot fokuspunt in die restaurantgedeelte is. En toe die emosies hom oorweldig, is dit Johnno wat sy arm vertroostend om hom sit.

“Daar is nou ’n kontinuïteit vir my in die plek. Ek het eers na die plek gekom toe ek nege jaar oud was,” kom dit van ’n oorstelpte Richard. 

Die gordyne is gewas, die deure kan oopswaai sodat mense op die stoep kan sit en danksy Diesel&Dust kan hulle nou ook lekker bier tap. Ook die nuwe spyskaart het ’n musiek-kinkel. Dit lyk soos ’n toentertydse langspeelplaat-houer met hul nuwe disse op die agterkant gedruk.

En die kombuis?

“Dit kan nie wees nie. Dis te groot, somehow,” kom dit van ’n grootoog-Retha. “Iets moes hier aangelas wees, dis so groot. En dis net so oop. Wow, guys, kan ek aan die goed vat?”

Staycold het vir hul nuwe yskas gesorg, een op wiele wat maklik kan uitrol sodat daar goed skoongemaak kan word.

Die keer is die kos deur Bertus en sy span voorberei en dit word aan die gesin voorgesit. Daar is warm pretzels met mostert, krulkool en hoenderpastei, granola vir ontbyt, spek en eiers, en nog meer!

“Ek dink daai waffle saam met die soet van die heuning – ek dink dit was die heuning en die spek en die eier – I like daai kind of thing. It was very, very lekker,” erken Richard.

“Julle is nou ’n oase in die middel van ’n buurt,” beskryf Bertus The Alma Café se transformasie.

“Ons loop al ’n baie lang pad saam. Ek dink ek het van my eerste solo-optredes hier gedoen – jare, jare terug,” vertel musiekmens Basson Laubscher “Ek het die groot eer gehad om die hele nuwe revamp te bless met ’n bietjie musiek.”

In die regte rigting

In die sop
Die Taits kon nie hul oë glo toe hulle die transformasie sien nie. Foto: Verskaf

“Ek was baie, baie g*tvol,” sê Richard. Hy erken daar was baie kere wat hy nie eers na die plek wou kom nie.   

Ook Johnno erken daar was baie dae wat hy voet in die wind wou slaan. Maar nou voel hy hulle beweeg in die regte rigting. Hy kan ook nie sy trane keer nie.

Op haar beurt is Retha vasberade om die kombuis te oorwin en te leer hoe om dit te gebruik op so ’n manier om vir almal trots daarop te maak.

En Richard? Hy sê hy sien uit daarna om die volgende dag weer terug te keer na The Alma Café “en dis ’n m**rse change.”


In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies