Menu terloops
In Recaps & Resensies [17 Apr 2024]

“Lottoland help ’n dorp”: Mooi(er) Citrusdal laat drome waar word met passie en ’n parkie


In die tweede episode van kykNET se gewilde werklikheidsreeks ‘Lottoland help ’n dorp’ se nuwe seisoen vind daar transformasie met ’n hoofletter ‘T’.

Deur Annelene Oberholzer
“Lottoland help ’n dorp”: Mooi(er) Citrusdal laat drome waar word met passie en ’n parkie

In hierdie episode van Lottoland help ’n dorp gaan loer die sangeres en programaanbieder Leah in by Citrusdal, sitrus- en rooiboswêreld.

“Ons help ’n dorp om hul droom te bewaarheid,” sê Maryke Haywood, Lottoland SA se bemarkingshoof. “Ons transformeer nie net die dorpe nie, maar ons gee ook vir Suid-Afrika weer hoop.”

‘Dis jou huis’

“Dis so amper 45 °C . . . dis hittig,” kom dit van Leah.

Teresa Tierie, voorsitter: Mooi(er) Citrusdal, sê hulle beskou Citrusdal as die poort na die berge en dis belangrik dat daar meer toeriste na dié oulike dorpie koers kies.

“Ons het die warmbronne, ons het soveel mooi gastehuise, ons het Carmién Tea wat ’n baie groot aantrekkingskrag is, Piekenierskloofwyne . . .  daar is só baie,” sê Teresa. En natuurlik om nie van die pragtige omgewing te vergeet nie.

Sy het in 1987 getrou en toe op ’n plaas in die omgewing kom woon, kinders grootgemaak en steeds hier gebly.

“Citrusdal se dorp en sy mense is my absolute passie,” en sy’s vasberade om nooit hier weg te gaan nie.

Mooi(er) Citrusdal

’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het sy en ’n groep vroue besluit om die kritici wat graag mond uitspoel oor die dorp, stil te maak en die dorp mooier en beter te maak. 

Tussen die 17 vroue deur het hulle besluit waar hulle in die beplanning inpas en toe is daar aan die werk gespring.

“As daar ’n papier lê, sal dit nog ’n papier kweek,” sê Natasha Hunter, Tuine en parke: Mooi(er) Citrusdal en projekleier. Sy glo vas mense sal nie vuil maak as die plek skoon is nie. 

Die mooi bome, berge en riviere – eintlik sommer alles – doen dit vir Elana van der Merwe, spanlid: Mooi(er) Citrusdal.

“Citrusdal is my tuisdorp, ’is my plek. Die berge, die riviere, die seisoentye. So, dit is die rede hoekom ek besluit het iewers moet ek opstaan om Citrusdal beter te maak,” kom dit van Bettie da Silva, nog ’n spanlid van Mooi(er) Citrusdal.

Teresa verduidelik hulle het WhatsApp-groepe vir die verskillende projekte waar hulle verandering wou teweeg bring, gestig.

Vloede keer niemand

Leah vertel sy ry gereeld by Citrusdal verby en sê dat sy ook, in plaas daarvan om die dorpie binne te ry, af te handel wat nodig is by die garage langs die N7. 

“Om in Citrusdal te wees, is eintlik so lieflik,” erken sy en sy’s oortuig daarvan dat daar baie potensiaal in die dorp skuil om dinge nog beter te maak. Dis beslis só, want selfs nie eers verlede jaar se erge vloed het die planmakers gestuit nie, al was die mense van die buitewêreld afgesluit. Hulle het aan hoop bly vasklou.

Raadslid Leone Venter praat met lof oor die samewerking tussen die groep en wat tot nou toe bereik is en sê die dorp lyk mooi. Sy dink van hulle kant af het hulle ongelooflike goeie werk gedoen. 

“Dis regtig ’n wonderlike dorp in tye van nood,” sê Teresa.

Help, Lottoland!

Lottoland
Mooi(er) Citrusdal het besluit op die parkie as ’n projek omdat ’n parkie “rêrig ’n bymekaarkomplek vir ’n dorp (is).”

Toe Teresa vir die groep vroue vra of hulle ’n projek het wat hulle vir Lottoland help ’n dorp wil inskryf, was Natasha onkeerbaar. 

“Ekke, ek het ’n projek om in te skryf. Ek gaan dit doen!” het sy dadelik laat hoor.

“Die parkie is nie regtig ’n parkie op die oomblik nie. Dis maar onnet en jy kan sien hy het baie verval. Daar’s ’n sloot wat deurloop, jy kan nie eers van die een deel van die parkie na die ander deel toe loop nie. 

“Ag, dis hartseer. ’n Park is rêrig ’n bymekaarkomplek vir ’n dorp. ’n Park is iets waarna almal moet uitsien. Dis nie ’n plek waar die mense hulself kan geniet nie. Hulle voel nie noodwendig veilig óf lekker daar nie,” sê Natasha.

Sy vertel die parkie is vol molshope, plek-plek is daar nie gras nie en verder maak dorings en glasskerwe dit nie maklik om daar te loop nie.

Oor ’n paar jaar gaan die kinders onder hierdie bome sit wat ons nou geplant het, en dis tog wat ons wil hê. Ons wil hê die kinders moet ’n liefde vir die natuur hê en dis ’n oop parkie. Dit beteken dit moet ’n plek wees waar die kinders vryheid het

Lizette van der Merwe, Mooi(er) Citrusdal-spanlid

“Ons grootste begeerte is om nie net een parkie te hê nie, maar drie verskillende parkies: Een vir jou kleuters, een vir jou laerskoolkinders en een vir jou hoërskoolkinders. En as ’n mens dan nou seker kan sê ’n buitelug-gimnasium is vir die grootmense . . . Dan kan ons nou sê ons het vier parkies.”

Leah tel eerstehandse ervaring op toe sy met haar stap in die parkie ook byna deur die molshope gepootjie word. Een ding is seker: Daar’s baie werk wat wag op hierdie groot stuk aarde.

Tot nou toe was dit grotendeels skenkers en vrywilligers wat goed in die parkie tot stand gebring het. Maar nou word daar na ’n dikker beursie gesoek om drome in werklikheid te omskep.

Die koevertjie

Lottoland
Hoeveel geldelike hulp is versteek in dié koevertjie? Foto: Verskaf

Natasha se passie vir die parkie-projek tref Leah diep. En sy sê sy kry half die gevoel van Central Park in New York met wat bereik kan word. 

Vir haar is die prentjie baie mooi, en Lottoland help ’n dorp dink ook so – en ’n allemintige R400 000 is bewillig vir Mooi(er) Citrusdal se parkie-projek!

Daar is gejil, getrippel en drukkies uitgedeel en Leah sê sy het lanklaas iemand so fisies opgewonde gesien. 

Lottoland
’n Allemintige R400 000 is bewillig vir Mooi(er) Citrusdal se parkie-projek. Foto: Verskaf

“Sy’t amper letterlik uit haar vel gespring – en dit was lekker!”

Teresa erken sy’t haarself voorgeneem as hulle ooit by Lottoland help ’n dorp sal baatvind, sy nie ’n traan sal stort nie. Maar dit was net ’n voorneme, want toe sy ook sien wat in daai koevertjie gekom het, het die trane wel gevloei. Maar dis lekker, vreugdevolle trane . . .

6 weke later

Wat wag op Leah? Sy kon kwalik haar oë glo. Al haar verwagtinge is by verre oortref. Natasha self is baie opgewonde en kan nie glo wat hulle in ses weke bereik het nie.

Die molle moes hul tasse pak, glasstukke en vullis moes opgetel word. En die boere het laer getrek met die leen van trekkers en implemente om te help skoonmaak en die grond so gelyk as moontlik te maak, vertel projekspanlid Izak van der Merwe.

Izak vertel dat daar ’n groot haelstorm was kort nadat begin is om die grond gelyk te maak. 

“Toe moes die boere nou eers hul trekkers gebruik om hul skade reg te maak. So, toe’t ons nou daar basies al twee dae agter geraak,” sê hy.

Hy voeg ook by dat die tuinspanmense wat die bome geplant het die afgelope twee weke, baie respek verdien met die hoeveelheid wat hulle vermag het onder die genadelose son.

“In ons pragtige plat park kry ons ons kleuterparkie, dan het ons die laerskoolparkie. Vanaf die laerskoolgedeelte hardloop jy lekker oor die bruggie. Dan noem ons dit die openbare parkie of die hoërskool-studenteparkie,” vertel Natasha.

Leah se kop draai behoorlik. Sy sê oral waar jy kyk, is daar iets nuuts om raak te sien. Sy sélf het ’n tuindwergie geverf. En Natasha het haar wens gekry: ’n buitelug-gimnasium vir grootmense!

Almal doen hul deel

Leah sê ook elke mens wat by die parkprojek betrokke was, het ’n fenomenale bydrae gelewer. Elkeen het ’n hoekie gehad waarvoor hulle verantwoordelikheid aanvaar het. 

Lottoland
Leah se kop het behoorlik gedraai toe sy al die verbeteringe sien en het hand bygesit om ’n tuindwergie te verf. Foto: Verskaf

“Hulle het [elkeen] ’n droom gehad. As dit jou droom was om ’n rooi boomstomp te gemaak het, dan verf jy hom rooi. As jy ’n kabouterhuisie wou hê bo-op ’n stomp, dan sit jy vir jou kabouter ’n huisie op die stomp,” vertel Natasha.

So het elkeen gedoen wat hul kon. Natasha sê nie almal kon ’n trekker stuur om te help nie, maar daar was mammas wat motorbande en die plaveisel geverf het.

“Dan was daar dogtertjies wie se voetjies ons geverf het en dan het hulle op die paving geloop,” vertel sy.

Water was byna ’n krisis wat die projek kon sink. Want hoe maak jy bome nat as daar nie water is nie? Gelukkig het die munisipaliteit kragte saamgesnoer en ’n watermeter gekoppel vir die park. 

Danksy die water en besproeiing wat geïnstalleer is, kon daar gelukkig wel ’n paar bome geplant word. En as dit koeler word, sal daar gras geplant word.

Lizette van der Merwe, Mooi(er) Citrusdal-spanlid, se grootste kommer was die gebrek aan water vir die bome. Sy het geweier dat daar bome sonder die nodige water geplant word. 

“Ek het 20 jaar al flops geplant, ek gaan nie weer nie,” sê sy. Vir haar was die lekkerste toe die water aangelê is en die bome wat almal gelyk aangeland het.

“Oor ’n paar jaar gaan die kinders onder hierdie bome sit wat ons nou geplant het, en dis tog wat ons wil hê. Ons wil hê die kinders moet ’n liefde vir die natuur hê en dis ’n oop parkie. Dit beteken dit moet ’n plek wees waar die kinders vryheid het,” sê Lizette.

Sy sê op die ou einde was dit nie net ’n enkele groep wat die werk gedoen het nie, dit was ’n dorpsaksie.

Koue hande lei tot ’n nuwe begin

Natasha sien Ryno Engelbrecht as deel van die parkiespan. Hulle het hom op die terrein gekry waar hy ’n vuurtjie aangeslaan het. Van daardie dag het hy die span bygestaan en te help skoonmaak. Hy was beslis deel van die wenresep.

“Dit was baie koud en ek het ’n vuur gemaak om my hande warm te maak. Die volgende oomblik kom daar ’n dame oor die grasperk gestap na my toe en sy sê vir my, ‘Meneer, jy mag nie hier vuur maak nie. Ons is besig om die parkie skoon te hou’. 

“Omdat ek van natuur ’n omgewingsbewuste is en lief is vir die natuur, het ek net gevoel dat iets positiefs kan uit dit uit gebore word. Toe sê ek vir haar, ‘Juffrou, ek sal sommer die hele dorp skoonmaak’.

“Dit gaan nie vir my oor geld om die omgewing skoon te hou nie. Dit gaan eintlik oor wat die kinders kan kom geniet. Van nou af en vorentoe in die toekoms, ek sal kyk na die parkie en ek sal uitreik na die ander parkies om daar ook verbeterings aan te bring.”

Dr. Ruben Richards, burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit sê daar het ’n wonderwerk in Citrusdal plaasgevind oor slegs ’n paar weke. Hy dink dís ’n model vir die land om te sien wat bereik kan word as die munisipaliteit en die gemeenskap hande vat.  

Terwyl Leah die aktiwiteite in die parkie gadeslaan, sê sy dis letterlik hemel in die platteland. En die Mooi(er) Citrusdal-groep maak reeds weer planne met nuwe drome wat gedroom word.


Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies