Gaan die vroue van dié seisoen van Op my eish! hul diep geheime deel en vertel wat werklik agter die skerms gebeur het? Elkeen van die meisies wat opdaag, is duidelik op ’n missie en daar gaan taai vrae gevra word en feite reggestel word.
Want, soos Brendan Peyper se wingman en sanger Jo Black dit stel, was daar in hierdie seisoen beslis nie ’n tekort aan vermaak en drama nie.
Met die terugflitse kan daar gesien word hoe Brendan die meisies se voete onder hul uitslaan. Daar was piekniek in die grotte, ’n perderit waar Brendan amper sy alie gesien het, abseiling en vele meer. Asemrowend was dit gewis. Ook vreesaanjaend. Trane, soene en die finale besluit…
Daai snor?
Terwyl Jo Black 13 van die meisies by die Pheasant Hill-boetoekhotel welkom heet, sit Brendan en Janae oorkant hulle. Maar wag? ’n Snor wat daar op sy bolip sit? Dit gaan verseker ’n paar vrae laat ontstaan.
Waar’s Christine?
Jo is verbaas dat byna al die meisies opgedaag het vir die reünie, ten spyte van alles wat in die sosiale media gebeur het. En natuurlik ook op die stel. Christine is die enigste een wat nie haar uitnodiging aanvaar het nie.
Strategie
Dis nie net Sonel wat met ’n strategie gehad het om Brendan se oog (en moontlik hart) te vang nie. Feitlik elke meisie het ’n unieke aanslag gehad in die stryd om liefde.
Sonel
Sy het reeds in die vierde episode gewys dat flirtasie een van haar sterk punte is.
“Sonel, jou flirting skills is on point,” kom dit van Jo Black.
Later het Brendan erken sy kyk na hom “met soen-ogies” en hy is bevrees sy mag hom dalk bespring.
Sonel ontken dat sy geleer het om te flirteer. “Dis iets wat natuurlik kom as ek iemand wíl hê.”
Dit was vir haar ook ’n manier waarop sy seker kon maak dat Brendan haar tussen die meisies kon raaksien. Maar dit het nie vir haar gewerk nie . . . hy het haar huis toe gestuur.
Natasha
As daar een meisie was wat met spitsvondigheid Brendan soms laat dink het, was dit sy.
“Natasha verras my elke dag,” het hy tydens die vierde episode erken.
Rachelle
“Een van hierdie dames is ’n hopeless romantic. So, sy gee vir my briefies . . .” en met dié het Jo in die tweede episode Rachelle se nota oor ‘mooi bene en boudjies’ aan Brendan oorhandig.
Toe Brendan dit laat glip, was die meisies baie vies. Hy, op sy beurt, het gedink dis dalk Katja se pennevrugte. Maar dit was Rachelle en sy was verstom dat hy die ander meisies daarvan vertel het.
Eers in die vierde episode het Rachelle met die sak patats na vore gekom dat dit eintlik sy is wat Jo ingespan het as haar “posman”.
Katja
Katja het rusteloos begin raak omdat Brendan haar nog nie gesoen het nie. En in episode het sy besluit sy “to take one for the team” en inisieer sy die soen met Brendan. Hul eerste soen het in die vyfde episode plaasgevind.
Sy dink ook nie sy het eintlik ’n strategie in plek gehad nie. Brendan stem saam en sê hy dink Katja was net haarself.
Jo Black stook die vuur
Toe die meisies sê hulle het niks van Rachelle se briefies geweet nie, wil hy weet hoe hulle gevoel het toe hulle daarvan hoor.
Brendan steek sy hand op: “Ek het van die briefies geweet.”
Katja sê sy was verbaas want Rachelle was haar kamermaat en Rachelle het geensins laat blyk waarmee sy besig was nie. Alhoewel dit haar pla omdat sy gedink het hulle was na aan mekaar, beskryf sy dit as ’n slim plannetjie.
Jané is nie so vergewensgesind nie. “Wat fair is, is fair. En ek is ’n persoon wat reëls volg. So, vir my voel dit soos . . . ek kan net sowel Brendan se nommer iewers kry en hom WhatsApp.”
Sy sê daar was vir hulle gesê dat enige kommunikasie “buite die kameras” verbode is. Duiwelsadvokaat Jo Black sê hierdie was op kamera.
Chaunte het op haar beurt vir Brendan identifikasieskyfies vir Trompie en Meisie en ’n fles gegee. Brendan sê hy het dit nog steeds.
Nadia
Sou Nadia enigiets anders gedoen het as wat sy tydens die reeks gedoen het om Brendan se aandag te trek?
“Nee, ek dink nie ek sou iets anders gedoen het nie, want as ek enigsins anders opgetree het, sou ek nie myself gewees het nie.”
Runet
Sy dink sy sou dalk ietwat anders opgetree het.
“Ek sou dalk daai eerste soen gesteel het. Ek het die kans gehad, maar . . . hy’t ’n joke gemaak daaroor, maar ek het dit maar met ’n knippie sout gevat en toe’s ek soos ‘nee, jy wens jy kan my nou soen’ . . .” sê Runet tot groot vermaak van die groep en ’n blosende Brendan.
Janae
Brendan het in ’n stadium gesê hy voel Janae laat hom werk vir haar hart.
“Janae het altyd vir my laat voel haar oë is nie rêrig op my nie. Ek kan dit nie eintlik beskryf nie,” erken Brendan.
Janae ontken sy’t enigsins aan die reeks deelgeneem met ’n strategie.
“Ek was dalk ’n bietjie reserved gewees en het seker maar bietjie hard to get gespeel. Ek voel dis wat ’n meisie moet doen. Jy moenie net alles gee vir ’n persoon nie,” kom dit van Janae.
Christine
Alhoewel Christine nie daar is nie, dink Jo Black haar strategie moet ook onder die loep kom.
Hy sê wanneer hy aan haar strategie dink, kom die volgende woorde by hom op: “Bibbity-bobbity-boo, you’re going home today”.
Een van die meisies wat daardie woorde moes aanhoor, was Natasha in die vyfde episode.
Dis ook net daar waar Chaunte vir Christine voor die res van die meisies konfronteer omdat sy glo die volgende op die lysie was wat haar tasse moes pak. Die naels, of dit nou natuurlike of akriel-naels was, het behoorlik gewys. Dit het daartoe gelei dat Christine die bynaam van “fortune cookie” gekry het.
Ook Katja het in Christine se visier beland en is vertel sy is nie onder die top-drie meisies nie.
Christine het ontken dat sy die skynheilige persoon is wat al die drama veroorsaak het, en net daar het sy vir Sonel onder die bus gegooi. Natuurlik wil Jo Black by Sonel weet hoe sy daaroor voel.
“Dit was vir my een hengse verrassing gewees. Ja, ek het rêrig net gekom om vir Brendan te soen, maar . . .” kom die versugting oor daardie verspeelde kans. En sy het op die harde manier uitgevind sy kan nie vriende met almal wees nie.
Eers Chaunte v Christine, nou Natasha v Thelmané
Wat het rêrig gebeur tussen die twee blondekoppe en daardie konfrontasie? Natasha is die een wat werklik weet wat aangegaan het.
“Ek het een aand net verby Christine se kamer gestap en gesien haar lig is aan. Ek het toe ingestap. Dis net toe ons ’n WhatsApp gekry het om te sien wie na die volgende aktiwiteit toe gaan. Dit was toe Brendan se show.
“Sy het toe net ’n eerlike opinie gegee en gesê sy dink ek mag dalk miskien die volgende [een wees wat] huis toe gaan. Dit het my nie ontstel toe nie. Maar toe dit actually gebeur het . . . soos toe ek voor Brendan sit en hy was soos ‘wel, ek gaan jou huis toe stuur’ . . .”
Maar wag, hier is weer ’n kriewelrigheid aan die gang. Thelmané is duidelik ongelukkig met Natasha se weergawe want sy was daardie aand daar gewees.
“Voordat jy op die aktiwiteit was, jy’t na ons toe gekom en toe’t jy gesê jy voel nie ’n konneksie met Brendan nie, jy weet nie of jy volgende huis toe gaan nie. Toe sê Christine vir jou ‘wel, as jy nie ’n konneksie voel met Brendan nie, dan kan jy huis toe gaan’, dan dink sy dis ’n moontlikheid.”
Katja dink dis tyd om meer met die groep te deel. Christine het vir haar genoem wie haar top-3 was. “Dit het vir my gesê sy dink nie ek is in die top-3 nie,” sê Katja en voeg by dat Christine later vir haar die rede vir haar keuses gegee het.
Chaunte
Jo Black sê Chaunte se strategie was dat sy gereeld brokkies inligting met Brandon gedeel het. In episode 10 het Chaunte tydens ’n rusbanksessie met Brendan die bal aan die rol gesit deur te noem dat daar meisies is wat nie daar is vir die regte redes nie.
Janae, natuurlik. Haar planne om oorsee te gaan, is nooit met Brendan bespreek nie. Toe Brendan op sy beurt dit glo heel onskuldig aan Janae noem – nie omdat hy geweet het dis sy nie, hy het net ’n klankbord gesoek – was die vet in die vuur. En konfrontasie het gevolg.
“Alles wat ek gesê het, was nie opgemaak nie. Dit was nie onwaar nie. Niks was ’n strategie gewees nie. Dit was vrae wat Brendan vir my gevra het en ek het eerlik geantwoord,” sê sy. “En ek het nooit ’n meisie se naam genoem nie.”
Janae sê na die aanvanklike skok van die gesprek, het sy en Chaunte wel opgemaak.
Brendan voor stok
“Jy word nou hier ingetrek as die oorsaak. Vra jy brokkies inligting? Ek is die wingman. Vir wat sal jy rondneuk en vrae vra?” kom dit van Black.
Hy wou maar net weet wat aangaan agter die skerms met die meisies waarvan hy hou, is hoe Brendan sy optrede verdedig.
“Hoe gaan ek ’n keuse kan maak gebaseer op dit wat ek nie weet nie?” is sy vraag.
Mariska, Nadia en Jane
Jo Black wil by hulle weet hoe hulle, wat die reeks vroeg verlaat het, nou voel nadat hulle dié scenario gesien het.
Nadia sê dit het haar hart baie seer gemaak.
“Die lelik van alles. Op ’n manier voel ’n mens jy is bly – jy het die bullet gedodge. Ek sou nooit byvoorbeeld so sterk kon wees soos Janae of wie ookal anders die goed moet kyk en die goed moet hoor nie.”
‘Die slagoffer’
Rachelle het in ’n stadium beweer Janae speel die rol van die slagoffer.
“Dit was glad nie vir my lekker nie. Ons het gaan uittrek, Jonelle, Katja en ek. Dit was die greatste dag, ’n lekker spa day, en ewe skielik sê hulle vir ons ons moet weer aantrek. Toe weet ek hier kom drama.
“Toe hulle inkom en Janae en Chaunte is daar aanmekaar . . . ek dog toe, hierdie is net ’n sirkus. En toe sy [Janae] begin sê ‘julle haat my, julle is net jaloers op my’ . . . it’s not in my character, ek haat nie mense nie, ek’s nie jaloers op mense nie. Dis net wie ek is,” verduidelik Rachelle.
Toe Janae herhaaldelik na “julle, julle, julle” verwys het dit nog verder haar ontstel. En in dié konteks het dit vir Rachelle gevoel asof Janae speel sy’s die slagoffer. En sy laat nie vir Janae toe om haar in die rede te val nie. Rachelle is besig om te praat en dis tyd om te luister.
Janae erken dit het vir haar gevoel of sy die slagoffer is, maar dat haar woorde in ’n oomblik van swakheid geuiter is. Sy dink ook nou dat ’n alleengesprek met Chaunte eintlik die regte ding sou wees om te doen.
Die meisies flous die produksiespan
Daar was ’n reël in plek – dat geen meisie mag uitgaan as die produksiespan nie in kennis gestel is nie. Maar vir vier meisies was dit een van die reëls wat hulle nie nagekom het nie.
Niks klop ’n aand uit in Clarens nie, veral nie as dit nie toelaatbaar is nie. Daardie verbode vrugte . . . maar slim vang soms sy baas!
Kort voor lank lê die giggelende vier van hulle plat in die bak van ’n nutsvoertuig.
Runet word eerste deur Jo Black uitgeroep en hy vra dat sy hom vertel wie haar trawante was: Sonel, Thelmané en Christine.
“Chaunte was ook oorspronklik deel van die plan maar ons was bang sy gaan op ons blitz, toe dink ons ons het nie die krag vir die drama nie,” lag Runet. Maar toe kom Chaunte in ieder geval met die sak patats na vore . . .
Thelmané se “uitstappie” is egter baie gou kortgeknip.
“Ek het eers vir ons ’n lift gesoek want ek kom van die area af. Toe ons buite kom, toe sien ons daar’s ’n random bakkie. Toe vra ons vir die ou of kan hy ons asseblief gaan aflaai. En toe gee hy ons ’n lift,” vertel sy.
“As julle my dogters was, sou julle nie nou kon sit nie,” kom dit doodernstig van Jo Black.
Fluisteringe om ’n braaivleisvuur
Die meisies kry geleentheid om vir Brendan onder kruisverhoor te neem. Sonel spring eerste weg.
“So, na die braai-date het jy in my oor gefluister. Ek weet nie of kan jy dit onthou nie? Toe fluister jy in my oor ‘jy’s my nommer 1’ en dit het baie vir my beteken. Soos ek voel net, na dit, dit het nie so baie vir jou beteken nie,” sê sy.
Oepsie! En toe kom Rachelle na vore met nog ’n gefluisterde boodskap: “Ek vat jou saam tot die einde toe.”
’n Onthutste Katja sê ook sy het onder sy fluisteringe deurgeloop en hy het vir haar gesê hy wil haar soen.
Maar voordat Brendan op vlug kan slaan, stel Katja hom gerus dat dit bloot net ’n grap is. Maar Sonel se fluistering was wel waar, al ontken Brendan dat hy dit kan onthou.
Wat wil Natasha weet?
Natasha beskryf haarself as ’n grapmaker en iemand wat hou van puns. Sy wil weet hoekom Brendan in die bussie op pad na sy vertoning gesê het hy dink dis net haar coping mechanism.
“Ja, ek het dit gesê. Ek dink net partykeer wanneer dinge awkward was, het jy ’n pun gegooi in plaas van om die awkwardness te embrace. As dit deel is van jou persoonlikheid, dan is ek jammer. Ek ken jou nog nie so goed nie,” laat hy hoor.
Die Sei-soen van die soene
Jo Black doop summier dié reeks as die Sei-soen van soene. En daar word dadelik na ’n paar hoogtepunte gekyk. Van die eerste soen met Janae (episode 3) en Katja se heerlike “padkos” (episode 8) tot sy laaste soen met Janae (episode 13).
Dalk gaan Brendan se volgende trefferliedjie oor hierdie eskapades handel?
Thelmané het Brendan as ’n player beskryf. Dit het haar gepla dat hy op die heel eerste afspraak al vir Janae gesoen het. En dat die soenery met die ander meisies tussendeur nie opgehou het nie.
Jo Black wil by Luzaan weet of sy ook dink Brendan is ’n player. En is die meisies “maklik” soos Thelmané hulle ook beskryf het?
“Ek sal nie sê die meisies is maklik nie. Ek dink ons elkeen het maar ons eie goeie agtergrond waarby ons uitkom. Net omdat dit dalk jou keuse is om Brendan te soen, beteken nie jy is as mens sleg of van minder waarde nie,” sê sy.
“Agteros”
Dis natuurlik Jonelle wat almal hier teen die einde in episode 12 verbaas het.
“Ek dit het net maar ’n bietjie tyd gevat vir my om oop te maak,” erken sy. “Ek het glad nie dit verwag nie, soos julle gesien het. Maar ek moet sê ek het rêrig gedink ek gaan vir hom moet CPR gee daai dag. Van die avo, want hy’t so baie avo geëet. Hy’t meer avo as ek geëet!”
En die koeksister? Terwyl Jonelle die oorsprong daarvan verduidelik, kyk Brendan na Jo Black vir ondersteuning en kry so effense verbouereerde giggel uit.
Tasse pak
In die hele seisoen van 13 episodes was dit net Janae en Runet wat nie hul tasse moes pak nie. Runet het in die sewende episode op haar eie die besluit geneem.
Elke meisie se groetsessie, gepaardgaande met verligting, trane en verwyt, is die harde pad wat Brendan elke tweede dag alleen moes stap.
“Elke keer na ek dit gedoen het, het ek gevoel ek wil myself huis toe stuur. Jy gaan sit in jou kamer en dink ‘jôh, wat het nounet gebeur?’”
Janae verloor die stryd teen haar trane, sonder dat sy weet hoekom.
Nuwe liefde, nuwe dinge
Nadia het redelik vinnig nadat sy huiswaarts gestuur is, liefde gevind.
“Dit gaan baie goed, jaaa. Mmmm,” is al wat sy eers sê. Maar na ’n bietjie aansporing erken sy: “Hy sing, hy speel kitaar en hy boer in Ermelo. En hy vang vis, alhoewel hy nou-die-dag ’n barber gevang het, en nie ’n karp nie, maar ek sal dit laat slide,” vertel sy.
In die middel van nêrens
Die kykers wil weet of Natasha oukei was nadat Brendan haar in die middel van nêrens huis toe gestuur het.
“Brendan, jy het my heeltemal uit die veld uit geslaan,” kom dit weer eens met slim woordspeling van die donkerkop. Maar sy verseker hom daar’s geen kwade gevoelens nie.
Brendan erken hy het glad nie verwag dat hy iemand op daardie dag huis toe gaan stuur nie. En hy het baie opdraende van vriende gekry wat wou weet of hy darem vir haar met ’n Uber huis toe gestuur het.
Sou sy bly of sou sy gly?
Runet, het net soos sus Efrain in die eerste seisoen van Op my eish!, op haar eie terme die reeks verlaat. Maar sou sy gebly het as Brendan haar gevra het vir ’n tweede kans?
“Ja, ek sou tien-teen-een,” erken sy. “Ek wou dalk gehad het Brendan moet ’n bietjie wys dat hy dalk belangstel in my. Omdat hy my nie gestop het nie . . . ek het die regte keuse gemaak.”
Brendan sê hy het respek daarvoor, want hy sou presies dieselfde doen.
Die ‘wild card’
Mariska was ouma Meisie se wild card. Wat wil sy vir Brendan sê?
“In die episode het jy gesê jy wil uitfigure of ek vir die regte man wag en of ek vol nonsens is. En toe stuur jy my huis toe. Maar ek wil iets regstel.
“Ongelukkig was ek een van daai gewees wat op die ouderdom van 18 in my eerste jaar . . . moes ek die vrees van kanker in die gesig staar. En toe ek 20 was, was ek deur vier operasies. En laasjaar is ek gediagnoseer met functional neurological disorder.
“So, dit was net die een ding ná die ander ding en ek het net nie spasie in my lewe gehad om vir iemand daai deel van my te gee nie. Want ek sou 10% gegee het, want die ander bestee ek aan myself om emosioneel sterk te staan, akademies te werk en alles. Dit was regtig net vir my ’n moeilike journey, dis hoekom ek laasjaar ingeskryf het want toe’s ek net soos, ‘Oukei, ek is oor dit’.”
Sosiale media
’n Paar skermgrepe en videos word gedeel van die publiek se reaksie op die reeks. Daar was komiese reaksies en gunstelinge wat rondgevlieg het. En dan, soos Jo Black dit beskryf: “Ander was net blêrrie ongeskik.”
Chaunte is eerste aan die beurt.
“Die een ding wat niemand van my kan sê nie, is dat ek los is. En daai comment waar iemand gevra het, of sê, my ouers kan seker so trots wees op my. My pa is so trots op my want hy hoef nie een keer sy oë toe te gemaak het in skaamte omdat ek myself gegooi het na Brendan of so nie.”
Rachelle sê sy was in ’n stadium op die Op my eish!-bewonderaarsgroep en het deur dit gelees.
“Wat my die seerste gemaak het is van hoe hulle oor die ander meisies praat. I’m not gonna lie, ek dink ek het bietjie beter afgekom van dit. Maar ek het aande gehuil as ek sien wat hulle sê oor Janae. En wat hulle sê oor Katja. En wat hulle gesê het van Chaunte. En van Nadia. Dit was nie vir my lekker nie.”
“Dit is nie lekker as hulle in jou karakter inklim nie,” is deel van Janae se slegte ervaring rondom kommentaar op sosiale media platforms.
Sonel sê sy het van meet af geglo slegte publisiteit bestaan nie. “So, as die mense dink hulle baat iets deur om iets leliks te comment op my posts . . .” en Jo Black voltooi haar sin: “Dis soos water van ’n eend se rug.”
Chaunte het die grootste fout begaan, aldus Jo Black, deur by die kommentare in te klim.
“Ek kry so iemand eintlik rêrig jammer wat geregtig voel om iemand wat hulle nie eers ken nie, af te kraak. Dis so snaaks, hulle kraak jou af vir presies dieselfde ding wat hulle doen,” is haar reaksie.
“As jy enigiets kan wees, wees blêrrie nice,” is Jo Black se ferm boodskap aan die sleutelbordstryders daarbuite.
Sappige brokkies?
Sonel lig die groep in dat sy ’n kêrel het. Sy sê vir haar het dinge mooi in plek geval. Hy speel rugby in Frankryk en is “super cute” en sy sien hom drie keer in ’n jaar. “En, hy like dit as ek met hom flirt.”
Ook Thelmané het iemand in haar lewe. Hulle het in Potchefstroom ontmoet en hulle was nou al op agt afsprake.
Nog iemand wat liefde gevind het, is Katja!
“Ja, ek het my skoenlappertjies iewers gekry,” erken sy. “Hy’s ’n besigheidsman. Ons run ’n coffeeshop/restaurant saam. En dit het baie onverwags gebeur. Hy’s perfek,” verklap sy oor die man wat haar voete onder haar uitgeslaan het.
Jonelle sê sy wag nog maar vir haar spesiale mens. “Hy’s seker maar op pad in ’n tuk-tuk. Hy’s stadig op pad,” verklaar sy ernstig tot groot vermaak van die groep.
Janae het intussen ’n nuwe besigheid begin. Jo Black wil tergend weet of dit die seiljaggeld is wat sy daarin teruggesit het.
“Ja, ek moes maar my geldjies iewers invest. Toe ek nou klaar is met die show en Brendan het my gekies en alles . . . hy het my baie aangemoedig om my besigheid te begin. Hy was soos ‘dis nou of nooit’. Ons het saam gewerk aan my besigheid, logo en hy het gehelp om dit te registreer.”
Geen verrassing nie – dis ’n klerebesigheid. Brendan het ook intussen ’n nuwe album, Omdat jy mag, uitgereik. Hy erken hulle het baie gesukkel om ’n titel vir die album te kry. Maar hy vertel gou dat daar ’n liedjie op die album is: “Lentelyf”. Hy het dit in Potchefstroom in Janae se woonstel geskryf terwyl sy vir hulle kos gemaak het. Dit handel oor die afgelope vier maande en wat alles gebeur het. En dis juis waar die titel vandaan gekom het.
Is dit ware liefde?
Brendan en Janae voel altwee dis moontlik om ware liefde tydens ’n werklikheidsreeks te vind. Maar die terugkeer na die werklikheid was nogal ’n skok gewees.
“In hierdie bubble het jy geen verantwoordelikhede nie,” verduidelik Brendan.
Hoe moeilik was dit om hul verhouding geheim te hou? Baie moeilik, erken Janae. Sy het selfs in ’n stadium ’n pruik opgesit om nie deur die publiek herken te word nie. Janae sê dis werklik moeilik om liefde in die kollig te vind.
“Ek dink ons albei wag letterlik net vir hierdie show om verby te wees sodat ons die kat uit die boom kan kyk.”
Is daar hoop vir hul verhouding? Brendan sê hulle het besluit om mekaar beter te leer ken sonder te veel verwagtinge wat saam met ’n verhouding kom.
“Ons het saam besluit dat ons net op ons goedjies gaan fokus, maar ons gaan daar wees vir mekaar. Ons gaan in mekaar se lewens bly. En as dit dan lei na iets anders… Ná hierdie show dink ek dit gaan klaar ’n different dynamic wees om mekaar te leer ken vir wie ons rêrig is. Sonder al die kommentaar, druk, stres.”
Terloops, geen woord is gerep oor Brendan se snor nie . . .
Die volledige seisoen is nou op DStv Stream / Catch Up beskikbaar om te binge.