Seisoen 2 se Plaasjapie-deelnemers het van so ver as Namibië gekom.
Etienne (36) – Pretoria | Troubeplanner
Etienne glo hy is 100% ’n stadsjapie wat hou van die “hustle and bustle”.
Anelda (23) – Parow | Student
“Ek ken glad nie die plaaslewe nie,” erken sy. Maar sê sy dink die plaaslewe is “stadiger en dis buite.”
Monique (42) – Nelspruit | Somatoloog
Vir haar kan die plaaslewe dalk te rustig en te ver van die dorp wees.
Milandie (32) – Beaufort-Wes | Haarstilis
Vir Milandie is die plaas ’n bietjie afgesonder en dit beteken ook jy kan nie net sommer dorp toe gaan nie.
Danielle (23) – Rustenburg | Skoonheidsterapeut
Luukshede, waaronder internetverbinding en WiFi, is belangrik vir haar.
Stanley (23) – Pretoria | Motoronderdele-verkoopsman
“Ek weet nie eers hoe onkruid lyk nie. En ek was nog nooit in ’n tuin gewees nie,” erken hy met sy goue glimlag.
André (44) – George | Padskraper-operateur
Respek is vir hom prioriteit en dan is dit vir hom ook belangrik vir wat jy terugontvang.
Zanie (52) – Pretoria | Entrepreneur
Sy wil een ding bewys en dit is dat jy nooit te oud is om iets nuuts of avontuurlik aan te pak nie.
Riaan (30) – Piet Retief | Veiligheidsbeampte
Hy beskryf homself as “Mr. Nice Guy”, iemand wat selfs sy vyand sal ophelp nadat dié hom met ’n mes in die rug gesteek het.
Donovan (34) – Pretoria | Versekeringspesialis
Hy voel dat uitdagings bloot een doel het – en dis wat hom nog verder aan te hits om voor te kom.
Michelle (41) – Windhoek | Mediese verteenwoordiger
“As ek iets gedoen wil hê, moes dit eintlik al gister gebeur het,” sê Michelle en wonder of dit haar dalk iewers in die wiele kan ry.
Liovian (39) – Paarl | Entrepreneur
Sy glo mense mag haar dalk onderskat omdat sy klein van postuur is.
Blue (38) – Bellville | Koördineerder (Gemeenskapsontwikkeling)
Hy sien beslis nie uit na die harde werk nie. “Ek is nie gewoond aan aan dit nie.”
Pieter (27) – Kaapstad | Meganiese ingenieur
Hy het meer vertroue in homself vir die plaas omdat hy glo hy het meer tegniese vaardighede as die gemiddelde stadsjapie.
Liezle (55) – Germiston | Verkoopsverteenwoordiger
Moenie dink sy’s sommer net jou maatjie nie. Maar Annabelle is haar alter ego wat jou kan “opvonk” . . .
Jannie (20) – Pretoria | Sekuriteitsbeampte
’n Klein stukkie van sy opgewondenheid oor Plaasjapie het absoluut alles te doen met daai miljoen.
Die groot dag breek aan
Ewan Strydom, wat weer die aanbieder van die reeks is, kon nie wag om te sien hoe die 16 vaar wanneer hulle uitgelewer word aan die plaaswêreld by Groenkloof en Oranjezicht nie. Dit kan ’n groot uitdaging wees om die span te leer dat “vee” nie iets is wat jy met ’n besem doen nie . . .
Daar is twee spanne van agt deelnemers elk aangewys.
Dit was ’n bedeesde groepie wat op Oranjezicht van die sleepwa afgeklim het. Maar toe hulle later met Ewan gesels het, het dit begin lyk of hulle gereed is om hul stadsklere en polvaais vir kakie en vellies te verruil.
Groenkloof se spul het nie minder bedremmeld gelyk nie. Milandie het wel die trekkerrit geniet. Blue het besluit die stof op pad was sy senuwees wat koers gekies het.
Wat kry elke span op die plaas?
Twee koeie, twee speenvarkies, vier skape, ’n paar hoenders en natuurlik al die basiese benodighede om behoorlik hand aan die ploeg te kan slaan, is reg vir aksie. Kampe en hokke moet skoon wees – en dít lei tot ’n paar fronse onder die kraakvars plaasjapies. . .
Gelukkig is Jannie gek oor diere en hy kan nie wag om tyd met hulle te spandeer nie, want daai speenvarkies lyk vir hom na aan “puppies”.
Almal hou van die slaapkwartiere – tot waar Blue besef daar’s nie matrasse nie! Liovian is ook uit die veld geslaan deur die gebrek aan daardie sagtheid tussen ’n moeë lyf en ’n harde houtbasis.
Spanner in the works
Moenie dink ’n geskenkie is altyd ’n goeie ding nie. In elkeen se Plaasjapie-sak waarin hulle hul tas-inhoud moes pak, was daar ’n verrassing vir elkeen. Dis die magtige pekelpennie wat ingespan kan word om ander se planne te fnuik. Dit mag ook net eenmalig gebruik word en kan jou die prysgeld kos.
Al dra ’n vark ’n naam . . .
Blue en Anelda bevind hulleself by die varkhok. En net daar besluit hulle die twee moet name kry. “Die ene gaan definitief Charlotte wees, en die ander een Kevin. Maar ek weet nie hoekom Kevin nie,” verklaar Blue gewigtig.
Is dit groente of is dit onkruid?
Niemand in Groenkloof se span weet wat die verskil tussen groente en onkruid is nie. Hulle laat hulle maar lei deur na wat lyk na ’n ry wat geplant is – en die res tussenin word summier uitgetrek.
Dis Ewan wat die nuus met hulle deel: dis inderwaarheid ’n aartappelland.
Lootjie vir ’n leier
Ewan daag op met ’n houtboks. Diegene wat die eerste seisoen gevolg het, sal weet dit beteken daar moet nou eerstens ’n plaasbestuurder gekies word wat die span van koöperasiekuier tot koöperasiekuier te lei. Die persoon wat die span se kleur trek, word dan die plaasbestuurder. Blue trek die gelukkige lootjie vir Groenkloof se span. Hy moet nou twee handlangers kies om later by die koöperasie te gaan inloer. Hy kies vir Etienne en Milandie.
Michelle trek die gelukkige lootjie vir Oranjezicth se span. Sy kies vir Pieter en Donovan as haar handlangers.
Koöperasie-kaskenades en keuses
Matrasse, uie en sout & peper, kampstoele, slaapsakke en gas is op die spel en elke span kan drie items kies. Die items wat hulle kies, bly in die span selfs wanneer iemand huiswaarts moet keer.
Michelle kies matrasse, uie en sout & peper en gas. Sy kry ook ’n knipmes. Daarmee kan sy tydens ’n koöperasiekuier ’n sakkie sout by die soutstasie oopsny en ’n koppie sout daaruit vir ’n spanmaat gee.
Blue laat elkeen van sy handlangers items kies. Tussen hulle kies hulle matrasse, die gasbottel en slaapsakke. Ook Blue kry sy knipmes op dieselfde voorwaardes as wat aan Michelle gestel is.
Boeliebief en baked beans
Nie een van die twee spanne kon glo hoe lekker dié kombinasie sou proe nie. Selfs spiertier Riaan se spiere het goed gevoel oor dié dis. Die blikborde was behoorlik blink ná ete.
Waar kom die melk vandaan?
Groenkloof se Jannie, Zanie en Monique is die drietal wat eerste hul hand aan die nuwe taak moet slaan om die koeie te melk. Hailey en Daisy, soos die span hulle reeds gedoop het, het ewe rustig die onervare hande verduur.
Donovan, Danielle en Pieter verteenwoordig Oranjezicht met die melkery. Die eerste kriewelrigheid steek kop uit rondom Donovan wat lyk of hy die leierskap wil oorneem.
En sake loop skeef as Liezle ook probeer melk en die emmer omgeskop word. Die trane het geloop en sy erken dit was nie lekker nie. “Ek weet mos nie hoe om ’n f*kken koei te melk nie.”
Die eerste uitskop-uitdaging
Dis nie speletjies nie. Daar’s ’n roeper en ’n geblinddoekte deelnemer wat hooibaal in die hand die hindernisbaan moet voltooi. Sewe bale moet van punt A na punt B geskuif word en hindernisse is in die vorm van bande en hooibaalkurwes op die baan. Met die sewe bale moet trappe gebou word na die stellasie waarop die roeper staan.
Groenkloof se roeper is Etienne en Oranjezicht het vir Danielle in daardie rol. Chaos het geheers met rigting wat verkeerd verstaan is en die bande het ook ’n paar gepootjie. Groenkloof het korte mette gemaak van die kompetisie terwyl ’n moeilike besluit vir Oranjezicht voorlê want iemand moet tasse pak.
Dit gons en strategie verander
Terug by die plaas het die Oranjezicht-span behoorlik onder mekaar begin planne maak. Daar is ’n groot verdeling onder mekaar en die aanvanklike wens om van Donovan ontslae te raak, het afgewater met spanlede se optrede tydens die uitdaging.
Gaan daar by die oorspronklike keuse volstaan word, of het een van die ander spanlede haar hand effe oorspeel? Lojaliteit is net ’n beesmiskoek diep . . .
Wie gaan hul waarde in sout werd wees?
Ewan verduidelik aan die span hoe die sout-situasie werk. As jy dink iemand is nie sy sout werd nie, kan jy van daardie persoon se sout tap. Die teenoorgestelde is ook waar: sout kan bygevoeg word. Michelle het die keuse om die sakkie sout oop te sny wanneer dit haar stembeurt is.
Maar dan is daar ook die pekelpennie wat gebruik kan word. As dit nou ingespan word, gaan dit R20 000 kos en dit word van die R1 m-prysgeld afgetrek.
Die spelers kies oorwegend om sout af te tap. Michelle kies ook om die “mag van die mes” te gebruik.
Fluit-fluit, my Plaasjapie-storie is uit
Daar is vir Donovan en Danielle gestem. Ná ’n paar spannende oomblikke het Ewan die bordjie omgedraai. Donovan is volgens Oranjezicht se span nie sy sout werd nie . . .
“Dis ’n oorvloed van emosies op hierdie oomblik. Jy dink jy sit op die voorvoet en dan word die mat onder jou uitgeruk,” het ’n emosionele Donovan na afloop van die kuier gesê. Hy vertel hy het vir Plaasjapie ingeskryf om ’n baken van hoop vir sy enkelma te wees.
“Sy het alles gedoen wat sy kon doen om kos op die tafel te sit. Daar het dae verbygegaan wat ons nie kos gehad het nie. Maar wat sy vir ons gebring het en gegee het . . . die fondasie wat sy vir ons gelê het . . . dis groot, en ek dink hierdie show was om vir haar te kon teruggee.
“Ek dink die dankie wat sy hieruit kan vat, is dat ek probeer het. Ek het my beste gegee. En ek kan hierna terugkyk en vir haar sê ek sal weer probeer.”
Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.