Sestien betreklike rou stadsjapies ding vir ’n koel R1 miljoen mee in die tweede seisoen van kykNET se realiteitsreeks Plaasjapie.
In die reeks, wat weer deur Ewan Strydom aangebied word, moet die deelnemers kaalhand ’n verskeidenheid boerdery-aktiwiteite en uitdagings, sonder katoeters of moderne tegnologie, aanpak. Só word hul uithouvermoë en wilskrag – op emosionele en fisieke vlak – getoets.
Maar wie is hulle noudat hulle geleer het om varke te voer en koeie te melk? Gaan hul regte plaasjapies word, of is dit terug na die flikkerende stadsliggies?
Plaasjapie sal weekliks op Donderdae vanaf 18 April 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai word. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.
Stanley Venter, 24, motoronderdeleverkoopsman, Pretoria
Stanley is verloof aan Cione de Witt. Hulle het nog geen kinders nie.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Iemand het my gedare om in te skryf.
2. Beskryf jouself
Ek is hardwerkend, lief vir mense, beskik oor ’n borrelende persoonlikheid en is baie lojaal.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Dit maak nie saak wat jy het of nie het nie, of jy wen of verloor nie – die Here het ’n doel met alles. ’n Mens moet selfs die druppel in die emmer geniet.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek word baie vies vir mense wat maak of hulle slim is oor iets waarvan hulle eintlik niks weet nie.
Riaan Snyder, 30, SHEQ-offisier (veiligheid-, gesondheid- en omgewingsbestuur), Piet Retief
Riaan is enkellopend en sê hy kan “net wens” vir kinders.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het ’n verlede waarin ek myself deurlopend as nie goed genoeg geag het nie. Dan is daar ook mense naby my aan wie ek wou bewys dat ek meer is as wat die oog sien.
2. Beskryf jouself
Ek is ’n kragatleet met die hart van ’n Gummy Bear.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek glo ek was die lekker gelag en smiles wanneer dit swaar gegaan het. Ek het soveel moontlike take op die plaas leer ken en gedoen om oral te help waar ek kon. Dit was nie om die beste te wees nie, maar eerder om álles te wees wat ek kan wees om die span oor die wenstreep te help kry.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek ag myself gereeld as die mindere en in baie gevalle is dit tot my eie nadeel. Maar dit is wie ek is, want niemand anders verdien om ooit laer gesien te word as die amazing mens wat hulle werklik is nie.
André Mouton, 44, padskraper-operateur, Pacaltsdorp naby George
André is al die afgelope 18 jaar met Karen getroud, en hy is die pa van twee dogters, Kate (17) en Andrea (13).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek’t vir Plaasjapie ingeskryf om myself uit te daag, om uit my gemaksone te kom en om iets aan te pak wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek wou vir my kinders wys dat ’n mens enigiets kan aanpak as jy die nodige wil en deursettingsvermoë het.
Dis iets wat ek nooit gedink het ek sou doen nie! Selfs al het hulle my nie vir Plaasjapie gekies nie, sou bloot die feit dat ek ingeskryf het reeds ’n stap in die regte rigting vir myself, asook vir my kinders gewees het.
2. Beskryf jouself
Ek was maar nog altyd die stil, skaam, teruggetrokke outjie wat agter in die klaskamer gesit het en teruggestaan het vir ander persone om eerste te gaan. Selfs al het ek geweet ek kan dinge doen, het ek teruggestaan en was ek tevrede gewees met bloot die gedagte dat ek dit kan doen.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek is ’n harde werker wat nooit bang is om my hande vuil te maak nie. Maar ek is terselfdertyd baie netjies. Ek het ’n sterk persoonlikheid en kan mense se karakter goed opsom. Ek glo deel van my leierseienskappe is daarin gesetel dat ek ’n goeie voorbeeld stel vir ander en respek vir mense toon.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek vertrou mense te maklik, en ek gee hulle altyd die voordeel van die twyfel. Ek kan nie mense verdra wat blatant lieg en steeds aanhou lieg selfs wanneer hulle uitgevang word nie.
Etienne de Villiers, 36, bruilof- en geleentheidsbeplanner (eienaar en uitvoerende hoof van ART Weddings & Events), Pretoria-Oos
Etienne is verloof aan Leo de Veer.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek wou myself uit my eie gemaksone haal en uitvind of ek wel op ’n plaas kan funksioneer. My vriende het my ook uitgedaag om in te skryf, want hulle weet goed ek hou baie van die stad en om netjies te lyk. Plaasjapie het my heeltemal uit my gemaksone verwyder.
2. Beskryf jouself
Ek is ’n ekstrovert, van kop tot toon, wat mal is oor mense. Ek vind my energie op ’n aand uit tussen vriende. Ek is ’n baie doelgerigte man wat wil hê dat dinge goed en reg moet verloop te alle tye.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Beslis my uitgesprokenheid. Ook dat ek veel meer van ’n fisieke bedreiging was as wat ek ooit sou kon raai. Ek glo my mensekennis het my gehelp.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek praat te veel! Andersins dink ek nie ek het regtig slegte eienskappe nie.
Blue, 39, gemeenskapsontwikkelingskoördineerder, Bellville
Blue bly naby Kaapstad, is enkellopend en het geen kinders nie.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het deur ’n donker tyd gegaan met die verlies van my oupa en is gediagnoseer met matige depressie. Ek het iets nodig gehad wat my sou uitdaag en in staat sou stel om myself weer te vind.
Boonop is ek ook ’n groot aanhanger van werklikheidsreekse. Ek het al aan ’n paar deelgeneem, en ek weet dit verander elke keer my uitkyk op die lewe. Ek wou weer met nuwe oë na die lewe kyk. Daai R1 miljoen-prysgeld het ook baie aanloklik gelyk!
2. Beskryf jouself
Ek is ’n avontuurlustige mense-mens. Ek is vriendelik, behulpsaam en het maar ’n klein hartjie. Ek stel baie kere ander mense eerste en vergeet van myself in die proses. Tog hou ek van die kollig en geniet ek dit om vriende te maak.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek glo my menseverhoudings was my sterkpunt. Ek het geweet my sosiale spel is sterk, en ek het op my strategiese brein staatgemaak om my verder te vat in die spel. Ek maak baie gou vriende en mense voel gemaklik rondom my.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek hou nie van hard werk nie. Ek verkies om slim te werk eerder as om hard te werk. Ek het geweet plaaswerk gaan vir my die swaarste gedeelte wees. Boonop is ek ook nie ’n oggendmens nie, en ek staan nie maklik vroeg op nie.
Liovian Anderson, 40, entrepreneur, Paarl
Liovian is met Kirby Anderson getroud en die ma van twee: Kirstin-Jade (15) en Joshua (11).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het ingeskryf vir Plaasjapie om my kinders trots te maak op my, om my beste te gee tydens die program en natuurlik om die R1 miljoen te wen.
My grootste motivering was om aan myself te bewys dat ek in staat is om berge te versit as ek myself die geleentheid gun en ook om my soms as ma, vrou en entrepreneur eerste te stel. Dit kom daarop neer dat ek eers my beker moet vol maak en hou voordat ek na ander se belange kan omsien.
2. Beskryf jouself
Ek is hardwerkend, lojaal, vriendelik en vol lewe, gedrewe, energiek, Christelik, passievol, lief vir mense en hard op myself.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
My hardwerkende en vriendelike geaardheid, my liefde en omgee vir mense, diere en natuurlik die plaas, is van my sterk punte. Ook dat ek nie maklik mense of omstandighede vertrou nie en dus nie maklik om die bos gelei kan word nie. Dit keer ook dat ek maklik beïnvloed word. Ek swem nie altyd met die stroom nie.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek laat soms toe dat my emosies my oorweldig, en ek is in baie opsigte hard op myself. Ek kom as baie onafhanklik voor, en dit lyk soms of ek nie iemand anders nodig het nie. Dis bloot omdat ek van jongs af onafhanklik moes wees en as ouer suster ’n groot rol in my sibbe se lewe moes speel om my ma as enkelouer by te staan.
Michelle de Waal, 42, mediese-verteenwoordiger, Windhoek (Namibië)
Michelle is met Darius de Waal getroud. Sy het drie kinders: Jaiden (17), Danielle (15) en Jan (10).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het ingeskryf vir Plaasjapie omrede dit iets was wat ek myself kon sien doen. Ek wou net weer besef wie en wat ek is en waartoe ek in staat is. Natuurlik het ek ook ingeskryf om ’n voorbeeld vir my kinders te wees. Ek is baie kompeterend en hou van uitdagings.
2. Beskryf jouself
Ek is eintlik ’n rustige mens, maar ek is altyd op soek na iets om te doen. Ek kan glad nie net sit en niks doen nie. Ek geniet dit baie om mense te leer ken en nuwe vriendskappe te vorm. Ek het balans, is selfversekerd, dapper, georganiseerd, toegewyd, ambisieus en ’n staatmaker.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek dink wat ek na Plaasjapie gebring het, was my sterk persoonlikheid en my kan-nie-moed-opgee-nie-houding. Ek het saamgewerk en gedoen wat gedoen moes word. Ek het positief probeer bly, al was dit soms moeilik.
Daar was soveel elemente wat ’n rol gespeel het en jou gemoed soms getoets het. Ek het die spel goed gespeel, en mense het my vertrou. My hooffokus was om net aan te gaan en te doen wat nodig is – en dit met trots te doen.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek dink in die begin het ek mense te maklik vertrou. Ek het myself ’n pad sien stap met sekere mense, maar ek het vinnig besef ek maak ’n fout, en ek sal mense beter moet lees. Nie almal is wat hulle voorgee om te wees nie.
Milandie Grimbeek, 32, haarstilis, Beaufort-Wes
Milandie is die afgelope drie jaar reeds met Francois Barnard getrou. Hulle het twee hondekinders, Mila en Chloe.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Dit was nog altyd my droom om vir ’n werklikheidsprogram in te skryf waar ek saam met mense aan ’n spel deelneem en uitgedaag word.
Plaasjapie was ’n program wat al die boksies getiek het. Ek het ook geweet dit sal my as mens uitdaag en laat groei. Ek wou aan myself bewys dat ek tot soveel meer in staat is as wat my denke my toelaat.
2. Beskryf jouself
Ek is ’n vriendelike en spontane mens. Ek is lief vir mense en het ’n omgeehart vir ander.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Van my sterkpunte is my vriendelike geaardheid en dat ek met enige persoon oor die weg kan kom. Ek voel ek kan ’n lekker atmosfeer skep.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek hoor, maar luister nie altyd so mooi nie. Soms kan ek ongeduldig raak. Tydens die maak van die reeks het ek ook geleer ek kan partykeer ’n verkeerde keuse maak deur my emosies te volg eerder as om na my hart te luister.
Zanie van Rensburg, 53, gewese gim-eienaar en nou sporttoerusting-verkoper, Pretoria
Zanie is die ma van twee seuns en ’n dogter: Benhard (27), Zanre (24) en HJ (20).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek hou van enige uitdaging, veral van uitdagings waar ek nie presies weet wat om te verwag nie. Fisieke uitdagings is natuurlik my gunsteling. Ek is lief vir die natuur, diere en om buite in die son te wees. Plaasjapie is een van daardie unieke programme waar jou fisieke, strategiese en emosionele vermoë op die proef gestel word.
Eerstens het ek ingeskryf uit nuuskierigheid om te kyk of ek dit so goed sal kan doen as wat ek dink ek kan. Ook om te sien hoe ek op ’n groep vreemde mense van verskillende oortuigings, ouderdomme en ander waardes as ek reageer.
Tweedens het ek ingeskryf omdat ek graag wou wen.
Derdens was dit met die hoop dat julle my sal raaksien as iemand uniek, iemand wat ’n voorbeeld kan wees vir ander en mense kan inspireer om anders te dink oor ouderdom. ’n Mens is nooit te oud om nuwe dinge te probeer nie. Dis mensgemaakte idees dat sekere goed taboe is op ’n sekere ouderdom.
2. Beskryf jouself
Ek is energiek, lewenslustig, aktief, positief, eerlik, eenvoudig, opreg en iemand wat lief is vir die lewe en alles met oorgawe doen. Ek glo in God en is dankbaar vir my kans in die lewe om ’n verskil op aarde te maak. Ek is mal oor sport.
Ek is doelgerig en gee nie maklik moed op nie. Ek pak goed met oorgawe aan en doen niks halfhartig nie. Ek dink ek is ’n goeie voorbeeld van ’n groepsindividualis. Verder steur ek my nie aan blaffende klein hondjies nie. I don’t sweat the small stuff.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Behalwe vir die logiese (my fisieke bydrae) het ek betroubaarheid en hardwerkendheid na die spel toe gebring.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek haat kosmaak. Ek steek dit moeilik weg as mense my irriteer en kan ook nie voorgee dat ek van iemand hou as ek nie van hulle hou nie. Ek is ook nie ’n baie goeie luisteraar nie en ek vat lank om emosioneel oop te maak. Ek het nie baie simpatie met mense nie.
Anelda Price, 24, finalejaarstudent in maatskaplike werk, Parow-vallei
Anelda is tans in ’n verhouding en hoop om vanjaar haar graad te verwerf.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek gaan nou baie eerlik wees: Ek’t vir Plaasjapie ingeskryf vir die prysgeld, want wie kan nie doen met ’n miljoen nie?
Ek hou daarvan om dinge te doen wat buite my gemaksone is, en ek het geglo hierdie gaan ’n belewenis wees. Een aand, toe dink ek by myself: “Anelda, jy het niks om te verloor nie. Doen dit net en kyk hoe ver jy kom.”
2. Beskryf jouself
Ek sal myself beskryf as ’n mense-mens. Ek hou ongelooflik baie van gesels, veral as ek weet al die aandag is op my. Ek is baie spontaan en moes leer om nie altyd die kamer te vul met my groot persoonlikheid nie.
Ek hou ongelooflik baie van lag, ek is baie avontuurlustig, en ek hou van nuwe uitdagings. Boonop is ek ook iemand wat nie stil kan sit nie.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek beskik oor goeie sportmangees, alhoewel die ander span my so erg geïrriteer het tydens uitdagings. Dit was dalk maar net die fighter in my wat uitgekom het, want ek hou nie van verloor nie.
Ek het spoed gebring met my lang bene en het baie van die hardloopwerk in die reeks gedoen. Hulle het my nie baie vertrou om die ander werk te doen nie. Toe dit wel my beurt was om myself te bewys, is daar vir die eerste keer gesê dat ek nou eers my sterkpunte wys. En ek is like, “Nee girl, julle het my nooit speelkans gegee nie.”
Ek het deursettingsvermoë na Plaasjapie gebring, al wou ek ná die eerste aand reeds handdoek ingooi. Elke dag het ek net vir myself gesê: “Anelda, kyk net hoe ver jy kan kom.”
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek sal nie sê ek het enige slegte eienskappe na Plaasjapie toe gebring nie. Ek sal wel bieg dat ek daar geweldige druk ervaar het. Daar was dae wat ek gedink het: “Sjoe, Anelda, jy’s nie goed genoeg om hier te wees nie.”
Ek het ook ongelooflik baie gehuil, selfs al is ek nie iemand wat maklik huil nie. Dit wys jou maar net meer oor hoe ek die omstandighede beleef en ervaar het.
Jannie Holsthyzen, 20, voorraadverkope by ’n motorhandelaar, Wonderboom-Suid
Jannie is enkellopend.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het vir Plaasjapie ingeskryf om vir myself en vir my pa reg te bewys, naamlik dat ek enigiets kan doen wat ek met volle toewyding aanpak. En natuurlik sou R1 miljoen my groot toekomsplanne ’n stewige hupstoot gee.
2. Beskryf jouself
Ek sal myself beskryf as iemand wat baie vriendelik is, self soms dalk té vriendelik. Ek is baie energiek en positief, hardwerkend en weet wat ek in die lewe wil bereik.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek voel ek het energie en positiwiteit gebring.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek dink ek is soms te vriendelik en ook ’n people pleaser. Dit is iets waaraan ek hard probeer werk om te verander.
Pieter Gouws, 28, meganiese ingenieur, Kaapstad
Pieter sê hy weet dis skokkend, maar hy is nog ’n alleenloper.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Om op ’n plaas te werk en te bly is iets wat ek al van kleins af doen en maklik kan doen vir ’n lewe omdat my familie boere is. Maar dis nie iets wat ek regtig sou wou doen nie, bloot omdat ek net nie daarin belangstel nie. Plaasjapie was vir my ’n manier om te bewys dat ek eintlik baie goed met plaasbestuur en -werk is, maar net omdat jy goed is met iets, beteken dit nie jy moet dit doen vir ’n lewe nie.
2. Beskryf jouself
Wel, my vriende beskryf my as ’n klandestiene gladdebek, want ek kan my in of uit enigiets praat. Maar ek is nog steeds nederig. Ek is definitief ’n ekstrovert en ’n standvastige persoon wat nie regtig verander nie. Ek hou daarvan om mense te laat lag en weet dat komedie gebruik kan word om enige moeilike situasie makliker te maak, al is dit soms ’n bietjie donker humor.
Ek sê nooit nee vir ’n uitdaging nie. Ek werk vinnig en doen goed op die regte manier sodat ek dit nie twee keer hoef te doen nie. Ek maak maklik vriende met mense. Ek druk ook my vriende om beter te wees en die regte geleenthede geskep te kry. Ek is hardwerkend en is bekend daarvoor dat wanneer jy vir my ’n taak gee, jy gerus kan wees dat dit gedoen gaan word. Laastens is ek die persoon vir wie my vriende altyd raad.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Tegniese vaardighede, leierskap, kultuur bou en om mense te motiveer, aanpasbaarheid, prioritisering, probleemoplossing, kreatiwiteit, determinasie, geloofwaardigheid, toewyding en goeie kommunikasie. Ek werk goed onder druk. Ek tel baie vinnig op hoe om met verskillende mense te werk om die beste uit hulle te kry.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek haat sukkel. So, jy kan jou net indink, want boer is alles en nog meer sukkel. Ek aanvaar partykeer te veel verantwoordelikheid, is ’n klein bietjie perfeksionisties en my gevoelens wys soms op my gesig. Ek is baie kompeterend, ongeduldig (weer eens nie die beste eienskap vir ’n boer nie) en, soos die meeste gedrewe mense, plaas ek baie druk op myself.
Liezle Wiese, 56, verkoopsverteenwoordiger en bemarker in die konstruksiebedryf, Germiston.
Liezle is met Colin Wiese getroud, en die paartjie het drie dogters: Lechien (34), Carmen (33) en Ciara (25).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het nie net vir die miljoen rand ingeskryf nie. Ek wou regtig sien hoe ver ek myself kan druk in terme van harde werk, my liefde vir die grond en my liefde vir diere.
My hele lewe bestaan uit harde werk en my positiewe gesindheid is sigbaar in alles wat ek aanpak. Ek is ook avontuurlustig. Alhoewel ek nie meer vandag se kind is nie, wou ek aan myself bewys dat ek nog hard kan werk op ’n plaas.
2. Beskryf jouself
Ek is ’n omgee-mens, ’n mense-mens. Ek sal my alles gee om mense te help, en ek sal veg vir regverdigheid. Dit is ’n groot ding vir my. My hart is groot. Ek is ’n baie positiewe mens – iemand wat glo aanhouer wen. Ek gee nie op nie, ongeag wat gebeur. Ek hou van lag, selfs al huil ek. Ek lag as ek huil. I’m the life of the party.
Ek het ook ’n crazy kant. Ek noem haar Annabel. Sy vat nie nonsens nie. Dit moet baie vat voor Annabel na vore kom. Praat reguit en praat die waarheid.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Ek is ’n baie sosiale mens, en ek glo ek het opreg omgegaan met die ander deelnemers wat vir my vreemdelinge was. Ek is ’n spanspeler. Natuurlik het ek baklei vir mense wat ek nie regtig geken het nie, al was dit ten koste van myself.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek moet my innerlike stem meer volg. Daai sesde sintuig. Ek moet leer om beter te luister. Ek werk daaraan.
Donovan Massyn, 34, senior handelsrekeningbestuurder, Pretoria-Oos
Donovan is in ’n verhouding.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek wou myself toets onder ongemaklike en onbekende omstandighede en situasies. My ma was in ’n ongelooflike groot motorfietsongeluk en sou ek wen, sou ek die geld aanwend vir haar mediese onkoste.
Die prysgeld sou nie alles dek nie, maar as ek vir haar net ’n fraksie kon teruggee, sou dit my hart vol maak. Sy leer om nou weer te loop, maar haar pad na volle herstel is nog lank.
2. Beskryf jouself
Ek is selfversekerd, spontaan en avontuurlustig. Ek sê nie sommer nee vir kos nie, maak graag grappies, is kompeterend, en ek het ’n sagte plek vir minder bevoorregte mense. Ek beskou myself ook as hardwerkend.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Selfvertroue, charisma, leierskap, inisiatief, en ek dink buite die boks.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek tree gewoonlik in as daar nie besluite geneem kan word nie, maar dit het my al aan die stert gebyt.
Danielle Reinecke, 24, somatoloog, Rustenburg
Danielle is met Darryn Reinecke getroud.
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek wou myself uitdaag. Ek voel dat baie mense my onderskat. Ek wou wys dat jy hard kan werk en fabulous lyk terwyl jy dit doen.
2. Beskryf jouself
Ek is baie sag, alhoewel ek baie loud kan wees. Ek wil met almal maatjies wees, maar as ek nie die liefde van hul kant voel nie, kan ek stil en teruggetrokke wees. Ek is so lief vir my man – ek dink nie daar is ’n vrou wat liewer vir haar man is as wat ek is nie.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
Sagtheid en om te wys ek is slimmer as wat ek lyk. Ook dat meisies met naels net so hard kan werk.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek voel maklik te na gekom. Ek sal jou nie daaroor konfronteer nie, maar ek bottel dit op en praat dan met die verkeerde mense daaroor.
Monique Hobkirk, 42, somatoloog, Nelspruit
Monique is ’n enkelma met twee kinders: Jake (14) en Amie (11).
1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?
Ek het dit gesien as ’n avontuur en iets wat buite my gemaksone is. Toe ek hoor my inskrywing was suksesvol, het dit my doelwit geword om te kyk of ek die miljoen rand kan wen.
2. Beskryf jouself
Ek is ’n mense-mens, maar ek moet eers my voete rondom vreemdelinge vind. Ek kom wel goed oor die weg met almal en het baie empatie met mense en dit wat rondom my gebeur. Ek het dit op die harde manier geleer. Verder het ek ’n goeie sin vir humor en is altyd gereed vir enigiets.
3. Wat is die sterkpunte wat jy na Plaasjapie gebring het?
My sterkpunt was my Franse roosterbrood. Dalk ook ’n bietjie botter maak. En brood bak.
4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?
Ek praat soms voordat ek dink.