Menu terloops
In Recaps & Resensies [2 Mei 2024]

‘Plaasjapie’ S2: Spanlede word al hoe vinniger die rat voor die oë gedraai – 17 goed wat jy moet weet


Persoonlikhede bots en verbrokkelende alliansies voorsien nie veel veiligheid nie in die derde episode van ‘Plaasjapie’ se tweede seisoen.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Plaasjapie’ S2: Spanlede word al hoe vinniger die rat voor die oë gedraai – 17 goed wat jy moet weet

In die tweede aflewering van kykNET se werklikheidsreeks Plaasjapie moes ’n tweede deelnemer groet. Dié keer was dit Liezle Wiese (56) van Germiston wie se Plaasjapie-drome deur Danielle se pekelpennie gefnuik is. 

Maar gaan die gees van haar “crazy Annabelle” dalk iemand anders betrek en verdere chaos in die hoenderhok veroorsaak in die derde aflewering?  

1

Eerlikheid

Danielle is vas oortuig sy het die regte ding gedoen deur haar pekelpennie ten koste van Liezle te speel.

“Ek is so bly ek het munt geslaan. Ek weet die span het miskien gedink dit was sleg van my kant af, maar ek voel daai wat ek gedoen het gister – en definitief by die Koöperasie-kuier – het laat ons almal eerlik raak met mekaar want daar is nie groepies vanoggend nie,” kom dit vol selfvertroue van die 23-jarige.

“Daar’s niemand wat praat of skinder of sleg praat nie,” gaan sy voort en sê sy is ook bly sy het die swak ketting gebreek.

2

‘Sy het nou f*kol’

So tussen die werkery deur kan Pieter nie sy onbegrip oor Danielle se aksie in toom hou nie.

“Sy weet mos nou ons almal gaan vir haar stem in die volgende ronde. Wat dan? Die odds is nog steeds in ons favour, jy weet. Ons is vier teenoor twee . . . maar ook nou . . . daai pennie is weg, jy weet? So, sy’t nou f*kol,” sê hy vir Liovian terwyl hy met die hark stoei.

Pieter is ook oortuig dat hy, Liovian, André en Michelle saam sal staan. 

“Ons is moeg vir die 23-jariges . . .”

3

‘Die hoenders kekkel, die skape blêr’

Op Groenkloof trek Riaan tot groot vermaak van sy spanmaats weg met ’n liedjie wat hy aanmekaargeflans het. Die liedjie het ’n lekker beat maar dit is half asof die skape protes aanteken toe hy sing oor hoe hulle blêr.

Monique het ook die oggend as traumaties ervaar. 

“My oë was nog nie oop nie en toe slat Riaan los in sang,” kom dit van Monique. “So. . . vandag moet hy ligloop.”

4

Opstote, hier kom Zanie

Kort voor lank word Jannie deur haar opgekommandeer om opstote saam met haar te kom doen.

“Vir die eerste keer vandat ek dink ons begin het, is ek naastenby bewus van wat aangaan,” erken sy.

“Ek is fisies en ek kom nou eers by met die strategie, maar my girl power trick is vir [om vir] hulle [te] sê ‘vat my saam. As julle my saamvat vir strength, as ek wen in die challenge, sal ek julle back’”, is haar strategie.

5

Milandie maak planne

Sy sê sy besef die swakker spelers is nou eerste in die visier met haar derde op daardie lysie en dit gaan nie vir haar werk nie.

“Vir my beteken dit ek sal ’n bietjie die spel moet omswaai na die ander kant en dit is om die sterkste spelers eerste uit te vat.”

En toe Monique haar in die hoenderhok betrek om Riaan se naam voor te stel, is dit duidelik Milandie is heeltemal aan boord met die idee. Hulle twee besluit om vir Riaan te laat gaan as Groenkloof die dag se uitdaging verloor.

Maar Milandie stop nie daar nie. Sy gaan gesels eenkant met Etienne om ook sy steun te werf. Maar het Etienne, Riaan en Jannie nie dan vantevore besluit hulle is die drie wat gaan saamspan nie? 

Dit was wat haar intuïsie vir haar laat glo het. Sy konfronteer Etienne terselfdertyd oor daardie driemanskap en hy sweer dat daar in daardie stadium nog niks vas besluit was nie.

“Toe ek jou vra, toe dog ek jy flippen bullsh*t my nou,” sê sy en kyk hom reguit in die oë. 

Dit laat Etienne kriewelrig voel omdat hy kan sien sy is ’n “vrou met ’n brein”. 

“Daai pla my verskriklik. Ek weet glad nog nie hoe gaan ek daai gooi nie want ek kan sien as sy vir my kyk . . . ek sien letterlik duiweltjies daar hardloop,” en erken dat hy haar as “iets bitter gevaarlik” beskou.

6

Nuwe mandjie, nuwe leier

Op Oranjezicht is dit Pieter wat met ’n nuwe mandjie opdaag. En vandag gaan dit daaroor om weer ’n nuwe plaasbestuurder aan te wys.

“Ek het julle gesê ek bid elke keer as ek hierdie ding trek, om nie hom [die plaasbestuurder-lootjie] te trek nie,” kom dit van ’n effe-verbouereerde Stanley. 

“Maar ek het dit nou gedoen en dit is nou maar so, en ek dink hierdie is dalk net ’n goeie dag om myself te bewys aan die span dat ek iets werd is vir hulle, my sout werd is vir hulle en dat ek iets kan beteken vir hulle,” sê hy. En natuurlik word die magtige mes ook aan hom oorhandig.

Op Groenkloof is dit ’n groot “ag, nee!” van Blue toe hy die regte (of is dit nou verkeerde) lootjie trek.

“Toe Blue die plaasbestuurderlootjie trek, toe’s ek so verlig want dit is die een persoon wat ek op die oomblik met alles vertrou, veral met die mag van die mes” sê Milandie.

7

Die ander kant van die pekelpennies

Dis Ewan wat die Groenkloofspan inlig dat die prysgeld nou R25 000 minder is omdat daar ’n pekelpennie gespeel is. Die slegte nuus sink soos ’n klip en die span is duidelik nie gelukkig met die toedrag van sake nie.

En nog erger – die prys van die pekelpennies gaan vorentoe net al hoe hoër raak!

8

’n Belonings- en uitskopuitdaging – alles in een!

Plaasjapie
Benoude oomblikke… Foto: Verskaf

Iemand gaan Koöperasie toe gaan en weer huiswaarts keer, iemand gaan Koöperasie toe gaan en nie weer terugkeer nie. Dit laat talle verstom.

Die uitdaging? Elke span gaan instruksies kry om ’n besproeiingstelsel te bou. Een persoon gaan die sproeier aanmekaar sit en vier ander gaan die besproeiingspype aanmekaar sit. Daarna word dit aan die watertenk gekonnekteer. Wie gaan dit korrek in die vinnigste tyd regkry?

Milandie en Anelda sit uit omdat Groenkloof twee meer spelers as Oranjezicht het. Pieter en Riaan takel die sproeier vir hul spanne. Kort voor lank is die pype gekoppel, maar Stanley kan nie die nodige part in die hande kry om hul besproeiingspyp aan die waterpomp te koppel nie. 

Oranjezicht boet hul voortou in en ’n radelose Pieter gryp in om hom te help met die regte part. 

Plaasjapie
Waar is daai part!? Foto: Verskaf

Intussen is Groenkloof reeds besig om die pype aan die waterpomp te koppel en dis Jannie wat die pomp aanskakel. Tot die span se vreugde kom daar kort voor lank water uit maar om suksesvol te wees, moet dit vir 10 sekondes lank werk. Maar o aarde . . . op die nippertjie verander die water na kwalik ’n druppel uit die sproeier!

“Iets is nie reg nie! Dit lyk nie soos ’n sproeier moet sproei nie,” kom dit van Ewan. Byna elke Groenklower staan met hul hande op hul koppe uit absolute ongeloof.

In ’n oomblik van paniek sit Oranjezicht hul pomp aan sonder om die watervloei oop te draai – maar dit word gou reggestel. En . . . hulle sproeier doen presies wat ’n sproeier moet doen. Oortuigend word strale water die lug ingestuur. Dis ’n groot wen vir die oranje span.

Plaasjapie
Pieter moes vinnig ingryp om sy span te red. Foto: Verskaf
9

Nou gaan daar geplant word . . .

Ewan lig die spanne in dat daar instruksies en toebehore vir ’n hidroponiese stelsel en kweekhuis by hul huise afgelaai is waarmee hul groente en kruie vir eie gebruik kan verbou. Die spanne kan dit ook installeer om hul onderskeie plase se waarde te verhoog.

Dit lei tot groot opgewondenheid onder almal.

10

Dankie!

Stanley skep ’n geleentheid om met Pieter te praat.

“Ek wil net as plaasbestuurder vandag baie dankie sê [vir] jou harde werk, jou handewerk. So, ja, ek wil net persoonlik vir jou dankie sê en ek wil vir die hele span persoonlik dankie sê,” sê hy en met die steek hy hand uit na Pieter. En hy doen die ronde om elkeen van sy spanlede te bedank vir wat hulle saam vandag bereik het.

“Ek dink hierdie was die ope geleentheid gewees. Ek dink die Vader van Bo het my ’n geleentheid gegee vandag om vir myself te bewys want ek het hard gewerk.”

11

Dit gons op Groenkloof

Milandie voel emosioneel terug by die plaashuis. Sy glo Jannie teiken haar en sy’s onseker of Etienne werklik sy voet in die deur het.

“Eerlikwaar, Jannie se persoonlikheid is besig om my onder te kry op die oomblik,” erken sy half tranerig aan Etienne. “Dit voel vir my – en ek mag oorsensitief wees – maar baie dinge, hy laat my super dóm voel. Dit is die vibe wat ek optel.”

Etienne sê hy kan sien “so baie dinge vreet aan Milandie” en hy kry eintlik lekker. “Ek moet seker nie, want ek hou actually van haar. Ek weet nie hoe kry ek lekker as sy hartseer is nie. Maar, sy vertel vir my hoe nail Jannie haar op alles. Letterlik elke liewe ding wat gebeur, pla haar vandag.”

Hy voel hy het haar suksesvol gerusgestel tydens hulle gesprek. 

“Om een of ander rede wíl ek met daai girl hierdie game speel, maar die wantroue met Milandie is definitief nie weg nie. So, ek hou vir haar – van álmal – die fynste dop,” sê Etienne.

Later, tydens ’n gesprek met Riaan, Jannie en Zanie sê Etienne: “Milandie is baie calculated en baie clever en sy gaan vir ons almal ore aansit met baie dinge. Sy’s die ene, die enigste een, wat die heeltyd besig is met iemand anders.”

En so verf hy ’n groot teiken op Milandie se rug . . .

12

Koöperasie-kuier vir aankope

Op Oranjezicht moet daar besluit word wie die span na die Koöperasie gaan stuur vir hul beloning. Danielle het vroeër vir Stanley gevra of sy dit kan doen, en hy deel die versoek met die hele span. 

Niemand gee werklik om oor wie gaan nie en al wat Danielle beweer sy wil doen, is om vir die span iets lekkerder as “bully-beef en so” te bekom.

Dis ’n baie verbaasde Ewan wat haar by die Koöperasie verwelkom, veral in die lig van die vorige aand se stemmery. Hy verduidelik ook aan haar dat wat sy kies, aan haar gekoppel word. Sou sy uitgestem word, verdwyn die prys saam met haar.

Sy kan kies tussen ’n Husqvarna-byl, slaapsakke, ’n toeknyprooster, kampstoele, ’n watertenk wat in hul kruiwa pas of ’n hele “koffie-situasie” wat uit ’n koffiepot, suiker, koffie en beskuit bestaan . . . daagliks.

Terug by die huis vertel Danielle vir die span die goeie nuus. Dis nou daagliks boeretroos vorentoe tot waar Danielle uitgestem word. En sy speel daai kaart met dodelike presisie.

13

Is daar ’n lig in Groenkloof se tonnel?

Jannie is besig om ook vir Anelda om te krap. Sy maak ’n voorstel om van die verbindings van die tonnel om te ruil en word uitgelag daaroor.

“Jannie is ’n bietjie te gemaklik. En hy skuil ongelooflik baie agter Etienne en dis wat ek nie kan verdra nie want ons is almal groot en ons soek almal ’n regverdige spel.”

14

En Jannie? 

“Van die begin af wil ek die game speel hoe ék dit wil speel. Ek weet ander mense gaan nie wil nie. Natuurlik voel Milandie en Monique, wie ook al, ons is bedreigings. Ek stem saam. Ons is bedreigings,” kom dit vol selfvertroue van sy kant af. “Ek voel nog steeds die sterkes moet bly want ons verdien om te bly.”

Intense fluisteringe van Etienne in Blue se oor rondom Milandie maak hom baie deurmekaar. 

“Laaik, ek weet nie wat om te dink en wat om te voel nie, want Team Blue se vooruitgang in die game is wat ek eerste moet stel. So, ek is op die draad in die middel van die draadkamp, Kamp Milandie of Kamp Etienne. Watter een van die twee kampe gaan vir Team Blue die verste vat,” wonder Blue.

Hy erken ook dat die vriendskap tussen Riaan, Jannie en Etienne hom bekommerd maak. Dit laat hom soos ’n buitestaander voel terwyl die drietal al hoe sterker word. 

Gaan Zanie dalk die troefkaart wees? Blue verduidelik aan haar dat Etienne se spel hom ongemaklik laat voel omdat hy vir homself speel en nie vir die res van hulle nie. Dis duidelik ’n moeilike besluit vir haar om te maak. 

Ten spyte van dié knyptang-situasie het Blue nog sy ander wapen: ‘die mag van die mes’. Maar gaan iemand weer ’n pekelpennie, teen watter prys dit mag wees, speel?

15

Die gevreesde Koöperasie-kuier

Na ’n strammerige begin, wil Ewan weet of daar gestem gaan word om die span vorentoe te neem en sterk te hou, of om persoonlike verhoudings te kweek en te bou. Anelda omseil sy vraag en sê dat die span na vanaand sal uitvind wie werklik vertrou kan word.

“Ek wil hierdie game speel soos hy gespeel moet word. Op die ou einde voel ek die sterkste persoon moet wen, ek wil hê die jongmense moet sien jy kan wen en lewe om die spel te speel. Jy hoef nie mense in die rug te steek nie,” is Jannie se reaksie.

Blue reageer vinnig hierop.

“[Jannie] sê dat hy voel dit is iemand wat sterk is wat verdien om te wen en in sy mind is die sterk, glo ek, waarvan hy praat fisiek sterk. Maar sê byvoorbeeld vir my is dit iemand wat sterk breinkrag het, wat ek voel verdien om dit te wen,” sê hy terwyl Jannie sy kop ontkennend skud en hy sê hy het “sterk” bedoel in enige kapasiteit.

16

Stemtyd

Wie gaan geweeg en te lig gevind word? Gaan iemand dit waag om ’n pekelpennie ter waarde van R30 000 te koop in ruil vir sout en ’n kans om in die spel te bly?

Riaan is eerste aan die beurt om te stem. En sy duim wys afwaarts . . . En Blue, laaste aan die beurt, span die ‘mag van die mes’ in.

Drie emmers word eenkant gehou. Drie mense het stemme ontvang: Riaan, Jannie en Milandie. Maar die skok: Iemand het munt geslaan!

Die persoon wat nie hul sout werd is nie, is Jannie. Riaan laat sak sy kop in sy hande, duidelik ontstig deur die nuus.

Die nuus dat die pryspot nou tot R915 000 gedaal het, is ook onwelkome nuus.

“Groenkloof, gaan dink oor wat vanaand hier gebeur het. Kry julle ritme reg!” is Ewan se boodskap aan die span.

17

Jannie groet

“Kyk, my pa het my geleer om te staan by wat ek sê, en ek is nie vir ’n oomblik spyt oor hoe ek gespeel het nie. Ek wens ek kon hom bietjie meer trots maak, maar ek is happy oor hoe ek dit gedoen het. 

“Ek gaan nie nou gaan lê nie. Dis nie hoe my pa my geleer het nie, dis nie wat ’n sterk mens doen nie. Die lewe is onregverdig. Dit is maar so. Ek gaan opstaan môreoggend . . . die lewe gaan aan.

“My pa is my beste pal, en [op] ’n manier voel ek hy’s hiersô. Hy vat saam met my die shot. Ek hoor sommer klaar hoe sê hy vir my ‘Boeta, ag, life happens. Lek jou wonde en staan op.’ En dis presies wat ek gaan doen.”

Volgende keer

Wie bullsh*t vir wie op Groenkloof? Gaan Milandie agter die kap van die verraderlike byl kom? Iemand is in groot poef . . . En iemand is lui!


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies