“Lottoland help ’n dorp vra vir dorpe om hul besigheidsplanne in te stuur, ons kies ’n dorp en besoek hulle met ’n groen koevert en na ses weke kom ons terug om te kyk wat het hulle met hul droomprojekte aangevang,” verduidelik Maryke Haywood, bemarkingshoof: Lottoland SA, oor hierdie unieke kykNET-reeks.
Dis jou dorp
Alhoewel baie mense van Brandvlei gehoor het, het baie min nog by hierdie dorpie in die Noord-Kaap besoek kom aflê.
“Hier is baie min. Dis plat. Dis asof jy so ’n bietjie op ’n ander planeet amper is. Daar’s ’n stilte, daar’s ’n rustigheid wat jou ook vang. En dis mooi,” sê sangeres en programaanbieder Leah.
“Brandvlei is wonderlik – liefdevolle mense, mense wat nog respek het vir mekaar, mense wat ómgee. Almal ken almal op hierdie dorp. So, dít is Brandvlei,” vertel Christo Slambee, Hantam Munisipaliteit: Raadslid en speaker.
“Ek is lief vir Brandvlei want die mense soos ’n familie mos. En dis vir my ’n stilte hiersô,” sê Mietjie Sas, gemeenskapslid.
“Ons is ’n dorpie wat mekaar . . . rêrig, ons staan mekaar baie, baie by. Die een ouer se probleem is die ander ouer s’nne,” kom dit van Eva Bester, gemeenskapslid.
“Dis droog, jy moet aan alles gewoond raak, jy moet alles trotseer. Die koue winters, die warm somers. Maar vir my is dit baie lekker om hier te woon omdat dit baie rustig is,” kom dit met erre wat al te lekker rol vanaf Christolene Markus, ’n gemeenskapsontwikkelingspraktisyn van die departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Theresa de Vries, projekleier, vertel dat hierdie ’n gemeenskap is waar die droogte hoogty vier, maar “as dit die jaar reën, dan kry jy nie ’n mooier wêreld as hiersô nie en die gras staan soos ’n koringland”.
Kykers sal Theresa herken as ’n Kokkedoor-deelnemer, natuurlik beter bekend as Tannie Skuinskoek van die eerste seisoen van dié trefferreeks in 2013.
“Sy is die lieflikheid self,” kom dit van Leah nadat die twee mekaar ontmoet het. “Sy is daai absoluut sprankelende mens wat hard wil werk, wat hard kan baklei ook. En sy het hierdie dorp ingeskryf en sy’s reg om regtig verandering in hierdie dorp te bring. Sy doen al klaar.”
“My bynaam was ‘Tannie Skuinskoek’ (op Kokkedoor) en dit is nou nie wat julle dink dit is nie,” laat Theresa met ’n flonkering in die oog hoor. “Die skuinskoek is ’n tradisonele soet, diep oliegebraaide mosbolletjiedeeg wat op ’n spesifieke manier gesny is.”
Lekker mense
“In 1980 het ek ’n pos in die Kalahari gehad en toe ry ek hier verby. Toe dink ek, ‘Hiér wil ek regtig nie begrawe lê nie’,” vertel sy tot groot vermaak van Leah.
“En toe, in 1981, toe kry ek ’n pos hiersô. En einde ’83 is ek hiersô getroud.”
Sy vertel Brandvlei is soos enige plattelandse dorpie waar dit die mense is wat van die plek maak wat dit is.
“Ek het altyd gedink sulke klein dorpies is vreeslik kliekerig, maar jissie . . . dit is vreeslike lekker mense gewees. Maar o hel, dit is vreeslik droog gewees. En dit is stof. As die westewind waai, dan het jy nou nie rêrig baie sin vir Brandvlei nie want dan kom die stowwe hier van die see se kant af. Maar jissie, dis ’n heerlike plek om in te bly,” sê Theresa.
Sy beskryf Brandvlei as spartaans en die naaste dorp, Calvinia, is ’n allemintige 150 km van hier. Upington is die ander plek.
Grootwordjare en plaasjare
“Toe ek by my ma-hulle in die huis gebly het . . . ek het niks gedoen nie. Ek lieg nie vir jou nie, ek het niks gedoen nie. Ek het nie my bed opgemaak nie, ek het nie ’n eier vir myself gebak nie.
“So, toe ek plaas toe kom – toe is ek nou letterlik by die diep kant ingegooi. Jy leer aanpas. Jy leer goed vir jouself maak. As jy nie nou roomkaas het om ’n kaaskoek te bak nie, dan gaan YouTube jy, of jy google hoe maak jy jou eie roomkaas,” vertel Theresa oor die omwenteling wat haar lewe deurloop het.
Voorheen en nou
Sy vertel vir Leah dat daar in die verlede ’n lewendige gemeenskap, en selfs ’n tennisklub, jukskei, kompetisies en “al sulke goete” in Brandvlei was.
“Maar, ag weet jy, die verval van ’n dorp gebeur mos nou nie oornag nie,” sê sy. En die plaaslike NG Kerk-dominee, Jan Grobbelaar, beaam dit en opper die kwessie van plattelandse ontvolking as ’n bydraende faktor.
“Hier’s ’n groot klomp werkloosheid, so die armoede is ook groot. Die droogte het hierdie gebied so seergemaak want dit was nege jaar droogte, toe bietjie reën en nou al weer twee jaar droogte, wat dit vir almal maar baie moeilik maak op die dorp en op die plase,” sê hy.
Sowat 50 km buite Brandvlei is die plaas waar jy andersins vir Theresa sal aantref.
“Sleg grondpad . . . ingeval die departement kyk,” laat sy skalks hoor. “Maar ek werk met die arm mense van die gemeenskap. En dit was jong mense en dit was ou mense. Jy leer hulle ’n bietjie life skills en toe het ek en mev. Markus ’n sopkombuis begin.
Vir Leah is dit wonderlik dat die mense wat verbystap, vir hulle groet en ook vir Theresa komplimenteer op die goeie werk wat sy doen.
“Jy kan nie help dat jou keel sommer net toetrek nie,” sê Leah.
“Brandvlei is my hart se punt. My kinders het hier grootgeraak, ek het oud geword hier. Met ál sy probleme wil ek nêrens anders wees nie. My kinders kan vergeet om my by ’n ouetehuis te kry,” kom dit ferm van Theresa.
Help, Lottoland!
Die gebrek aan ’n kleuterskool in Brandvlei het Theresa genoop om dié dorpie in te skryf vir Lottoland help ’n dorp.
“Toe het ek maar net gedink ’n behoefte is ’n gemeenskapsentrum,” vertel sy oor hoe haar aanvanklike kleuterskool-idee vlerke bygekry het.
Leah verduidelik dat Brandvlei se inskrywing vir Lottoland help ’n dorp baie uniek was.
“Dit is nie noodwendig om die dorp te verfraai of toerisme te bevorder of meer mense tot die dorp te kry nie. Dit is eie net vir die gemeenskap en vir die dorpsmense. Die kindertjies moet ver stap, en omdat hulle so ver moet stap, gaan hulle nie skool toe nie.
“En as dit eers op ’n klein ouderdom begin waar daar probleme kom en hulle kan nie skool toe gaan nie, watter probleme gaan hulle nie ondervind in die toekoms nie?” is Leah se kwelling.
In 2022 het ’n klein tornado Brandvlei getref. Die kleuterskool se dak het in die slag gebly en die kinders sonder ’n heenkome gelaat. Verder is die kleuterskool naby aan die hoërskool, maar dis ver van die woonbuurt af.
Theresa verduidelik aan Leah dat haar hele idee daarop gemik is vir ’n netjiese gebou omdat baie van die geboue in die dorp vervalle is en dat daar niks in die dorp is wat mooi is nie. En sy wil graag ’n mooi spasie tot stand bring.
“Ek dink as ons dit mooi maak, gaan die mense miskien ’n bietjie hoop kry en hulle gaan miskien mooi sorg ook vir hulle, vir die dorp verder om dit netjies te hou en so aan,” is Theresa se wens.
Sy noem ook dat die sopkombuis net 54 m² beslaan met een toilet, ’n baie basiese kombuis en ’n pakkamer. Die grootste pluspunt is dat die gebou ’n dak het.
Maar Theresa droom van ’n kombuis wat groot genoeg is sodat daar funksies in die gemeenskap aangebied kan word.
“Aangesien ek nou die Kokkedoor is, het ek nou gedink sal ek hulle nogal graag wil oplei,” sê sy.
“Almal van ons moet seker iets nalaat wat jy darem kan wys jy het gedoen vir jou gemeenskap. En ek is mos nou nie alleen in die ding nie.
“So, dat ons groepie wat gedink het daaraan – dat dit ons legacy miskien is wat hier kan staan. So, dis die grootste begeerte wat ek het,” sê sy met ’n stem wat skielik dun klink.
“Ek glo dis die kinders, die jeug, wat die gemeenskap moet vorentoe vat en daarom moet daar iets geplant raak vir hulle, la’t hulle dit kan natgooi en nie net kan sien dit groei nie, maar la’t hulle ook weet waarvandaan kom dit en hoekom moet dit groei la’t dit kan vrugte dra,” wens Maria Christians, projeklid.
“Die roosboom wat jy vandag plant, kan môreoggend uitgetrek wees. Jy’t al daai moeite gehad, so ek wil ’n gebou staangemaak het. Nie net vir my nie, ek is mos nie die enigste een wat daarvoor aansoek gedoen het nie. Ons is ’n groep mense en dis uit en uit ’n gemeenskapsprojek,” sê Theresa.
Die groen koevertjie
Theresa kon nie haarself keer nie. Toe Leah daai groen koevertjie na vore bring, beland haar hand outomaties voor haar mond in verbasing.
“Ek het dan gedink dis eers later,” kom dit van haar. Want in die verlede het Lottoland help ’n dorp eers die dorpe besoek en daarna ’n besluit geneem oor wie ’n koevertjie verdien en wie nie.
Maar na haar ademlose “rêrig” kom lê die blydskap diep oor die bewilligde R480 000 vir Brandvlei.
Leah het ook maar gesukkel om haar trane in bedwang te hou. Toe Theresa haar eie asem terugkry, begin sy lag en sê: “Ek gaan nou sommer ’n gin & tonic drink,” en Leah dink sy het self ook nou een nodig . . .
Ses weke later
“As jy verby Bos 3 ry en links draai by Klip 5, kry jy vir Brandvlei,” is Leah se rigtingwyser na dié klein dorpie in die Noord-Kaap.
“Kyk, my man sê mos ’n bom kan agter my ontplof dan sal ek net omkyk. So, ek skrik nie sommer vir dinge nie. Rêrigwaar. Want as jy vir jou worry oor iets, dan kom als ook tot stilstand. Jy kry niks gedoen nie. So, nee, ek gaat mos net aan,” kom dit van Theresa.
Maar met Leah se aankoms, erken sy hulle het net 99% van die projek afgehandel na ’n laatnag die vorige nag en vroeg op om alles skoon te maak en reg te kry vir die Lottoland help ’n dorp-span se inloer.
Sy het sterk op die plaaslike mense gefokus met die besef dat bouwerk nie haar forté is nie. Volgens haar het baie van die mense ingespring en kom uithelp.
“Ons het gebou, ons het geteël, ons het geverf, ons het ge-revamp, ons het ’n muur uitgebreek in die kombuis,” begin sy afrits watter ongelooflike take reeds die afgelope ses weke vermag is.
Leah is baie beïndruk met alles wat gedoen is en sê die gevoel van gelukkigheid om die gebou is opmerklik.
“Dis nader vir ons as ouerse vir ons kinderse want [die kleuterskool] was ver uit die dorp uit gewees, en daar’s baie ouerse wat moet werk toe en dan’s hulle baie kere laat om by hulle se werk uit te kom.
“Ek waardeer dit wat gedoen is en ek vertrou die ouerse sal ôk kyk na ons plek en dan ons kleuterskooltjie dan kan oppas,” kom dit in heerlike streeksdialek van ’n gelukkige ouer.
“Ek sê ôk nou maar dankie vir julle vir julle se opkoms vir die werk wat julle gekom doen het. Was dit nou nie vir mev. Theresa gewees nie, dan dink ek nie dit sal gebeur het nie. Sy’s eintlik – kom ek sê dit nou – ’n riem onder ons harte gekom word met die gebeurtenis hiersô,” loof nog ’n inwoner vir Theresa en wat vermag is.
Gaan groot, gaan braai
Wat kan nou lekkerder wees as om die 45 mense wat vir ses weke lank intens by die projek betrokke was, te trakteer op ’n heerlike braai?
Die rieldansers het heerlik kom stoftrap en die skoolkinders het gewys die ritme loop diep.
Ná die dag se feestelikheid verklaar Theresa ewe plegtig dat wanneer die Lottoland-span die dorp verlaat, sy seker gaan maak daar’s ’n dubbele gin & tonic: “Pienk tonic – met ’n sambreeltjie op.”
En Leah? Sy wil terugkom Brandvlei toe – vir die braaibroodjies!
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.