Menu terloops
In Recaps & Resensies [13 Okt 2022]

Jakarandastad se ‘Real Housewives’ vol streke


Hoewel van die ander plaaslike weergawes van die ‘Real Housewives’-franchise taamlik flou was, beloof die Jakarandastad se rykes om vir veel meer vurige drama, streke en skandale te sorg.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Jakarandastad se ‘Real Housewives’ vol streke
Kyk lokprent

’n Lewe so luuks soos die housewives van Dubai. Persoonlikhede so vurig soos die housewives van New York. Drama wat selfs die housewives van Beverly Hills se wenkbroue sal laat lig… Tog is hulle so eg Suid-Afrikaans soos kan kom – en boonop Afrikaans.  

Dis reg, daar is ’n splinternuwe groep Real Housewives in Suid-Afrika. Hierdie keer is dit die vroue van die Jakarandastad wat ons monde gaan laat oophang met heftige argumente, luukse voertuie en herehuise in Die Real Housewives van Pretoria

Vanaf 13 Oktober sal kykers agter die hoë mure van Pretoria se rykste woonbuurte kan loer soos die reeks Renske Lammerding, Marié Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco, Mel Viljoen en Rhona Erasmus se weelderige doen en late volg. Lees meer oor hulle hier.

Met groot bankbalanse kom daar egter ook ewe groot (of selfs groter) persoonlikhede, groot mode-oomblikke en nog groter gevegte.

Wie wil nou nie sien hoe die rykes lewe, maar soos ons lot “gewone” mense stry nie?  Ek is mal oor ’n stukkie Housewives-drama en volg die Real Housewives-franchise al vir jare. Van die destydse Salt Lake City-weergawe tot die meer onlangse Dubai-reeks. Enige iemand wat sê hulle stel nie belang nie, het obviously nog nooit ’n volle reeks gekyk nie. Dit is immers soos ’n motorongeluk. Jy weet jy moet nie eintlik kyk nie, maar ons almal draai tog ons vensters uit nuuskierigheid af. En dan wonder ons hardop oor wat op aarde hier verkeerd geloop het… 

Een van die kassie se lekkerste guilty pleasures

Die Housewives-franchise is beslis een van my guilty pleasures

As ek ’n Real Housewives-reeks kyk, verwag ek uitspattige partytjies, diamante in plaas van diamanté-stickers as versiering op hul naels, en ’n klerekas wat so reusagtig soos ’n huis is. Ek wil nie housewives in gewone woonstelle sien nie en ek wil ook nie vir hulle in Greyton sien vakansie hou nie. Dít is te veel soos ’n gewone Saterdag. Ek wil aspirational entertainment kyk wat my van my gat af wil laat opstaan en iets doen, sodat ek ook op daardie vlak van luuksheid kan kom. Ongelukkig was ek dus nog nie deur ’n plaaslike Real Housewives-reeks beïndruk nie, maar op hierdie vlak kry die Pretoria-vroue al reeds volpunte in my boek. 

Hierdie vroue het styl en elkeen se huis lyk soos iets uit Architectural Digest. Toe Mel in die eerste episode vertel hoe hul sypaadjies in Woodhill Estate “elke lewe oggend ge-steam clean” word, het ek gedink: “Nou praat ons!” My sypaadjie word skaars gevee, maar dalk sal ek ook eendag iewers woon waar hulle my sypaadjies steam clean. Hul klerekaste is vol ontwerpersklere, jy sal definitief nie Cucci inplaas van Gucci in hierdie kaste kry nie. 

En dit is nie net die vroue wat uithang en wys nie, soos Kiki verduidelik. Sy is met die sakeman, Malcolm “Fokken” Wentzel getroud. Die man van haar drome en die man wat jy dalk voor wens omdat hy nog meer as sy kan shop.

Statige skinder

Nog ’n plus in my boekie is die feit dat die vroue in Pretoria almal in dieselfde sosiale kringe beweeg.  Hulle mag dalk nie almal mekaar persoonlik ken nie, maar hulle het darem al van mekaar gehoor. Dit is baie belangrik as jy regte drama en spanning wil sien. Dit is hoekom die internasionale reekse so gewild is en hoekom ek dink hul rolverdeling so goed werk. Hoe kan hulle van mekaar skinder, as hulle nie regtig mekaar ken of sien nie?

In sommige van die ander plaaslike Real Housewives-reekse, het die vroue nie eens mekaar geken nie en dit het die storielyne summer laat flop. Dit het dikwels gevoel asof die drama en stryery geforseer is. Hierdie groep is egter statig… So moet nie sommer in die eerste episode ’n groot ontploffing verwag nie, al het sommige van hulle definitief nie op hul monde geval nie. Maar moet nie deur hul manicures en hoëhakke geflous word nie! Jy beter hul manne, kinders en besighede uit jou mond uit hou, of daar is moeilikheid. 

Eerste episode dui op bekgevegte in die toekoms

Sonder om te veel weg te gee, kom die vroue in episode een vir ’n stokvel bymekaar. Moenie worry nie, die geld word nie vir hulle ingesamel nie – dit is natuurlik vir liefdadigheid. Maar een van die vroue wou toe weet watter vroue om die tafel nie regtig ryk is nie en wie hul huis geërf het. Sjoe, praat van ’n ongemaklike oomblik. Dit het gelyk asof sommige van die meisies se oë uit hul kop uit wil val van skaamte en selfs ek sou net daar gesê het die aarde moet my maar insluk. Dit is natuurlik waar dié seisoen se spanning begin en nou wag ons maar om te sien hoe vinnig hierdie vroue live and let go en of hulle die tipe is wat eerder kwaaivriende wil wees. 

Vandat ek hierdie franchise begin kyk het, het ek besef hoe kleiner jou bankbalans, hoe minder die stres. Want al het die vrouens op sulke reekse (oënskynlik) alles wat hul harte begeer, is dit maar vrek moeilik om regte vriendskappe te bou… Dalk selfs moeiliker om dan daai vriendskappe te behou.

Hulle gaan wel op eksotiese vakansies en woon die een cocktail party na die ander by, maar daarmee saam kom hope stres en drama. Ek mag nou wel in Mosselbaai eerder as die Maldives vakansie hou, maar minstens kan ek ontspan as ek op die strand uitstrek.

So kom ons sien of hierdie vroue ook die tonge gaan laat klap en harte wen soos die 12 Amerikaanse, 19 internasionale en 23 ander spin-offs van hierdie gewilde werklikheidsreeks. 


Skakel om 20:00 elke Donderdagaand in op kykNET (DStv-kanaal 144 en op DStv Online). Kliek ook hier om te sien waar jy die ander Housewives-reekse op die oomblik kan stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies