In die nuwe Afrikaanse realiteitsreeks, Plaasjapie, verruil 18 Suid-Afrikaners die stadslewe vir ’n back-to-basics-leefstyl en ding mee vir ’n paar vol petroltenke (óftewel R1 miljoen). Plaasjapie begin op Donderdag 14 Julie om 20:00 op kykNET en die aanbieder van die program is Ewan Strydom, wat reeds ’n bekende gesig op die kassie as mede-aanbieder van die joernaalprogram, Bravo.
Die nuutgevonde plaasjapies, wat van Kleinmond tot Kriel kom, bestaan uit mans en vroue tussen die ouderdomme van 24 en 55.
In die reeks moet hulle kaalhand ’n verskeidenheid boerdery-aktiwiteite en uitdagings, wat hul uithouvermoë of wilskrag toets, aanpak – sonder katoeters of moderne tegnologie.
Plaasjapie is op ’n oop stuk grond van vyf hektaar op ’n plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus verfilm.
Só werk die reeks
- Twee spanne krap hul onderskeie potjies in afsonderlike kampe op die plaas.
- ’n Leë skuur met bykans geen geriewe nie, dien as slaapplek en beskerm deelnemers teen die natuur se elemente: son, reën, koue, wind, goggas en baie stof. Deelnemers bad in ’n skottel en moet daagliks hande-arbeid verrig terwyl hulle nuwe take baasraak. Soos die spanne krimp, word die werk ook net al hoe meer.
- Om as die wenspan aangewys word, verskil van episode tot episode. Met sommige van die uitdagings is dit die span wat eerste klaar is, terwyl daar in ander episodes beoordelaars is om die wenners te bepaal.
- Elke episode kry iemand in die verloorspan die trekpas.
- Daar word ook in elke episode ’n nuwe spanleier aangewys.
- Die leier van die wenspan sal ook per uitdaging ’n “luuksheid”, waaruit die hele span kan voordeel trek, kies. Maar as die persoon wat die betrokke luuksheid (enigiets van ’n beter matras tot warm water) gewen het dan in ’n latere episode uitgestem word, verloor die hele span die voordeel daarvan.
- In die finale episode sal daar twee deelnemers wees wat sake vir die miljoen rand uitspook.
Wie’s wie
Esteban, 24 – Krugersdorp, Gauteng
Esteban is ’n sielkundestudent en ’n Springbok MMA-vegter. Hy beskou homself as hardwerkend, lojaal, sosiaal en ’n spanspeler. Hy hou nie van mense wat heeltyd negatief is nie en sien uit daarna om homself op die proef te stel in Plaasjapie.
Jurie, 44 – Kriel, Mpumalanga
Jurie is ’n diep gelowige musikant wat musiek maak by sy kerk. Hy beskryf homself as ’n entoesiastiese en optimistiese planmaker wat nie daarvan hou om te verloor nie. As hy nie die gereedskap het om om iets te doen nie, bou hy sommer die gereedskap en hy sien baie daarna uit om die gejaag van die stad vir die natuur van die plaaslewe te verruil.
Roché, 30 – Kaapstad, Wes-Kaap
Roché is ’n model wat vir Plaasjapie ingeskryf het omdat hy eintlik nog altyd ’n boer wou wees. Hy hou daarvan om homself gereeld fisiek tot die uiterste te beproef en is passievol daaroor om mense te help om hul potensiaal te bereik. Hy is opgewonde om buite te werk en om mense se persepsies van modelle te verander.
Cecil, 40 – Kaapstad, Wes-Kaap
Cecil is ’n mense-mens wat nie sommer met ander baklei nie, maar hy hou nie van beterweterige tipes nie. As ’n oefening-instrukeur is hy ’n harde werker wat nie bang is om sy hande vuil te maak nie. Hy beskryf homself as passievol, gedrewe en kompeterend – hy het immers al drie keer die Comrades-maraton voltooi. Hy sien uit daarna om met plaasdiere te werk.
Laurika, 46 – Kleinmond, Wes-Kaap
Laurika, of Lollo soos haar virende haar noem, is ’n apteker wat ewe mal oor braai as haar lewe is. Sy hou van ’n uitdaging en om uit haar gemaksone te wees en beskryf haarself as “lewensliewend” en vasberade. Sy het grootgeword op ’n plaas in Ellisras.
Kayla, 24 – Vereeniging, Gauteng
Kayla is ’n kranige liggaamsbouer wat al derde gekom het by die SA Kampioenskappe en ook deelgeneem het aan die Wêreldkampioenskappe in Ecuador. Sy hou van skubaduik en is passievol oor diere, wildslewe en Suid-Afrikaanse tradisies en kulture. Alhoewel sy nie enige ervaring van plaaslewe het nie, werk sy gereeld met perde en sien uit om die stadsgeraas te ruil vir die geluid van sonbesies en die reuk van varsgesnyde gras en hooi.
Arthur, 37 – Boksburg, Gauteng
Arthur is ’n kreatiewe direkteur en entrepreneur wat openhartig is oor sy geestesgesondheid en behoefte om minderbevoorregte gemeenskappe aan die kunste bloot te stel. As trotse gay man beskou hy homself nie as ’n tipiese “oopgesig boerseun” nie maar erken dat hy al ’n paar harte gesteel het. Hy wil sien of Plaasjapie sy persepsie van homself sal verander.
Billy, 43 – Pretoria, Gauteng
Billy staan gereed vir enige uitdaging, is lief vir avontuur, en is die Guinness Wêreldrekordhouer vir die meeste Marmite eet. Hy is ’n getroude gesinsman met twee seuns en beskou sy familie as sy grootste sukses. Die grootste uitdaging wat hy al oorkom het, was sy stryd teen kanker. Hy hoop om daardie selfde deursettingsvermoë na die plaas toe te bring en sien uit na die stilte en natuurlewe.
Gerda, 56 – Brackenfell, Wes-Kaap
Vir Gerda is opgee eenvoudig nie ’n opsie nie. Sy beskou haarself as een van die dapperste mense wat sy ken en is bereid om enigiets te doen om haar kinders te beskerm en te versorg. Sy slaap graag onder die sterre en hou daarvan om vroeg op te staan en fisiek hard te werk. Sy is in haar hart ’n natuurmens.
Deon, 29 – Saldanha, Wes-Kaap
Deon hou daarvan om homself te versorg en het nie ooghare vir mense wat hom oordeel op grond van hoe hy lyk en ruik nie. Hy beskou homself as baie dapper ten spyte van sy vrese en hou daarvan om probleme op te los en homself uit te daag. Hy sien uit om die vryheid en natuurlewe op die plaas te geniet.
Marius, 45 – Kimberley, Noord-Kaap
Marius is ’n soldaat in die SANDF, maar is spyt dat hy nooit sy droom om ’n rugbyspeler te word, verwesenlik het nie. Hy het as kind grootgeword op sy oupa se plaas en het kosbare herinneringe van perde versorg saam met sy oupa. Hy wil graag eendag sy eie plaas hê en terugkeer na daardie lewe.
Suzette H, 55 – Kroonstad, Vrystaat
Suzette is ’n huisvrou en ma van vier en beskou haarself as ’n hardwerkende spanspeler en raakvatter. Sy sê graag haar sê en gee nie om as mense dink sy is voorbarig nie. Sy sien baie uit na die uitdagings van die plaaslewe en is dankbaar sy het na die stemmetjie geluister wat vir haar gefluister het om in te skryf om aan die reeks deel te neem.
Stefan, 23 – Pretoria, Gauteng
Stefan beskou homself as spontaan, avontuurlustig en dapper en gryp graag ’n uitdaging aan. Hy is baie trots op sy graad in internasionale politieke studies en om as 20-jarige gevra te word om ’n maandelikse rubriek vir ’n Afrikaanse koerant te skryf. Hy wou nog altyd aan ’n werklikheidsreeks deelneem en sien Plaasjapie as die perfekte geleentheid om sy liefde vir die buitelug en natuur uit te leef. Die enigste ding waarna hy nie uitsien nie, is om vroeg op te staan omdat hy glad nie ’n oggendmens is nie.
Leo-Nene, 30 – Centurion, Gauteng
Leo-Nene is ’n grimeerkunstenaar en huisvrou wat met niks minder as die beste tevrede is nie. Sy beskou haarself as goedhartig, vroulik, kreatief en vol hoop. Sy hou daarvan om nuwe dinge te probeer en die feit dat sy op skool geboelie is, het van haar ’n sterker mens gemaak. Sy sien uit na die harde werk op die plaas en om die vrugte van haar arbeid te kan aanskou.
Dian, 29 – Pretoria, Gauteng
Dian is ’n kunssinnige man met ’n oog vir detail. Sy stryd met spondylitis (’n vorm van artritis) het hom sterker gemaak en is hy trots op sy deursettingsvermoë. Hy wil graag aan sy broers, wat rugbyspelers en liggaamsbouers is, wys dat alhoewel ’n boer dalk ’n plan kan maak, maak ’n kunsman twee. Hy is uit-en-uit ’n stadsmens.
Suzette I., 30 – Randburg, Gauteng
Suzette steur haar nie aan nonsens nie en beskou haarself as ambisieus, veerkragtig en ’n sterk leier. Sy lees mense goed en kan hulle maklik laat dink dat hulle die besluite maak. Sy het ingeskryf vir Plaasjapie omdat sy lief is vir die natuurlewe en probleemoplossing.
Bean, 39 – Langebaan, Wes-Kaap
Bean is ’n musiekpromotor en avontuur-entrepreneur wat homself as ’n prettige planmaker en raakvatter beskryf. Hy hoop dat hy beroemd raak deur aan Plaasjapie deel te neem en dan sy bekendheid te gebruik om liefdadigheidswerk te doen. Hy sien baie uit na die uitdagings op die plaas maar dink die vroeg-opstaan gaan hom glad nie pas nie.
Elton, 41 – Klerksdorp, Noordwes
Elton is ’n bouer en nutsman wat lief is vir kook en graag na sy gesin omsien. Hy was al ’n paar keer as rugbyspeler as man of the match aangewys en beskou homself as hardwerkend, vasberade en ’n planmaker. Hy sien uit daarna om meer te leer van die plaaslewe.
Kyk Plaasjapie vanaf Donderdag, 14 Julie, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) op DStv Online.