Menu terloops
In Features [19 Aug 2025]

10 jaar van Showmax  


Dis nou al tien jaar sedert Showmax op 19 Augustus 2015 die TV-landskap in Suid-Afrika vir ewig verander het. Van ‘Tali’s Wedding Diary’ tot ‘Wyfie’ – hier is ons keur van tien oorspronklike Showmax-stories. 

10 jaar van Showmax  

Toe Showmax tien jaar gelede geloods is, was dit enig in sy soort wat stromingsplatforms in Suid-Afrika betref. Trouens, dit het selfs groot platforms soos Netflix en Amazon Prime Video voorgespring (albei het in 2016 hier geloods). Só ook Apple TV+ (2019) en Disney+ (2022).  

Sedert Showmax se ontstaan het dit nie net internasionale kykstof deel van hul aanbod gemaak nie – daar is ook nuwe, oorspronklike reekse en films geskep. En dít het só meer geleenthede en groei vir plaaslike storievertellers geskep. Hier is tien sulke stories wat onlosmaaklik deel van Showmax se oorsprongsverhaal geword het. 

1

Showmax se eerste oorspronklike reeks, Tali’s Wedding Diary, volg die Sandton-poppie Tali soos sy haar troue in Kaapstad beplan. Dié fokdokumentêr, geskep deur Suzelle DIY se Julia Anastasopoulos en haar man, Ari Kruger, het nie ’n kykerrekord opgestel nie, maar ook vyf Safta-toekennings opgeraap, waaronder vir beste komedie en beste Aktrise vir Julia. Dit het ook die weg gebaan vir Showmax se eerste geskrewe drama, The Girl From St. Agnes in 2019. Nog twee Tali-uittogte het uit dié sukses gespruit – Tali’s Baby Diary (2021) en Tali’s Joburg Diary (2022) – en nog nege Safta-toekennings is ingepalm.

2

Dié agtdelige reeks was Showmax se eerste oorspronklike drama wat vir internasionale verspreiding gekies is. Die reeks speel af in ’n spogskool in die KwaZulu-Natalse Middelland en draai om die geheimsinnige dood van ’n gewilde student, Lexi (vertolk deur Jane de Wet). Die polisie hanteer die saak as net nog ’n tragiese ongeluk, maar die skool se drama-onderwyser (Nina Milner) kry snuf in die neus…

3

Devilsdorp (2021) 

Devilsdorp, Showmax se eerste oorspronklike ware misdaaddrama, is ’n angswekkende blik op die invloed – en gevaar – van charismatiese leiers.

Dit speel tussen 2008 en 2019 in Krugersdorp af en draai om ’n kultusleier, Cecilia Steyn, wat as ’n meester-manipuleerder haar volgelinge oortuig het om namens haar 11 mense te vermoor. Christenskap en satanisme word teen mekaar afgespeel, en ons ontmoet die familielede wat ná hul geliefdes se moorde deur Steyn se kultusgroep, Electus per Deus (Uitverkies deur God), sukkel tot verhaal te kom.

Die storie het ’n Safta-toekenning vir beste dokumentêr gewen, en ook die fondasie gelê vir Showmax om ’n tuiste vir topklas-ware misdaadreekse te word. Reekse wat ná Devilsdorp gevolg het, sluit in Steinheist, Rosemary’s Hitlist en Tracking Thabo Bester.

4

Met Sex in Afrikaans se debuut in 2022 het Christiaan Boonzaier in sy resensie vir Terloops geskryf dat dié dokumentêre reeks loshande as Suid-Afrika se mees omstrede TV-inhoud gedoop kan word. 

In die dokkiereekse se ses breedvoerige en deeglik nagevorste episodes is Afrikaanssprekendes en seks onder die loep en kry kykers ’n kykie na dít wat werklik in die diepnag agter dié geslote deure gebeur.

“Die dokumentêr wentel om die sielkundige en seksuoloog Bradley Daniels se openhartige seksgesprek met vier Afrikaanse paartjies en twee Afrikaanse enkellopendes, wat nie net hul eie seksuele voorkeure en ervarings deel nie, maar ook uiteenlopende menings gee oor die sekskepades waaraan ander Afrikaanssprekendes hul hand waag.”

Dié gesprek word afgewissel met onderhoude met sekswerkers, swingers, dominatrixes, ’n fopdosser, ’n dungeon master (jy sal maar self moet kyk), mense wat soos babas aantrek vir hul seksuele plesier en ander wat vollengte latex-pakke verkies… Daar wag ook sekspoppe, mummifikasie, en ’n opwip-sekswinkel in Parys (die een in die Vrystaat). Naakte waarhede uit die monde van mense soos Loslyf-stigter, Joe Theron, en Luvland-eienaar, Patrick Meyer, word ook gedeel. Basically – as dit enigsens iets met seks te doen het, gaan jy dit in dié dokkie sien.

5

Glasshouse (2022)

Glasshouse speel af nadat The Shred, ’n virus wat demensie veroorsaak, die mensdom laat rondswerf soos diere wat niks uit hul verlede kan onthou nie – nie eens wie hulle is nie. Midde dié krisis, skuil ’n gesin in ’n lugdigte glashuis, maar as ’n vreemdeling opdaag, word hul lewens omgedolwe. 

Die fliek, wat deur Showmax tesame met Local Motion Pictures, en in samewerking met Crave Pictures, vervaardig is, het uiteindelik vyf Safta-toekennings gewen. 

Riëtte van der Wat het só in haar resensie van die fliek geskryf: “Die prent, uit die pen van die Amerikaanse regisseur Kelsey Egan en Emma Lungiswa de Wet, is eweneens gotiese- en erotiese riller; wetenskapfiksie; post-apokaliptiese-gesinsdrama en ʼn stuk feministiese kommentaar. Die narratief het ʼn soort tydloosheid wat deur Egan se sterk regie  en die mistige, byna dromerige kinematografie van Justus de Jager ingeklee word… ʼn Mens kan dae lank oor die veelvlakkige betekenislae van Glasshouse bly herkou… ʼn rolprent wat nie net baie goeie dinge vir die plaaslike bedryf voorspel nie, maar ook ʼn storie wat ons gemeenskaplike geheue uitdaag en ons uitdaag om ons eie herinneringe te bevraagteken.”

6

Spinners (2023)

Spinners, wat 8 November 2023 op Showmax premiere, volg Ethan, ’n 17-jarige motorbestuurder wat vir ’n bende op die Kaapse Vlakte werk. Ethan moet sy jonger broer onderhou, maar hy word toenemend gewalg deur die bendelewe, en ontdek ’n moontlike uitweg via spinning, ’n ekstreme motorsport waar hy sy bestuursvaardighede beter kan gebruik. Maar met ’n bende-oorlog op hande, kan hy sy lewe vinnig genoeg omkeer?

Spinners, ’n ko-produksie tussen Showmax en CANAL+, het die eerste reeks uit Afrika geword wat gekies is om in kompetisie by Canneseries te wees; die reeks het drie toekennings by Dakar Series gewen, insluitend beste TV-reeks, en het ook op die 29ste Shanghai-televisiefees die prys vir die beste buitelandse televisiereeks gewen. Rozanne Els skryf in haar resensie van die reeks vir Terloops: “Daar is geweldig baie detail wat in elke episode se vertelling met die kyker gedeel word. Om meer oor die storielyn uit te brei, sou beteken om daardie filmiese vrygewigheid te bederf. Jaco Bouwer se onberispelike aanleg as kunsregisseur kry hier nuwe gestalte.”

Die tweede seisoen is ook in die pyplyn – na verwagting sal dit in 2026 beskikbaar wees. 

7

Donkerbos (2023)

Donkerbos is deur die bekroonde storieverteller Nico Scheepers geskryf en geregisseer. Scheepers is ook vir sy magiese werk op Nêrens, Noord-Kaap bekend. Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo.

Erica Wessels (van Dwaalster en I Am All Girls) vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder wat drie jaar tevore onder ’n donker wolk uit Pretoria ná ’n rampspoedige ondersoek gevlug het. Nou moet sy dié haglike saak probeer ontsyfer. 

Dié reeks het twee Safta-toekennings, waaronder vir beste regie, asook drie Silwerskermtoekennings (Edwin van der Walt vir beste akteur, Erica Wessels vir beste aktrise en Nicole Holm vir beste byspeler) gewen. 

8

Wyfie (2024)

Wyfie, oor ʼn groep universiteitsvriendinne, speel af by die Pantera-koshuis van die denkbeeldige Eike-universiteit. Oor die loop van twee seisoene het dié bekroonde Afrikaanse telenovela die plaaslike TV-landskap se grense getoets, geskuif en ten goede verander. 

“Die Afrikaanse universiteitsdrama Wyfie het kykers uit die staanspoor geboei met die reeks se realistiese uitbeelding van jong vroue se universiteitservaring,” het Tarren-Lee Habelgaarn oor Showmax se eerste Afrikaanse telenovela geskryf toe die reeks tot ’n einde gekom het. 

“Die storielyne het dikwels vir emosionele tuimeltreinritte gesorg, maar só ook kon kykers met die karakters, wat veelvlakkig, deurdag uitgeplot en waarlik herkenbaar is, vereenselwig. Die balans tussen fiksie en realistiese raakpunte is grootliks te danke aan Wyfie se talentvolle skryfspan, ja, maar oor die verloop van die reeks se twee seisoene het die akteurs geloofwaardige gestalte aan hul karakters gegee. Van Shay, Amanda, Kyla en Mia en kie is, om dit anders te stel, mense gemaak.”

9

Catch Me A Killer, ’n ko-produksie tussen Showmax en Duitsland se Night Train Media, is  ’n klassieke underdog-verhaal wat draai om die ware verhaal van Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius. Micki is immers die enigste vroulike profiler in ’n oorwegend manlike polisiemag. Boonop is hulle diep agterdogtig oor die hele konsep van sielkunde en dink om die moordenaars te probeer verstaan, is eerder ’n mors van tyd en hulpbronne. 

Die reeks is gegrond op Micki – hier vertolk deur Charlotte Hope – se gelyknamige memoires, en sien hoe dié forensiese sielkundige oor die loop van tien episodes op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag maak. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.

10

Koek (2024)

In die Afrikaanse Showmax-reeks Koek het die voormalige Binnelanders-aktrise Cindy Swanepoel ’n loopbaanbeste vertolking gelewer. En nee, dis beslis nie ’n storie oor gebak nie. As die Kaapstadse huisvrou Christelle Smit vermoed dat haar man ’n affair met ’n ontkleedanseres genaamd Candi Floss het, neem haar ondersoek haar binne ’n wêreld wat hemelsbreed verskil van die noordelike voorstede-utopie waarmee sy bekend is. 

Rozanne Els het in haar resensie vir Terloops oor die reeks geskryf: “So briljant soos Christiaan Olwagen se teks en Johannes Pieter Nel se regie en oog, is dit die rolverdeling wat hier katjie van die baan is. Die spel is deur die bank boeiend – veral waar ons akteurs sien in rolle wat baie onverwags is. Clayton Evertson en Jacques Bessenger lewer vertolkings wat heerlik anders en pret is, met Sandra Prinsloo wat as die bendebaas/matriarg/bekommerde en gefrustreerde ma Moekie, ’n helse job doen. Llandi Beeslaar as haar dogter, Stephanie, gaan vir jare – if not forever – vir dié rol en haar amper bomenslike vaardigheid om die kompleksiteit te speel sonder om ’n grap daarvan te maak – onthou word… En waarlik ’n loopbaanbeste vertolking vir Cindy Swanepoel wat haar karakter se rondomtalie transformasie met abandon aanpak.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies