Wat maak van ons méns?
Is dit die stories wat ons onder mekaar vertel van ons komvandaan? Die mense wat van ons weet en ons onthou, lank nadat ons reeds weg is? Die geskiedenis en herinneringe wat aan ons alledaagse bestaan sin gee, al maak níks eintlik sin nie? Ons gemeenskaplike geheue wat deur jare oorgedra is? Of die dinge wat ons eerder wil vergeet?
Dalk sou dít wees hoe die ongewone gesin van vyf in die fantastiese Suid-Afrikaanse fliek Glasshouse hierdie vraag sou beantwoord.
En dalk ook nie, want hulle hou die kaarte van enige maklike antwoorde heeltemal te styf teen hulle bors.
Die matriarg, Mother (Adrienne Pierce), oudste suster Bee (die Britse aktrise Jessica Alexander), middelsuster Evie (Anja Taljaard), kleinsus Daisy (die nuweling Kitty Harris) en hul broer Gabe (Brent Vermeulen) kap ʼn bestaan uit in die glaskonservatorium waarna die titel verwys.
ʼn Virus in die lug het die wêreld soos ons dit ken tot niet gemaak. The Shred, soos die toksiese virus bekend staan, stroop mense van hul herinneringe wanneer dit ingeasem word. Mettertyd is al wat oorbly ʼn leë dop. Slagoffers word niks minder as diere nie.
Gabe is aan die virus blootgestel en ʼn mens sien hoe hy stadig maar seker wegkwyn, ten spyte van sy pogings om iets van homself te behou.
Buiten die stukkie groen waar Mother en haar kroos ʼn boerdery in die kleine koester, het gʼn lewendige dier of ding oorgebly nie. Hulle bevrug die groente en vrugte wat hulle verbou met die hand.
In ʼn lugskoot aan die begin van die fliek sien ʼn mens die dor, ongenaakbare landskap al om die konservatorium se klein woud. Verder word niks verklap van die wêreld daarbuite nie, want die gesin waag dit nooit buite die grense van hul klein oase nie. Vreemdelinge wat dit te naby aan hul veilige hawe waag, word voor die voet geskiet.
Totdat Bee eendag huiwer. Sy besluit om nié ʼn gewonde vreemdeling (Hilton Pelser) se lewe te beëindig nie.
ʼn Bedreiging kom die veilige hawe binne.
Jessica Alexander as die karakter Bee.
Dinamiese skryfspan wat menswees blootlê
Glasshouse is die eerste van drie distopiese-flieks wat Showmax in samewerking met Local Motion Pictures en Crave Pictures vervaardig het. Die regisseur is die Amerikaner Kelsey Egan, wat haar in 2007 in Kaapstad gevestig het. Greig Buckle is die vervaardiger.
Die prent, uit die pen van Egan en Emma Lungiswa de Wet, is eweneens gotiese- en erotiese riller; wetenskapfiksie; post-apokaliptiese-gesinsdrama en ʼn stuk feministiese kommentaar.
Egan en De Wet het die draaiboek tydens die eerste inperking geskryf en die benouendheid en onsekerheid van daardie tyd het ingesypel tot in die wêreld van Glasshouse.
Hulle is ʼn dinamiese skryfspan met ʼn duidelike visie en ʼn sterk, internasionale stem wat veel meer aandag behoort te geniet. Hier is iets om oor opgewonde te raak: Suid-Afrikaanse rolprentmakers wat verby die clichés kyk en met ʼn vars, nuwe stem die kompleksiteite van ons menswees blootlê.
Tydloos en anderwêrelds
Die prent is geskiet by die Pearson-konservatorium in Gqeberha, ’n nasionale monument wat in Skotland gemaak is en in 1882 in die St George’s Park opgerig is.
De Wet het in die omgewing grootgeword en het vir jare lank die Victoriaanse konservatorium as die ideale ligging vir ʼn fliek beskou.
Waar presies die glashuis in die konteks van Glasshouse geleë is, hoe lank die gesin al daar woon en waarom hulle juis dié toevlugsoord gekies het, weet ʼn mens nie.
Ook nie wanneer presies die fliek afspeel nie – dit kan in die verre toekoms wees, of dalk in die verlede, te oordeel aan die Victoriaanse uitrustings wat die gesin dra en die afwesigheid van enige tekens van moderne tegnologie.
Omdat hierdie dinge nooit uitgespel word nie, het die narratief ʼn soort tydloosheid wat deur Egan se sterk regie en die mistige, byna dromerige kinematografie van Justus de Jager ingeklee word.
Die prent, uit die pen van Egan en Emma Lungiswa de Wet, is eweneens gotiese- en erotiese riller; wetenskapfiksie; post-apokaliptiese-gesinsdrama en ʼn stuk feministiese kommentaar.
Riëtte van der Wat
Die klankbaan, deur Patrick Cannell, is meesleurend en dreigend – die dralende klanke van die tjello en viole én ʼn lied oor The Shred wat vol heimwee gesing word deur Taljaard, versterk die anderwêreldsheid van Glasshouse.
Die stelinkleding en Catherine McIntosh se kostuumontwerp skep verdere betekenis. Gestyfde Victoriaanse kappies moet beskerming bied teen The Shred, maar slegs ʼn dun serp seël die kappies. Is enigiemand dus regtig veilig?
Ek kon ook nie die verwysing na die kappies van Voortrekkervroue miskyk nie.
Mense wat in glashuise woon…
ʼn Mens kan dae lank oor die veelvlakkige betekenislae van Glasshouse bly herkou en dit is eintlik nie ʼn fliek wat ʼn mens net een keer behoort te kyk nie.
Om te veel te sê, sou egter wees om sommige van die fliek se geheime te verklap.
Leidrade, wat hier en daar soos krummeltjies versteek is, bied egter nie eenvoudige antwoorde en oplossings nie en laat die kyker ewe gedisoriënteerd as die slagoffers van The Shred.
Van die vrae wat Glasshouse slim lostorring is waar die waarheid eindig en fiksie begin. Die geskiedenis word dikwels aangepas om die tydsgees, of leiers, te pas. Wie skryf nou eindelik die geskiedenis van die konservatorium se inwoners en wat het hulle te verloor uit ʼn alternatiewe interpretasie? Is dit Mother, of die een oog koning en koningin?
Kyk byvoorbeeld fyn na die loodglasvensters in die glashuis en die verhale wat dit uitbeeld.
Die glashuis se vensters is ook lank reeds wasig. ’n Mens dink jy sien alles deur die glas, maar is dit regtig die geval?
Glas bied boonop nie juis die veiligste skuilplek nie en in Glasshouse word die vensters elke jaar geseël met gom wat gemaak is uit die beendere van die ongelukkiges wat dit tot binne die gesin se vesting waag.
En wat is nou weer die sêding oor mense wat in glashuise woon?
Is vergeet vir eie behoud?
Die gesin se makabere rituele is ʼn oorlewingsmeganisme waaraan ʼn mens swaar sluk. Die dogters hou wag vanuit ʼn boomhuis en is skerpskutters wat ʼn lewe vinnig en sonder skroom kan beëindig.
Dan word die liggame uitmekaar gehaal om onder meer as kompos vir die plante in die kweekhuis te dien (en dalk selfs as kos vir die gesin). Selfs klein Daisy doen mee aan dié grieselrige werk en alles gebeur asof hulle ʼn skaap slag. Maar, soos Bee opmerk: “There are no animals, only Forgetters.”
Waarop Evie antwoord: “Same thing, really.”
Hoe dikwels is ons nie almal bereid om selfs die samelewing se wreedste oomblikke te normaliseer ter wille van ons oorlewing nie?
Die liturgie van die gesin se rituele neem die vorm van ʼn gebed aan. Maar tot wie bid hulle werklik? En is die gesin nie maar eintlik soos ʼn sekte wat gebreinspoel is om so ’n vreemde bestaan te voer nie?
De Wet het in ’n onderhoud opgemerk die fliek spreek kwessies soos kolonialisme aan en hoe wit Suid-Afrikaners sommige dinge ter wille van hul behoud liefs vergeet. Die kolonialistiese tema is dalk nie so ooglopend nie, maar in die gestyfde kappies wat as gasmaskers beskerming teen die virus moet bied en die Victoriaanse-ligging, kan ’n mens dit tog begin raaksien.
Stille oorrompeling
Brutaliteit en sagtheid, onskuld en sensualiteit is maar net ʼn paar van die teenstrydighede wat naas mekaar in die glashuis bestaan. En al die inwoners dien ʼn doel, soos Mother in ʼn stadium aan die vreemdeling sê.
Ongemaklike temas soos bloedskande kom ook onder die loep.
Die ensemble akteurs is sterk, met veral die Britse aktrise Jessica Alexander en Suid-Afrikaner Anja Taljaard wat ʼn skerp spanningslyn tussen die susters Bee en Evie skep.
Alexander kry dit uitstekend reg om die onskuld en sensualiteit van haar karakter naas mekaar uit te beeld en as die verantwoordelike middelsuster is ʼn trek om die mond of ʼn lig van haar ken al wat nodig is vir Taljaard om die bitterheid en verlatenheid van haar karakter uit te beeld. Sy is ʼn aktrise om dop te hou.
Die jong Kitty Harris is ʼn fonds – haar eerste professionele rol was as Matilda in The Royal Shakespeare Company se gelyknamige internasionale produksie. Daisy is haar eerste fliekrol en sy vertolk haar karakter met intelligensie en amper grillerige onskuld.
Hilton Pelser verleen ʼn broeiende bedreiging met sy uitbeelding van die aantreklike vreemdeling. Daar is oomblikke wat hy nie heeltemal so geloofwaardig is as die enigmatiese verleier nie, maar in dieselfde asem sê sy uitbeelding iets van sy karakter se skaduagtige bedoelings. Hy oorrompel die gesin (en die kyker) stilweg.
Adrienne Pierce maak van Mother ʼn verbasend gebalanseerde karakter – haar streng reëls hou die gesin aan die gang, maar oomblikke van teerheid spreek van haar menslikheid.
Wat is waarheid?
Maar net soos die mense wat die glashuis bewoon is dit nie moontlik om ooit werklik agter die kap van die vleisbyl te kom nie. En dit is een van die fliek se sterkste punte: dat die kyker enduit deel gemaak word van daardie bisarre, ongemaklike wêreld waarin die waarheid net ʼn verbeelde herinnering ver is.
Riëtte van der Wat
Glasshouse is ʼn rolprent wat nie net baie goeie dinge vir die plaaslike bedryf voorspel nie, maar ook ʼn storie wat ons gemeenskaplike geheue uitdaag en ons uitdaag om ons eie herinneringe te bevraagteken.
Die ontknoping is terselfdertyd bevredigend én frustrerend, omdat dit antwoorde bied, maar ook ʼn klomp nuwe vrae laat ontstaan.
Maar net soos die mense wat die glashuis bewoon is dit nie moontlik om ooit werklik agter die kap van die vleisbyl te kom nie.
En dit is een van die fliek se sterkste punte: dat die kyker enduit deel gemaak word van daardie bisarre, ongemaklike wêreld waarin die waarheid net ʼn verbeelde herinnering ver is.
Kyk nou op Showmax.