The Tinder Swindler begin soos die droom wat dating apps aan ons almal probeer verkoop: jy vind iemand wat aantreklik én ryk is – die mens van jou drome.
Sélfs ná ’n goeie stalking-sessie op sosiale media én Google, flikker daar geen gevaarligte nie. Dié persoon, is jou slotsom, is wie hulle sê hulle is.
Maar dan, ná liefdesverklarings en praatjies van saam huis opsit, word die leuens – een meer verregaande as die ander – blootgelê.
Dís die spilpunt van verraad van die Netflix-dokke, The Tinder Swindler. En of dit nou is weens die amperse belaglike omvang van ene Simon Leviev se kullery, of omdat sekerlik die meerderheid mense met die behoefte – en soeke – na liefde identifiseer, het dié slenterslag-verhaal massas kykers gelok. Trouens, sedert sy vrystelling, boer dié dokumentêr bo-aan Netflix se ranglyste – wêreldwyd. Kykers is, oor kontinente heen, opgesweep.
Doodgewone mens, ongewone storie
In The Tinder Swindler ontmoet ons die Noorweër Cecilie – ’n doodgewone mens met ’n baie ongewone storie. Soos talle mense reg oor die wêreld, bestee sy ’n geweldige hoeveelheid tyd op die dating app Tinder in die hoop om haar “Prince Charming” te vind. Haar woorde aan die begin van die dokumentêr is amper profeties en word teen die eindtitels ’n lewensles: “One little swipe can change your life forever.”
Ná sewe jaar en 1024 Tinder-matches, ontmoet sy vir Simon Leviev. Dié keer wéét sy hy’s die een, vertel sy. Haar oë glinster soos sy terugdink. As kykers weet ons egter reeds dat hier geen gelukkige einde gaan wees nie – dís immers die premis waarop uit die staanspoor gebou word.
Simon nooi vir Cecilie na ’n fancy hotel en ná ’n koppie koffie vra hy of sy lus het om die volgende dag saam met hom oorsee te gaan – in sy private straler nogal. “Hoekom dan nou nie?” dink sy.
“YOLO” (You Only Live Once) lui die boodskap wat sy vir haar besorgde vriendinne stuur toe hulle hoor van haar planne met ’n man wat sy minder as skaars ken. Simon reël dat ’n Rolls Royce haar by die huis aflaai sodat sy kan pak om saam met hom Bulgarye toe te vlieg. (Hoe romanties). Hy vertel vir haar van sy diamantbesigheid en hoe hy in ’n Suid-Afrikaanse tronk opgeëindig het, omdat sy pa diamante vir ’n laer prys as De Beers smokkel.
Dié tweetjies is oënskynlik onmiddellik verlief, selfs al spandeer hulle slegs een aand saam. Simon is mos ’n vreeslik besige sakeman… Hy vlieg die wêreld vol – WhatsApp is die gom in hul verhouding: soen-groetjies in die oggend en in die aand, foto’s en video’s en lang voice notes. En dan die oomblik waarvoor sy gewag het: hy wil weet of sy wil kys. Maar natuurlik, antwoord Cecilie.
Meanwhile…
Intussen word ons aan ’n beeldskone blonde Skandinawieër voorgestel. Sy ontmoet vir Simon ook via Tinder, maar die vonk tussen hulle is eerder vriendskaplik as romanties. Pernilla woon in Stockholm en is gaande oor haar nuwe vriend. Sy luukse lewenstyl is ook nie te versmaai nie, en as hy haar saam met hom en sy meisie (nié Cecilie waarvan Pernilla steeds niks weet nie, eerder’n ander blondine wat blyk om ’n model te wees) nooi om saam na Griekeland te reis, pak sy eensklaps haar tassie. Daar bly hulle in duur hotelle en selfs duurder sjampanje word gedrink.
Intussen maak Cecilie reg om saam met Simon in ’n woonstel in te trek. Via video-oproepe kyk hulle saam-saam na moontlike opsies. Maar dan gebeur iets onverwags en angswekkend. Aangesien sy werk in die diamantbedryf so gevaarlik is, het Simon mos baie vyande. En nou het iemand hom met ’n mes probeer steek. Gelukkig was sy lyfwag daar en dié is die een wat gevolglik in die hospitaal beland. Hy kan nie meer sy eie kredietkaarte gebruik nie, kom die storie, want sy etlike vyande kan hom so opspoor. Daarom vra hy vir Cecilie of sy haar kredietkaart vir hom sal leen. Maar natuurlik sal sy, antwoord sy. Dít alles word gestaaf met video van die voorval wat Simon aan Cecilie stuur – hoekom sal sy dan oor sy storie twyfel?
Kom ons noem dit wat dit is: ’n Ponzi-skema so reg uit die Bernie Madoff-bybel.
Jy kan jouself net indink wat hierna gebeur. Cecilie se kredietkaarte betaal eintlik vir Pernilla se plesier. Maar later vertel Simon vir Pernilla dieselfde storie en stuur dieselfde video. Sy bied dan ook uiteindelik haar eie kredietkaarte aan sodat Simon tot veiligheid kan haas. Maar dié geld spandeer Simon egter allermins om van die “vyande” weg te kom – eerder op ’n derde vrou, Ayleen. Haar lot, soos jy kan raai, is dieselfde. Kom ons noem dit wat dit is: ’n Ponzi-skema so reg uit die Bernie Madoff-bybel.
Die vroue word uiteindelik almal die slagoffers van ’n Judaskus.
Warrehel?
Hoe hulle uiteindelik die Arabier se agtergrond onthul, is die interessantste deel van die dokumentêr. Dit dra by tot die “WTF-gaan-hier-aan?”-energie van die vertelling. Dit herinner ook aan ’n vorige dokkie deur dieselfde filmmaker, Felicity Morris, Don’t F*ck With Cats: Hunting an Internet Killer (2019). Die estetika en vertellingstyl is eenders intiem, met ’n soortgelyke warm kleurtoon wat ’n bepaalde buierigheid skep.
Nadat Cecilie besluit om haar tot die grootste koerant in Noorweë te wend om ander meisies te waarsku, word daar ’n internasionale joernalistieke ondersoek geloods. Dis juis dié in-diepte verslaggewing wat uiteindelik dié Netflix-dokkie geïnspireer het.
Wat daarna gebeur is waar dinge regtig meesleurend raak – en dit sal ek nie verklap nie. Deels sodat daar ten minste iets is wat titel nie weggee voordat jy eens “play” gekliek het nie.
Die vroue word uiteindelik almal die slagoffers van ’n Judaskus.
Dit gons wêreldwyd oor hierdie reeks met ’n ontstellende aantal mense wat dié blonde meisies as heeltemal te naïef beskou. Hulle word as’t ware die skuld vir die hele bedrogspul gegee. New Yorkers meen dat hulle byvoorbeeld slim genoeg is om hierdie tipe foppery van ’n myl ver af te sien kom. Dít terwyl navorsingstatistieke gewys het dat vroue in Florida, die maklikste hul beursies sal oopmaak vir vreemdelinge wat hulle nog nooit eers ontmoet het nie… Ook in Suid-Afrika het mense op Twitter verklaar dat hulle nooit vir so iets sou val nie.
Hoe dit ookal sy, Simon het onlangs sy eerste eksklusiewe onderhoud toegestaan. Simon sê dié girls maak al húlle stories op en hy is eintlik ’n moerse catch.
Ek weet darem nie of enigiemand daai kans moet waag nie.
Kyk The Tinder Swindler op Netflix.
Kyk ook dié dokkies:
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →