Menu terloops
In Lysie-lysie [3 Feb 2023]

Wie’s wie in die Afrikaanse dramareeks ‘Mooiweer en warm’


‘Mooiweer en warm’, ’n nuwe kykNET-reeks, het ’n rolverdeling wat spog met bekroonde akteurs wat die karakters van dié klein dorpie-drama vertolk.

Wie’s wie in die Afrikaanse dramareeks ‘Mooiweer en warm’
Kyk lokprent

Mooiweer en warm is uit die pen van die veelbekroonde skrywer Paul C. Venter, bekend vir trefferreekse soos Arende en Konings. Die storie begin met ’n klein dorpie se dominee wat instem – in ’n poging om die kerk se leë koffers effe voller te kry – tot ’n weeklikse vlooimark op die kerkgronde. Dis dan só wat ons die aweregse inwoners – met alledaagse én buitengewone dramas wat in hul lewens afspeel – leer ken.

Mooiweer en warm is deur Nagvlug Films, ook die span van Dinge van ’n kind, Nêrens, Noord-Kaap en Hotel, vervaardig. (Jy kan Nêrens, Noord-Kaap en al vyf seisoen van Hotel op Showmax kyk.)

Die regisseurs is Zandré Coetzer en Ephraim Gordon. Pieter Bezuidenhout het die titelsnit geskryf en gekomponeer en dit word deur Amanda Strydom gesing.

Maar wie is wie in die reeks? Hier is ’n kort opsomming van die hoofkarakters.

    1

    Geon Nel as Alex Kemp

    Geon Nel as Alex Kemp in Mooiweer en warm

    Alex Kemp, in sy 40s, is ’n suksesvolle organiseerder van popkonserte, vlooimarkte, ens. Hy is geskei en woon in ’n mooi huis saam met sy eks-skoonma – huh?

    2

    Brümilda van Rensburg as Sonica Winters

    Mooiweer en warm

    Sonica Winters, ’n stunning weduwee in haar 60’s, kyk mooi na haarself, is briljant met syfers, en was Alex se finansiële bestuurder voordat hy met haar dogter getrou het. Ná die egskeiding het dié twee vriende gebly en deel nou, benewens die besigheid, ook ’n huis. Ja, dít hou die skindertonge besig.

    3

    Marissa Drummond as Ds. Isabella Boshoff

    Mooiweer en warm

    Isabella Boshoff, in haar 40’s, is die eerste vroue-predikant van die kerk, en het ’n deal met Alex Kemp gemaak om elke Saterdag ’n vlooimark op die kerk se parkeerterrein te hou. Sy raak mettertyd aangetrokke tot Alex. Sy het natuurlik haar eie issues, onder meer probleme met die kerkraad wat wonder of hulle fouteer het om ’n vrou op die preekstoel toe te laat.

    4

    André Samuels as Bokkie Oktober

    Mooiweer en warm

    Bokkie Oktober is die skriba van die kerk en in sy 50’s. Dié alleenloper glo dat alles – ook ’n vlooimark op kerkgrond – volgens Bybelse reëls bestuur moet word. Hy is eensaam as hy nie met kerksake besig is nie en in die geheim koester hy ’n crush op sy dominee.

    5

    Beer Adriaanse as Meyer Basson

    Mooiweer en warm

    Meyer Basson, is ’n 30-something kerkouderling en voëlkenner wat in die berg langs die dam voëls fotografeer en skets. Dis waar hy die jong geoloog, Cezanne, ontmoet. As die vlooimark begin, kry hy ’n stalletjie waar hy met onder meer sy voëlboeke en sketse smous. Op die oog af is hy nie jou tipiese held nie, maar hy word Cezanne se ridder teen die bose magte.

    6

    Carla Smith as Cezanne Dippenaar

    Mooiweer en warm

    Cezanne Dippenaar is ’ n geoloog in haar 20’s. Sy het haar hele familie in ’n ongeluk verloor en so ryk geërf dat sy nie hoef te werk nie, maar sy volg in haar geliefde geoloog-pa se voetspore en probeer haar bes. Sy is obsessief oor haar werk en dit dra daartoe by dat die bestuur van Geo Solutions haar nie ernstig opneem nie. Snags, in die ontsaglike familiehuis waar sy nog steeds – stoksielalleen – woon, spook haar familie by haar.

    7

    Susan Danford as Hannah Brand

    Mooiweer en warm

    Hannah Brand, in haar laat 40’s, is die bestuurder van Geo Solutions waar Cezanne werk. Sy is van Engelse afkoms en nie getroud nie. ’n Pligsgetroue, goeie mens wat onder politieke en finansiële druk swig, en nie meer van haarself hou nie.

    8

    Jacques Theron as Dieter

    Mooiweer en warm

    Dieter, in sy 30’s, is ’n geoloog by Geo Solutions. Hy is getroud, met kinders. Hy is bang dat iemand soos Cezanne die maatskappy sal sink en dat hy sy werk sal verloor. Dit maak hom gevaarlik.

    9

    Carlo Daniels as Ruben Arendse

    Mooiweer en warm

    Ruben Arendse, in sy 20’s, is ’n toegewyde en slim weerkundige met ’n ding oor sy weerballon. Eintlik is hy vreeslik gelukkig getroud en lojaal aan sy Maddy.

    10

    Athina Jansen as Maddy Arendse

    Mooiweer en warm

    Madison “Maddy” Arendse is in haar 20’s en ’n fisionterapeut by ouetehuise. Sy het ook ’n stalletjie by die vlooimark vir mense wat gou ’n seer spier gevryf wil hê. Maddy is ook ’n getroue lidmaat van die kerk en met Ruben getroud. Sy wil graag haar eie familie begin en worry dat Cezanne haar man die afgrond in gaan lei.

    11

    Antoinette Kellerman as Berta Engelbrecht

    Mooiweer en warm

    Berta Engelbrecht is ’n ou, hoogs intelligente hippie wat boom rook en boeke by die vlooimark verkoop. Almal wat tel in haar lewe is al dood, behalwe vir haar bipolêre dogter, die groot liefde en nog groter kruis van haar lewe.

    12

    Tinarie van Wyk-Loots as Aletta Engelbrecht

    Mooiweer en warm

    Aletta Engelbrecht, 40, smous sonbrille by die mark reg langs haar ma se boekstalletjie. Sy is mooi, maar ontplof ongelukkig te maklik en dan raak sy gewelddadig. ’n Afgryslike fout in haar verlede spook by haar.

    13

    Paul du Toit as Lood Momberg

    Mooiweer en warm

    Lood Momberg is ’n 40-something biker, blues rocker en tattoo artist by die mark wat ook met T-hemde en boom smous. Tog is hy die tipe wat jy aan jou kant wil hê in ’n fight. 

    14

    Deon Lotz as Willem Conradie

    Mooiweer en warm

    Willem Conradie, 50, was ’n gewilde radio-nuusleser en is bitter oor die pakket wat hy glo gedwing is om te aanvaar. Hy smous met take-aways by die mark – alles saam met sy vrou Nerine.  

    15

    Ira Blanckenberg as Nerine Conradie

    Mooiweer en warm

    Nerine Conradie, in haar 40’s, is ’n uitstekende kok en inderdaad die pilaar waarop die takeaway-besigheid rus. Willem doen basies niks behalwe om haar te verniel. Sy neem wraak met ’n affair – ’n gevaarlike affair.

    16

    Kim Cloete as Carmen Booysen

    Mooiweer en warm

    Carmen Booysen is Nerine se vriendin. Sy ken van swaarkry en maak tuisgemaakte lekkergoed en probeer dit by die mark smous. Sy is afgerem, en jonger as wat sy lyk. Sy moet vir drie kinders en haar blinde pa sorg. Die kinders se pa sit in die tronk waar hy hoort.


    Mooiweer en warm begin op Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

    Wat, waar en wanneer?

    Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

    Sien ook Meer

    Jy sal hou van:

    26

    ‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

    Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

    Meer

    Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

    Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

    Meer

    Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

    Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

    Meer

    Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

    Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

    Meer
    Sien alle opsies