Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Nov 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Groot kennis-kanonne kom kuier vir ’n spesiale episode


kykNET se ‘Wie word ’n miljoenêr’ het in vandeesweek se episode sy verjaardag gevier met van dié vasvraprogram se slimste deelnemers wat weer die warm stoel aangedurf het – die keer ten bate van liefdadigheid.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Groot kennis-kanonne kom kuier vir ’n spesiale episode

In Woensdag (6 November 2024) se episode van kykNET se Wie word ’n miljoenêr, skitter dinge omtrent, want dié program se verjaardagvieringe val saam met kykNET se 25ste verjaardag. Dis boonop ook die Engelse weergawe (Who Wants To Be A Millionaire) se verjaardag. 

Jeremy se finale antwoord

Op 6 November 1999 is die heel eerste episode van hierdie gewilde vasvraprogram op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai. Jeremy Maggs was toentertyd die aanbieder en Rian van Heerden, wat nou op daardie einste stoel sit, het met hom oor sy ervaring op Who Wants To Be A Millionaire gesels.

Jeremy erken dit was ’n lang tyd gelede, ’n tyd toe hy meer swart hare gehad het en effe slanker was. Hy dink hulle het net meer as ’n 100 episodes opgeneem en hy het elke enkele opname geweldig baie geniet.

Jeremy bevestig ook dat hulle wel ’n deelnemer gehad het wat met die miljoen rand weggestap het: David Paterson, ’n onderwyser van Gqeberha, het op 19 Maart 2000 die eerste wenner van dié program buite die grense van die VSA geword. Hy het nie die gehoor as hulplyn nodig gehad toe die laaste vraag aan hom gestel is nie.

Sou jy geweet het watter bekende musiekster vroeg in haar loopbaan as Baby Frances Gumm bekend gestaan het? David het die antwoord gegee nog voordat Jeremy die vier keuses kon opnoem. Dit was Judy Garland!

Jeremy erken sy grootste bekommernis was dat die tegniese span nie die konfetti reg sou hê nie. Selfs meer as sy kommer oor die gehoor se reaksie.

As joernalis het hy nooit gedink hy sal hierdie program aanbied nie, maar noem dat dit sy lewe onherroeplik verander het. Dis nie ongewoon vir mense wat hom elders raakloop en vra of hulle ’n vriend kan bel nie . . .

“Op my grafsteen gaan daar staan: ‘That is his final answer’, sê hy.

Ses van die bestes uit die afgelope vier seisoene

Vanaand gaan ses van die beste deelnemers hul kennis op die proef stel. Hierdie keer steek hulle egter nie die geld in hul sak nie, maar dit gaan aan verskeie liefdadigheidsorganisasies.

  1. Suzaan Hall (Kaapstad)
  2. Alet Law (Seepunt)
  3. Daan du Plessis (Kaapstad)
  4. Lynwill Martin (Stellenbosch)
  5. Theunis Strydom (Johannesburg)
  6. Susan Booyens (Fisherhaven)

Die eerste vinnigste vingers

Deelnemers moet tennisspelers in chronologiese volgorde rangskik volgens die eerste Grand Slam-enkelspeltitel wat elkeen gewen het. 

Vyf deelnemers het die orde korrek gehad, maar dis Daan du Plessis, ’n aktuaris, wat in 3.774 sekondes seker maak hy gaan sit eerste in daai vuurwarm stoel. Tydens die eerste seisoen van Wie word ’n miljoenêr het hy met R250 000 huiswaarts gekeer.

Wie word 'n miljoener
Daan du Plessis het ten bate van ’n dierewelsynsorganisasie genaamd Fisantekraal Animal Welfare gespeel. Foto: Skermgreep

Laggend vertel Daan die aanvanklike plan was om met die wengeld na Japan te gaan, maar toe bou hulle eerder ’n braaikamer. Riaan trek ’n gesig en herinner Daan dat dit oor “ondervindings” gaan, maar Daan noem dat sy vrou ook ’n sê gehad het in wat met die geld moes gebeur . . .

Die liefdadigheidsorganisasie vir wie hy speel, is ’n dierewelsynsorganisasie genaamd Fisantekraal Animal Welfare, want diere lê hom baie na aan die hart.

Hy draf die eerste vrae tot by die R10 000-vangnet in ’n oogwink kaf. Tussendeur word daar gesels oor Daan en Theunis wat al van universiteitsdae saam aan vasvra-kompetisies deelgeneem het. Theunis was destyds Daan se “Bel ’n pêl”-hulplyn.

Hy kies vraag 10 vir R50 000 as sy volgende vangnet. Die gehoor se hulp word ingeroep toe Daan vasbrand met watter insek die geelkoorsvirus oordra. Maar hulle is ook duidelik onseker. Tog kies Daan die antwoord met die sterkste reaksie uit die gehoor: Muskiet. En dis korrek.

Maar toe hy Nkosazana Dlamini-Zuma kies as die minister wat strenger rookwetgewing in 2001 aangekondig het, word hy in sy spore gestuit. Gelukkig is daar R10 000 op pad na Fisantekraal Animal Welfare.

Die tweede vinnigste vingers

Watter landsvlag het die meeste sterre op? En die minste?

Net Theunis Strydom en Suzaan Hall is in die kol, maar Theunis se vingers was vinniger met 6.348 sekondes op die stophorlosie. Hy is ’n skrywer van Johannesburg wat tydens die eerste seisoen R500 000 gewen het.

Vanaand speel hy vir Sakeliga, ’n organisasie wat plekke identifiseer waar die staat gefaal het, en dan aksie neem om dinge weer aan die gang te kry. 

Wie word 'n miljoener
Theunis Strydom het ten bate van Sakeliga gespeel. Foto: Skermgreep

Theunis beland sonder sukkel by die eerste vangnet. Hy stel sy tweede vangnet op vraag 14 vir R500 000 omdat hy glo as hy suksesvol is, die Sakeliga groot baat by die geld kan vind om dinge nog beter te maak.

Met die R500 000 wat hy sélf gewen het, kon hy doen wat hy wou: Skryf. Toe sien twee boeke die lig – een oor Capitec (Capitec: Stryd met die grotes) en ’n tweede een oor Koos Bekker (Koos Bekker’s Billions).

’n Vraag oor die afstand wat Zola Budd-Pieterse tydens twee Olimpiese Speles gehardloop het, besluit Theunis om die gehoor se hulp in te roep. Maar die gehoor is baie verdeeld en hy versoek die 50/50-hulplyn. Is dit die 3 000 – of 10 000 m-afstand? 

Nog steeds is Theunis onseker en besluit dis tyd vir “Bel ’n pêl”-hulplyn na ene Thinus, ’n wynmakervriend van hom. Hy bevestig dis 3 000 m, en Theunis besluit om met sy antwoord te gaan.

“As hy reg is, gaan ek vir hom ’n steak moet koop,” besluit Theunis en kies 3 000 m. Wel, Thinus, daar’s ’n steak in jou toekoms!

Antidorcas marsupialis is die wetenskaplike naam van die springbok. En Theunis haal die R70 000-kerf toe hy hierdie vraag korrek antwoord. 

Die bekendste lyk op Everest, dié van Tsewang Paljor, se bynaam is Green Boots, maar Theunis kies Sleeping Beauty – en met daardie verkeerde antwoord eindig hy op met R10 000 vir Sakeliga.

Die derde vinnigste vingers

Hoe goed is jou kennis van animasiefilms? Dis Alet Law wat in 4.644 sekondes die orde reg het en sy kies koers na die vuurwarm stoel. 

In die tweede seisoen van Wie word ’n miljoenêr het haar algemene kennis haar R125 000 in die sak gebring. Die organisasie vir wie sy speel, is die Alta du Toit-nasorgsentrum vir volwassenes wat intellektueel gestremd is.

Wie word 'n miljoener
Alet Law het ten bate van die Alta du Toit-nasorgsentrum vir volwassenes wat intellektueel gestremd is, gespeel. Foto: Skermgreep

Met haar korrekte antwoord oor die Rocky Horror Picture Show, haal sy die R10 000-vangnet. Alet stel haar volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000.

Sy besluit om die gehoor te vra wat Japan se nasionale sport is. Oorwegend word sumo-stoei deur die gehoor gekies en sy gaan met hulle antwoord. En daarmee skuif sy op na R20 000.

Het jy geweet Kylie Minogue en Edith Piaf het albei treffers gehad met dieselfde liedjietitels? Alet besluit om die 50/50-hulplyn te aktiveer en al wat oorbly, is Padam, Padam en No je ne regrette rien

Sy span haar laaste hulplyn in en vra vir Rian. Hy dink dis dalk Padam, Padam maar is glad nie seker nie. Alet besluit om Padam, Padam te kies. Dis korrek!

Sonder enige hulplyne oor, besluit sy om handdoek in te gooi toe sy nie weet wat die vorige naam van die Denali-berg is nie. Hierdeur maak sy seker dat die Alta du Toit-nasorg R25 000 ryker is.

Die regte antwoord is McKinley-berg – een wat sy vermoed het dit kon wees, maar nie wou waag nie.


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies