Menu terloops
In Redakteurskeuse [4 Nov 2024]

Redakteurskeuse vir November 2024


Wat om te kyk: Showmax se ware misdaad-dokumentêr, ‘The Station Strangler’, ’n blik op die legendariese F1-legende Ayrton Senna in die reeks ‘Senna’, asook die epiese ‘Dune: Prophecy’, wat die gebeure in die Oscarwenner-fliek sowat 10 000 jaar voorafgaan, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Redakteurskeuse vir November 2024

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir November 2024.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Dune: Prophecy

Weeklikse episodes, Maandae vanaf 18 November 2024 om 21:00 op Showmax. 

Dune: Prophecy speel af sowat 10 000 jaar voor die gebeure van die trefferfliek Dune (2021). Dié Oscarbekroonde fliek is op sy beurt gegrond op die gelyknamige 1965-roman deur Frank Herbert. Die reeks draai as sulks om die wortels van die Bene Gesserit wat as ’n eksklusiewe en magtige sekte ontstaan soos twee susters magte moet teëstaan wat die mensdom se voortbestaan bedreig. Die reeks is deels geïnspireer deur Herbert en Kevin J Anderson se 2012-boek, Sisterhood of Dune. Onder die indrukwekkende rolverdeling tel Emily Watson (Chernobyl), Olivia Williams (The Crown), Travis Fimmel (Vikings) en Mark Strong (Sherlock Holmes)

Redakteurskeuse, Dune
Olivia Williams en Mark Strong in Dune: Prophecy.

The Station Strangler

Stroom vanaf 6 November 2024 op Showmax.

The Station Strangler is die nuutste ware misdaad-dokumentêr vanuit die IdeaCandy-stal (Tracking Thabo Bester, Devilsdorp), en ondersoek die reeksmoordenaar met dieselfde bynaam as die dokkie se titel. Die ‘Stasiemoordernaar’, soos hy in Afrikaanse media genoem is, het na bewering 21 jong seuns en een volwassene tussen 1986 en 1994 op die Kaapse Vlakte vermoor. 

Die dokkie sluit onder meer onderhoude met familielede van die slagoffers, die saak se destydse ondersoekbeampte, JD Kotze, die forensiese sielkundige en reeksmoordenaar-profileerder, Micki Pistorius, asook dr. Allan Boesak in.

Die Sunday Times se resensie van The Station Strangler lui: “Cloete is ’n formidabele krag in Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiging, bekend vir haar onverskrokke verkennings van die land se mees roerende en onvertelde stories… Met The Station Strangler gaan sy voort om dokumentêre rolprentvervaardiging uit te daag en te herdefinieer… en voorsien sy die dokumentêr van diepe empatie en noukeurige storievertelling.”

Cross S1

Vanaf 14 November 2024 op Prime Video.

Cross is ’n misdaadrillerreeks wat jou vir jou eie skaduwee gaan laat skrik. Dié reeks is onlangs – nog voor die wêreldwye première later vandeesmaand – tydens sy eerste voorskou vir ’n tweede seisoen hernu. 

Cross draai om die immergewilde karakter uit die topverkoperskrywer James Patterson se Alex Cross-boeke. Die storie volg dus vir Alex Cross (Aldis Hodge), ’n speurder en forensiese sielkundige met al wat ’n prys en verering is op sy kerfstok, soos hy jag maak op ’n sadistiese reeksmoordernaar wat lyke oraloor Washington D.C. strooi. Maar soos Alex en sy partner, John Sampson (Isaiah Mustafa) dié moordenaar se spoor volg, keer iemand uit sy verlede terug en plaas sy lewe, loopbaan en familie in gevaar. 

Senna 

Vanaf 29 November 2024 op Netflix. 

Ayrton Senna word wyd as die vinnigste F1-renjaer van alle tye beskou. Stééds. Dit was egter nie net sy indrukwekkende prestasies op die baan wat hom só in die sport verewig het nie. Ja, dié jaer het drie F1-wêreldtitels verower, 41 resies gewen, en 80 keer op die podium geklim, maar benewens sy diepgewortelde dryfkrag en vasberadenheid beide op en van die baan af, het dié Brasiliaanse sportlegende ook ’n passie vir ’n beter Brasilië gehad en hom daarvoor beywer. 

Senna, redakteurskeuse
Gabriel Leone as Ayrton Senna in Senna. Foto: Alan Roskyn/Netflix

Dié sesdelige reeks vertel dan Senna se storie. Van sy beheptheid met motors vanaf kindsbeen, sy ongelooflike oomblikke in motorsport, die nuwe vlak van uitnemendheid wat hy in die sport gevestig het, tot die dag van sy tragiese ongeluk in Imola, tydens die San Marino Grand Prix. 

Gabriel Leone vertolk die rol van Ayrton Senna, met, onder andere, Matt Mella as Alain Prost, Gabriel Louchard as Galvão Bueno en Pâmela Tomé as Xuxa. 

Cruel Intentions S1

Vanaf 21 November 2024 op Prime Video beskikbaar. 

Planne vir ’n TV-verwerking van dié 1999-fliek het kort ná die vrystelling begin, maar ’n hele paar faux pas – en ’n terrible sequel (straight to TV, do not pass go) – het dié planne telkens in die wiele gery. Maar hier is ons nou, ’n kwarteeu later, met ’n reeks gegrond op die fliek, wat op sy beurt ’n moderne hervertelling van Pierre Choderlos de Laclos se 1782-roman, Les Liasons Dangereuses, was. 

Die reeks is ten volle in die hedendaags gevestig en speel af in Washington D.C. Die verwerking volg die elite (lees: ryk, baie, baie ryk) studente van Manchester College, waar twee stiefsibbe, Caroline en Lucien, die septer swaai. Niks blyk te erg, te ver, of te veel te wees as dit kom by hul status en hul plek heel, heel bo die sosiale hiërargie nie… Selfs nie om vir Annie Grover, die dogter van die Amerikaanse visepresident, ’n rat voor die oë te draai om hul eie basse te red nie…   

Nog voorstelle

  • Devil’s Peak, vanaf 4 November 2024 op Showmax. Jozua Malherbe se omskepping van Deon Meyer se boek speel af in die smerige, skurwe kant van Kaapstad, waar ’n rou-geteisterde pa (roerend vertolk deur Sisanda Henna) ’n bloedspoor laat wat speurder Bennie Griessel (Hilton Pelser) moet volg. Dié reeks is aanvanklik op M-Net uitgesaai.
  • Taktiek, vanaf 7 November 2024 op Showmax. Iewers in Suid-Afrika is daar ’n dorpie genaamd Schusterton. En soos enige ander dorpie in die land, het Schusterton ’n sekuriteitsmaatskappy wat na die veiligheid van die inwoners omsien – Taktiek. Daar is net twee probleme… Eerstens is Schusterton die veiligste dorp in die land waar daar min tot niks aangaan nie. Tweedens is die grootbaas tronk toe gestuur vir allerlei ongerymdhede. Só beland die sekuriteitsmaatskappy in die hande van sy dogter. Die rolverdeling sluit in Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Marion Holm, en Mandri Sutherland.
Redakteurskeuse
Mandri Sutherland en Schalk Bezuidenhout in Taktiek. Foto: Verskaf
  • Mission Impossible 1-7, vanaf 25 November op Showmax. Al sewe lokettreffers van dié wêreldberoemde franchise is binnekort op Showmax beskikbaar om te stroom. Jip, dis ure en ure van Tom Cruise in sy alombekene rol as Ethan Hunt – en die ewe bekende temalied… Dun dun, da da, dun dun, da da, dun dun, da da….

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies