Wat om te kyk op Showmax vandeesmaand – hier is ons top-keuses.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Two Sides
Two Sides, deur dieselfde span wat Chasing the Sun gemaak het, is ’n fassinerende agter-die-skerms blik op 2021 se geskiedkundige Britse en Ierse Leeus-reeks teen die Springbokke.
Two Sides speel af teen die agtergrond van Covid-19 en die pandemie se kettingreaksie-impak – ook op sport. Hier gaan dit meer spesifiek oor die Springbokke se rugbytoer teen die Britse en Ierse Leeus en hoe dié veldtog byna heeltemal ontspoor het.
Two Sides wys kleedkamer-kaskenades, ja, maar dit gee ook meer konteks tot dáái uitgelekte Rassie Erasmus viral video, klagtes oor skeidsregters, leë stadions en ’n amperse verlammende vrees vir ’n positiewe Covid-toets. Dié toer was immers volop drama op en van die veld af.
Uiteindelik vertel Two Sides vir ons veel meer as net twee kante van die storie, met hartverwarmende spelersstories wat help om die inhoud te verdiep.
Two Sides is regtig ’n moet-kyk om ’n groter begrip te hê van presies hoe merkwaardig die Springbokke se prestasie uiteindelik was.
Vanaf 1 Julie.
Kyk ook Chasing the Sun en Life Lessons from Rassie Erasmus op Showmax.
Klein Karoo 2
Agt jaar nadat Frans (Tim Theron) sy hart of Cybil (Donnalee Roberts) in die romantiese komedie Klein Karoo verloor het, verbrokkel dié twee se liefdesverhaal en Frans beland vir ’n tweede maal alleen, en met ’n gebroke hart, voor die kansel.
Dis net die begin van die slegte nuus vir Frans – dié 38-jarige dokumentêre filmmaker vind boonop uit dat hy ’n breingewas het.
Maar dan ontmoet hy vir ene Chloë, ’n beeldskone boer (vertolk deur Boer soek ’n Vrou-aanbieder Marciel Hopkins), as hy haar langs die pad teëkom waar sy ’n plaasheining regmaak.
Ook met Sisanda Henna, Leandie du Randt en Nicole Fortuin in die rolverdeling.
Kyk ook die eerste fliek op Showmax.
Vanaf 18 Julie.
Silwerskermfees-kortfilms
Al 17 kortfilms wat by vanjaar se Silwerskermfees gedebuteer het, is vanaf 18 Julie op Showmax te sien.
Onder die toppryswenners by die fees het Jordy Sank se Leemtes en Leegheid vir die beste kortfilm, beste draaiboek en die gehoorkeuse-toekenning gewen. In dié kortfilm vertolk die legende Lida Botha ’n eensame weduwee in haar 80’s wat ’n denkbeeldige weergawe van haar oorlede man skep om haar te help om haar hartseer en pyn te verdoof.
My Beskermer, ’n post-apokaliptiese kortfilm in Afrikaaps oor robotte wat op die laaste mense in die Kaap jag maak, het vir beste regisseur vir DW Smith (Diana Mills Smith) gewen. Carla Smith (Tydelik Terminaal) is as beste aktrise vir Mila Guy se Skyn aangewys, terwyl Marlo Minnaar (Troukoors) as beste akteur vir Jurg Slabbert se Aan/Af aangewys is.
Die toekennings vir beste kinematografie (Justin Youens) en beste produksie-ontwerp het gegaan aan Baber, met Irshaad Ally (Nommer 37, Four Corners) in die hoofrol. Regardt Visser het die toekenning vir beste redigering vir Die Horries gewen, en beste oorspronklike klankbaan is aan Ryno Posthumus vir Bennie Bingo toegeken.
Die res van die kortflieks is: Bergie, Bittersoet, Die Groensone, Katvis, Nagvoël, Net Ons, Sporadies Nomadies, Twintig Tone In ’n Hangkas, Verstikking, en Vrywater.
Time
Time, met Sean Bean in die hoofrol, is as beste minireeks by die 2022 BAFTA-toekennings aangewys, met Bean wat ook vir sy spel as hoofspeler gewen het.
Bean, bekend vir onder meer sy rol in Game of Thrones (en hoe hy omtrent in elke reeks of fliek waarin hy speel, sterf), vertolk die rol van Mark. Hy is ’n nuwe gevangene wat deur skuldgevoelens vir sy misdrywe oorrompel word.
Daarenteen is Eric, vertolk deur Stephen Graham, ’n tronkbewaarder wat diegene in sy sorg probeer beskerm.
Een van die gevaarlikste gevangenes in die tjoekie kom gou agter hy kan dié “swakheid” misbruik, maar dit plaas vir Eric in ’n heel nuwe penarie waarin sy beginsels en sy liefde vir sy gesin getoets word.
Time het ’n rare 100%-punt op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die kritici-konsensus lui: “Sterk skryfwerk en ’n manjifieke vertoning deur Sean Bean sorg vir ’n ongelooflike, prikkelende storie.”
Vanaf 1 Julie.
Resident Alien S2
Resident Alien vertel die verhaal van Harry, ’n wese uit die buitenste ruim gespeel deur Alan Tudyk (Rogue One, Firefly), wat op aarde land en hom dan voordoen as ’n dokter in ’n klein dorpie. Sy eintlike doel is om soveel mense moontlik dood te maak en hy begin deur onder die radar te lewe, maar dan word hy gevra om ’n moord op te los en hy besef hy gaan moet aanpas op aarde.
Die reeks is ongelooflik goed ontvang deur kykers én resensente en dis g’n wonder dat daar soveel opgewondenheid oor die tweede seisoen is nie. Niemand is blyer as terloops se resensent, André-Pierre du Plessis, wat die reeks beskryf as “perfekte, maklike kykgenot wat eintlik vir enigiemand bedoel is.” In sy resensie van die eerste seisoen, skryf hy: “Resident Alien is ’n unieke mengsel van komedie, drama en wetenskap-fiksie wat dit regkry om aanhangers in bykans elke demografie te vind.’
Ons kan maar net sê, welkom terug, Harry!
Vanaf 1 Julie.
In the Heights
In the Heights, met die veelbekroonde en geniale Lin-Manuel Miranda as een van die skeppers, is ’n sielvolle, luidrugtige viering van ’n gemeenskap wat, met ’n sueñito (klein droom) vir ’n beter lewe, hulself in Washington Heights, New York City, vestig en uitleef.
Dit is gegrond op die Tony-bekroonde musiekblyspel deur die Pulitzer-prys-bekroonde dramaturg Quiara Alegría Hudes en Miranda (Hamilton, Encanto). Die rolverdeling sluit bekende en nuwe gesigte in, waaronder Stephanie Beatriz (Brooklyn Nine-Nine), Leslie Grace en Jon M. Chu.
In the Heights het ’n punt van 94% op Rotten Tomatoes, waar die konsensus dit beskou as “’n vreugdevolle viering van erfenis en gemeenskap aangevuur deur skitterende regie en sangliedjies.”
Vanaf 21 Julie.
A Quiet Place Part 2
A Quiet Place Part II, die opvolgprent van 2018 se Oscar-genomineerde post-apokaliptiese gruwelfliek, sien hoe wesens wat op klank jag maak, nie meer die enigste bedreigings is wat die Abbot-gesin voor skrik nie.
Part II is aangewys as beste gruwel by die 2022 Critics’ Choice Super-toekennings. Emily Blunt, skrywer-regisseur John Krasinski en Millicent Simmonds keer terug, saam met Cillian Murphy (Peaky Blinders) en Djimon Hounsou.
Part II het ’n punt van 91% op Rotten Tomatoes.
Vanaf 14 Julie.
Sons of the Sea
Die plaaslike rolprent Sons of the Sea is as Beste Suid-Afrikaanse rolprent by die 2021 Durban Internasionale Rolprentfees aangewys.
Dit speel af in ’n klein vissersdorpie aan die buitewyke van Kaapstad. Roberto Kyle (Leeroy in Arendsvlei) speel Gabriel, wat ’n dooie liggaam en twee sakke waardevolle perlemoen ontdek.
Dit is die debuutfilm van die skrywer-regisseur John Gutierrez. Ook in die rolverdeling is Brendon Daniels (Skemerdans), Nicole Fortuin (Vrywaring) en die nuweling Marlon Swarts.
Vanaf 4 Julie.
Down So Long
In dié plaaslike film, woon Joseph Mabena saam met sy vrou, Doreen, hul kinders en eggenote, en hul kleinkinders in ’n oorvol huis in Hangberg in Houtbaai. Dan word hy by sy werkplek beseer en hy ontvang ’n reuse kompensasie-uitbetaling. Sy familie se gedrag verander handomkeer. Skielik is hulle oordrewe besorg oor hom en bely hul liefde in die hoop om ook van dié geld te kry.
Mabena sien deur hul vals toegeneentheid en besluit om nie ’n sent van sy “swaar verdiende” (hy het immers sy oog verloor!) geld te deel nie.
By die plaaslike kroeg ontmoet hy ’n nuwe liefde, Zelda, en hy bring haar tot die afgryse van sy vrou en kinders huis toe. Dis nie lank daarna nie wat sy vrou en kinders besluit om hom te vergiftig.
Dis half-drama, half-komedie, en ’n bitter besonderse rolprent. Veral as ’n mens in ag neem dat daar slegs enkele professionele akteurs in die rolverdeling is – die res is egte Hangbergers en verleen só ’n eiesoortige en onverwagte egtheid aan die verhaal.
Die fliek het sy première by die 2022 Silwerskermfees gehad.
Vanaf 7 Julie.
Ook nuut op Showmax in Julie:
1 Julie 2022
- The Sex Lives of College Girls (Ed’s Choice)
- Barry S3 (Ed’s Choice)
- The Investigation
- Ragdoll
- The Rising
- Ordinary Joe
- The Real Housewives of Lagos Reunion: Part 1
4 Julie 2022
- No Time To Die (Ed’s Choice)
- Fladder
- Gielie
- Kansel
- Kantlyn
- Klarinet
- Kloon
- Kuberliefde
- The Last Job
- Moordenaars Karoo
- Nuus om 6
- Outopsie S1
- Paardebloem
- Patat
- Seng’khathele S4
- Tjops vir Brekvis
- Mush-Mush and the Mushables
5 Julie 2022
7 Julie 2022
- Worth
- Blunt Force Trauma
- The Last Fishing Boat
- Season of a Life
- Uit die Slaapkamer S1
- What Lies Beneath
8 Julie 2022
- The Real Housewives of Lagos Reunion: Part 2
- David Beckham: Infamous (slegs Showmax Pro, 15 Julie op Showmax)
11 Julie 2022
- Gunpowder Milkshake
- Aangetroud
- Abazali S2
- Agent S1
- House Party 1-3
- Kloon
- Kookpunt S1
- Maya and the Bee 3: The Golden Orb
- Die Staat Teen S1
14 Julie 2022
- Anzel in die Boland S3
- India Sweets and Spices
- Nandi
- Waarheid met Max
18 Julie 2022
- PAW Patrol: The Movie
- Go Buster
- Digley and Dazey
- Little Baby Bum
- Mungoma S3
- Not The One For You S1
- Side Effects
- Those Who Wish Me Dead
- Cocomelon (ses nuwe episodes)
21 Julie 2022
- Alomtjom
- Ander
- Die Begin
- Kranksinnig
- Op Straat
- Die Smaak van Saffraan
- Sousie
- Speelkamer
- Spreekkamer S1 & S2
- Twee
- Een
- Woke
- Boer Soek ’n Vrou: The Search
25 Julie 2022
- Aangetroud
- Boetie ontmoet ’n Alien
- Date My Family S8
- The Elfkins
27 Julie 2022
- Kyk Wie Praat S2
28 Julie 2022
- The Queen S6
- The Conjuring 3