Velma
HBO Max, vanaf 12 Januarie in die VSA, plaaslike vrystellingsdatum nog onbekend
Dié animasiereeks draai om die Scooby-Doo-karakter, Velma Dinkley, en dien as ’n tipe origin story vir beide haar karakter en die vorming van Mystery Inc. Let wel, daar is niks te sien van ou Scooby-Doo in die reeks nie. Die fokus is meestal op Velma soos sy haar ma se verdwyning probeer oplos. Mindy Kaling verleen haar stem as Velma.
Vanaf 16 Januarie op Showmax. Ook op DStv (Express from the US) met weeklikse episodes wat vanaf 16 Januarie om 03:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai word met ’n heruitsending om 21:00.
The Last of Us is HBO se lang verwagte TV-verwerking van die gelyknamige videospeletjie.
The Last of Us speel af in ’n post-apokaliptiese zombie-wêreld, maar draai meer spesifiek om ’n smokkelaar, Joel (Pedro Pascal, Narcos, Game of Thrones) wat vir 14-jarige meisie Ellie (Bella Ramsey, Game of Thrones), uit ’n kwarantyn-gebied na die weste van zombie-besaaide Amerika moet karwei. Ellie is immuun tot die breinvirus wat die menslike beskawing tot op sy knieë gebring het – ’n klein bietjie hoop in ’n moeisame oorlewingstryd.
Masters of the Air
Apple TV+, vrystellingsdatum nog onbekend.
Steven Spielberg, Tom Hanks en Gary Goetzman span vir weer kragte saam vir nog ’n epiese oorlogverhaal. Die trio het ook die kragtoer-minireekse Band of Brothers en The Pacific vervaardig. Dié twee reekse het saam 14 Emmy-toekennings gewen en word wyd as twee van die beste TV-reekse nog beskou. Albei is tans op Showmax beskikbaar.
Masters of the Air is, in soortgelyke vertellingstyl, ’n historiese drama wat draai om die lede van die Amerikaanse lugmag se gevegsafdeling tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die lede van die befaamde Eighth Air Force, wat lugaanvalle in Berlyn, Hanover en Dresden geloods het, word deur onder andere die Golden Globe-wenner Austin Butler, asook Bel Powley, Freddy Carter, Callum Turner en Barry Keoghan vertolk.
Die verfilming het sowat twee jaar lank geduur, en die begroting vir elkeen van die tien episodes het tussen $20-27 miljoen beloop.
White House Plumbers
HBO, Maart-vrystelling in die VSA
Dié reeks is gegrond op ’n 2007-boek deur die skrywers Egil “Bud” Krogh en Matthew Krogh en draai nié om loodgieters nie. Die “White House Plumbers” verwys eintlik na die destydse geheime spesiale ondersoekeenheid wat daarop gemik was om te keer dat geklassifiseerde inligting aan die media gelek work. Dit was dié einste groep wat die alombekende Watergate-inbraak behartig het wat dan uiteindelik ook tot president Richard Nixon se ondergang gelei het. “Nixon’s fixers”, soos E. Howard Hunt en G. Gordon Liddy, ook bekend was, word deur onderskeidelik Woody Harrelson en Justin Theroux vertolk.
Aan die stuur van die reeks is David Mandel – hy was ook die showrunner van Veep. Die briljante Domhnall Gleeson (Run) en Lena Headey (Game of Thrones) is ook deel van die rolverdeling.
Shrinking
Apple TV+, vanaf 27 Januarie 2023
Jason Segel vertolk ’n sielkundige wat, midde die verlies van sy vrou, sy filter afskakel. Só begin hy vir sy pasiënte sê presies wat hy dink. Dit lei natuurlik tot baie “prettige” gevolge… Ook in die rolverdeling is die veteraanakteur Harrison Ford.
Daisy Jones and the Six
Amazon Prime Video, vanaf 3 Maart 2023
Daisy Jones & The Six vertel oor die (fiktiewe) rise and fall van ’n beroemde rockgroep in die 70s… Ja, dit klink darem baie asof hulle eintlik oor Fleetwood Mac praat. Daisy (Riley Keough) lyk ook vreeslik soos Stevie Nicks met daai selfde ethereal aura wat om haar sweef.
Die reeks is gegrond op die fiksie-boek deur Taylor Jenkins Reid en, soos die boek, draai die TV-weergawe om die groep se lede wat dekades later besluit om die sluier te lig en te onthul wat tot hul skielike break-up, terwyl hulle op hul gewildste was, gelei het. Die storie word vertel in ’n kombinasie van terugflitse en onderhoude – amper soos ’n kamma-dokkie.
Ook in die rolverdeling tel Sam Claflin, Suki Waterhouse, Camila Morrone, Timothy Olyphant en meer.
Queen Charlotte: A Bridgerton Story
Netflix, na verwagting Mei 2023
In dié Bridgerton-spin-off sien ons hoe Koningin Charlotte en Koning George se liefdesverhaal begin het. India Amarteifio (Sex Education) speel die rol van die jonger, maar ewe skerp en bitsige Charlotte.
The Idol
HBO, vrystellingsdatum nog onbekend
The Idol vertel oor die komplekse verhouding tussen ’n popster (vertolk deur Lily-Rose Depp) en ’n kultusleier (vertolk deur die sanger The Weeknd). Ook in die rolverdeling is Schitt’s Creek se Dan Levy, asook Troy Sivan, Sam Levinson en meer.
The Palace
HBO, vrystellingsdatum nog onbekend
Kate Winslet. Dis eintlik wat ons hoef te sê. Ná haar tower-vertoning in Mare of Easttown (kyk dit op Showmax) het ’n mens geen aanmoediging nodig om ’n Winslet-reeks te kyk nie. She’s just that good.
The Palace is, soos Mare, ’n HBO-reeks en hier dien sy weer as beide uitvoerende vervaardiger en hoofspeler.
The Palace se storie draai om die gebeure binne ’n paleis soos ’n outoritêre regering in duie stort. Die rolverdeling sluit onder meer ook die fantastiese Andrea Riseborough, Matthias Schoenaerts en Hugh Grant in.
Poker Face
Peacock, vanaf 26 Januarie in die VSA, plaaslike vrystelling nog onbekend.
Natasha Lyonne was briljant in die aweregse Netflix-reeks Russian Doll, en hier stof sy weer haar speurvaardighede af. Lyonne se karakter, Charlie, het immers die vermoë om vas te stel as iemand lieg – heel gerieflik om elke week ’n nuwe raaisel op te los.
Die reeks, bestaande uit tien episodes, is geskep deur Rian Johnson (Knives Out, Glass Onion).
Onder die ander spelers tel Adrien Brody, Joseph Gordon-Levitt, Chloë Sevigny, Jameela Jamil, Stephanie Hsu en nog.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →