Wat om te kyk op DStv in Januarie – hier is ons top-keuses.
Let wel: datums, tye en vertonings kan verander. Hierdie skedule is slegs vir SA DStv-intekenare. Vir die volledige skedule en besonderhede oor reekstye en die betrokke kanale, kliek hier.
Evita in Excelsior
Tannie Evita is 87 jaar oud en haar lewe is bitter besig. Haar drie kleinkinders, Winnie-Jeanne (19), Nelson-Ignatius (16) en LaToya-Ossewania (13) woon by haar in Excelsior – ’n ou herehuis in Johannesburg wat sy namens die ANC bestuur. Haar ou staatmaker en persoonlike assistent, Bokkie Bam, ’n voormalige hooggeplaaste in die ontbinde tuisland Bapetikosweti, kom help Evita om haar outobiografie te skryf wat lei tot ’n paar reise down memory lane… én die uitlap van ’n hele paar geheime. Maar dan’s daar nog die tieners se probleme en moderne opinies om mee by te hou. En wat op aarde is TikTok?!
Evita in Excelsior is ’n dramedie van vier episodes en in ’n dokumentêre styl geskiet. Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloë in en ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoë geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.
Die rolverdeling sluit in Pieter-Dirk Uys as Tannie Evita, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, asook Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen en Tevin Musara.
Tinarie Van Wyk-Loots het die regie behartig.
Kyk vanaf 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), op DStv Online of op Catch Up.
Boer Soek ’n Vrou S15
Die 15de seisoen van dié gewilde realiteitsreeks word weer deur Marciel Hopkins aangebied. Soos in die verlede is daar tien boere wat na die perfekte pasmaat soek. Jy kan meer oor vanjaar se boere – nege mans en een vrou – hier lees. Nuwe episodes van dié seisoen word weekliks vanaf Donderdag, 19 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Online, Catch Up en Showmax beskikbaar wees om te stroom.
Van die vorige seisoene is ook op Showmax beskikbaar.
Wie word ’n miljoener? S2
Rian van Heerden is terug as die quiz master in die nuwe seisoen van die Afrikaanse weergawe van dié wêreldbekende internasionale reeks. Van Heerden het in die eerste seisoen werk daarvan gemaak om deelnemers (en kykers) se senuwees te laat knaag soos hy met well-timed eyebrow raises of ’n skuins grinnik vir spelers in hul eie kennis en antwoorde laat twyfel het.
Wie word ’n miljoener? bly getrou aan die oorspronklike Britse Who Wants to Be a Millionaire?-formaat met deelnemers wat deur 15 meervoudige keuse-vrae moet draf tot die finale ronde.
Weeklikse episodes vanaf Woensdag, 25 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Online, Catch Up en Showmax beskikbaar wees.
Magda Louw S1
Eers was dit ’n eenvrouvertoning op die verhoog; toe word dit deur kykNET in ’n storiefilm omskep. En nou neem die Binnelanders– en Suidooster-aktrise, Desiré Gardner, se storie nog ’n vorm aan – dié van komediereeks.
Magda Louw vertel die storie van Magda en haar man Erhard, wat aan ’n werklikheidsreeks deelneem. So gebeur dit dan dat daar ’n kameraspan is wat hulle oral volg om hul lewens vas te lê.
Gardner, wat ook die naamrol vertolk, het aanvanklik Magda Louw as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 deur kykNET tot ’n storiefilm ontwikkel. Die akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk is as Erhard te sien. Die rolle van Magda se dogter, Gertrude, en seun, Baltus, word onderskeidelik deur Cintaine Schutte en Bennie Fourie vertolk. Gershwin Mias is die kameraman Shaun, wat die Louws oral heen rondvolg en diep in Magda se hart kruip.
Ook in die rolverdeling is bekendes soos Shimmy Isaacs, André Weideman, Margit Meyer-Rödenbeck, Wynand Kotze, Elzet Nel en Mandri Sutherland.
Volgens Desiré is Magda Louw ’n “tong-in-die-kies” en “knop-in-die-keel”-kykie op die onvermydelike dinge in die lewe, soos ouer word, tyd en die feit dat ons niks kan doen om die arm van die horlosie te laat stilstaan nie.
“Dit gee ook ’n blik op die uitdagings wat ma-wees bied, huweliksprobleme, hoe om jou lewenspad saam met een mens te stap, menopouse, die uitdagings van die middeljare, jaloesie en botoks,” lui ’n mediaverklaring.
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 2 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks van 13 episodes sal ook op DStv Online en Catch Up beskikbaar wees.
Three Pines S1
Dié reeks, uit die Amazon Prime Video-stal, is ’n heerlike toevlug as jy van murder mysteries hou. Boonop word die hoofrol deur Alfred Molina (Magnolia, Frida, The Da Vinci Code) vertolk. Molina het al weinig sy voet met toneelspel verkeerd gesit. Ook nie hier nie. Die reeks is gegrond op Louise Penny se boekreeks wat draai om die ondersoeke van die speurder, Armand Gamache, in Three Pines, ’n kleine ou dorpie in Quebec. Dié plek is toe nie so idillies soos dit voorkom nie – ’n rits moorde en verborge geheime wat aan die lig kom getuig daarvan.
Die eerste reeks bestaan uit vier afsonderlike moordraaisels wat opgelos moet word met elkeen van die raaisels wat oor twee episodes strek. Anders as in die boeke, is daar egter ook ’n goue draad – of raaisel – wat regdeur die hele reeks strek met Gamache wat ook die verdwyning van ’n jong vrou probeer ontsyfer.
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 2 Januarie, om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101), DStv Online en Catch Up.
Lioness S2
Dié plaaslike riller-drama met Shannon Esra in die hoofrol, keer terug vir ’n tweede seisoen. Esra vertolk die rol van Samantha Hugo, ’n vrou wat verkeerdelik van bedrog skuldig bevind is. In die proses verloor sy haar kinders en beland in die tronk. As sy dan agt jare later uit die tronk stap, is sy vasbeslote om nie net haar naam in ere te herstel nie, maar ook haar kinders terug te kry.
Die eerste seisoen het op ’n helse cliffhanger geëindig en die tweede seisoen begin dan met Adrian Hugo (Jacques Bessenger) se tweede vrou (vertolk deur Carla Classen) wat verwoed na haar vermiste man soek. Samantha moet ook haar seun, Liam (Joshua Eady), ten alle koste beskerm.
Nog bekendes in die rolverdeling sluit in: Natasha Sutherland (Megan), Nokuthula Mavuso (Amo), Fiona Ramsay (Charlotte), Avianah Abrahams (Caitlyn), Frank Rautenbach (Jason), Pulane Rampoana (Bonolo), Jazzara Jaslyn (Miranda), Evan Hengst (Brian); Terrence Ngwila (Sifiso), Ditebogo Ledwaba (Lesedi) en Ilana Cilliers (Yvette).
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 26 Januarie om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101), DStv Online en Catch Up. Die eerste seisoen is reeds op Showmax beskikbaar om te stroom.