Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 24-30 Julie 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Kokkedoor Vuur & Vlam
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 27 Julie 2023, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn). Episodes sal ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.
Vir kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam is die bekende sjef Bertus Basson en braai-ghoeroe Kobus Botha as nuwe beoordelaars gekies. En dié keer is daar ook ’n nuwe aanslag met deelnemers wat sake in die kombuis met hul braai-talente moet uitspook. Die 20 deelnemers – tien onthoubraaiers en tien kinkelbraaiers – sal alles oor vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei terwyl hulle ook die beoordelaars met hul braaivaardighede moet beïndruk.
Hou dop vir ons weeklikse recaps van Kokkedoor Vuur & Vlam ná elke episode se uitsending.
Desert Rose S1
Vanaf Maandag, 24 Julie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.
Die Greyling broers en susters sukkel om klaar te kom in ’n stowwerige Noord-Kaap nadat hul pa, Freddie (Neil Sandilands), spore maak. Hy laat hulle ook diep in die skuld by die genadelose Eugene van As (Ben Voss) en Van As sweer wraak. Die Greylings se stryd om oorlewing begin dan in erns. Hulle moet of hul pa vind, of genoeg geld bymekaar kry om sy skuld te delg voordat Van As se boewe op hulle toesak…
Ook onder die rolverdeling tel Amalia Uys, Kai Luke Brummer, Christi Visser en Tinarie van Wyk-Loots.
Koppestamp S1
Vanaf Woensdag, 26 Julie 2023, op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn) om 20:00. Ook op Catch Up ná die uitsending beskikbaar.
Koppestamp is kykNET se nuwe rugbyspeletjiesprogram en, nes rugby, is dié kompetisiereeks ’n spansport. In elke episode ding twee spanne met twee deelnemers in ’n rits verskillende speletjies teen mekaar mee om soveel moontlik punte op die telbord te kry.
Adrian Steyn (Getroud met Rugby) en Deoudoné van der Merwe (Horisonne), is die program, wat rugbyliefhebbers se kennis oor die sport op die proef stel, se aanbieders.
Good Omens S2
Vanaf Vrydag, 28 Julie 2023, op Prime Video.
Dit is vier jaar sedert Good Omens se eerste seisoen sy debuut gemaak en die akteurs Michael Sheen en David Tennant kykers én kritici mateloos beïndruk het.
In die tweede seisoen van Good Omens, brei die storievertellers uit op die verhaal wat op Terry Pratchett en Neil Gaiman se gelyknamige topverkoperboek gegrond is. In die nuutste aflewering van die TV-vertelling is daar dus ’n groter fokus op die vriendskap tussen Aziraphale (Sheen), ’n vol fiemies engel en seldsame boekhandelaar, en Crowley (Tennant), ’n demoon.
Ná afloop van die eerste seisoen se gebeure – met die Apokalips (vir eers) verydel, keer die onwaarskynlik duo terug na hul lekker – en menslike – bestaan in Londen. Dis nou totdat die engel Gabriël (Jon Hamm) onverwags, en sonder enige idee van wie hy is of hy daar gekom het, op Aziraphale se drumpel beland. Crowley kry dadelik snuf in die neus – hoe en hoekom het Gabriël dan nou by hulle opgeëindig? En nogal met geheueverlies. Aziraphale is egter gretig om dié raaisel op te los, hoewel dit nogal sukkel om Gabriël vir beide die hemel én die hel weg te steek en tyd te koop om agter die kap van die byl te kom…
Die eerste seisoen het ’n punt van 84% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Vulture se Keith Phipps wat die twee hoofspelers loof. “Good Omens kan net werk met die regte hoofspelers, so cheers aan Sheen en Tennant, twee akteurs wat weet hoe om ’n driegangmaaltyd uit onbeduidende en universele verspotlikheid te maak.”
Ook in die rolverdeling tel onder andere Miranda Richardson, Maggie Servicen en Liz Carr.
The Beanie Bubble
Vanaf Vrydag, 28 Julie 2023, op Apple TV+.
In ons wêreld, kan Elizabeth Banks niks verkeerd doen nie. Dink byvoorbeeld aan haar regiewerk in die ongelooflike gruwelkomedie, Cocaine Bear. Of hoe heerlik sy speel in The Hunger Games en die Pitch Perfect-trilogie. In The Beanie Bubble, doen sy dit weer. Net nog beter.
The Beanie Bubble is gegrond op Zac Bissonnette se 2015-boek, The Great Beanie Baby Bubble: Mass Delusion and the Dark Side of Cute. Dit vertel as sulks die oorsprongstorie van die een van die gewildste speelgoed wat iemand nog uitgedink het. Trouens, van dié poppe is nou collector’s items wat vir derduisende dollars op die tweedehandse mark verkwansel word. Terwyl Zach Galifianakis vir Ty Warner, die stigter van Ty Inc. wat Beanie Babies vervaardig het, vertolk, is Banks in die rol van Robbie, sy sakevennoot.
Hoewel die fliek op die ware gebeure rondom die ontstaan van die Beanie Babies-fenomeen fokus, word dit uit die perspektief vertel van drie vroue wat nouliks by Warner en die besigheid se sukses betrokke was. Noem hulle maar die unsung heroes wie se stories tot nou toe onbekend was. Daar’s Robbie, eers net ’n buurvrou en vriendin met wie hy later die besigheid – en ’n romantiese verhouding – begin. Dan is daar Maya (Geraldine Viswanathan) wat op 17 vir Warner begin werk en die maatskappy se internetstrategie ontwikkel. Sheila (vertolk deur Succession se Sarah Snook) is die laaste van die drie – ’n enkelma met twee dogters met wie hy ook ’n romantiese verhouding begin.
Kate Stables van Total Film skryf: “ ’n Speelse, punchy verhaal wat die waarheid oor dáái Babies uitlap. Zach Galafianakis is meesleurend as die sakemagnaat wat tot vloermoere geneig is.”
Nog hoogtepunte op TV hierdie week:
Vanaf 24 Julie 2023:
- Unknown: Cosmic Time Machine, Netflix
Bel-Air S2, Showmax - Minx 2, Showmax
- Muru, Showmax
- Puss in Boots: The Last Wish, Showmax
- Big Trip 2: Special Delivery, Showmax
- Blade Runner 2049, Showmax
- Killbird, Showmax
- Net Mens, Showmax
Vanaf 25 Julie 2023:
- Fifteen-Love, Showmax
- Kookpunt S4, VIA (DStv-kanaal 174), weeklikse episodes om 20:00
Vanaf 26 Julie 2023:
- Missing: The Lucie Blackman Case, Netflix
- Baki Hanma: S2 – The Tale of Pickle & The Pickle War Saga, Netflix
Vanaf 27 Julie 2023:
- Escape the Field, Showmax
- Every Breath She Takes, Showmax
- The Lady of Silence: The Mataviejitas Murders, Netflix
- Paradise, Netflix
- The Witcher S3: Deel 2, Netflix
- D.P.: S2, Netflix
- Happiness for Beginners, Netflix
- Konings van Kitskos S9, VIA (DStv-kanaal 174), weeklikse episodes om 17:00
Vanaf 28 Julie 2023:
- A Perfect Story, Netflix
- Captain Fall, Netflix
- How to Become a Cult Leader, Netflix
Vanaf 29 Julie 2023:
- The Uncanny Counter: S2, Netflix
- Kom Ons Braai: Celebs S2, VIA (DStv-kanaal 174), weeklikse episodes om 20:00