Menu terloops
In Sepies [12 Aug 2026]

Sepies: Vyf dapper storielyne wat gesprekke oor vroue se ervarings aangevuur het


Hierdie Vrouemaand kyk ons terug na vyf onvergeetlike sepiestorielyne wat nie net ons harte geraak het nie, maar ook gesprekke rondom vrouekwessies bevorder het. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Vyf dapper storielyne wat gesprekke oor vroue se ervarings aangevuur het

Suid-Afrikaanse sepies was nog altyd meer as net vermaak. Dit is ook ’n spieël vir die samelewing en pak dikwels sensitiewe kwessies aan. Van geweld en seksuele misbruik tot verslawing, vrugbaarheidsprobleme en die moeilike besluite rondom swangerskap – dié programme neem vroue se stories ernstig op.

Met kragtige vertolkings deur talentvolle aktrise, ontlok hierdie storielyne debat, bevorder bewustheid en gee ’n stem aan vroue wie se stryd dikwels agter geslote deure afspeel.

1

Verslawing in al sy vorms

Bianca (vertolk deur Simone Biscombe) se afwaartse spiraal tot dwelmverslawing in Suidooster het die gemeenskap op en voor die skerms diep bekommerd gelaat.

Maar sy was nie die enigste karakter wat lig op hierdie kwessie geskyn het nie. Mymoena (Jill Levenberg) se dobbelverslawing het gewys hoe selfs gerespekteerde gemeenskapsleiers en moeders hulself en alles waarvoor hulle gewerk het, kan verloor.

Sepies, Mymoena, Suidooster
Jill Levenberg het uitstekende spel vir haar karakter se verslawingstorielyn gelewer. Foto: Skermgreep

In Diepe Waters het Karla (Daniélle Swanepoel) se eetversteuring baie jong vroue en atlete se harte geraak. Ook dié wat groot druk ervaar om onrealistiese standaarde na te kom. Dít is hoekal iets waarmee meeste vroue kan vereenselwig… Ongelukkig. Haar reis, en die ondersteuning wat sy van vriende en haar ouers ontvang het, was ’n roerende getuienis van die belangrikheid van bewusmaking oor geestesgesondheid en empatie. 

Al drie karakters se storielyne het groot reaksie op sosiale media ontlok met mense wat hul eie stories gedeel het of wat uitgewys het dat dieselfde in hul gemeenskappe gebeur. 

2

Vrugbaarheidsprobleme in die kollig

Elana (Esther von Waltsleben) en Susan (Natasha van der Merwe) se uitdagings met vrugbaarheid en IVF het ’n diep persoonlike onderwerp lugtyd gegee. Dié storielyn het die emosionele tol wat hierdie stryd op mense en verhoudings kan hê, uitgebeeld. Deur dit binne ’n queer-paartjie se verhaal te plaas, het Suidooster sigbaarheid en ondersteuning gegee aan vroue, en paartjies, wat dikwels in stilte moet ly. Dit was ’n dapper en broodnodige uitbeelding van ’n belangrike vrouegesondheidskwessie.

Elana en Susan, Suidooster
Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther von Waltsleben) het ook ’n sprokiestroue op Suidooster gehad. Foto: Verskaf

Die stryd wat hierdie akteurs uitgebeeld het, het hulle diep in mense se harte laat klim.

3

Seksuele misbruik en die krag van genesing

Lily (Hildegardt Whites) se pynlike verlede en die onthulling dat haar dogter Amber (Talia Davis) weens verkragting in haar lewe gekom het, het Skemergrond-kykers geskok. Die oortreder was haar pa se beste vriend, ’n verraad wat verskeie families en die gemeenskap van Gemoedsdrift verskeur het.

Hierdie rou en emosionele storielyn het die langtermyn-impak van seksuele misbruik belig, terwyl dit ook gewys het dat survivors van trauma en seksuele misbruik tog hul lewens kan herbou, liefde kan vind en kan genees. Amber se reis na aanvaarding en veral self-aanvaarding, met haar familie se ondersteuning, het ’n bemagtigende boodskap gestuur.

Skemergrond, Amber, Talia Davis
Amber (Talia Davis) se reis self-aanvaarding het ’n bemagtigende boodskap gestuur. Foto: Skermgreep

Beide aktrises het kragtige tonele uitgebeeld wat hul pyn en emosies tasbaar gemaak het. Dit het gevoel asof jy hulle sommer deur die televisie ’n drukkie wou gee. Hulle het kykers gewys dat wat met jou gebeur, nie jou waarde bepaal nie.

4

Stalking, gevaar en vroue se veiligheid

Van Nicolette (Kate Roothman) se stalker wat probeer het om haar dood te maak, tot Tracy (Melinda Viljoen) se verlede as ’n stripper wat daartoe gelei het dat sy later geteiken is – Binnelanders het nog altyd daarin geslaag om die lig te skyn op die gevaarlike maniere waarop vroue se goedhartigheid, kwesbaarheid en sukses teen hulle gebruik kan word. 

Sepies, Nicolette, Binnelanders
Kate Roothman het tot onlangs Nicolette in Binnelanders vertolk. Foto: Skermgreep

Albei storielyne weerspieël die werklikheid dat sommige mans bedreig voel deur vroue wat beheer oor hul eie lewens het. Nicolette en Tracy is albei vroue wat weier om deur hul verlede gedefinieer te word. Hulle is beide voorbeelde van ’n moderne superwoman –  een is ’n suksesvolle sakevrou en die ander een van die beste dokters in Binneland – en laat hulle nie maklik deur mans afskrik nie. Wanneer hierdie twee vir hulself baklei, wil jy as kyker ook sommer van jou sitplek af saam met hulle baklei. 

Hulle wys ook hoe belangrik vroue in mekaar se lewens is en hoe self sterk vroue soms kan breek as die lewe jou te net te veel slaan. Maar tog staan hulle altyd weer op!

5

Tienerswangerskap en lewensveranderende keuses

Tienerswangerskap is uit twee perspektiewe in Diepe Waters ondersoek. Anja (Reandi Grey) se aborsiestorie het die moed uitgebeeld wat dit verg vir ’n jong vrou om eienaarskap van haar liggaam en toekoms te neem. Teresa (Mandi Baard) se besluit om haar seun aan haar kêrel se ouer broer en sy vrou te besorg in die hoop dat dit vir hom ’n beter lewe sou bied, was ewe kragtig.

Jare later het Teresa se emosionele hereniging met haar seun gewys hoe blended gesinne, biologiese ouers en versorgers, in liefde kan saamkom. 

Albei storielyne het die krag, opoffering en veerkragtigheid van vroue uitgebeeld wat moeilike besluite neem in die strewe na ’n beter lewe. Hul vertolkings van hierdie storielyne was emosioneel en het die trane laat loop, maar was terselfdertyd ook kragtig en bemoedigend. Vroue voel dikwels hulle moet almal behalwe hulself kies en hierdie twee vroue wys keer op keer dat jy ook jouself kan kies.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.


Dié artikel is oorspronklik op 14 Augustus 2025 gepubliseer. Terloops herpubliseer dit ter ere van Vrouemaand in Suid-Afrika.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies