Menu terloops
Editor's Pick of the Month
In Redakteurskeuse [3 Mar 2025]

Redakteurskeuse vir Maart 2025


Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, ‘Niggies’, Pretoria se Afrikaanse spin op ‘The Mommy Club’, Showmax se Afrikaanse tennisdrama, ‘Breekpunt’, en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Maart 2025.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Niggies 

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag, 28 Maart 2025, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes ná uitsending op Catch Up beskikbaar. 

Erica Wessels, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, Cintaine Schutte, Roeline Daneel… van Suid-Afrika se bekendste teater-, film- en televisie-akteurs vorm deel van die rolverdeling van regisseur Jaco Bouwer se nuwe Afrikaanse dramareeks, Niggies.

Niggies is gegrond op ’n ware verhaal. Dit vertel oor die twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel, wat in 1966 in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor is. Issie se broer, André, sweer daarna om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry – ’n veldtog wat sowat 20 jaar sou neem. 

The Studio 

The Studio
Ike Barinholtz, Kathryn Hahn, Seth Rogen en Chase Sui Wonders staan aan die hoof van die rolprentateljee wat oënskynlik net van krisisse (en krisisbeheer) ken in The Studio. Foto: Verskaf

Vanaf 26 Maart 2025 op Apple TV+. 

Dié komediereeks, met Seth Rogen as medeskepper, regisseur én in die hoofrol, draai om Matt Remick (Rogen), wat pas as die baas van die fiktiewe Continental Studios aangestel is. Oor die verloop van tien episodes sien ons nie net hoe hy sukkel om tred te hou met dié alewige veranderende wêreld nie, maar ook hoe sy idealistiese drome met die realiteite van onder meer erg moeilike akteurs en korporatiewe vereistes bots. 

Die reeks het ’n skitterende rolverdeling wat Catherine O’Hara, Kathryn Hahn, Ike Barinholtz en Chase Sui Wonders insluit.  

Breekpunt 

Maandae vanaf 10 Maart 2025 op Showmax.

Breekpunt is ’n tennisdrama met die Arendsvlei-, Spinners-, en Wyfie-aktrise Chelsea Thomas wat die hoofrol in dié Afrikaanse reeks vertolk. Chelsea speel ’n eiewyse tiener wat alles moontlik doen om op die internasionale tennisverhoog te kan meeding. Daar is etlike uitdagings wat dreig om haar drome en jare se harde werk onklaar te maak, en kykers volg haar reis soos sy die harde realiteite van die lewe op en van die baan af moet trotseer.

Breekpunt se regie is deur Nicola Hanekom. Die skryfspan, gelei deur Ilse van Hemert (Lioness), sluit die Safta-wenner Quanita Adams (Hier.Na) in.

Ook in die rolverdeling is Spinners se Cantona James, wat ’n voormalige tenniskampioen vertolk, asook die Safta-wenner Lorcia Cooper-Kumalo (Red Ink, Lockdown) en Sherman Faro (Arendsvlei).

The Righteous Gemstones S4 

The Righteous Gemstones
Walton Goggins in The Righteous Gemstones. Foto: Verskaf

Maandae vanaf 24 Maart 2025 op Showmax. 

Dié heerlike reeks se vierde seisoen is dan ook sy laaste. In The Righteous Gemstones, preek en bid en doen die mega-beroemde televangelist-familie, die Gemstones, liefdadigheidswerk like it’s nobody’s business… Als terwyl hulle eintlik hul bediening gebruik om hulself te verryk.

Volgens die reeks se skepper en ster, Danny McBride, kan aanhangers van hierdie satiriese juweel ’n wilde wipwarit met etlike kinkels verwag soos die Gemstones se disfunskionele shenanigans ’n hoogtepunt bereik. 

Ook in die rolverdeling tel The White Lotus se Walton Goggins, Adam Devine (Pitch Perfect), en John Goodman (Roseanne).

The Mommy Club: Van Die Hoofstad S1 

Vrydae vanaf 14 Maart 2025 op Showmax.

Ná die sukses van The Mommy Club en The Mommy Club: Sugar & Spice, is The Mommy Club: Van Die Hoofstad op die Jakarandastad gemik. Dié aflewering van dié franchise bring vyf ma’s van Pretoria – Ansu Viljoen, Crystal Van Der Burgh, Johandri Johnson, Louise Volschenk en Tessa Tullues – onder die loep soos hulle ’n balans tussen ouerskap, mag en status probeer vind.

The Residence 

Redakteurskeuse The residence
Van links: Dan Perrault as Colin Trask, Anna Rajo as Agent Anna Rausch, Uzo Aduba as Cordelia Cupp, en Randall Park as Edwin Park in The Residence. Foto: Jessica Brooks/Netflix

Vanaf 20 Maart 2024 op Netflix. 

132 kamers. 157 verdagtes. Een lyk. Een eksentrieke speurder. En een staatsete wat vreeslik, vreeslik skeefgeloop het. Dié whodunnit is soos Cluedo – net op TV-steroïedes…

The Residence draai om ’n fiktiewe moordskandaal wat in die Withuis afspeel. Hoewel dié reeks se konsep deur Kate Andersen Brower se boek, The Residence: Inside the Private World of the White House, geïnspireer is, word die verhaal hier as meesleurende raaiseldrama aangebied. Die heerlike rolverdeling sluit fantastiese spelers soos Uzo Aduba, Susan Kelechi Watson, Giancarlo Esposito, Randall Park, Ken Marino en Eliza Coupe in. Adubo is die buitengewone speurder wat die moord (nogal tydens ’n staatsete!) moet ondersoek. Elkeen van die verdagtes het hul eie stories – en só kom etlike konflikte en geheime dan op die lappe. 

Nog voorstelle:

The Wheel of Time S3, vanaf 13 Maart 2025 op Prime Video. In dié fantasiereeks, gegrond op die gelyknamige boeke deur Robert Jordan, vind ’n doodgewone plaasseun uit dat hy die sogenaamde Dragon Reborn is. Hy is glo ook bestem om óf die wêreld te red óf totaal te vernietig. 

WHEEL OF TIME REDAKTEURSKEUSE
Die derde seisoen van Wheel of Time is op verskeie plekke in Suid-Afrika verfilm. Foto: Verskaf

Drive to Survive S7, vanaf 7 Maart 2025 op Netflix. Dié reeks het oor die afgelope paar jaar ’n onverwagte rol gespeel in die toenemende gewildheid van F1 onder TV-kykers. Dís veral danksy die voorheen ongekende agter-die-skerms-blik wat die reeks op die motorsport-wêreld gee. Dis trane, ’n geswets, frustrasie, drome bewaarheid en drome aan skerwe net waar jy kyk. Byna so senutergend soos een van die wedrenne!  

Picture This, vanaf 6 Maart 2025 op Prime Video. Bridgerton se Simone Ashley vertolk die hoofrol in hierdie hartverwarmende romkom. Pia (Ashley) se lewe is in ’n warboel nadat ’n ghoeroe ’n voorspelling maak dat sy ware liefde en loopbaansukses op een van haar volgende vyf dates sal vind. 

Bosch: Legacy S3, vanaf 27 Maart 2025 op Prime Video. Dié seisoen – ook die reeks se laaste – is gegrond op Michael Connelly se boeke Desert Star (2022) en The Black Ice (1993). Dit draai om ’n moordsaak wat dreig om Harry Bosch (Titus Welliver) se lewe omver te dolwe. Legacy is ’n spin-off van die oorspronklike Bosch-reeks se sewe seisoene. 

Redakteurskeuse Bosch
Titus Welliver as die privaatspeurder Harry Bosch in Bosch: Legacy. Foto: Verskaf

The Real Housewives of Durban S5, vanaf 28 Maart 2025 op Showmax. Dié reeks was een van die gewildste op Showmax in 2024 en keer terug vir ’n vyfde, dramabelaaide, seisoen. 

The Cleaning Lady S4, vanaf 26 Maart 2025 op Showmax. Thony (Elodie Yung) maak groot skuiwe in die nuwe seisoen. Sy besluit om haar skoonmaakmiddels vir eers weg te pak en eerder by ’n klein plaaslike kliniek te begin werk… Die nuwe leier van die kartel het egter sy oog op haar en haar skuld is nog nie “afbetaal” nie.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies